Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord deur Hennie van Deventer: ’n lesersindruk

  • 1

Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord: ’n Joernaal van scoops en skandes
Hennie van Deventer
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978177612863

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Die Rubicon na moderne inligtingstegnologie is deeglik oorgesteek die dag toe Hennie van Deventer (uiteindelik!) sy tikmasjien vir ’n rekenaar (destyds ’n woordverwerker genoem) verruil het.

Vir hom as redakteur van Die Volksblad (toe nog met die Die) het sy sekretaresse al sy skryfwerk (kommentare, artikels en briewe) op haar rekenaar oorgetik in die redaksionele stelsel.

Hoeveel sy vlytige vingers in sy koerantloopbaan geproduseer het, sal niemand weet nie. Van hom is gesê dat hy ’n tikmasjien geslaan het dat die confetti waai en die linte vodde word.

.....
Van hom is gesê dat hy ’n tikmasjien geslaan het dat die confetti waai en die linte vodde word.
.....

Ná sy aftrede as koerantehoof van Naspers het sy groot aanslag op die geskrewe woord met mening toegeneem en sowat 23 boeke, talryke blogs, artikels, koerantbriewe en Facebook-inskrywings het hul verskyning gemaak.

Dit maak Van Deventer ’n besonder gedokumenteerde skrywer ná sy sewe boeke met ’n binneblik op die koerantwêreld, asook outobiografiese werke, huldeblyke, grafskrifte, reisbeskrywings oor verskeie seereise en soms suiwer prosa oor die lewe van diere en mense in Sabiepark, hul boshuis daar digby die Krugerwildtuin.  

En selfs ’n boek oor troeteldiere!

Hy het sy boek Koerantkamerade (Naledi, 2021) sy laaste boek genoem. Maar soos Ton Vosloo dit in die voorwoord van Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord dit stel: “Van Deventer is ’n gelaaide arsenaal en ’n vulkaan wat bly prut en af en toe, en onverwags, slaan hy weer toe.”

Soos inderdaad met hierdie Mooi nooi-boek wat ’n joernaal van scoops en skandes in die koerantwêreld is.

In sy voorwoord haal Van Deventer twee gesoute Afrikaanse digters aan oor die resep vir sukses van ’n geslaagde koerant.

Uit DJ Opperman se Joernaal van Jorik:

Gee ontspanning, hou die massas dop;
Gee elke dag ’n mooi nooi en ’n moord,
En stoot die sirkulasiesyfers op.

En uit digter Pirow Bekker (oud-hoofsubredakteur van Die Volksblad) se Peins oor die plakkaat:

Dit bly een maal onfeilbaar: vrees,
Dit laat die mens koerante lees.

“Die vraag is,” skryf Van Deventer, “wat gee ’n koerant skop?” Meisies en moorde, of om elke dag die lesers vol vrees te pomp?

Koerantlesers of diegene wat self Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord aanskaf en lees, kan self oordeel en besluit. Kyk maar na die opskrifte van ’n klompie van die essays (waarvan baie voorbladberigte was):

  • “Hartstog, jaloesie… en ’n skêr (ja, die skêrmoord!)”
  • “Beelde met boesems”
  • “Man in die modder of man op die maan”
  • “Kaalbas-redakteurs”
  • “Sannie het gaan water haal”
  • “Raaisel van die Rietbok”
  • “Onder haar naeltjie”
  • “As die aarde skeur”
  • “Toe’s die ganse land op hol”
  • “Slae vir Charlize”
  • “PW se dogters”

Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord voer die leser langs ver paaie van herinneringe oor polemieke, petaljes, rusies en romanses, herries en hofsake.

Dit is regtig ’n lekker en lesenswaardige boek hierdie. Of dit Van Deventer se laaste boek is, sal ons maar moet sien.

Lees ook:

Hennie van Deventer onthou een van Volksblad se groot stories

Koerant deur Hennie van Deventer: ’n lesersindruk en gesprek

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top