
Henk Serfontein skryf op Facebook:
Die Tuin van Digters by die Breytenbach Sentrum is altyd ’n hoogtepunt. Elisabeth Gunter was die feeskunstenaar met haar reeks sensitiewe tekeninge met die titel STR(A)Y. Ek het ook In die oomblik, Paul Alberts se fassinerende reeks foto's van digters, baie geniet. Dit het foto's van ’n jong Antjie Krog en weerbarstige Adam Small ingesluit.
“Saam gee woorde lewe” was ’n aanbieding van die Mengelmoes-digters onder leiding van Diana Ferrus, wat van krag tot krag gaan. “Saambestaan”, die gesprek deur Andries Visagie met Bibi Slippers, Martina Klopper en Jolyn Phillips, was onderhoudend en by tye selfs speels. In “Digters praat saam” het Bernard Odendaal gesels met digter wie se bundels onlangs verskyn het, oa Jaco Barnard-Naudé en André le Roux.
Ek het ook uiteindelik vir Lynthia Julius en Alwyn Roux ontmoet wat in gesprek was oor hul onderskeie digbundels. Daar was ernstige oomblikke wat direk in ons gedeelde verwonding ingegaan het, maar die gesprek het ook na baie sexy plekke gegaan wat die gehoor laat skater het van die lag. Ek het Lynthia se digbundel Kinderlê aangeskaf. Dit was heerlik om die innemende digter Marlise Joubert raak te loop, en Anelia Heese was al die pad van Berlyn in Wellington. Praat van sexy, sy het vir my The Berliner se “It's a brave nude world”-uitgawe saamgebring.

“Die papie roer en ek word digter” was ’n insiggewende gesprek oor Ingrid Jonker tussen Alwyn Roux en Louise Viljoen. Danie Marais se Ek en jy bestaan nie en Riku Lätti se Taboek het gevolg. Riku in sy übercool sonbril en Danie se gevatte sêgoed saam met sy treffende gedigte uit sy bundel het die gehoor oorrompel. Die gesprek was intiem en het my ingetrek, en ek het gevoel of ek by ’n kroeg in die Strand sit en hulle met my gesels.
Tussendeur was daar musiek en toonsettings. Drie rooibos-cappuccino's en ’n quiche. Op pad terug na die stad op die N1 het ’n toonsetting van Ingrid Jonker se gedig “Ontvlugting” begin speel. Dit het my ontroer en was ’n perfekte afsluiting van my dag.
Foto’s: Tuin van Digters, 14 September 2024
- Kunsuitstallings

STR(A)Y deur feeskunstenaar Elisabeth Gunter

STR(A)Y deur feeskunstenaar Elisabeth Gunter

In die oomblik – fotoportrette van skrywers deur Paul Alberts

In die oomblik deur Paul Alberts: Fotoportret van Karel Schoeman

In die oomblik deur Paul Alberts: Fotoportret van Adam Small

In die oomblik deur Paul Alberts: Fotoportret van Antjie Krog
- Gesprekke en voorlesings

“Saam gee woorde lewe” was ’n aanbieding van die Mengelmoes-digters onder leiding van Diana Ferrus.

“Saam gee woorde lewe” was ’n aanbieding van die Mengelmoes-digters onder leiding van Diana Ferrus.

“Saambestaan”, die gesprek deur Andries Visagie met Bibi Slippers, Martina Klopper en Jolyn Phillips

Alwyn Roux (Weerskyn) en Lynthia Julius (Kinderlê) in gesprek

Alwyn Roux in gesprek met Louise Viljoen oor heruitgawe van Ingrid Jonker se versamelde gedigte, Die papie roer en ek word digter.

Danie Marais (Ek en jy bestaan nie) en Riku Lätti (Taboek) gesels wedersyds oor hulle digbundels.
- Foto’s deur Henk Serfontein met toestemming geplaas
Lees ook:
Persverklaring: ’n Verskeidenheid kunsuitstallings open by Tuin van Digters, 13–14 September 2024


Kommentaar
Dit was n boeiende fees, met baie om te geniet en oor na te dink. Ek het die gesprekke met digters soos Hennie Nortje en Rudolph Willemse, sook die optrede van Rocco de Villiers met musiek en gedigvoorlesings, ewe prikkelend gevind - aldrie digters wat hul jongste werke by Turksvy Publikasies die lig laat sien het.