Elders gesien: Namib100 – dag 3

  • 0

Marika van Heerden skryf op Facebook:

Vyf dae, 100 km in die Namib. Geen sein, net sand en sien en stap.

Toe ek die oggend van dag drie my tekkies onder oë neem, is hulle nog klam van die vorige dag se manewales, maar wat erger is, is dat die sool van die regterskoen nou amper tot heel agter losgetrek het. Ek het gelukkig my gom ingepak, maar beslis nie genoeg om die affêre stewig genoeg bymekaar te hou nie. Een van die gidse onderneem toe om die skoen vir my met duct tape te bind terwyl ek solank kaalvoet wegspring. Ek het my plakkies in my rugsak gesit (vir die harde sand), pleisters om twee van my tone gedraai waar ek gister al twee blase gekry het en in die pad geval. In vaste geloof dat die gidse die waarheid gepraat het toe hulle gesê het dat vandag ’n korter en makliker dag sal wees. En hulle het nie gejok nie.

Met die wegspring het ons eers seelangs gestap tot by die Shawnee-skeepswrak. Dis ’n vissersboot wat in 1976 met sy neus die duine in is by Conceptionbaai. Hy lê vandag in die see – die duine van die Namib beweeg en skuif mos. Conceptionbaai was glo voorheen die ingang na klein mynnedersettings in die diamantarea. Die voordeel van kaalvoet wees is dat ek toe lekker in die see kon inloop en deur die patryspoorte foto’s neem van hoe dit binne-in die wrak lyk. Dit was vir my so lekker.

Ek het ’n klip raakgeloop wat met bietjie verbeelding hartvormig is en net daar besluit dat hierdie dag dan ’n goeie dag is om ’n goeie dag te hê. Dit is vinnig bevestig, want as jy dink die sandkatedrale en -valle van gister was indrukwekkend, was hierdie dag se formasies iets vir die boeke.

Later die dag het ek op die oorblyfsels van ’n walvisskelet afgekom. Genugtig, hierdie ouens het darem reuserugwerwels. As gevolg van die hoeveelheid reën wat onlangs geval het, het die water vanuit die woestyn amper iets soos ’n miniriviertjie gevorm wat see toe loop. Dit was verskriklik mooi en ek glo dis iets raars om te sien, want in die droogtetye kan ek my nie hierdie gesig in die woestyn voorstel nie. Later het ons weer by ’n waterpoel teen ’n duin verbygegaan waarin daar nog ’n dooie walvis gelê het. Hy was al ver ontbind en uitgedroog en die rimpels op sy vel het gesorg vir lyne, verbeeldingstogte en patroonstories.

Van hier af is ons die duine in en nadat ons ons waterbottels by die ondersteuningsvoertuig volgemaak het en ek my skoen met die duct tape-neus gekry het, is ons verder. Die duine was hard en my skoene was welkom. Ek het nie agtergekom dat die blase gegroei (en ook aangegroei) het nie, want my oorwegende ingesteldheid was op die omgewing; die woestyn en die sand. Ek het teruggestap in my kinderjare in, my herkoms en my bekendheid. Ek het onthou en verlang. Soveel herinneringe wat my geborge laat voel het, onder meer van my pa. My pa wat ure langs die see in sy blou overall op ’n driebeenstoeltjie gesit en hengel het, ons vakansies in Hentiesbaai, ek en Pa wat vandag steeds die “bats”-rekord hou met 402 ononderbroke houe in die diksand langs die see in die woestyn. Die energie van die sand was byna tasbaar en ek het op een stadium sommer begin hardloop. Toe die duct tape weer loskom en ek my skoene uittrek, het ek steeds energie oorgehad om twee keer dieselfde duin kaalvoet uit te klim omdat dit so mooi, maar ook so bekend, was.

By die kamp aangekom het ek blaasbehandeling gedoen en nadat almal lekker gestort het en ontspanne was, het die gidse ons genooi vir sundowners. Weer is ons ’n duin uit om die son oor die see te sien sak en almal was tevrede en gelukkig.

Later die aand het Len van Live the Journey vir ons van sy stam, die Topnaars, vertel. Gaan google hulle gerus. Hulle is die eintlike mense van hierdie ontbeerde wêreld.

Teen slaaptyd was my syn tevrede. Ek het vandag die ontheemdheid uit my lyf uitgestap en van hier af vorentoe sal ek net ek kan wees en daar waar ek gaan, daar sal ek gaan.

Foto's: verskaf

Lees verder:

Elders gesien: Namib100 – dag 1

Elders gesien: Namib100 – dag 2

Elders gesien: Namib100 – dag 4

Elders gesien: Namib100 – dag 5

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top