Elders gesien: Namib100 – dag 1

  • 6

Marika van Heerden skryf op Facebook:

Vyf dae, 100 km in die Namib. Geen sein, net sand en sien en stap.

Marika en haar man, Jannie

Die gidse het ons by Modderbankies suid van Walvisbaai afgelaai en ons het seelangs begin stap. Suid. Soos ons toerleier gesê het – ons stap al verder en verder uit die beskawing uit. Vol moed, vol krag en met groot verwagting.

Ons het daardie dag 24 km in die woestyn, seelangs verby Sandvishawe, gestap. Soms kom die water tot amper teenaan die duin en dan moet jy wikkel om verby te kom. Die kurwes en inhamme wat die duinelyn teen die see langs maak, het my herinner aan die sigsag-laplint wat my ma in die jare sewentig om die some en moue van my rokkies gewerk het vir mooigeit. Op-af-op-af-om-en-om.

Elke duin wat met sy bolling teen die see druk, lyk soos die einde van die pad, want wie kan nou om ’n draai sien? Dan, soos jy om die draai van die duin kom, sien jy die volgende duinpunt doer ver sy bolpens teen die water druk. Nog is het einde niet, maar dan bevind jy jou eers in ’n pan. Met die baie reën in Namibië vorm die areas tussen die duine panne wat nat en modderig is. As jy om die duin kom en die pan tref, stap jy trap-trap om op die harder dele te bly om nie weg te sak in die modder nie. By elke pan het ek gesien wat lyk na ’n vlak driffie tussen die pan en die see. Ek kon nie die rigting van die lopie agterkom nie – of die seewater met die driffie in die pan ingeloop het en of die reënwater met die driffie uitgeloop het die see in nie. Wat wel duidelik was, was die lieflike sandpatroontjies en -formasies wat in die lopie deur die water veroorsaak is. Ek het aspris bo-oor getrap omdat dit so mooi was. Die veertjies wat op die strand gelê en in die sand ingebed was, het ook my aandag getrek en ek het hordes foto’s geneem. Daar was ’n aanneemlike ritme in die kleure, die lyne en die teksture rondom my wat my kort-kort na my asem laat snak het.

My oorwegende waarneming op dag een was egter die hoeveelheid dooie diertjies wat daar in die ongereptheid op die rand van die sandstrand tussen die see en die duin op my looplyn was. Ek het my verbeel dat dit uit die lug dalk soos ’n skuim- of soutrandjie sou lyk waarin elke nou en dan die geraamte van ’n rob (baie babas), seevoëls, selfs ’n flamink en jakkalse verskuil gelê het. Op ’n stadium kom ek by die skelet van ’n voël wat op die sand lê – net die gebeentes, maar elkeen net soos wat die ou diertjie dood is. Dit lyk of hy dalk so groot soos ’n kelkiewyn kon wees en ek wonder of dit dalk ’n jong kormorant was. Ek moet my kennis oor voëls opskerp.

Daar was vir my niks lelik aan hierdie skelet nie. En snaaks genoeg besef ek toe: ook nie wat die ander geraamtes en beendere betref nie. Ek het die een foto na die ander geneem. Uit alle hoeke. Ek het gewonder of ek dalk Namibkoors het dat die gediertetjies my so aanraak. Maar in my dieper waters het ek geweet dat ek eintlik net die natuur in die gemak van sy eie vel gesien het. Al dink ons die dood is lelik, was hierdie nie vir my afstootlik nie. Dalk omdat die mens hom só diep in die gang van die natuur ingemeng het dat ons nou op onegte persepsies en vooropgestelde geloof loop in plaas van waarheid.

Maar my geliefde vriendin, Hermien Venter, wat saam met my die liefde en verwondering vir ons grootwordland deel, se woorde toe ek eenslag vir haar ’n foto van ’n pragtige dooie houtstomp gestuur het, het heeldag bo my kop bly sweef. Soos ’n Damarasterretjie wat bo die water in die lug hang voordat hy afpyl water toe om sy kossie te vang. En wat uiteindelik my dag raak saamgevat het toe ek later met my voete in die sand om die vuur sit. Dit het my getref soos daardie einste Damarasterretjie die water tref.

Sy het eenvoudig gesê: wat ’n lieflike dood.

Hoe gerusstellend.

Foto's: verskaf

Lees verder:

Elders gesien: Namib100 – dag 2

Elders gesien: Namib100 – dag 3

Elders gesien: Namib100 – dag 4

Elders gesien: Namib100 – dag 5

  • 6

Kommentaar

  • Gwen de Jager
    Gwen de Jager

    Ek sit op 'n moltrein in Suid-Korea en lees met 'n knop in my keel hoe mooi jy skryf van ook my "grootwordland". Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top