Elders gesien: Namib100 – dag 5

  • 3

Marika van Heerden skryf op Facebook:

Vyf dae, 100 km in die Namib. Geen sein, net sand en sien en stap.

Toe die son sak oor dag vier, kom Karien van Live the Journey na my toe en sê dat die terrein wat ons die volgende dag gaan stap te rof is vir kaalvoete of selfs ’n paar plakkies. Ek moet skoene kry. My eerste gedagte was om maar met my skoene, nou genaamd “Ou soolloos” en “Duct taped”, die dag aan te pak, maar een van die groeplede, Chris, had ’n beter plan. Hy het vir my ’n ekstra paar hardloopskoene.

Sonder Chris se tekkies sou ek nie kon klaarmaak nie, want vandag het ons wes gedraai see toe en ons moes oor ’n soutpan stap wat bedek is met harde, dik korse sout wat opkrul soos biltongvelle. My voete sou aan flarde wees sonder skoeisel. Op hierdie dag was Chris my hero en ek sal sy goeie guns nimmer nie vergeet nie.

Hierdie gebaar van hom het eintlik die gesindheid van elkeen in ons groep bevestig. Elke mens wat al voorheen met ’n vreemde groep mense op ’n ekskursie van watter aard ook al gegaan het, sal weet dat as die groep goor is, dit jou belewenis van die ervaring maklik kan beduiwel. Hierdie was wraggies een van die lekkerste groepe waarvan ek nog deel was. Dit was ’n diverse klomp mense vanuit verskillende leefwêrelde, maar die gemene deler was gewis die feit dat dit mense is wat omgee en dat almal vasbyters is. Dit is mense wat nie geskroom het om ’n ander te help nie. Karien het blase behandel, Kerry het voete verbind, Zilke het sonblok uitgedeel, Johanna Labuschagne Pienaar het ’n opslaan- (of is dit opvoubare?) waterkom aangedra waarin ons saans kon voete week. So kan ek aanhou tot by Mariska Engelbrecht en Wilna du Plessis wat my Janman tot op die vliegtuig terug Johannesburg toe gehelp het. Ek het eers agtergebly om my mense te gaan groet.

Na ontbyt is ons weg en het ons na ’n paar kilometer deur die sand by Conception Water aangekom. Dit was in die jare toet ’n diamantmynnedersetting. Daar is ’n plaat lieflike ondergrondse vars water en dus ook ’n pompstasie. By hierdie stasie het ons die oorblyfsels van ’n vorige poging tot welvaart raakgeloop. Dalk opportunisties, maar die bewyse dat daar gewoeker is, is onder andere te siene in die klein museumpie wat uitgelewer op die vlak staan en waarvan sy totale inhoud en artifakte onder die dik stof en sand lê. Daar is ook tekens van ’n weerstasie(tjie) wat volgens een van die stappers sekerlik net twee aanduidings kon gee: warm en kak warm. Dit het ons vir kilometers laat lag.

Van hier af is ons oor die pan en sy dik soutvelle. Dit was vir my die mooiste geluid wanneer die sout onder my voete kraak; ’n vars geluid en hierdie antitese het my laat glimlag. Kraakvars sout waarvan ek ’n paar korrels opgetel en geproe het.

Dit was ’n sieldodende tien kilometer oor die pan en die laaste stuk het ons in ’n lang ry langs mekaar ingeval om saam en gelyktydig die oorwinning te smaak. 103 kilometer te voet deur die woestyn het ons gestap en elkeen van ons het dit gemaak. Ons was moeg en bly en dankbaar terselfdertyd. Toe ons daar aankom, het die span ons ingewag met eetgoed en sjampanje by die skeepswrak, die Eduard Bohlen. Wat ’n groot bederf was dit nie.

Ons het foto’s geneem, sjampanje gedrink en die ou skip gaan bekyk. Die Eduard Bohlen het in 1909 in digte mis gestrand en as jy hom gaan google, sal jy lugfoto’s van hom sien.

Hierna is ons met die voertuie oor die duine kamp toe. ’n Wonderlike belewenis om hoog teen ’n duin uit te ry en dan weer vinnig af te ry. My hele lyf het gekrul van die lekkerte, want my adrenalienvlakke is mos maar half gulsig. Die kamp was opgeslaan aan die voet van ’n hoë duin – veel hoër as wat Duin 7 kan droom om te wees – en daar het ons tot laataand om die vuur gekuier. Dit was ’n wolklose aand en ’n paar van ons kry sowaar daar weer moed om die duin uit te klouter.

Van bo af kon ons mooi foto’s van die verligte kamp neem. (Dankie dat ek jou foto mag gebruik, Theunis). Ek en Erns het saam geklim (nie geëindig nie – hy is onder my uit) en toe ons bo kom, sien ons dat daar eintlik nog ’n ent duin hoër op is, en toe wraggies nóg ’n derde stuk boontoe. Fopkruine sou mens dit kon noem. So klim ons toe laat in die nag tot heel bo op ’n duin in die Namib, só naby aan die hemel dat ons behoorlik moes koes om nie ons koppe teen die sterre te stamp nie.

Dis die hoogste wat ek nog ooit op ’n duin was en ek het op die naat van my rug in die sand gaan lê. Onder die Namibiese hemel, terwyl die sterre flikker en lag en dans, het die sand in my are saam met die wete begin vloei dat ek hierheen moet terugkom. Die vrede wat my binneruimtes kom vol lê het en die energie van die sand wat deur my hart gepomp het, was onmiskenbaar die lug wat deur my longe loop en wat vir my lewe gee.

My hart, my siel, my asem, my alles lê in die sand tussen die duine van die Namibwoestyn en in die eindeloosheid van sy skoonheid. Dit loop deur my murg van die tyd af toe niemand my nog geken het nie.

Ek sal terugkom.

Dis my lewensasem.

Foto's: verskaf

Lees verder:

Elders gesien: Namib100 – dag 1

Elders gesien: Namib100 – dag 2

Elders gesien: Namib100 – dag 3

Elders gesien: Namib100 – dag 4

  • 3

Kommentaar

  • Jacques le Roux

    Hierdie reeks was vir my as 'n woestynmens een van die mees genotvolle leeservarings ooit. Jy mag, maar Marika.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top