Elders gesien: Namib100 – dag 4

  • 0

Marika van Heerden skryf op Facebook:

Vyf dae, 100 km in die Namib. Geen sein, net sand en sien en stap.

Hierdie oggend het ons weggespring en ons het ’n keuse gehad: óf jy stap op die strand en later deur die gruisvlakte óf jy stap op die kruin van die duine en sluit later by die gruisvlakte aan. Ek het die duine-opsie gekies en toe die duinlyn opdroog, is ek af gruisvlakte toe tot by die kamp.

Die gruisvlakte is ’n strekking van fyn gruis klippertjies met sy eiesoortige mooi en interessante vorme van lewe. Maar eers wou ek met die duinepad aanstryk om nogmaals die woestyn se uitgestrektheid en eindeloosheid met sy onophoudelike sandkorrels en -kurwes te absorbeer. Juis om hierdie rede het ek aanvanklik ver voor die groep uitgestap. Heeltemal alleen, maar nie in die minste desolaat nie.

Ai, die ou skoene het toe weer eens nie gehou nie. Die duct tape het afgekom en na sowat ’n honderd tree met een plakkie en een stapskoen kies ek toe maar weer die kaalvoetopsie. Die vorige aand het ek my blase dreineer deur met ’n naald en gare deur die blaas te steek en dan die gare in die blase te los. So dreineer hulle voortdurend en verdroog dan mettertyd. Wanneer die sand my voetsole te veel opgekeil het (die bal onder my voet het nogal teer geraak), het ek vir ’n ruk my plakkies gedra. Weer het ek die skoene by ’n waterpunt vir die gids gegee. Hy sou hulle hierdie slag wys dat duct tape baas is en hulle dan vir my teruggee voordat ek die gruisvlakte tref, want daar sou geen mens met kaalvoete of ’n paar plakkies kon deur nie.

In hierdie uitgestrektheid was dit die ideale geleentheid vir my om doenig te wees met my eie gedagtes en emosies en ek het nadenkend en attent op die omgewing aangestryk. Vir my was die aangrypendste in die duine die konstante verandering in die tekstuur van die sand en die vele verskillende kleure van die duine. Die energie van die sand verander letterlik voor mens se oë en noem my nou maar airy fairy, maar ek het vir seker die gevoelsverandering saam met die veranderde sandvertoon opgelet. Een oomblik is die sand fyn en lig en vorm dit wit riffies, net om oor die volgende duin diep groewe, in verskillende kleure wat wissel van oker, grys, room, bruin tot selfs die kleur van gebrande hout, te pryk. Dan weer loop ek oor ’n duin waarvan die kruin ’n plat vlakte van spierwit sand is. Die sandsnoere het soos ’n kunstenaar se verfstrepe en kwashale voor my uit gedans op die maat van sy eie musiek. Soos wat Paul Klee gesê het – die lyne is aan’t stap.

Die kleure van die sand word deur minerale veroorsaak en die swart riwwe wat soos pyplyne in die gruisvlakte lê is magnetiet wat oorwaai duine toe. Magnetiet is swaarder as sand en gaan lê dan onder die boonste sandlagie. Wanneer jy liggies daaroor vryf, of die wind waai die bolaag af, lê die swart sandduin tussen sy ander ewe mooi maters in die woestyn. Ysteroksied is die rede vir die rooi duine, terwyl granaat aan die pienk sand sy prag verskaf. Die grys kleur wat op die voetenent van sommige duine te bespeur is, kom glo weer van die kalkklip af wat deur die Tsauchabrivier inkom. Dit lees ek als op die internet, en ook dat hoe ouer die duin is, hoe meer intens is sy kleur. Ek is geen kenner nie en die ouens wat weet sal my moet reghelp waar ek vaag of verkeerd is. Wat ek wel weet, is dat ek ’n verlief-verlore sandminnaar is.

Na ’n heerlike lang stap tussen die sandhompe, soms hoog bo die aarde en ander kere net ’n spikkel teen ’n skuinste, het die ondersteuningsvoertuig ons voor die gruisvlakte ingewag. Daar het ek my deeglik verbinde skoen gekry en toe saam met twee ander meisies die gruisvlakte ingevaar. Die temperatuur het gestyg en ons het kort-kort gestop om nog sonroom aan te smeer. Die son het gesteek soos ’n woedende perdeby totdat ek en Zilke later ons sarongs onder ons hoedens oor ons skouers drapeer het en ons “buffs” tot oor ons neuse opgetrek het om ons gesigte teen die weerkaatsing van die gruis-sout-grondpan te beskerm. Ek het vergeet van my kuite, sou ek later die aand uitvind. Ons het al op die spoor van ’n gemsbok geloop en gehoop om die ou dalk iewers te gewaar. Maar die hitte het ons ingehaal en ons fokus was om die kamp te haal.

Ek is seker die hitte en die uitputting het ’n effek op ons gehad, want daar was tye wat ons soos bakvissies gegiggel het en ander kere dat ons seker was ons sien diamante. In die gruisvlakte is silika volop – dis sulke dun skubagtige plaatjies en ons het van dit opgetel. Dit was ’n gelag wanneer die wind een skep en ons dan in ons lewendigdooie toestand op ’n diamantjagtog gaan.

Om alles te kroon was dit nie hóé lank nie of my ánder skoen se sool kom heeltemal los. Hy kies die gruisvlakte vir hierdie aksie en net daar besluit ek dat ’n eervolle begrafnis van my getroue stapskoene na die maan is. Ek smyt die verdomde goed weg so gou ek kan. So stoot ek toe maar soolloos op die linkervoet en duct tape op die regtervoet aan tot by die kamp. Dis die warmste wat ek nog gekry het, dis die dorsste wat ek ooit was en dit was ook die eerste keer dat ek nie nee gesê het vir ’n bier nie. ’n Yskoue Tafel Lager. Moedersmelk vir ’n ontbeerde baba.

Na dag vier kan ek onomwonde sê dat die woord lekker eintlik ’n versamelnaam is vir die volgende: majestueus, oneindig, asembenemend, uitputtend, aanhoudend, salig, sorgeloos, seer, vervullend, oorweldigend, laf, leersaam, tevrede, opwindend, uitdagend, genoeglik, mals, bevredigend, lynkuns, sanddans, gelukkig, heuglik, verruklik, mymerend, groei, lag, huil, voortstu, uithou, tevrede en moer warm.

Foto's: verskaf

Lees verder:

Elders gesien: Namib100 – dag 1

Elders gesien: Namib100 – dag 2

Elders gesien: Namib100 – dag 3

Elders gesien: Namib100 – dag 5

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top