Elders gesien: Namib100 – dag 2

  • 1

Marika van Heerden skryf op Facebook:

Vyf dae, 100 km in die Namib. Geen sein, net sand en sien en stap.

Hierdie was een lang, lang dag met ’n hele paar kilometers op die voete. Dis heel gepas, want die stuk wat ons afgelê het staan bekend as die Langewand; ’n lang duinemuur aan die oostekant en die see aan die westekant. Die ding is net dat die see tot teenaan die duin lê. Met laagwater kry jy kans om tussen die duin en die see deur te wikkel, maar behoede jou as jy draal en die hoogwater jou inhaal.

Eers moes ons deur die duine see toe stap en toe ’n lang ent aflê voor ons by die Langewand kom. Weer was dit die teksture, kleure en lyne wat my opgeval het. Ek het in vervoering gestap, diep asem gehaal en probeer om soveel moontlik in te neem toe ek skielik oor my eie voete val. Ek kyk af en word gekonfronteer met elke stapper se grootste nagmerrie: My skoensool het van die voorpunt tot in die middel van die skoen losgekom. Daar staan ek met nog kilometers oor vir die dag en ’n nat, stukkende skoen. Ek trek hulle toe maar uit en suiker voort op my sokkies. Gelukkig was dit nie in die warm duine nie en op daardie stadium het ek min geweet dat dié nog voorlê.

Ons is by ’n reuse trop robbe verby wat min lus gelyk het vir ons en teësinnig water toe gewaggel het toe ons naderkom. Namibië se robpopulasie het al vele debatte uitgelok waarby ek nie gaan betrokke raak nie, maar ek kan beaam dat daar ’n robbevolking is wat skrik vir niks. Dit was nogal interessant om op te let hoeveel van die dooie robbe hulle vel eers net op die stert, kop en vinne verloor. Wit en swart heengegane robbetjies. ’n Stinkerige spulletjie, moet ek sê.

’n Ent verder let ons twee jakkalse op. Die dominante een het die ander een kort-kort die see ingejaag. Ons naderende geselskap het hulle ook nie juis gepla nie en dit wou voorkom of die onderonsie te doen had met ’n dooie rob as maaltyd. Daar is vreeslik baie jakkalse in die woestyn en ek kon nie help om te glimlag as ek dink aan my werkers op die plaas se gesigte wanneer ek vir hulle die foto’s gaan wys nie. Daardie jakkalse sou moes bontstaan as een van dié Karoomanne naby was.

Uiteindelik bereik ons toe die Langewand. Soos ek gesê het, moes ons fyn beplan omdat tydsberekening baie belangrik was. Danksy ons gidse wat die woestyn en die getye ken, het ons vroegoggend reeds weggespring. Ons rusperiodes was kort, want ons moes deur die Langewand kom voordat die water ons teen die duin vaskeer. Dan slaan hy hoog teen die duin op en as jy jou daar bevind, gaan jy óf swem óf diksand-duine uithardloop om die waters te ontsnap. Ek sien nie kans vir een van die twee nie en veral nie op sokkies nie. Daarom het ek voet in die hoek gesit – dalk eerder voetsool op sand gesit – en aangestoot.

Daar waar die water met die vorige hoogwatergety teen die duin op is en weer weggetrek het, het die mees besonderse sandformasies agtergebly. Eintlik is dit ongelooflikste ding wat ek in ’n lang tyd gesien het. “Sandkatedrale,” het iemand dit heel treffend gestel. Tussen hierdie “katedrale” is daar dan paadjies waar sand, wanneer dit loswikkel, van bo af deurvloei. Soos ’n waterval, maar van sand. ’n Sandval het ek dit gedoop. Ek kon nie ophou foto’s neem nie en dit het vir my gevoel asof ek na ’n argaïese uitgrawing van ’n oerdorpie kyk. Intussen het die son warmer begin bak en die pad was nog lank.

Sandkatedrale

Ek het op dag twee gestap en gestap en gestap. Die harde sand het my voete moeg gemaak. Toe die pad oor die strand nie einde se kant toe wil staan nie, het ek aanhou fokus op die ritme van my omgewing. Onverstoord, soms ongenadig. Maar die hele pad eindeloos mooi. Totdat ek uiteindelik die vlaggie op ’n duin in die verte gewaar het. Daar waar ons weggedraai het van die see af en die duine moes in. Dis toe dat ek die warm sand moes trotseer.

Ek moes seker ’n aardige prentjie gemaak het, want ek hardloop oor die warm sand en oor die duine, net om weer om te draai en weer te kom – om nog ’n keer dieselfde lieflikheid te kan sien. Duin op duin op duin. Om die ewige skoonheid van die Namibwoestyn te probeer vasvang in my wese en my gebeentes. Om die sand wat deur my lyf loop te voel lewe en om te weet dat ek gegrond kan wees al is die sand onder my los. En om herinner te word aan wat my oudste kind na sy vasbytervaring gesê het: Dit was nie maklik nie, maar dit was vervullend en daarom lonend.

Ek kan maar my huis op die sand gaan bou.

Foto’s: verskaf

Lees verder:

Elders gesien: Namib100 – dag 1

Elders gesien: Namib100 – dag 3

Elders gesien: Namib100 – dag 4

Elders gesien: Namib100 – dag 5

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top