Elders gesien: Karel Schoeman, ’n denkende skrywer in ’n bewegende wêreld

  • 1

Foto uit LitNet se argief

Karel Schoeman (26 Oktober 1939–1 Mei 2017) was romansier, historikus, biograaf, vertaler en besinnende skrywer. Sy ongeveer 130 boeke verwoord een groot soektog: Hoe leef ’n mens sinvol wanneer individue, gemeenskappe en hele wêrelde verander en verdwyn?

Sy biografie gee vorm aan dié vraag. Hy is op Trompsburg gebore, studeer tale aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en sluit in 1961 as novice by die Franciskane in Ierland aan. Hy lê egter nie sy geloftes af nie. Daarna bekwaam hy hom in biblioteekkunde, werk in Amsterdam en Glasgow, en keer in 1977 terug. Vanaf 1983 werk hy by die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad, waar die argiewe sy historiese verbeelding voed. Ná sy aftrede woon hy op Trompsburg en later in Bloemfontein.

Hierdie lewe van vertrek en terugkeer, afsondering en betrokkenheid, word die grondritme van sy romans. Sy debuut, Veldslag (1965), word gevolg deur By fakkellig (1966), ’n Lug vol helder wolke (1967), Spiraal (1968), Op ’n eiland (1971) en die ontstellende toekomsroman Na die geliefde land (1972). Daarna verskyn Die hemeltuin (1979), Die reisiger (1980), Waar ons gelukkig was (1981), ’n Ander land (1984) en Afskeid en vertrek (1990). Sy romankuns bereik ’n hoogtepunt in die Stemme-trilogie – Hierdie lewe (1993), Die uur van die engel (1995) en Verliesfontein (1998) – asook in Verkenning (1996), laasgenoemde moontlik sy grootste roman.

Hier is geskiedenis nooit dekor nie: dit dring die karakters se binneste binne. Migrasie, oorlog, godsdiens, familie en landskap vorm hulle, maar verklaar hulle nooit volledig nie. Hulle verlang na tuiskoms, terwyl hulle daarvan terugdeins. Schoeman dink in romanvorm oor die spanning tussen die brose enkeling en die historiese geheel.

Sy historiese werk vorm die tweede groot stroom van sy oeuvre. Dit begin met Bloemfontein, 1846–1946 (1980). Daarna volg onder meer die biografieë In liefde en trou: Die lewe van president en mevrou M.T. Steyn (1983), Olive Schreiner: ’n Lewe in Suid-Afrika, 1855–1881 (1989) en Merksteen: ’n dubbelbiografie (1998). Die wêreld van die digter (1986) rekonstrueer die jong NP van Wyk Louw se Sutherland, terwyl talle latere studies die Vrystaat en die Kaap onder VOC-bewind ontsluit. In Swanesang (2016) ondersoek hy die laaste jare van die VOC-bewind, 1771–1795.

Die historikus Schoeman soek na spore. Agter briewe, dagboeke en amptelike verslae vermoed hy lewens wat nooit volledig herwin kan word nie. Waar die historikus ’n verdwene wêreld uit oorblywende tekens rekonstrueer, gee die romansier stem aan die stiltes wat geen dokument kan vul nie. In albei gevalle geld ’n etiese opdrag: mense uit die verlede mag nie bloot tot voorbeelde van ons eie idees gereduseer word nie.

’n Derde en dikwels versweë dimensie is Schoeman se besinnende werk. Sy geestelike reis begin by die Katolisisme en die stilte van die Franciskaanse klooster, maar eindig nie daar nie. In die laat 1980’s verdiep hy hom in Boeddhisme en meditasie; in 1997 vertaal hy Rob Nairn se ’n Stil gemoed. Die filosoof Wittgenstein, soos sy biograaf Ria Winters uitwys, bied weer ’n taal vir die grens tussen wat gesê kan word en dit waarvoor woorde uiteindelik tekortskiet.

Jung bied egter ’n besonder vrugbare sleutel tot Schoeman se innerlike wêreld. Dit gaan nie bloot om “psigologie” nie, maar om individuasie: die moeilike, lewenslange beweging waardeur ’n mens die vreemde, verdringde en pynlike dele van jouself leer herken.

Jung se “skadu” verwys na alles wat die bewuste selfbeeld uitsluit, maar wat telkens in drome, vrese, verlange en verhoudings terugkeer. Só gelees, is Schoeman se eensame reisigers nie bloot passiewe buitestanders nie. Hulle word gedwing om af te daal na verlies, skuld en onvervulde verlange. Heelwording beteken dan nie dat die wonde verdwyn nie, maar dat ’n mens leer om met jou verdeeldheid saam te leef.

Dit help ook om Schoeman se herhalende beelde van reis, huis, landskap, stilte en afskeid te verstaan. Hulle is meer as literêre motiewe: hulle verbeeld die psige se soeke na ’n nooit volledig bereikbare tuiste. Die reis gaan na buite, maar altyd ook na binne.

Hierdie soektog kom na vore in Die laaste Afrikaanse boek (2002), Deelstad (2013), Afskeid van Europa (2017) en Slot van die dag (2017): meditasies oor taal, sterflikheid, identiteit en verdwene wêrelde.

Schoeman eindig egter, na my oordeel, nóg as Katoliek nóg as Boeddhis. Hy neem die stilte en dissipline van hierdie tradisies ernstig op, maar onderwerp hom nie finaal aan hul geloofsantwoorde nie. Hy bly ’n krities-moderne denker: nader aan Jung se individuasie en Wittgenstein se versigtigheid voor die onsegbare as aan ’n vaste godsdienstige sisteem.

Daarom is hy ook nie bloot ’n nostalgiese skrywer wat na ’n verlore Afrikaanse wêreld terugverlang nie. Hy weet dat geen verlede ongeskonde herwin kan word nie en dat vooruitgang eweneens nie alles bewaar wat waardevol is nie. Die mens moet sonder finale sekerhede leer leef – tussen herinnering en verlies, stilte en taal, vertrek en tuiskoms.

Schoeman se stadige, melancholiese prosa is dus nie bewegingloos nie. Dit verteenwoordig ’n fyner beweging van herinnering, aandag en besinning. Hy “snap resonansie”, soos Louis Esterhuizen dit gestel het: die onsigbare verbande tussen mens en landskap, hede en verlede, teenwoordigheid en afwesigheid.

Karel Schoeman is daarom, op sy eiesinnige manier, die Goethe van Afrikaans: ’n skrywer by wie roman, geskiedenis, biografie, reis en besinning een lewenstaak word. Hy vra nie hoe ons uit die moderne wêreld kan ontsnap nie, maar hoe ons krities, aandagtig en menslik daarin kan oorleef. Hier kom sy werk naby aan bewegende denke: denke wat geen finale rusplek vind nie, maar deur herinnering, selfondersoek en oordeel aanhou beweeg.

Lees ook:

Karel Schoeman (1939–2017)

Karel Schoeman – die Goethe van Afrikaans

Karel Schoeman, die kantoorwerker

Karel Schoeman (1939–2017), ’n oorsig oor hierdie lewe

Karel Schoeman, Virginia Woolf en die kleure in die Ierse dagboeke: ’n vergelykende ondersoek

Karel Schoeman (1939–2017) – herinneringe aan die buitestander

’n Ondersoek na sekere ruimtelike elemente in die "Ierse dagboeke" van Karel Schoeman, met die boek Reise met Schoeman deur Ria Winters as agtergrond

  • 1

Kommentaar

  • Danksy die Dunning-Kruger-effek deins ek nie maklik terug nie, maar by die lees van Schoeman en Jung se name in een stuk skryfwerk, was my eerste gedagte, "fools rush in where angels fear to tread.”

    Dit is wat is met daardie twee here.

    Ek het vandag na iets op YT geluister en weet nie of Jung altyd reg aangehaal word nie. Dit is problematies, want daar kan sekerlik nie van my verwag word om die akkuraatheid self te moet nagaan nie. [Ek was eenmaal vir fisio en die terapeut het gesê ek het die luiste spiere wat sy nog ooit teëgekom het, en die brein is baie soos ‘n spier.]

    Inhoudelik proe dit na Jung se insig, maar teen die einde klink dit of die kollektebordjie omgestuur gaan word. Ek weet net nie meer nie.

    Bewegende denke maak moeg. 😳 En waar kom denke ieder geval vandaan?

    https://youtu.be/fqMt5f3_674?si=ri5cA5-0IA6xdN7I

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top