
Grafika: rotekirsche20 op Pixabay, gepubliseer onder Pixabay se gratis lisensievoorwaardes op 24 Oktober 2020.
Skrywers en vertalers (of dan spesifiek staatsvertalers) is afsonderlike subspesies van Homo sapiens. Dit is, altans, soos dit vir my lyk op grond van my eie belewenis en dié van die skrywers Karel Schoeman en Jan FE Celliers, wat albei ook (kortstondig) staatsvertalers was. ’n Skrywer se horison strek duidelik baie wyer as dié van ’n (staats-) vertaler, met baie meer kreatiwiteit, verbeeldingrykheid en oorspronklikheid. ’n Skrywer se beloning en bevrediging sal dus ook oneindig groter wees. Tog onthou ek nog die eienaardige gevoel van opwinding telkens wanneer ek ’n lywige dokument vir vertaling en/of redigering ontvang het en ook die bevrediging by die afhandeling daarvan.1
In 1977/78 was Schoeman enkele maande lank een van my kollegas by die Taaldiensburo in Pretoria. Ek was toe ’n senior taalbeampte, eintlik maar ’n junior rang. Op watter posvlak Schoeman was, weet ek nie. Bykans ’n halfeeu later is my enigste herinnering aan hom dié van ’n lang man wat met ’n letterlike neus-in-die-lug-houding in die gange beweeg en in sy kantoor verdwyn. Ek kan nie onthou dat ek ooit enige kontak met hom gehad het of dat hy teetye in die teekamer gesellig saam verkeer het nie. Hy was in ’n ander afdeling as ek, en werkgewys het ek nooit met hom geskakel nie. Sy bewerings rakende die Taaldiensburo strook in verskeie opsigte hoegenaamd nie met my herinneringe nie.

Boekomslag: Protea Boekhuis, ISBN: 9780798142304
Die aanhalings hier onder kom uit Schoeman se Die laaste Afrikaanse boek (2002). Lees ook die bygaande uittreksels oor Celliers, met sy uitsprake oor ’n kantoor wat jare later deel van die Taaldiensburo sou uitmaak. In daardie vroeë jare van die Unie het elke staatsdepartement sy eie taalkantoor gehad, en dit is eers in Oktober 1930 saamgevoeg om die Taaldiensburo (later Staatstaaldiens en tans Nasionale Taaldiens genoem) te vorm.
Voor sy aanstelling in die Taaldiensburo het Schoeman as bekroonde skrywer ’n hoogvlieglewe in Europa gelei, waar hy aan net die beste gewoond was. Hy het egter besluit om na Suid-Afrika terug te keer en die Taaldiensburo was ’n gerieflike dog hoogs tydelike treeplank. ’n Staatsdienskantoor kon sekerlik nie vergelyk word met die milieu waarin hy beweeg het nie, en hy het hom hier ontuis gevoel.
Vermoedelik as gevolg van sy afsydigheid en belangeloosheid, het Schoeman ’n wanindruk gehad van die instansies waar hy gewerk het. So bestempel hy die Koringraad, waar hy in die somervakansie van 1957/58 tydelik as klerk gewerk het, as ’n instelling “wat in hoofsaak bestaan om homself en sy uitgebreide personeel aan die gang te hou” (293). Rakende die Taaldiensburo skryf hy op bladsy 468 dat “daar eintlik nie genoeg werk is om die Taaldiensburo besig te hou nie” en “beamptes [kon] maar op hul eie manier in die privaatheid van hul onderskeie kantore die tyd omkry, meesal met die deur toe; niemand het ooit ondersoek kom instel of taktlose vrae gestel nie”.
.....
Rakende die Taaldiensburo skryf hy op bladsy 468 dat “daar eintlik nie genoeg werk is om die Taaldiensburo besig te hou nie” en “beamptes [kon] maar op hul eie manier in die privaatheid van hul onderskeie kantore die tyd omkry, meesal met die deur toe; niemand het ooit ondersoek kom instel of taktlose vrae gestel nie”.
........
Hy het hierdie situasies tot sy voordeel benut en kantoorure vir sy eie lees- en skryfwerk aangewend. Met verwysing na die Koringraad skryf hy op bladsy 293: “Hoofsaaklik het ek agter my lessenaar sit en lees.” Ook by die Witwatersrandse Tegniese Kollege in Johannesburg, waar hy in 1966 ’n betrekking as vertaler aanvaar het, kon hy rustig sy gang gaan: “Niemand het jou aangejaag nie” (379). By die Taaldiensburo het dit volgens hom ook so gegaan: “[N]a ’n lang en eentonige dag agter my lessenaar waar ek my hoofsaaklik met my eie lees- en skryfwerk besig gehou het [...]” (472). Wanneer hy ’n taak afgehandel het, het hy – net soos Celliers – dit klaarblyklik nie dadelik aan sy senior terugbesorg en ander opdragte gekry nie.
Schoeman het sy werk soggens vinnig afgehandel en dan met sy eie skryfwerk voortgegaan in kantoortyd, soos ook gebeur het tydens sy diens as boekekeurder by die Vrystaatse Provinsiale Biblioteekdiens: “[T]een nege-uur soggens het ek gewoonlik my kwota vir die dag voltooi en verdwyn om in die stad koffie te drink en my eie sake af te handel: soos by die Tegniese Kollege in Johannesburg het niemand ooit iets hieroor gesê of gevra nie” en “geruime tyd is ek ook ... oogluikend toegelaat om smiddags in die argiefbewaarplek te werk” (495).
Wie sy direkte seniors was, weet ek nie, maar ek vermoed dat hulle huiwerig was om hierdie (toe reeds) gevierde skrywer in die bek te ruk. My ondervinding in die Taaldiensburo was dat daar gedurig druk was om werk vinnig af te handel – kliëntdepartemente het dikwels baie streng spertye gestel om dokumente aan die Staatsdrukker te besorg vir publikasie. Ek weet dat ek ook in daardie tyd voldag voluit gewerk het en dan nog dikwels saans by die huis ook (en ek is beskou as ’n vinnige werker).
Schoeman se neerhalende verwysing na die tipes dokumente wat deur die Taaldiensburo hanteer is, spreek verder van sy bykans algehele onkunde en wanpersepsie van die werklikheid. Tekste soos dié wat hy noem (byvoorbeeld ’n basiese kookboek) is wel hanteer, maar dit het net ’n baie klein deeltjie van die totale werklading uitgemaak. Hy was klaarblyklik heeltemal onbewus van dokumente soos verslae van kommissies van ondersoek, departemente se jaarverslae, wetgewing soos regulasies en proklamasies van die (destydse) staatspresident. Dit is alles dokumente wat ooreenkomstig die Grondwet in albei tale gepubliseer moes word, net soos die dokumente wat Celliers moes hanteer.
Schoeman was klaarblyklik ’n besonder vinnige en produktiewe werker, soos blyk uit die uiters noukeurige en uitgebreide navorsing vir veral sy historiese geskrifte (fiksie en niefiksie), maar dan is daar ook ’n blaps soos: “[H]et die pad dan verder geloop deur Silverton, wat juis in hierdie tyd tot Verwoerdburg omgedoop is en nou Centurion heet” (392, my onderstreping).
.......
Ondanks my kritiek hierbo, het ek besonder hoë agting vir Schoeman as skrywer – sy fiksie en sy niefiksie.
........
Ondanks my kritiek hierbo, het ek besonder hoë agting vir Schoeman as skrywer – sy fiksie en sy niefiksie.
DW le Roux, Centurion
1 Ek was 26 jaar lank aan die Taaldiensburo verbonde, van Februarie 1971 tot Januarie 1997, toe ek as direkteur van die Staatstaaldiens ’n uittreepakket aanvaar het.
Lees ook:

