Karel Schoeman (1939–2017), ’n oorsig oor hierdie lewe

  • 1

Human & Rousseau (H&R) en NB-Uitgewers verneem met leedwese van die afsterwe van een van ons grootste Afrikaanse skrywers. Die internasionaal-bekroonde Karel Schoeman is Maandagaand 1 Mei in die Noorderbloem-aftreeoord in Bloemfontein, waar hy die afgelope 10 jaar gewoon het, oorlede.

Kerneels Breytenbach, voormalige uitgewersbestuurder van NB-Uitgewers, sê: “Karel Schoeman se dood is ’n groot skok, maar op ’n vreemde manier maak dit sin. Karel Schoeman het alles op ’n eie, unieke manier gedoen. Ook sy heengaan. As uitgewer het mens kennis gemaak met iemand wat enersyds baie formeel en afstandelik kon wees, en andersyds intens medemenslik, iemand wat omgegee het vir die wel en wee van mense. Dit is eienskappe wat ook blyk in sy outobiografiese Die laaste Afrikaanse boek, maar om in die praktyk daarmee kennis te maak, het my altyd diep onder die indruk gebring van hoe ’n besonderse mens hy werklik was. Ek het ook ondervinding van die maniere waarop hy sy formidabele navorsingsvernuf tot ander mense se voordeel kon inspan, iets wat dan ook neerslag gevind het in sy niefiksie en veral sy werke oor die Vrystaat en ons ouerland, Nederland. As mens het hy hom nie maklik laat ken nie, maar in die geledinge van sy romans is dit duidelik dat hy ’n groot waarnemer van gedrag en emosie was, en dat sy afstand op die mensdom nie ’n volledige afsluiting was nie.”

Nèlleke de Jager, Schoeman se uitgewer by H&R, beskryf hom as “een van Suid-Afrika se groot geeste”. “’n Man wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis so deurgrondelik kon oopvlek, kon oopskryf, en tegelykertyd die gawe had van ’n romansier wat die Nobelprys waardig is. Dit is ’n hartseer dag vir ons as uitgewery, maar ook vir alle liefhebbers van Schoeman se oeuvre. Dis eenvoudig ’n verlies wat nie in woorde omskryf kan word nie.”

“Om byna 20 jaar saam met Karel Schoeman te kon werk aan verskeie van sy boeke, om gereeld met hom te kon korrespondeer, dit was en is een van die mees betekenisvolle en verrykendste ervarings van my hele lewe en loopbaan,” sê Alida Potgieter, voormalige uitgewer by H&R.

Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers, sê: “Dit was vir ons ’n enorme voorreg om Karel Schoeman se boeke uit te gee. Sy roman ’n Ander land eindig met, ‘Halwerweë op die pad ontdek jy effens verras dat die reis voltooi is, en die bestemming reeds bereik.’ Die einde van sy lewens- en skrywersreis het ons onverhoeds betrap en is ’n onuitspreeklike verlies vir die Afrikaanse letterkunde en sy lesers – vir Suid-Afrika.”

’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die spesifieke oorsaak van sy dood te bepaal, hoewel ’n verklaring daarop dui dat dit selfdood was.

Skepelinge, sy jongste publikasie by H&R, sal in September uitgegee word.

Karel Schoeman (1939–2017): biografiese inligting

Karel Schoeman is op 26 Oktober 1939 op Trompsburg in die Vrystaat gebore. Hy is Tromp genoem, waarmee hy nie aldag gediend was nie, “omdat dit ongebruiklik was” (Beeld, 2 Mei 1995). In sy derde jaar het hy die naam Karel aangeneem na ’n Franciskaanse monnik, Karel Van Sezze.

Nadat sy ma en pa geskei is (toe hy drie jaar oud was), is hy en sy ma na die Paarl. Daar bring hy sy laerskooljare aan die WA Joubertskool deur en matrikuleer in 1956 aan die Hoër Jongenskool Paarl. Hy het van jongs af geskryf en sy skryfwerk is gereeld in die skooljaarblaaie opgeneem. Op ’n vraag van André le Roux of sy skryfwerk gedurende sy hoërskooljare beslag gekry het, het Schoeman gesê: “Daardie onbenulle wat vir ons onderwys gegee het, jy kan dit nie glo nie, wat op kinders losgelaat word.”

In 1959 behaal Schoeman sy BA-graad aan UOVS (nou die UV). Hy het Calvinisties grootgeword, maar die Katolieke leerstellinge het hom meer getrek en in Bloemfontein is hy in die Katolieke kerk gedoop. In 1961 is hy na Ierland, na die Minderbroers in Killarney, en later na Galway om opleiding as monnik te kry. Hy keer terug na Pretoria en in 1968, na drie jaar by die Franciskaanse Seminarie, besluit hy die monnikelewe is nie vir hom bedoel nie en gaan studeer hy biblioteekkunde aan die UV, waarna hy as vertaler in Johannesburg werk.

In Amsterdam werk hy vir vyf jaar (1968 tot 1973) as bibliotekaris en daarna tot 1976 as verpleër in Glasgow. Terug in Suid-Afrika kry hy werk as vertaler in Pretoria, en daarna, tot 1981, in Bloemfontein as boekkeurder by die Vrystaatse Provinsiale Biblioteekdiens. Hy skud die Vrystaatse stof van sy voete en vanaf 1982 is hy navorser by die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad. Tydens sy verblyf in Kaapstad verdiep hy hom in sy navorsing en sy skryfwerk. Sy moeder is in 1989 in Kaapstad oorlede en hy gaan strooi haar as op die plaas Witlaagte in die distrik Edenburg in die Vrystaat.

In 1999 keer hy terug na Trompsburg om hom daar te vestig. Hy het later teruggekeer na Bloemfontein, waar hy tot sy afsterwe in ’n aftreeoord gewoon het.

In 1965 word Schoeman se eerste werk, Veldslag, deur Human & Rousseau gepubliseer, ’n verbintenis wat baie lank sou voortduur. Vir Koos Human was dit as uitgewer “’n seldsame ervaring om ’n manuskrip van gehalte deur ’n onbekende persoon te ontvang.”

Toe Schoeman in 1976 na Suid-Afrika teruggekeer het, het ’n hele aantal boeke van hom al verskyn. Die Hertzogprys word drie maal aan hom toegeken (1970 vir By fakkellig, ’n Lug vol wolke en Spiraal; 1986 vir ’n Ander land; 1995 vir Hierdie lewe), die Recht Malan-prys vier keer, die CNA-prys twee maal, asook die WA Hofmeyr-prys en die Louis Hiemstra-prys vir Niefiksie (twee maal). In 1997 ontvang hy die Stals-prys vir Kultuurgeskiedenis.

In 2000 word die hoofkongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging aan sy werk gewy en die bundel Sluiswagter by die dam van stemme: beskouings oor die werk van Karel Schoeman word in 2002 by Protea Boekhuis gepubliseer.

Met die toekenning van die Hertzogprys in 1970 spreek WEG Louw die huldigingswoord: “Schoeman het met die viertal boeke (Veldslag, By fakkellig, ’n Lug vol helder wolke en Spiraal) gewys dat hoewel hy die waarde van die tradisie erken, hy in staat is om onafhanklik daarop voort te bou; dat hoewel hy heelwat geleer het van die romantegniek van ons tyd, hy sy werk nooit aan blote mode ondergeskik gemaak het nie; bowenal dat hy ’n Afrikaans skryf wat eenvoudig dog soepel, gevoelig dog virtuoos is. Sy prosa besit ’n vaart en eie innerlike ritme wat die kenmerk van die rasskrywer is.”

Schoeman het nie normaalweg toekenningsgeleenthede bygewoon nie, maar in 1998 het hy die Orde van Ikhamanga persoonlik van president Nelson Mandela ontvang. Al wat hy by die geleentheid gesê het, is: “Dis ’n besondere eer vir die Afrikaanse taal.”

In 2000 ontvang hy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Kaapstad en in 2004 een van die UV. In 2004 word hy saam met André P Brink en Toek Blignaut vereer met die Suid-Afrikaanse Letterkundetoekennings vir hul lewenswerk as bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde.

Benewens sy skeppende werk lewer Schoeman ook ’n veelbeduidende bydrae tot die kultuurhistoriese boekstawing van die Vrystaatse erfenis, asook oor die sendinggeskiedenis en die slawegeskiedenis aan die Kaap. Hennie van Coller meen dat Schoeman in sy rekonstruksie van die verlede telkens stem gee aan die stemloses; die uitskot van die maatskappy, dikwels so verskillend soos slawe, oujongnooitantes en politieke opstandelinge.

In 2002 word sy outobiografiese aantekeninge, Die laaste Afrikaanse boek, gepubliseer.

Verskeie van sy niefiksie-publikasies oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis het die afgelope jare ook by Protea Boekhuis verskyn.

Met Schoeman se 60ste verjaardag skryf Johan Rossouw in Fragmente van 1999: “Hoe bring ’n mens hulde aan iemand wie se werk sedert 1965 met die verskyning van Veldslag in meer as ’n honderd publikasies ’n geduldige weefwerk van die lewe in hierdie land geword het. (...) Van Schoeman se werk kan gesê word dat dit ons geleer het van die band tussen landskap en wees, dat dit die waarde van die brose woord aanstip, dat dit ons tot die onmoontlike, dog onvermydelike, taak van herinnering wend, dat dit die vreugde van verwagtinglose, versigtige lees skenk, dat dit die eenvoudige skoonheid van die getuigende lewe as voortdurende geboorte en wording spieël. [...] Vir die Afrikaanse taal is dit ’n besondere eer dat jy daarin skryf. Dankie, Karel.”

Skepelinge is die laaste manuskrip wat Schoeman aan H&R voorgelê het; dit sal later vanjaar verskyn. Schoeman self het dit beskryf as die aanloop tot ’n roman, wat “in laaste instansie tog as produk van die skeppende verbeelding beoordeel moet word eerder as van navorsing”. Die teks fokus bowenal op die eerste immigrante aan die Kaap, die skepelinge wat werksaam was vir die VOC tydens die 1600’s en 1700’s, hul oorsprong aan die Europese vasteland, die moeilike en gevaarlike reis na Afrika, en die aankoms in die vreemde.

Skepelinge is uiteindelik ’n impressionistiese betragting van die vroeë koloniale tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, gebaseer op die skrywer se kennis van die VOC-tyd en meer spesifiek die skeepvaart. Self het Karel Schoeman dit beskryf as ’n “hibriede skepping, êrens in die midde tussen fiksie en niefiksie”. Dit is ‘n teks wat nie op ’n meer geleë tyd kon verskyn het nie.

  • 1

Kommentaar

  • Susarah Maria van Zyl

    Baie dankie vir die insiggewende huldeblyk aan 'n groot gees. Dankie aan Karel Schoeman vir sy bydrae tot ons geliefde taal, Afrikaans! Dit is 'n skat wat ons nooit mag vergeet of onderskat nie. Mag hy rus in vrede!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top