Elders gesien: Die dag toe meneer So-en-so vir PW gepak het

  • 2

Frederik de Jager skryf op Facebook

Hier is ’n storie wat homself aan sy stert beetgekry en lekker gebyt het.

Nie lank gelede nie sit ek in Nxuba aan ’n etenstafel langs ’n man. Dit was in die Victoria Manor – hoe anders? Om daar te wees is ’n sensoriese sprong terug na die Victoriaanse glorie van dié Karoodorp, wat toenmaals Cradock geheet het.

Die man wil my bekend lyk, en dit is my onmiddellik duidelik dat hy iemand van substansie is. A person of consequence, sal die Engelsman sê.

Toe ek sy naam hoor, is ek terug in Stellenbosch, die laaste van die jare sewentig. Ek vertel hom hoeke reuse hy en ander vir my was. Ek was toe ’n eerste- en tweedejaartjie, uncool en oorhoops, selfbewus en onseker, terselfdertyd onvindbaar verstoke agter lae en lae pretensie.

Hy, Chris Heymans, het onderweg elders heen kom dagsê by die Etienne van Heerden Veldsoirée. Hy en Etienne was tydgenote en seniors toe ek op Stellenbosch land. Chris vra of ons mekaar destyds ontmoet het. Ek sê ek was ver te beskimmeld om met hom en sy portuurs te praat. Chris en Etienne was albei hoofredakteurs van Die Matie. Hulle en ander van hulle kring, of rang, het geprotesteer, gedebatteer, verklaar en uitgedaag. Hulle was progressief en vreesloos. Hulle was soos gode.

Sedertdien het Chris ’n grootkop by die Wêreldbank geword. Etienne het prestasie op prestasie gestapel, as skrywer en as akademikus.

Die aand aan tafel vertel ek hulle twee iets. Of vra eintlik of hulle dit onthou: In my tweede jaar, 1979, was daar ’n politieke vergadering in die stadsaal. Die plek, ’n yslike ruimte, het volgepak gesit. Daar was indertyd nie iets soos onbetrokke millennials nie. PW Botha was die gasspreker. Hy was toe nog eerste minister. Die kanselier van die universiteit was BJ Vorster. Later sou Botha dit word. Daar was geen lig te bespeur tussen die Nasionale Party en Stellenbosch nie, hetsy die elite of ’n meerderheid van die studente.

Die gehoor was geesdriftig. Botha was net plein driftig. Ná sy toespraak was daar geleentheid vir vrae. Daar is ’n mikrofoon in die middelpaadjie aangelê vir die vraagstellers. Die vrae was meesal van ’n bevestigende, gatkruiperige aard. Soos: Hoe sien u vandag se jeug ten opsigte van die uitdagings wat ons land in die gesig staar?

Maar toe kom een van die SR-lede met ’n vraag. Ek onthou nie meer wat nie,1 maar dit was tien teen een iets soos wanneer gaan Suid-Afrika sy besetting van Suidwes-Afrika staak, of wanneer gaan Nelson Mandela vrygelaat word, of wat is Botha se motief om die land in ’n polisiestaat te omskep? Iets provokatiefs. Soweto was pas drie jaar tevore. Dit was omgesukkelde tye.

Op die verhoog voor het ampsdraers gesit, mans in pakke en blink skoene, elk met ’n angelier en ’n feetjievaringblaartjie op sy lapel vasgesteek, elkeen dronk van die woord amp. Botha het oorgeleun na die jongman langs hom, die voorsitter van die party se studentetak, en hom iets gevra. Toe kyk hulle albei na die man aan die woord in die gehoor. Toe fluister die studentetakvoorsitter iets en Botha knik en staan op om te antwoord.

Intussen het die vraagsteller klaargemaak, omgedraai en na sy sitplek teruggeloop. Maar Botha het hom gekeer.

“Wag ’n bietjie, meneer So-en-so,” het sy stem oor die luidsprekers gedonder. “Kom staan daar by die mikrofoon.”

Dit was ’n sluwe truuk om die student se naam vas te stel. Dit was so goed hy gryp hom aan die hempskraag. En met sy stem oor die luidsprekers gemonster en sy opponent voor hom vasgepen onder sy basiliskoog en daardie berugte wysvinger, was die magsbalans van die situasie in die bombastiese eerste minister se guns.

Toe trek dié los met ’n tirade. Hoe die land onder ’n totale aanslag staan en hoe sinistere magte naïewe studente soos hy misbruik om die orde omver te werp en hoe dit op verraad neerkom as …

Maar die vraagsteller, wie se naam ek nie kon onthou nie, het homself bymekaargemaak onder die totale aanslag van die verhoog af. Hy het immers ook ’n mikrofoon. En hy onderbreek die premier en sê iets van hoe kan die land vrede en regverdigheid behaal as dít die houding van die eerste minister is.

Ek ad lib hierdie onderonsie, maar die woord “houding” onthou ek duidelik, soos ook Botha se reaksie. Ek dag hy ontplof.

“Skaam jy jou nie om so met jou eerste minister te praat nie?” raas hy. “Plaas jy bepaal jou by jou studies en bemoei jou nie met die politiek nie.”

Hierdie woorde het gekwyl van die ironie. Het Botha immers nie self sy studie aan die Universiteit van die Vrystaat gelos om organiseerder vir die Nasionale Party te word nie?

Die gejuig in die saal het ten hemele opgeklink, hoewel ek nie seker is dit sou heeltemal tot by die hemel gekom het nie.

Ek is terug koshuis toe. Daar het die vreugdevuur reeds in die quad gebrand. Biere is aangegee. Die manne was vrolik. Het meneer Botha darem nie die linkse moffies góéd gesê nie! Hele stukke uit sy toespraak en antwoorde is gerepeteer. Veral waar hy vir So-en-so geantwoord het.

Ek het gevlug; ek kon nie daar wees nie. Ek het soos ’n dwaas deur Stellenbosch se strate gedwaal, nie in staat om terug te gaan nie, en sonder enige idee wat ek moes doen. Die hele nag het ek so gedwaal. Die volgende oggend het ek ingesluip toe almal nog slaap.

Dit alles vertel ek Chris Heymans en Etienne van Heerden die aand in die Victoria Manor op Nxuba. Toe sê Chris: “Ja, ek onthou dit. Maar dit was in die DF Malan-sentrum. En daardie meneer So-en-so was ek.”

Dié laaste mededeling het ek eintlik self begin vermoed terwyl ek so vertel het. Maar ek kan om die dood nie die DF Malan-sentrum (die universiteit se sportsaal) in hierdie storie onthou kry nie. Tog, as Chris in die middelpunt daarvan was, moet hy seker reg wees; soos wanneer ’n skrywer sit met ’n hoofkarakter wat sy eie wil op jou storie afdwing.

Eindnota

In die kommentare onderaan die Facebook-plasing help Loekie la Grange, met besonderhede wat hy beter onthou, my reg. Hy skryf:

Ek was daar … Hoe ek die vraag onthou:

“Meneer, is dit waar dat u gesê het die Nasionale Party sal nie langer remskoene in sy midde dra nie?”

“Dit is so, ja.”

“Nou hoekom is Andries Treurnicht nog in die parlement?”

Die res van die vingerswaaiende tirade is korrek vertel. Dis egter lank terug; tyd kan geheue aantas.

Video

Hierdie video is gemaak op die aand in Nxuba waarna verwys word. Heymans verskyn ook.

Lees en kyk ook:

Die LitNet25-skrywersberaad en die Etienne van Heerden Veldsoirée 2025 in ’n aantal kiekies verbeeld

Seen elsewhere: I was at the Etienne van Heerden Veldsoirée

Seen elsewhere: The best Veldsoirée

Die Etienne van Heerden Veldsoirée 2025, ’n oorsig

  • 2

Kommentaar

  • Andreas van Wyk

    Die vergadering was beslis in die Stellenbosse stadsaal. As nuuskierige jong dosent was ek in die gehoor om die interaksie tussen PW Botha en Stellenbosch se studentemassa te beleef in die roerige 1970's.

  • Die student wat die vraag gestel het, is 'n lid van die FB-groep Nagkantoor en het in 'n stadium die storie daar vertel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top