Ek was nog nooit in Belhar nie

  • 0

Prent bo, links: Canva; foto bo, regs: Bebe Hawa Sattar en Liesbet van Wyk; onder, links: Fourie Botha en Liesbet van Wyk; boekomslag van Phoebe: Jakes Gerwel Stigting; foto heel regs: Liebet van Wyk en Joy Watson (alle foto’s: verskaf)

Ek was nog nooit in Belhar nie

’n Paar maande gelede het Rachelle Greef, wat by die Rondebosch Lees- en Studiekring oor Phoebe kom praat het, ’n uitnodiging namens die Belhar Boekklub aan ons gerig om tog hulle byeenkomste by te woon.

Ek wil verskriklik graag gaan! Ek was nog nooit in Belhar nie.

Ek weet van die Belhar-belydenis. Belhar is die plek waar ’n studentemaat uit die ’70’s gebly het, en vandat ek nou permanent in Kaapstad bly, het die naam my gefassineer. Dis ’n plek van konflik en vrede en versoening, en daar word gelees.

Die dag wat ek die fotokopie van die uitnodiging gemaak het, het die oulike jong man in die drukwinkel gesê hy ken daardie biblioteek. Sy ouma het net om die draai gebly en hom van kleins af aangemoedig om te lees. Sy gesig is helder en hy lyk gelukkig. Sy ouma is nie meer daar nie, maar sy het van hom ’n leser gemaak.

...........
Die dag wat ek die fotokopie van die uitnodiging gemaak het, het die oulike jong man in die drukwinkel gesê hy ken daardie biblioteek. Sy ouma het net om die draai gebly en hom van kleins af aangemoedig om te lees. Sy gesig is helder en hy lyk gelukkig. Sy ouma is nie meer daar nie, maar sy het van hom ’n leser gemaak.
.............

Daardie Belhar Biblioteek moet ’n spesiale plek wees.

’n Goeie vriendin van Durban kuier hier, en ek nooi haar saam na ons Rondebosch-byeenkoms. Ons geniet die oggend baie, en toe ek ons leeskringlede uitnooi om saam te gaan Belhar toe, wonder ek en my vriendin of daar enige belangstelling sal wees.

Ongelukkig kon niemand anders bywoon nie.

My ryding is nie juis betroubaar nie. Sluit soms, soms nie, en sluit soms nie oop nie, of jy nou binne of buite is. Daar is geen saamrygeleentheid in iemand anders se sportnutsvoertuig nie, en ek ry self.

Dis ’n lieflike dag in Kaapstad na ’n lang, nat, yskoue winter. Die Kaap is pragtig. Terwyl ek die GPS volg met die N2 verby die Jakes Gerwel-afrit na Robert Sobukwe, sien ek oral plasse water en die piepklein daisies en skelgeel surings. Die lente is op pad!

Vinnig-vinnig is ek daar, maar tot my spyt is ek al weer laat. Ronel Swanepoel het reeds begin praat, en ek moet verleë intrippel en plek soek om te sit. Tot my vreeslike ergernis en verleentheid praat die stem op my foon se GPS kliphard saam, nie een keer nie, maar twee!

Santel, my skakel met die boekklub, stap nader en fluistervra of ek Liesbet is. “Jammer ek is laat!” Ek kry so ’n vriendelike glimlag wat my oombliklik tuis en welkom laat voel.

Daar is 30 stuks lede teenwoordig, meestal vroue, selfs ’n kindjie of twee, en ook ’n paar mans! By ons leeskring is hulle ook maar dun gesaai. Sowat van meelewing en belangstelling in die geskrewe woord en wat in die wêreld aangaan, het ek lanklaas gehoor. Die gehoor se ouderdomme strek van 20 tot verby 70, en almal luister aandagtig na mekaar. Maatskaplike probleme word opgelos, en iemand bied aan om ’n jong dame te help werk soek.

Joy Watson is ook daar. In ’n vorige lewe het ons lekker saamgewerk aan boekprojekte. Dis goed om haar te sien, en dis opwindend dat mense oor haar boek, The other me, praat. Iemand het die boek in twee dae gelees! Striving for social equity is die ander boek van die oggend, waarvan Joy medesamesteller was, en Ronel een van die bydraers. Die boeke word te koop aangebied en word vinnig deur die entoesiastiese lesers opgeraap. (Terloops, Joy vertel my dat sy ’n Kook en geniet present gekry het en hoe lekker sy daaruit kook. Ek moet weer gaan kyk na die frikkadelresep wat sy aanbeveel. Ek het die boek, maar dis nou tog te lekker om resepte op die Kook en geniet-app te soek.)

Van kos gepraat, by die byeenkoms kreun die tafels onder alles wat te drinke en ete aangebied word. Soet en sout om aan alle smake te voldoen.

Teen die mure van die vertrek waarin die bespreking plaasvind, is heelwat inligting oor vorige geleenthede. Elke plakkaat lyk anders. Daar sien ek die groot verskeidenheid interessante skrywers wat al kom kuier het. Daar is Kirby en sy Eugene ook, verlede jaar in September. Ons by Rondebosch sien vreeslik uit na Kirby se besoek by ons, hierdie September. Belhar was Rondebosch weer eens een voor. Selfs ook al vir Antjie Krog as spreker gehad!

Na ’n fotonemery met selfone en deur ’n professionele fotograaf is ek daar weg. Die dierbare Santel stap saam kar toe. Ons gesels of ons mekaar al ’n ewigheid ken.

Met die wegry en die lieflike uitsig oor die vlakte na Duiwelspiek, daar waar Rondebosch lê, is my hart vol van die gulheid, mededeelsaamheid en pragtige gesprekke by Belhar se biblioteek.

Kom saam na die volgende besoek! Dis onvergeetlik en dit sal jou nie ongeraak laat nie.

Lees ook:

Jakes Gerwel (1946–2012)

Eugene deur Kirby van der Merwe: ’n leeskringbespreking

Boeksemdais 1: Die groter prentjie, die legkaartstukke, lekkerleesboeke en swart swane

Die leefwyse van ons vroeë mense: ’n onderhoud met Niel le Roux en Rachelle Greeff

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top