Ek sal vir jou veg deur Cliffordene Norton: ’n resensie

  • 0

Ek sal vir jou veg deur Cliffordene Norton (Uitgewer: Pan Macmillan)

Resensie: Ek sal vir jou veg 
Skrywer:
Cliffordene Norton
Uitgewer: Pan Macmillan
ISBN: 9781779990433

Die agterplat vat die essensie van die storielyn netjies vas: “Cazlee veg elke naweek by ’n onwettige vegklub om kos op die tafel te sit en haar pa se dobbelgewoonte te onderhou. Sy droom van ’n matrieksertifikaat en ’n lewe vér weg van haar liefdelose ouerhuis ...”

1. Storielyn

Dit is die verhaal van twee meisies, Cazlee January en Ellamay Dean. Cazlee se werklose pa het ’n drank- en dobbelprobleem en haal sy buie op sy vrou en dogter uit. Toe sy hom een aand terugslaan, sien haar pa die talent van haar vuiste raak en sleep haar na ’n onwettige veggimnasium. So begin sy om kos op die tafel te sit, deur aan brutale, onwettige gevegte deel te neem.

Ellamay is ’n bevoorregte meisie met liefdevolle ouers. Sy is ’n vaardige atleet en danser, en ook in die Taekwondo-span. Haar pa, Joshua Dean, is ’n oud-Taekwando-kampioen. Dis haar grootste begeerte om in sy voetspore te volg.

Die storie word beurtelings deur die twee eerstepersoonsvertellers, Cazlee en Ellamay, vertel.

2. Struktuur

Twee eerstepersoonsvertellers wissel mekaar af om die storie uit hul eie perspektief te vertel. Die gewig van die storie neig in die rigting van Cazlee. Met ’n vinnige tel van die hoofstukke, lyk dit of Cazlee in 36 hoofstukke as verteller optree en Ellamay in slegs 22. Soos die verhaal vorder, val die fokus egter toenemend op Ellamay.

Die storie word hoofsaaklik chronologies vertel. Daar is enkele terugflitse om die agtergrond van Cazlee se toenemend haglike huislike omstandigehede te skets en om Ellamay se verhouding met haar pa te belig. Sodat jong lesers nie verward raak nie, is ’n volle hoofstuk aan so ’n terugflits gewy en word die tyd ook aangedui, soos op bl 117. Ellamay: 5 jaar gelede; bl 30: Cazlee, 9 jaar gelede.

Die hoofstukke is kort en die tempo is vinnig. Vir aksievrate en lui lesers is dit dus ’n wortel voor die neus.

3. Taal

Norton skryf deurgaans in ’n neutrale taalregister. Dit is nie in Kaaps nie, maar daar is genoeg taalelemente wat daarop dui dat die taal uit ’n spesifieke kultuurgroep kom. Met Norton se agtergrond en die verwysing na studente, die dam en Gimmies, sou mens kon raai dat die verhaal iewers naby Potchefstroom afspeel. Die name wat aan karakters gegee word, laat mens ook raai dat dit ’n groep bruin kinders is (Avery, Cazlee, Ellamay, Kendra, Safiya). Die essensie is egter nie hul afkoms nie, maar elkeen se persoonlike reis.

Interessante uitdrukkings wat ek nie geken het nie, verwys dan ook na hul spesifieke sosiale groep, byvoorbeeld:

Hy is bang hulle roep die gattas. > Hy is bang vir die polisie.
Het hulle beef met mekaar? > Is hulle kwaad vir mekaar?
Sy het skrop nodig gehad. > Sy moes geslaan word.
Blessers: Ouer mans wat jong meisies se gunste koop.

Slay queen: ’n Meisie wat deur ’n man gekoop word om te veg.

’n Klein vinjet op bl 32 vang ook die sosiale agtergrond van Cazlee vas: “Ek sit die kolwyntjie neer en tel die bunny chow op. Dis ’n geskenk van Ali, die Pakistani winkeleienaar en my enigste ander vriend. Ek trek een slaptjip uit en druk dit dankbaar in my mond. Dit proe na atjar.”

Dit gesê, gebruik die skrywer meer formele register om na cupcakes en popcorn as kolwyntjies en springmielies te verwys.

Tienertaal/slimfoontaal

Slimfone speel ’n groot rol in die storie, soos wat ook in die werklikheid gebeur. Daar is baie verwysings na die funksies van fone, boodskappe wat heen en weer vlieg, karakters wat nie fone wil beantwoord nie, ens. Die jargon wat met fone saamgaan, is natuurlik oorvloedig. Dit is ongelukkig ook iets wat ’n verhaal kan laat verouder soos wat tegnologie ontwikkel.

Jargon uit die kryt: Taekwondo en gevegskuns het ’n uitgebreide jargon. Dis duidelik dat die skrywer hiervan kennis dra, of deeglike navorsing gedoen het. Die beskrywing van die talle gevegte is ’n sprekende bewys hiervan.

Die slim gebruik van taalvariante en jargon help om ’n geloofwaardige milieu vir die leser te skep. Dit was vir my ’n reis na ’n wêreld van donker kryte en veghokke, wat ek fassinerend gevind het.

Intertekstuele verwysings na flims, soos spesifieke Marvel-films en -karakters, is dalk vir ouer lesers duister, maar sal wel konteks skep vir die jongklomp. Dit is egter ook elemente wat ’n verhaal minder tydloosheid gee.

4. Karakters

Soos reeds genoem, is die hoofkarakters Cazlee en Ellamay.

Cazlee woon in ’n lendelam huis saam met haar pa en ma. Pa is ’n dronklap en dobbelaar, altyd vrot van die skuld. Hy haal sy frustrasies met sy vuiste op sy vrou en kind uit, breek die paar mooi dinge in die huis en is ’n hopelose voorsiener. Cazlee gaan na ’n plaaslike skool, waar haar punte rondom 33% hang. Sy moet gereeld uitbly weens gevegsbeserings. Haar ma is ’n swak karakter, slagoffer van haar omstandighede.

Ellamay Dean woon in ’n kompleks naby ’n duur privaatskool. Haar pa is ’n eertydse Taekwondo-kampioen en tans Taekwondo-afrigter by die skool. Haar ma, Nadia, is ’n fiks, liefdevolle vrou en ma. Sy werk as advokaat. Ellamay se liefdesbelangstelling is Avery.

Ali is ’n Pakistani met ’n spazawinkel. Hy het ’n hart van goud en kyk uit vir Cazlee en haar ma.

Xander is ’n seun by Carlisle, die nuwe skool waarheen Cazlee gaan. Hy het ogies vir haar.

Safiya is ’n Moslem-meisie wat deurentyd deel van die storie is, aangesien sy ’n kamera het en foto’s neem vir die skool se sosiale media. Haar rol is effens vaag, maar sy soek heeltyd na vure om af te neem. Dis ’n fiksasie nadat haar ma in ’n motorongeluk doodgebrand het.

Vince: Eienaar van Cazlee se eerste vegklub. Hy het sy eie reëls, maar het Cazlee se welsyn op sy hart.

Jarra: Die uitsmyter en chauffeur by die vegklub. Ook ’n rowwe kalant met ’n hart van goud.

Joshua Dean: Ellamay se pa. As talentsoeker word hy Cazlee se redder, soos die Jesus-figuur waarvoor sy so gebid het as kind: “Hallo Jesus, dis Cazlee. Ek bly in Katjiepieringstraat 49. Pa is vanaand kwaad ... Kom help. Asseblief? O ja, amen” (31).

5. Konflik

Die verhaal wemel van konfliksituasies. Met ’n tema van gevegskuns is dit ’n gegewe.

Cazlee vs Cazlee: Wie is Killer K, die straatvegter, en wie is Cazlee January, lid van die Taekwondo-span?

Cazlee en haar pa: Dis ’n fisieke konflik. Sy haat hom. Sy kry dit selfs reg om hom terug te slaan. Dit word ’n meer dreigende konflik wanneer hy haar agtervolg en afpers.

Cazlee en haar ma: Dis ingewikkeld. Sy verag haar ma se swakheid. Maar sy kry haar ook jammer.

Cazlee en Ellamay: Ellamay voel bedreig. Cazlee se natuurlike talent maak haar die nommer 1 in die span. Ellamay is bitter jaloers as haar pa vir Cazlee begin afrig, nadat hy geweier het om sy eie dogter af te rig. Ten spyte van hul verskille, word die twee boesemvriendinne.

Die haves en die have-nots: Dis in essensie ook ’n konflik tussen die realiteite van die rykes en die armes. Cazlee moet heeltyd dink aan die voorregte wat sy in haar nuwe lewe geniet, in teenstelling met dit waarvan sy weggestap het.

6. Ontknoping

Soos dit ’n goeie jeugverhaal betaam, neem die jeugkarakters self die hef in die hand. Hoewel grootmense ook ’n bepalende rol in die storielyn speel, is dit Ellamay se besluit om by onwettige gevegte betrokke te raak, wat die klimaks van die verhaal word. Hier is dit dan die spanmaats wat self die kalf uit die put red, al moet een van hulle met groot beserings daarvoor betaal. Vriendskap seëvier, wat ’n baie positiewe tema in die boek is. Dis ’n noot vol belofte waarop die verhaal afsluit wanneer Cazlee in haar hospitaalbed haar groepie maats raaksien: “Ek kyk na hulle en besef dat ek nie net vriende het nie, maar familie. Dis mý mense.”

Hoewel daar baie los drade aan die einde hang, en mens nie anders kan as om te wonder of Cazlee gaan vasbyt om haar matriek klaar te maak en die siklus van armoede te breek nie, mag ’n romantikus soos ek dit heelhartig glo.

7. Teikenmark

Meisies 13 plus in Afrikaans Huistaal sal die boek verslind. Dit lees maklik en vinnig.

Seuns sal egter ook groot aanklank vind by die tema van gevegskuns.

As klasleesboek vir Afrikaans EAT kan die boek vanaf graad 7 tot graad 9 aanbeveel word.

As lekkerleesboek kan dit egter ook deur volwassenes geniet word. Dis ’n kykie in ’n wêreld waarvan min van “my dam se ganse” iets weet.

Lees ook:

Jeugdag – wat moet die jeug doen om gehoor te word?

Die regte boek kan ’n leerder se lewe red

LAPA: Die belang van boeke vir kinders

SA Kinderliteratuurfees 2022: ’n onderhoud met Cliffordene Norton

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top