Jeugdag – wat moet die jeug doen om gehoor te word?

  • 0

Een oggend is ek op pad werk toe, toe ek aan die betekenis van Jeugdag dink. Vreemde gedagte vir ’n vroegoggend, maar wie is ek nou om vir my brein te sê wat om te doen?

Jeugdag. Wat beteken dit eintlik? Vir sommige mense is dit ’n kans om terug te kyk en te meet hoe ver ons gevorder het. Vir ander is dit ’n geleentheid om vorentoe te kyk. Vir sommige mense is dit, na 46 jaar, steeds ’n dag van rou en onthou.

As Suid-Afrikaners herdenk en vereer ons jaarliks die jongmense wat tydens die Soweto-opstande in 1976 gesterf het. Dié studente het betoog teen die besluit wat die apartheidregering en die destydse Bantoe Onderwys-stelsel in 1974 geneem het wat bepaal dat Afrikaans op ’n gelyke basis met Engels as onderrigtaal in sekondêre skole gebruik moet word.

Onderrig in Afrikaans is dalk die bekendste rede vir die protes, maar die swart studente het ook geprotesteer teen swak geriewe, oorvol klaskamers en swakopgeleide onderwysers. Kwessies waarmee die onderwysstelsel vandag nog sukkel.

Maar wat beteken Jeugdag vir vandag se jeug? Ek het die twee jeudiges (18 en 23) saam met wie ek woon hieroor gevra. Een het haar kop geskud as antwoord, en die ander?

“Nog ’n vakansiedag,” het sy geantwoord

Nog ’n vakansiedag. ’n Dag van geen verantwoordelikhede en laat slaap.

Ek wou eers ’n preek afsteek oor die belangrikheid van Jeugdag en waarom dit geëer moet word. Ek sou vinnig hierdie preek kon saamflans, want ek het dit self baie as jonger mens gekry.

Maar toe neem ek ’n oomblik en vra my af: Wil ek rêrig?

Wil ek rêrig jongmense se dood verheerlik?

Dis wat ons elke jaar doen, is dit nie? Die politici gebruik die dag om hul agenda, wat dit ook al mag wees, te bevorder.

En ons? Ons post die beroemde foto van Hector Pieterson, wat deur ’n dwarskoeël van die polisie getref is en nie deel van die optogte was nie, oral op sosiale media en skryf motiverende boodskappe vir vandag se jeug.

Dikwels gebruik ons ook hierdie dag as ’n weegskaal waarop die jeug van vandag beoordeel en te lig bevind word. Ons sê: Kyk – kýk wat het die jeug van 1976 gedoen; wat doen julle?

’n Onregverdige vergelyking as jy my vra, want niemand kan met die dood kompeteer nie.

As ek die positiewe kant van Jeugdag wil sien, kan ons dit sien as ’n dag waarop die belangrikheid van Suid-Afrika se jeug beklemtoon word. Waar kwessies soos dwelmmisbruik, werkloosheid, ens wat vir hulle belangrik is, onder die loep kom.

Ons kan die dag ook sien as ’n viering van die jeug wat opgestaan het vir dit waarin hul glo. ’n Viering van die jeug se mag: 20 000 studente het saamgekom en history gemaak.

Tog moes studente sterf voor daar aan hulle stemme gehoor gegee is. Anzil Kulsen vra in 2018: “Jeugdag – wat sou gebeur het as iemand geluister het?

’n Goeie vraag waarvan ons nooit die antwoord sal weet nie.

Ek het ’n ander vraag: Hoekom moet jongmense tot extremes gaan om gehoor te word?

Hastings Ndlovu. Greta Thunberg. Trayvon Martin.

Hastings was nog ’n skoolseun wat tydens die Soweto-opstande doodgeskiet is.

Greta moes op die ouderdom van 15 haar skoolopvoeding compromise om buite die Sweedse parlement te betoog oor die dreigende klimaatsverandering.

Trayvon is een van die name wat gereeld tydens die #BlackLivesMatter-optogte verskyn. Hy was ’n 17-jarige Afro-Amerikaner van Miami Gardens, Florida, wat in Sanford, Florida noodlottig geskiet is deur George Zimmerman, ’n 28-jarige Spaans-Amerikaanse buurtwaglid. Zimmerman het hom geskiet omdat hy, volgens Zimmerman, “verdag” gelyk het.

In Suid-Afrika word talle jong vroue jaarliks vermoor, wat vir ’n kort rukkie die aandag vestig op die geweld teen vroue.

Ons is in die sesde maand van 2022 en reeds het ons ’n ondenkbare gebeurtenis beleef: Op 24 Februarie het Rusland Oekraïne binnegeval. Oorlog. In 2022.

So bekend, dog steeds onwerklik.

Wat het dit met die jeug te make, mag jy vra?

Alles. Dit is jong mans wat volunteer om te gaan veg. Jim Sciutto, ’n CNN-aanbieder, hertwiet op 4 Maart ’n foto van vier jong mans wat volunteer het om in die oorlog te veg.

Hul beskerming? Skaatsplank-kniebeskermers.

Die foto tref diep, dalk omdat dit onderstreep wat oorlog – onskuld, veiligheid, hul toekoms – van die jeug steel.

Een Twitter-verbruiker, Marcin Zakrocki, het my gevoel oor die foto goed vasgevat: “Dit maak my siek. Siek in my maag dat ons in 2022 kyk na kinders wat hul ouers behoort te bekommer deur laataand uit te bly en met alkohol in te sluip. Nie omdat hulle vermoor sal word in oorlog terwyl hulle hul land verdedig nie.”

Die jeug en hul kwessies kry slegs aandag op Jeudag óf as hulle dood is. Natuurlik kan dieselfde gesê word van enige saak, maar wil ons nie beter hê vir ons jeug nie?

Ons beskryf die jeug as die toekoms. Die toekoms van ons land, ons planeet. Die toekoms – punt.

Waarom moet hulle eers sterf en ly voor ons na hulle luister?

Bronne

Greg Botelho. 2012. What happened the night Trayvon Martin died.  https://edition.cnn.com/2012/05/18/justice/florida-teen-shooting-details.

Brenda Masilela. 2022. Justice for Hillary Gardee: 8 other young women murdered in mysterious circumstances in SA. https://www.iol.co.za/news/south-africa/gauteng/justice-for-hillary-gardee-8-other-young-women-murdered-in-mysterious-circumstances-in-sa-2ab7565c-e5f0-4c6b-bd95-5d500ab0c6e2.

The Visual Journalism Team. 2022. Ukraine war in maps: Tracking the Russian invasion. https://www.bbc.com/news/world-europe-60506682.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top