Ek gee op: ’n filmresensie

  • 0

Skermgreep: Ek gee op (lokprent, YouTube)

 

“In die nuwe kykNET Storiefilm, Ek gee op, speel Stiaan Smith (Toorbos, Sy klink soos lente, Vuil wasgoed) Jacques, ’n man wat ontevrede en gefrustreerd is met sy eenvoudige bestaan. Nes ons almal soms doen, wonder hy wat sou gebeur as hy net sou verdwyn, sonder dat iemand hom sal kan opspoor. So besluit Jacques om sy rugsak te pak, van sy vrou te vlug en op sy eie in die woud te gaan bly. Hy is dood gelukkig met sy nuwe lewe, totdat hy alleen begin voel. Hierdie off-beat komedie sal jou twee keer laat dink voor jy op gee.”       



Ek gee op
kry meer reg as verkeerd, dus moet die skrywer en regisseur, Corné Koegelenberg, beslis nie opgee nie.

Ek deel die film in twee gedeeltes: die eerste, humoristiese helfte en die tweede effe meer dramatiese helfte. Die eerste werk, die tweede nie.

Die snaakse helfte

Komedie is van die moeilikste genres om te skryf, en te verfilm. Soos met jazz, lê daar ’n komplekse sisteem onder die grappies. Tydsberekening. Die oordrag. Balans tussen nie veilig nie, maar ook nie vulgêr wees nie. Balans tussen lag en diepte. Dan is daar tipes humor ...

Koegelenberg se draaiboek is snaaks. Die dialoog is skerp, en van die tonele, soos die een waar polisiebeamptes ondersoek instel, is surrealisties snaaks. Ek dink wel dit sou snaaksser en donkerder gewees het as Koegelenberg vrye teuels gehad het. Mens word ingeperk deur wat die volk sal verslind.

Stiaan Smith se goofball vertolking dra die eerste helfte. Hy verstaan komedie. Hy was uitstekend langs ’n ewe uitstekende Amalia Uys in Sy klink soos lente, ’n film wat heeltemal te min aandag gekry het. Mens lag vir sy visvangkaskenades, en swig voor sy onpretensieuse sjarme.

Skermgreep: Ek gee op (lokprent, YouTube)

Die tweede helfte

Halfpad deur die film en deur hul verhouding verander Paige oornag, en die wending voel te vinnig, te geforseerd. Selfs vir ’n komedie. Grappies maak gou plek vir ongemak en dinge begin uitrafel, letterlik en figuurlik.

(Bederfwaarskuwing:) Aan die begin was Wilmarie irriterend en Jacques wou net ’n eenvoudige lewe by die see hê. Maklik. Ons verstaan. Hy ontmoet vir Paige en trek by haar in. Ons verstaan. Paige haak uit oor die ribbetjies. Ons verstaan minder. Wilmarie daag op en Jacques dryf heen en weer tussen die twee sonder enige motivering. Ons verstaan nog minder. Paige verdwyn. Ons gee op.

Die kamerawerk was vir my steurend met tye. Soms wou ek nader wees, soms verder weg. Ander kere was die berg of die visstok op lomp plekke afgesny. Kleurgradering was egter mooi: warm en nie die gewilde desaturated gevoel nie.

Al drie hoofkarakters is eendimensioneel, maar albei die vroue is besonder irriterend, met ’n bietjie histerie daarby. Die draaiboek het nog werk nodig gehad, en dalk insette vanaf vrouekollegas.

Die uiteinde van die saak

Koegelenberg se grootste talent is komedie. Hy moet dit óf verder voer, óf meer tyd spandeer aan die drama in die draaiboek. Ek dink hy kan beide doen met meer tyd en ’n groter begroting.

Lees ook:

Die nuwe TV-reeks Straat is ’n verrassing

Hans steek die Rubicon oor: ’n filmresensie

7de Laan: ’n fenomeen, of jy nou daarvan hou of nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top