7de Laan: ’n fenomeen, of jy nou daarvan hou of nie

  • 0

Pexels op Pixabay

.........
Dit voel vir my ek het 7de Laan op skool gekyk, tog het die reeks ’n hele dekade na my matriekjaar verskyn. Met ander woorde, dit voel soos deel van my grootword, so verweef is dit in die Suid-Afrikaanse TV-landskap en -kultuur.
............

Dit voel vir my ek het 7de Laan op skool gekyk, tog het die reeks ’n hele dekade na my matriekjaar verskyn. Met ander woorde, dit voel soos deel van my grootword, so verweef is dit in die Suid-Afrikaanse TV-landskap en -kultuur.

Sepies is nie my scene nie en het ek ophou 7de Laan kyk, om eerlik te wees, toe Nina Swart uit die reeks uit is. Ek onderskat egter nie die kulturele waarde van ’n reeks soos 7de Laan nie. Vir die doel van die artikel raadpleeg ek toe twee betroubare instansies – Google en my ma. Laasgenoemde is meer algemeen bekend op Facebook as die #moederskip.

Die ou tannies, die tuinier en die Engelse buurvrou

Die #moederskip stel ook nie teleur nie. Binne ’n uur nadat ek haar versoek het om onder die vriende rond te vra, bel sy my terug en sê ek beter pen en papier bring. Die moederskip het haar goed van haar taak gekwyt. Ek gaan haar ’n konsultasiefooi moet betaal.

Sy self is hartseer oor die reeks tot ’n einde kom. Die karakters voel al soos familievriende. Sy was al hartseer en bly saam met van hulle, en baie kwaad vir ander.

Bella (78) vertel haar wanneer haar aftree-oord-buurvrou kuier, en ‘n episode gaan begin, gaan sy summier huis toe om te gaan inskakel. Die buurvrou is Engels.

Marie (laat 60’s) en haar huishulp stem saam dat die karakters soos familie voel. Van die stories het werklike waarhede bevat waarmee mens kan assosieer.

Annette (63) se tuinier, Joseph, verneem elke Maandagoggend of sy die vorige week se episodes gekyk het. Indien sy enige een misgeloop het, vertel hy haar elke gebeurtenis in besonderhede voor hy ’n vurk in die grond steek. Annette se buurvrou skuif ook pilatesklasse om dié sepie te kan meemaak.

Maria (42), die moederskip én ons eie huishouding se huishulp, hoor my ma gesels met almal oor die foon oor 7de Laan. Sy las by dat sy self, plus haar hele familie in Zimbabwe, dit kyk. Die Engelse onderskrifte het gehelp.

 

Vermaak

Google lewer ander tipes skatte. Kyle Clark, ’n jong bruin akteur, het Afrikaans geleer deur 7de Laan op skool te kyk. In 2023 maak hy sy debuut op die reeks as die sjarmante Indiese dokter Sudesh Reddy. Hy sê ook: “7de Laan has transcended through my family for generations.

.........
Musikant en TV-ster Keabetswe Mamosadi, meer algemeen bekend as KB, maak haar verskyning in die reeks in 2017. Haar karakter was nie veronderstel om veel Afrikaans te praat nie, maar KB het vir meer Afrikaanse dialoog gevra. "I have studied Afrikaans and I feel confident about my abilities, but for me it is more about showing that Afrikaans and black culture are not from different worlds and can co-exist.”
............

Musikant en TV-ster Keabetswe Mamosadi, meer algemeen bekend as KB, maak haar verskyning in die reeks in 2017. Haar karakter was nie veronderstel om veel Afrikaans te praat nie, maar KB het vir meer Afrikaanse dialoog gevra. "I have studied Afrikaans and I feel confident about my abilities, but for me it is more about showing that Afrikaans and black culture are not from different worlds and can co-exist.”

Talle opvoedkundige maatskappye moedig leerders aan om 7de Laan te kyk om hul Afrikaans te verbeter. Jy hoor die uitspraak en leer die betekenis.

 

Dan is daar 7delaan Maak My Skaam. Dit is in 2009 begin deur skrywer Robert Daniels as ’n rubriek vir Media24 se Son. Dit was ’n reusesukses met min of meer 200 000 lesers. Die Faceboek-blad het net onder die 94 000 intekenaars en is baie aktief. “Sy skrywe kan by tye as kras beskryf word, maar bevat geen rassisme of haatspraak nie en die akteurs word nooit persoonlik benadeel of te na gekom nie. Die grappies handel slegs oor die storielyn en fiktiewe karakters.”

Die reeks het sy eie 26-bladsy-Wiki fandom, ’n SlimSpel Top 10 Afrikaans Additional Language spelkompetisie en ’n 7de Laan Daily Gossip Facebook-groep met net onder die 100 000 lede!

 

Navorsing

Ja, daar is akademiese navorsing oor 7de Laan gedoen. Ek kon in ’n paar minute drie verskillende essays opspoor. Die moeilike deel was om die middeljarige, perimenopousale brein van ’n rubriekskrywer op ’n hoër vlak te laat funksioneer. Hoekom moet die doktore altyd so langdradig wees? Sulke akademiese taal gebruik? Kan iemand hulle tog help? Ek moes deurentyd YouTube-video’s kyk as ontspanning.

Belonging in Thuis and 7de Laan: a critical whiteness studies perspective (2018)

Hannelie Marx Knoetze meen sepies is die ideale voertuig vir die ondersoek van ’n samelewing. Hulle kombineer universele karaktertrekke en plaaslike elemente. Hulle werk maklik sosiale kwessies in die storielyne in. Sepiekykers is ook buitengewoon getrou aan die programme – hulle ervaar dit op verskeie vlakke.

Sy bestudeer en vergelyk 7de Laan en Thuis om uit te werk “how whiteness is presented in mass media narratives”. Sy het juis dié twee sepies gekies amdat hulle uitgesaai word op openbare uitsaaiers wat onderhewig is aan druk vanaf die regering om verteenwoordigend van die samelewing te wees.

Haar slotsom is nie vleiend nie: “These homogenous imagined communities are problematic, because the creation of such unity and homogeneity always implies the exclusion of difference and as such have important implications for the politics of belonging as they play out in these texts. The result is a type of forced homogeneity which glosses over the underlying differences in both nations and reinforces dominant ideologies of whiteness.”

Ideology and subtitling: South African soap operas (2012)

As mens in ag neem dat Netflix beweer meer as 40% van hul intekenaars skakel die onderskrifte aan, is Jan-Louis Kruger se essay vrek interessant (en baie meer toeganklik geskryf).

’n Paar feite oor onderskrifte: Dit is ’n vorm van vertaling. Die vertaling staan in die voorgrond – dit is meer prominent as die oorspronklike teks. (Ek weet ek lees dit, al wil ek nie.) Dit kan vervreemdend wees vir mense met gehoorprobleme. Hulle word ontneem van die oorspronklike teks/klanke, vernaam as die klankte/musiek nie beskryf word nie. Maar wanneer jy ’n film in ’n taal kyk wat jy nie verstaan nie, behou die onderskrifte die “vreemdheid”, die andersheid van die taal/kultuur. Dit is ’n pluspunt, want dit verbreed jou horisonne.

Wat 7de Laan aanbetref, meen Kruger dat aangesien (1) alle tale wat gepraat word, selfs Engels, Engelse onderskrifte kry en (2) sommige van die klanke/musiek beskryf word, is dit “one of the very few programmes on SABC that is accessible to deaf and hard-of-hearing viewers”.

En ook: Die feit dat al die Engelse onderskrifte “dieselfde tipe” Engels gebruik, verwyder alle kulturele en linguistiese merkers. Dit dra by tot die SAUK se nasiebouprojek.

Hierdie is ’n uiters oppervlakkige en gebrekkige opsomming van die essay. Lees gerus die volle dokument.

Ten slotte, of jy nou hoofmeisie is van die 7de Laan Daily Gossip-groep, en of jy nou al heel week gal braak oor die simpel sepie wat lankal moes geëindig het, 7de Laan se nalatenskap is onmiskenbaar.

Ek sluit af met die volgende TikTok-interpretasie. Nie vir sensitiewe siele nie.

https://www.tiktok.com/@_wynvirdiepyn_/video/7256842650631048453.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top