Eintlik alles: ’n onderhoud met Alta Cloete en Lisa Uys

  • 0

Titel: Eintlik alles
Skrywer: Ronelle Uys en Marilé Cloete 
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780639605906

“What happens in Vegas, stays in Vegas.” Wanneer Miela Karoo toe trek om haar tante by te staan, kom sy gou agter dié ou gesegde geld nie noodwendig hier nie. Haar impulsiewe besluit spook by haar in die vorm van Johannes, haar tante se nuwe buurman en Miela se destydse bruidegom. Johannes beweer dat hulle huwelik geldig is en dat hy nie wil skei nie.

As binnenshuisversierder kry Miela die geleentheid om haar droom te bewaarheid en haar eie besigheid te begin, maar hoe kan sy permanent in die Karoo bly as sy daagliks herinner word dat sy net een woestyn vir die ander verruil het en steeds vlinders op haar maag kry wanneer Johannes in die omtrek is?

Eintlik alles deur Ronelle Uys en Marilé Cloete is nou beskikbaar by jou naaste boekwinkel.

Die romanseskrywer Ronelle Uys het haar lewe in 2017 weens kanker verloor. Haar dogter, Lisa, probeer sedertdien haar laaste manuskrip publiseer, en met die hulp van Alta Cloete, wat romanses onder Marilé Cloete skryf, is die werk in Februarie 2021 deur LAPA Uitgewers gepubliseer. Cliffordene Norton gesels met Alta Cloete en Lisa Uys oor die proses om Eintlik alles postuum gepubliseer te kry.

Lisa Uys

Ronelle Uys

“Ronelle Uys was ’n fenomenale vrou in elke stukkie van haar menswees. Sy kon glo in die Here met die hart van ’n sewejarige. Telkemale was ek op moedverloor se vlakte en elke keer het sy gesê ek moet aanhou glo. Elke keer het die Here uitkoms gebied. Sy het my gevorm tot die vrou wat ek vandag is. Ek het al baie keer by myself gedink as ek net ’n kwart van die vrou kan wees wat sy was. As ek dink aan haar kan ek nie anders as om te glimlag nie. Kort-kort het sy iets gedoen en dan kon ek nie help om te wonder hoe sy dit reggekry het nie,” skryf Lisa in die voorwoord.

Eintlik alles is die laaste boek waaraan jou ma, Ronelle Uys, gewerk het voor haar dood. Vertel asseblief oor die proses om hierdie boek postuum gepubliseer te kry. Was hierdie proses vir jou helend?

Dit was vir my ’n absolute eer om hierdie laaste huldeblyk aan Mamma te bring. Dit het beslis baie herinneringe van haar teruggebring en my al die mooi laat onthou.

Het jy ooit oorweeg om self die boek te voltooi?

Ek het beslis oorweeg om self die boek klaar te skryf, want ek het geweet skrywers skryf nie sommer aan ander mense se werk nie. Maar ek het ook besef ek het glad nie die nodige kennis nie. Mens gaan sit mos nie net en skryf ’n boek nie! Met voltydse werk en deeltydse studie het ek gesukkel om te fokus op dit ook.

Waarom het jy vir Marilé (Alta) Cloete genader om die boek te voltooi?

Lisa Uys

Ek was al van kleins af mal gewees oor tannie Alta se werk. Ons het ’n klein bietjie met mekaar gesels op Facebook na Mamma se dood en toe sy na my tuisdorp kom, het ek ’n kans gevat en haar genooi vir koffie. Ek het nooit in my wildste drome gedink sy sal my help nie. Ek wou net my skrywersheld ontmoet.

Wat was jou reaksie toe die boek vir publikasie aanvaar is? Hoe het jy gevoel toe jy Eintlik alles in jou hande hou?

Al het ek nie self geskryf aan die boek nie, was dit vir my ’n besonderse prestasie om dit op ’n manier reg te kry. Natuurlik het die trane vir ure geloop toe ek hoor dit word gepubliseer. Gelukkig het ek besluit om LAPA se pakkie eerder in die kar oop te maak as by die werk. Toe ek tannie Alta se voorwoord lees, het die emosies hoog geloop. Ek’t geweet dis Mamma se droom om hierdie boek te publiseer en ek’t nooit moed opgegee om dit reg te kry nie. Ek hoop om graag eendag in Mamma se voetspore te volg.

Wat was die lesers se reaksie tot dusver?

Ons kry baie goeie terugvoer oor die boek. Dis steeds Mamma se stem in die boek en mense wat haar geken het, sien haar beslis in die boek. Dit is ’n heerlike lekkerlees-liefdesverhaal.

Alta Cloete

Hoe het jy by hierdie projek betrokke geraak?

Ek het Ronelle Uys by ’n paar skryfkursusse ontmoet. Ek het haar nie goed leer ken nie, maar wel agtergekom hoe graag sy wou publiseer (wat sy ook later gedoen het) en iets van haar sagte gees aangevoel. Sy is in 2017 aan tragies aan borskanker oorlede.

Alta Cloete

In 2019 tydens die Hessequa-fees op Heidelberg (Wes-Kaap) ontmoet ek haar dogter Lisa vir koffie, soos Facebook-vriende deesdae dikwels maak as hulle kan. Dis ook nie vreemd dat Ronelle se laaste manuskrip ter sprake gekom het nie. Wat wel ongewoon was, was dat ek dadelik besef het ek moet dit probeer afrond. Kort na Ronelle oorlede is, het Lisa in ’n boodskap op Facebook ook die manuskrip genoem, maar toe het ek haar bloot na LAPA verwys en glad nie oorweeg om self daaraan te werk nie. Die ontmoeting op Heidelberg was egter in die week tussen my broer se skielike dood en sy begrafnis en ek vermoed my emosionele broosheid en intense bewustheid van ons almal se verganklikheid het my beïnvloed.

Hoe het jou skryfproses tydens die skryf van Eintlik alles verander?

Die normale proses van die skep van ’n romanse is tussen my en Ronelle verdeel. Sy het die eerste deel gedoen waar mens met jou hart skryf en bloot die storie op papier moet kry. Ek het die redigering gedoen, waar mens met die verstand (probeer) te werk gaan en die storie afrond sodat dit hopelik vir die uitgewer en die leser aanvaarbaar sal wees.

Ek moet beklemtoon dat ek nie aan Ronelle se storielyn verander het nie. Ek het bloot die afronding gedoen wat sy self sou gedoen het as sy die kans gehad het.

Jy werk met ’n ander skrywer se teks. Wat was die uitdagings om hierdie boek te voltooi? Het jy ooit tydens die proses gevoel daar is sekere tonele waaraan jy nie kan/mag/wil herskryf nie?

Dit was vir my ongelooflik moeilik om aan iemand se werk te peuter terwyl sy nie meer hier is om haar keuses te motiveer nie. Daar was dae en weke van paniek voor inperking my eintlik gedwing het om doelgerig daaraan te werk. Ek het dadelik besef ek moet tydens inperking ’n vaste roetine handhaaf, en Ronelle se manuskrip het deel van daardie roetine geword. Toe ek eers vir myself onderneem het om elke middag vir ’n uur te gaan sit en te doen wat ek kan sonder om te veel daaroor te wroeg, het dit beter gegaan.

Eintlik was elke toneel vir my moeilik, want dit was háár storie wat ek nou aan die verander was. Dit het vermetel gevoel en ek het my haastige besluit menige dag berou.

Wat was die moeilikste toneel om in hierdie boek te herskryf?

Eintlik was elke toneel vir my moeilik, want ek het ’n bietjie soos ’n oortreder, ’n indringer, gevoel. Daar was nie uitsonderlik moeilike tonele nie, maar wel ’n paar wat besonder belangrik was vir die trefkrag van die storie. Die toneel waar Miela en Johannes mekaar na vyf jaar weer ontmoet, was so ’n toneel. Die emosionele impak moes duidelik wees sonder om sentimenteel of melodramaties te word.

Wat was die beste deel om Eintlik alles te voltooi? Wat is jou gunstelingtoneel in hierdie boek wat deur jou en/of Ronelle geskep is?

Die beste deel was die slot, want ek het vir maande nie gedink ek sal ooit daar uitkom nie! Dit is ook op die ou end die toneel waaraan ek die minste verander het, want Ronelle het dit feitlik perfek gehad. Dit moes vir haar met groot inspanning gepaard gegaan het, want ek kon sien hoe haar styl meer kripties word na die einde toe en besef sy was waarskynlik al baie siek toe sy die storie voltooi het.

Hoe het jy jou skryfstyl met dié van Ronelle gebalanseer? Hoop jy die lesers kom agter waar die verskil is, of wil jy graag hê die boek moet soos een skrywer se styl lees?

Dit was vir my baie moeilik, eintlik onmoontlik, want hoe pas mens jou eie skryfstyl aan? Ek was baie bekommerd dat daar ’n duidelike verskil sou wees. Styl is vir my iets eie aan elke skrywer, nie iets wat jy maklik na willekeur kan verander nie. Ek het dus maar net deurgedruk en geredigeer soos dit vir my reg gevoel het. Ek het ’n paar vriendinne gevra om met die lees van die boek te kyk of hulle ’n verskil kon sien en hulle kon nie, wat vir my goeie nuus is.

Hoe het jy die hoofkarakters, Miela en Johannes, leer ken in ag genome dat jy hulle nie geskep het nie?

Dit was ’n bitter moeilike proses, want hulle was uiteraard vir my vreemdelinge. Deel van redigering is om seker te maak karakters se optrede is deeglik gemotiveer en in daardie proses het hulle vir my ook volronde karakters geword met wie ek kon identifiseer.

Engelse skrywers skryf dikwels gesamentlik ’n romanse, maar dis seldsaam in Afrikaans. Sal jy in die toekoms ooit weer ’n boek met ’n mede-outeur skryf?

Ek moet eerlik sê ek sien glad nie kans nie. Ek is heeltemal te dun van nerf en te heilig op my storielyn om iemand anders daaraan te laat verander. Ek het nie ’n probleem met manuskripontwikkeling en taalversorging deur iemand van buite nie, maar my storielyn is myne en net myne. 😊 Dis hoekom ek ook nie aan Ronelle s’n verander het nie. Dit sou vir my soos steel gevoel het.

Indien jy vir Ronelle iets kon sê, wat sou dit wees?

By die bekendstelling op haar tuisdorp het haar twee beste vriendinne vir my gesê hoe ontsettend teleurgesteld sy was toe die manuskrip afgekeur is. Ek vermoed sy was al so siek dat sy nie werklik besef het dit was nie afgekeur nie, daar was net nog werk om te doen. As dit werklik afgekeur was, sou daar nie ’n verslag beskikbaar gewees het nie. LAPA het die verslag met my gedeel en ek het ook baie van my werk daarvolgens gedoen. Ek wens ek kon haar daardie teleurstelling spaar.

Wat was die lesers se reaksie tot dusver?

Baie goed, en ek is dankbaar daarvoor. Die spesiaalste is egter wat die voltooiing van die boek vir haar twee dogters en haar vriendinne beteken het. Ek het nie regtig aan die emosionele impak van die projek op haar mense gedink toe ek dit aangepak het nie. Dit sou dalk makliker gewees het as ek toe besef het hoe spesiaal dit vir hulle gaan wees. Tydens die redigeringsproses was ek dikwels spyt oor die onderneming, maar nou is ek ongelooflik dankbaar ek het dit aangepak en dat LAPA dit as geskik vir publikasie beskou het.

  • Foto’s: verskaf
Lees ook 

Dag 10: Kwarantyn-ketting – "Om die swart hond te tem in die tyd van korona" deur Alta Cloete

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top