
Boekomslag: Een vir een deur Nico Scheepers (Protea Boekhuis)
Een vir een
Skrywer: Nico Scheepers
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485313892
Twee eenpersoontoneelstukke. Een buitengewone talent.
In die vorm van die jong dramaturg en regisseur Nico Scheepers.
Hierdie is egter nie ’n objektiewe skrywe oor Scheepers se werk nie. Ek is te bevooroordeeld.
Want van die eerste keer dat ek sy werk gesien het – of eerder ervaar het – was ek oorweldig. Tien jaar terug in 2014. Dit was nie eers professionele teater nie. Dit was die finaal van die ATKV-tienertoneelkompetisie in Potchefstroom.
Trouens, ek was meer as oorweldig daardie dag. Om eerlik te wees, ek het begin huil en kon nie ophou huil nie. Nóg eerliker: Ek het geween. Want die werk wat ek op die verhoog ervaar het, het my binneste geruk. Beeldskone, magiese werk. Teater wat met die hart praat. Teater wat nie slim probeer wees nie. Teater wat ek kan verstaan. Teater waar ek nie dom voel omdat ek nie lekker kan uitmaak wat de hel nou eintlik aangaan nie.
Scheepers se werk het my lus vir teater weer aangevuur. Vir my gewys dat die tipe teater waarvan ek hou, nog lewend is. Hartsteater. Vir my en Jan Alleman.
Ja, my lus het deur die jare stelselmatig begin verdwyn. Dis bitter moeilik om ’n teaterproduksie van stapel te stuur en daarby nog ’n bestaan daarvan te probeer maak. Goeie tekste is skaars.
En ’n teks, die storie, is waar alles begin. Dis die genesis.
Ek self het in die verlede – in die soeke na verhoogtekste – my na internasionaal bekende en bekroonde tekste gewend. Het dit vertaal en verwerk in Afrikaans in ’n desperate poging om iets nuut op die planke te bring. Oorspronklike en nuwe, blywende Afrikaanse werk is skaars.
Enter Nico Scheepers.
Van waar, Gehasi?
’n Klong van Louis Trichardt, Limpopo. En nes alle skrywers wat hulle sout werd is, gebruik hy sy geboorteplek en eie lewenservarings as inspirasie vir sy stories. En nes alle skrywers van formaat is hy ’n fyn waarnemer van mense en hul dinge.
........
Op ’n manier herinner sy werk my aan dié van PG du Plessis. Storievertelling sonder fieterjasies. En die mooiste gebruik van Afrikaans – gestroop. Ek proe die grond van Afrika in die gebruik daarvan. Ek voel dit in my are. Dit laat my hart sing.
........
Of eerder, van mense en hul harte. Van die geheime en drome en vrese wat hulle binne hulle dra. Van geheime en drome en vrese wat ek en jy ook het. Van innerlike waarhede wat hulle te bang is om vir die wêreld te wys. Innerlike waarhede wat ek en jy ook het.
Want Nico Scheepers sien. En hy vertel.
Op ’n manier herinner sy werk my aan dié van PG du Plessis. Storievertelling sonder fieterjasies. En die mooiste gebruik van Afrikaans – gestroop. Ek proe die grond van Afrika in die gebruik daarvan. Ek voel dit in my are. Dit laat my hart sing.
Om Rooivalk en Moedertaal te lees (saam gepubliseer onder die vaandel Een vir een) is dus soos om kortverhale te lees. En is daarom vir die nieteaterkenner ook beskore.
Daar is nie deurgaans verhoogaanwysings nie. Aan die begin van elke toneelstuk is daar slegs ’n kort beskrywing van die stel. Ook die stelinkleding is eenvoudig. Niks anders is nodig nie. Dit gee ruimte vir die leser (en gehoorlid) se verbeelding. Terselfdertyd forseer dit my ook om op die storie en karakter(s) te fokus. Scheepers kén teater en weet hoe om dit ten volle te gebruik sodat ek en jy dit kan belééf, ’n ervaring te kan hê.
........
Moedertaal is ’n meer ambisieuse projek. Dis uiters braaf vir ’n jong man om deur die mond van ’n 70-jarige vrou te skryf. Maar dit werk, want soos Scheepers tereg sê: “Elke mens se storie is ’n epiese gedig … as jy weet hoe om te luister.”
........
Rooivalk en Moedertaal tref die hartsnare. En die deurgaanse spikkels van fyn humor verleen ’n wonderlike verligting aan die temas wat baie maklik te swaar kan raak. Dis veral die pittighede van Rooivalk se twee kinderkarakters Valkie en JP wat my tone laat krul van die lekkerkry. Soos uit die mond van JP:
Nou’s dit maar net my boomhuis waar niemand kom nie. Net Valkie. En Yoda. En Griet, want sy’s agie. Ons het ’n gebreekte beeld van die Moeder Maria in ’n krat gekry. Sy’s van geelhout, gekraak, met verf wat oral afdop. Dis creepy, man. Ek wou crackers om die ding draai, maar Grietjie het haar regop op die krat in ’n hoek gesit. Nie vir bid nie, sy speel pop saam met die Moeder Maria. Hulle drink tee in Barbie-koppies en dan praat hulle ure lank oor die melkweg en planete en wonder of God ’n kettie gebruik om komete mee te skiet. Sy’t ’n teleskoop vir Kersfees gekry en nou’s sy obsessed. Ek wens sy wil soos enige normale plaasmeisie modderkoekies bak en in haar neus krap, maar sy is die enigste negejarige in Limpopo wat weet wat “spektroskopiese rotasiesnelheid” is.
Moedertaal is ’n meer ambisieuse projek. Dis uiters braaf vir ’n jong man om deur die mond van ’n 70-jarige vrou te skryf. Maar dit werk, want soos Scheepers tereg sê: “Elke mens se storie is ’n epiese gedig … as jy weet hoe om te luister.”
En Nico Scheepers luister. Tussen wat nie gesê word nie.
In die pouses waar die waarhede lê.
Lees ook:
Donkerbos en Menseregtemaand: ’n onderhoud met Nico Scheepers
Nêrens, Noord-Kaap op kykNET: ’n onderhoud met Nico Scheepers

