"Dude! Waa’s my phone?" – onthou djy daai track?

  • 0

Jeremeo Le Cordeur se creative hustle wat sy Dude! show involve, is een virrie charts. Elke jaa groei die Dude! brand in niewe ways wat ôs ammal surprise. En nou met sy show Dude! Waa’s my phone?, ’n sequel tottie ee’ste show innie reeks Dude! Waa’s my bakkie?, kommie release van ’n original track mettie selle titel wat vi ôs t’rug vat narrie storiewêreld van Dean September, die show se main character, ennie shenanigans met een en ammal in sy wêreld. Mense wattie show by Suidoosterfees 2023 en Baxter Masambe 2024 gesien’t, sal onthou!

Houston Howard, ’n Hollywood producer van Los Angeles, praat van transmedia storytelling op Film Courage se YouTube channel, en tydens’ie fourth industrial revolution ennie digital age waa’in ôs woon is Jeremeo se storytelling model vi sy Dude! brand iets om dop te hou want dis ’n mashallah way om audiences ooral te access. Houston Howard sê: “You’re competing for eyeballs” en dis mee important as ooit om jou brand op mee as een platform te laat waai!  

Die beat vannie show, ennie Kaap oppie algemeen, match mooi mettie musical video se cinematography, ennit voel vi my soes iets wat allie gaatjies innie Kaap sal enjoy wanner hulle’rie taxi’s volmaak op ’n minute-to-minute basis. Ek makee hoekal ’n pick me up song innie oggend – dankie, Jeremeo! Lees mee oorie song hie onner.

Lyk hulle nie soes twee stoutes in hulle dungarees nie? Kan sien hulle was up to something in hulle music studios! (Foto: Kaylin Leigh Khan)

Remind vi ôs waa’oo gaan Dude! Waa’s my phone?

Dude! Waa’s my phone? volg die karakter Dean September, ’n jong man met ’n deurmekaar lewe en ’n groot hart. Hy het ’n unieke manier om homself in allerhande komiese situasies te bevind. In hierdie hoofstuk wen Dean ’n splinternuwe iPhone op TV wat sy lewe heeltemal oorneem.

Die stuk illustreer op ’n slim manier die gevare van moderne tegnologie, soos cyber-aanvalle, en die eindelose siklus van doomscrolling. Hierdie temas is besonder relevant in vandag se digitale era. Dit was ’n baie opvoedkundige ervaring vir skoolgangers, wat waardevolle lesse daaruit geneem het.

Skakel na skooloptredes by die Baxter: https://www.youtube.com/watch?v=uF48ZcQeE9E&t=53s

Congrats mettie niewe song en music video! Waa’oo gannie song en wat het jou inspire ommit te doen?

Die temalied vir Dude! Waa’s my phone? is ’n oorsig van die storielyn. Dit praat oor Dean wat ’n phone op TV wen, hoe social media sy anxiety levels opstoot. Konfrontasies met sy vrinne, sy nuwe girl, Joy, wie hy vreeslik probeer beïndruk. En dan natuurlik sy phone wat spoorloos verdwyn.

Ek wou baie graag local Kaapse musiek in die stuk inkorporeer. Ek het toe vir Kay Kinetic gevra of ons ’n plaaslike weergawe van “Phone” deur Lizzo vir die show kan skep. Daar was reeds ’n beat wat ons kon gebruik, ons moes net die ideale woorde en storielyn vir die temalied kry. Keenan se bydrae het my verwagtinge ver oortref. Hier is die lyrics van “Dude! Waa’s my phone?”  deur Kay Kinetic (met toestemming geplaas).

Intro

Dude!
Waa’s my phone?
My phone was an nou heeltyd hie!
Kan iemand my phone bel, asseblief?
Het jy airtime?
Dude!
Het jy data?
Dude?

Chorus

Bel gou na my phone toe.
My mense gaan alweer moan, dude.
Sonder WhatsApp voel ek alone soe,
bel gou weer na my phone toe.

1st verse

Nourie dag die phone gewen.
Ek het voor Joy gemaak of ek duur goetes ken.
Understand
’n iPhone, dude, vir mahalla.
Dink ek lieg?
Vra vir Dulla en Dalla.

2nd verse

Dude.
Hoe mean jy die signal receive nie.
Almal innie waks wiet ek was op TV.
Believe me.
Ek soek social besoedeling, freely.
Ek is addicted, ek kani dealie.
Dude.
My addiction is groot.
Propaganda is daaglikse brood.
Ek kan mos knaake stoot.
Text prediction op elke woord.

Bridge

Die service stall weens.
Die internet kan miskien vol wees.
Die customer service is vol leuens.
Het iemand airtime in die audience?

Chorus

Bel gou na my phone toe.
My mense gaan alweer moan, dude.
Sonder WhatsApp voel ek alone.
Sonder WhatsApp voel ek alone soe …
Bel gou weer na my phone toe.
Dude!

Djy weet goed hoe om ’n span bymekaa te sit vi iets creative virrie socials. Wie was involved innie creation en production vannie song en musical video, en hoe het julle die song se unique sound gevind?

Ek het vir Kay Kinetic benader. Hy is van Paarl en ek het grootgeword in Wellington. Ek het onlangs saam met hom gewerk vir sy musiekvideo Photoshop. Dit was ’n prominente song wat gebruik is in die kortfilm Die swart draak ontwaak by Silwerskermfees in 2023. Kay en ek het onmiddellik ’n goeie band gevorm en was verbaas om te ontdek dat ons so naby aan mekaar bly. Hy was meer as gewillig om saam te werk aan die temalied vir Dude! Waa’s my phone?

Redoine Stephens, die regisseur van Die swart draak ontwaak en Photoshop, is ook van die Paarl, wat hierdie projek ’n regte Bolandse collaboration maak. Ek is ongelooflik trots op die oorvloed talent in die Paarl en Wellington en is dankbaar vir die geleentheid om saam met my mense te werk en hul talent en kreatiwiteit in hierdie projek in te span.

Apparently was daa aanvraag virrie song vannie Dude! Waa’s my phone audience. Ve’tel ôs mee hie’oo? Watter developments vi theatre audiences innie 21st century kan ôs skep met hierrie tiepe songs?

Oorspronklik sou ek nie die song gedeel het nie. Dit is geskep om in die teaterstuk as agtergrondmusiek tydens die oorgange tussen tonele gebruik te word. Maar ons gehoor het so baie saamgevibe met die song. Hulle het begin saamsing en baie wou dit in hul persoonlike playlist byvoeg. Ons het toe besluit om ’n musiekvideo by Artscape tussen optredes te skiet en op YouTube te plaas, sodat almal Dean se verhaal met sy foon kan geniet.

Remind vi ôs waa oppie socials kan ôsie song en music video vind?

Die music video is tans op YouTube op die Vulture Productions-kanaal. En ook op die Vulture Productions Facebook page.

YouTube:

Facebook:

Ôs het nou ’n lang pad met Dean September geloep. Wat is volgende met jou Dude! brand? Kan ôs mee songs by jou volgende shows expect?

Ek het groot planne vir die Dude!-reeks en wil dit graag verder laat groei. Dean September is ’n karakter waarmee baie mense kan identifiseer en die format van die shows bied die perfekte geleentheid om verskeie relevante temas in ons land en kultuur op ’n kreatiewe en vermaaklike manier te ondersoek.

Ek is tans besig om te werk aan die volgende hoofstuk in die reeks, getiteld Dude! Waa’s my geld? Hierdie produksie gaan op ’n skreeusnaakse manier kwessies rondom geld, ekonomiese uitdagings en finansiële geletterdheid in Suid-Afrika aanspreek.

Lees ook:

Dude! Wa’s my phone? by die Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Jeremeo Le Cordeur

Ses redes om Dude! Wa’s my bakkie? te kyk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top