Afrikaanse meem-ontwerpers is blitsvinnig en vlymskerp, sonder twyfel. Die prys van eiers het skaars die hoogte ingeskiet, of meme van mense wat hul karavane vir drie dosyn eiers wil verruil begin sirkuleer.
En gemanipuleerde beelde van Arnold Schwarzenegger, outomatiese geweer oor die skouer en eiers onder die ander blad, is kort op hulle hakke.
Ons lag daaroor, maar kospryse wat die hoogte inskiet, is vreesaanjaend. Eiers was nog altyd vir baie arm mense ’n goedkoop manier om ’n maaltyd aanmekaar te slaan. In die industriële gebied in Grabouw was daar altyd langs die hoenderfabriek ook ’n fabriekswinkel waar allerhande hoenderprodukte vir heelwat goedkoper as in die winkels gekry kon word. Veral op ’n Saterdag het mense alreeds van net na sonop begin tou staan met emmers. Die emmers was nie om hoendervleis in te dra nie, dit was vir die eiers. Van agtuur af het hulle begin terugstap huise toe, emmers propvol eiers. Dalk was daar die bestanddele vir walkie-talkies by – hoenderkop en hoenderpote. Maar selde was daar hoendervleis by. Die lang toue was om die eiers in die hande te kry. By die plaaslike taxistaanplek word daar gou-gou eiers gekook, en dan word dit sommer deur die minibusvensters aan honger passassiers verkoop, net so in die dop. En Saterdagmiddag kon jy maar in die township gaan kyk. Hoenderpote braai op die kole, en in ’n pot water kook die eiers.
Maar dis nie net kosverkopers wie tou staan vir eiers nie. Mense met baie monde om te voed, weet eiers is die basis vir ’n goedkoop, vullende maal. Of dit was.
Dieselfde met aartappels.
Mense wat hulle eie hoenders aanhou, en wie se hoenders gesond is, kraai koning.
Ons lag oor die meme, want dis snaaks. Maar dis op ’n manier ook ’n lag met ’n traan, want voedselonsekerheid is ’n ernstige probleem. Ons het nog graan om brood mee te bak. Daar is nog eiers, al word dit duur. Sonneblomolie is darem nie meer so duur soos wat dit op een stadium was nie, al is dit steeds nie goedkoop nie.
........
’n Sogenaamde scarcity mindset maak mense blind vir die behoeftes van ander. Hulle moet hulleself alles toe-eien, voordat iemand anders hulle voorspring.
........
Maar wat gebeur as die kos opraak? ’n Paar weke gelede, net na die storms in die Wes-Kaap, was sommige kusdorpe afgesny van die res van die provinsie. Mense kon nie ná die naweek in hul vakansiehuise teruggaan huis toe nie. Permanente bewoners van die dorpe kon nie hul normale roetine volg nie. Maar die omgekeerde was ook waar. Niemand kon die dorpe van elders ingaan nie, en dit het vragmotors wat petrolstasies en koswinkels met voorraad moes vul, ingesluit. Die elkeen-vir-homself paniekbevange kopers het winkels begin leegkoop, net soos in die dae toe die pandemie pas begin het.
Ons het van toe af nog niks geleer nie.
’n Sogenaamde scarcity mindset maak mense blind vir die behoeftes van ander. Hulle moet hulleself alles toe-eien, voordat iemand anders hulle voorspring. Die mense met geld kan bekostig om van alles in oorvloed aan te koop. Onthou hoe mense in die later dae van die pandemie gespot het oor wat hulle met al die toiletpapier moet maak wat hulle in grootmaat aangekoop het?
Die onmiddellike krisis was afgeweer destyds. Mense gaan nie meer in groot getalle dood aan Covid nie. Goedere wat skaars was, is nou weer beskikbaar. Dis moeilik om te glo dat mense in Woolworths wou vuisslaan oor bottels water. Tog het dit gebeur.
Maar wat gebeur as die volgende krisis nie afgeweer word nie? Wat gebeur as die kos opraak? Wat gebeur as desperate arm mense weet dat een of twee skatrykes kos opgehoop het wat hulle nie kan opgebruik nie, terwyl hongersnood dreig? Hoe lank voordat mense regtig hul eiers met ’n vuurwapen moet verdedig?
Dit klink dalk soos die plot vir ’n distopiese fiksieverhaal, maar is dit regtig so vergesog? Het ons vergeet dat Kaapstad nie te lank gelede nie amper sonder water was en daar krisisbeplanning vir dag zero was? Het ons nie net weke gelede nog gevrees dat fase 8- en dalk selfs fase 14-beurtkrag ’n realiteit kan word binne maande nie?
Wat gebeur in ’n gemeenskap wat afgesny is van alle hulpbronne, sonder water, krag, vars kos en maniere om met die buitewêreld te kommunikeer? Hoe lank voordat totale anargie losbars?
Die kusdorpe wat gewoonlik deur Clarence Drie en die N2 met die buitewêreld verbind word, het waarskynlik baie nader daaraan gekom om uit te vind wat kan gebeur as wat ons ooit sal besef.
........
Wat in ander lande gebeur, het niks met die prys van eiers uit te waai nie. Of het dit?
........
Ons dink konflik in die Midde-Ooste het niks met ons te doen nie, solank ons politici tog net hul neuse uit daai sake los. Ons dink Rusland en Oekraïne se oorlog is iets wat nou al so afgesaag is dat ons die koerante omblaai om vars nuus te soek. Ten minste is die Hamas-Israeli-konflik soort van nuut. Die menslike koste, jammer soos wat dit mag wees, het nie eintlik iets met ons te doen nie, mag mens dalk dink.
Maar ons vergeet hoe verstrengel die wêreldekonomie is. Kom die graan en die sonneblomolie nie deur die Swart See nie, is dit ’n kwessie van dae voordat ons die effek hier begin ervaar. Word olie uit die Midde-Ooste afgesny, is ons blink rygoed binne dae nutteloos. En wanneer die vragmotors nie diesel het om kos te vervoer van punt A na punt B nie ...
Wat in ander lande gebeur, het niks met die prys van eiers uit te waai nie. Of het dit?
Lees ook: