Sneeu op die berg, hael wat val en ’n verwagte ses ure beurtkrag – dis die snerpende koue toestande wat vandag in my tuisdorp en heelparty ander dorpe heers. Glo dit of nie, dis steeds beter as die tien ure daaglikse beurtkrag van ’n paar dae gelede.
Maar Paul Mashatile belowe beurtkrag is binnekort iets van die verlede. Dis ’n belofte wat ons so gereeld hoor dat dit ongelukkig alle betekenis verloor het.
Dit laat my met die vraag: Hoe goed het ons minister van elektrisiteit hom die afgelope ses maande van sy taak gekwyt? Kgosientsho Ramokgopa is op 6 Maart 2023 met groot geskal aangestel. Ses maande later gaan ons gebuk onder erger beurtkrag as voor sy aanstelling.
Die Daily Maverick het ’n goeie samevatting van dit wat hy reggekry het (of nie) sedert sy aanstelling, en het hom daarvolgens gemeet. Hulle gebruik standaarde soos politieke verantwoording, of hy sy mikpunte bereik het, en dies meer. My standaarde, en my telkaart waaraan ek hom meet, is veel eenvoudiger: Is die ligte aan of af?
.....
My standaarde, en my telkaart waaraan ek hom meet, is veel eenvoudiger: Is die ligte aan of af?
.....
Dit maak in die hier en nou bitter min verskil aan die meeste mense se lewens as daar groter politieke eenheid agter die skerms is. Dit traak my min of die vyf ministers wat hulle bemoei met elektrisiteitsvoorsiening nou in een koor sing as ek nog steeds onder ’n kniekombers moet sit en my werk in sarsies moet doen om klaar te wees voor die volgende vier ure beurtkragsessie aanbreek. Dit beteken niks dat daar meer instandhouding gedoen word wanneer daar tydens elke nagtelike beurtkragsessie kabels gesteel word wat beteken dat hele buurte dan vir dae sonder elektrisiteit gelaat word nie. Dis betekenisloos dat die minister van elektrisiteit hoogs gekwalifiseerd is en verstaan wat nodig is om beurtkrag te beëindig wanneer beurtkrag nie inderdaad beëindig word, of selfs aansienlik verminder word nie. Boonop neem dit nou aansienlik langer om foute wat gerapporteer word, op te volg. In my tuisdorp is daar strate wat al weke lank sonder elektrisiteit is, met geen aanduiding wanneer Eskom by hulle gaan uitkom nie.
.....
Dit beteken niks dat daar meer instandhouding gedoen word wanneer daar tydens elke nagtelike beurtkragsessie kabels gesteel word wat beteken dat hele buurte dan vir dae sonder elektrisiteit gelaat word nie.
.....
’n Paar weke gelede was die straat waarin ek bly, in dieselfde situasie. Die fout is binne minute gerapporteer. Toe ek na drie dae sonder elektrisiteit opvolg, word ek meegedeel dat ons fout nommer 200 vir die area is. Na vyf dae het daar uiteindelik ’n span opgedaag om die fout te herstel. Drie voertuie en agt mense wat sonder sukses die fout probeer opspoor. Nadat hulle die grootste deel van die dag gewoel en gewerkskaf het, kom nog een van hul bakkies daar aangery, met ’n enkele persoon in die voertuig. Hy het uitgeklim, vinnig na die transformeerder gekyk, twee skakelaars gedruk en die kragtoevoer was herstel. Al die gegrawe en gevroetel was toe vrugteloos, want die span wat daar gewerk het, het nie geweet wat hulle doen nie. En tien huisgesinne was vir ’n week sonder elektrisiteit oor ’n fout wat binne minute reggestel kon word.
.....
Het hy elektrisiteitstoevoer herstel? Nee. Het hy beurtkrag verminder? Nee. Het hy Eskom se skuldlas verminder? Absoluut nie.
.....
Dan word die telkaart waaraan ek die minister meet, baie eenvoudig: Het hy elektrisiteitstoevoer herstel? Nee. Het hy beurtkrag verminder? Nee. Het hy Eskom se skuldlas verminder? Absoluut nie. Inteendeel, met die toename in diesel wat verbrand was, gaan ons waarskynlik die boekjaar met tekorte eindig.
Boonop verkoop ons ons siel aan China om meer elektrisiteit te bekom. Geen van die werksgeleenthede wat geskep word, sal na Suid-Afrikaners gaan nie. Hoeveel van die geld wat beskikbaar gestel word, gaan deur korrupsie verlore? China gee nie om nie. Al waaroor hulle omgee, is dat hulle beheer oor ons fasiliteite sal bekom en ons op lang termyn kan uitsuig soos ’n sappige lemoen.
Soveel partye braak gal oor koloniale invloede vanuit die Weste, maar staar hulle skynbaar blind teen die koloniale invloede uit die Ooste waaraan ons ons nou verbind.
Gemeet aan my telkaart het die minister nie eens dertig persent behaal nie, die baie lae slaagsyfer waarna ons deesdae streef. En ons het sneeu en hael in September. Watter fase beurtkrag gaan ons teen Oktober hê?