Digtersweek 2024: ’n onderhoud met Amanda de Lange

  • 0

Links: Amanda de Lange; regs bo: Johan Myburg, Diana Ferrus; regs onder: René Bohnen, Danie Marais en Alwyn Roux (Foto’s: verskaf)

Digtersweek 2024 bevat ’n paneel bekroonde digters en bied vir elke voornemende en ontluikende digter die ideale geleentheid om hul vaardighede te slyp en hul kennis uit te bou.

Amanda de Lange het met Naomi Meyer gesels oor vanjaar se Digtersweek wat van 4 tot 8 November 2024 aanlyn plaasvind.

Amanda, ek sien daar vind volgende week ’n digtersweek plaas (hier is nog inligting). Enigiemand kan van enige plek op aarde deelneem. Nou hoe op aarde gaan dit werk?

Dis baie eenvoudig. Met Zoom kan deelnemers werklik van enige plek registreer. Daar is reeds belangstelling vanuit die VSA en ook Australië. Die enigste probleem mag dalk wees dat hulle met vuurhoutjies tussen hul ooglede in die middernagtelike ure sal moet inskakel vanweë die verskil in tydsones, maar andersins is daar niks wat hulle keer nie. Jy het ’n skootrekenaar, selfoon en internetverbinding nodig en sal Zoom moet aflaai as jy dit nie reeds gedoen het nie.

Jy het ’n absoluut formidabele klomp digters wat die mentors gaan wees. Vertel ’n bietjie van elkeen van hulle – wie is dit?

Is hulle nie ongelooflik nie? Ek knyp myself steeds elke dag om te sien of ek nie droom nie! Mens het bladsye nodig om hulle lof te besing, maar in kort het ons digters van formaat wat al verskeie pryse gewen het en tussen hulle meer as twee hande vol digbundels gepubliseer het. Johan Myburg het byvoorbeeld die uiters gesogte Hertzogprys asook die Eugène Marais-prys verower. Diana Ferrus het ’n eredoktersgraad van die US ontvang vir haar bydrae tot bevordering van vroue- en gemeenskapdigkuns. René Bohnen het die tweede plek verower in die gesogte European Union Sol Plaatje Poetry Prize. En Danie Marais het ook die Eugène Marais-prys, die Ingrid Jonker-prys en die UJ-debuutpryse ingepalm. Alwyn Roux se debuutbundel het vroeër vanjaar verskyn en hy gaan ook sy kennis as medeprofessor in literatuurwetenskap en kreatiewe skryf in sy gesprek deel.  

Hoe gaan die projek prakties werk? Bied hulle lesings aan, en hoe lank is elke lesing? Gaan deelnemers direkte kontak kan hê met die digters wat dit aanbied? Gaan die ander deelnemers ook met mekaar kan skakel of gesels?

...........
Elk van die digters is een aand aan die beurt. Elke aand se sessie sal sowat 90 minute duur, wat ’n aanbieding van die betrokke digter insluit asook interaktiewe gesprekstyd waartydens die deelnemers vrae kan vra.
...........

Elk van die digters is een aand aan die beurt. Elke aand se sessie sal sowat 90 minute duur, wat ’n aanbieding van die betrokke digter insluit asook interaktiewe gesprekstyd waartydens die deelnemers vrae kan vra. Ek (Amanda) sal die gesprekke fasiliteer bloot sodat ons dit mooi ordelik kan doen, en ons nie dalk vanweë opgewondenheid bo-oor mekaar praat of een persoon die interaktiewe deel van die geleentheid oorheers nie.

Die temas vir elke aand is soos volg:

  • Maandag 4 November, Johan Myburg: Inleidende bespreking van prosodie – die patroon van ritme, klank en metrum in poësie
  • Dinsdag 5 November, Diana Ferrus: Inleiding tot die skryfproses
  • Woensdag 6 November, René Bohnen: Beeld en metafoor in poësie
  • Donderdag 7 November, Alwyn Roux: Só skryf jy ’n villanelle
  • Vrydag 8 November, Danie Marais: Reëlbreuke en die verskil tussen die vrye vers en vaste vorme.

Wat is die praktiese sake wat iemand agtermekaar gaan moet kry om te kan deelneem? Moet jy tyd by die werk afneem? Wat kos dit? Moet jy pen en papier byderhand hê? Wie moet mens kontak om te kan inskryf? Vind die lesings op vasgestelde tye plaas?

Die gesprekke word saans aangebied. Ons begin elke aand presies om 19:00, so ek dink nie enigiemand sal nodig hê om tyd by hul werk af te neem nie. Al die gesprekke word opgeneem en sal in ’n spesiale legger op Google Drive beskikbaar wees – as iemand dus ongelukkig een van die regstreekse gesprekke misloop, sal hulle darem agterna na die opname kan gaan kyk.

Ek dink wel dit sal raadsaam wees om seker te maak dat jy ’n goeie internetverbinding het, maar omdat daar opnames beskikbaar is, sal dit nie die einde van die wêreld wees as jou verbinding hier en daar haak nie.  

Ek glo die geleentheid gaan só verrykend en leersaam wees dat mens dalk wél ’n notaboek byderhand sou wou hou vir spesiale aantekeninge, maar weer eens, daar is opnames. 😉

Die koste is R750 vir al vyf sessies – ’n absolute winskopie as jy die gravitas van die paneel in ag neem. Belangstellendes kan ’n WhatsApp aan my stuur: Amanda de Lange by 082 491 5308, of ’n e-pos na amanda@amandadelange.co.za. Hulle sal ’n faktuur ontvang met bankbesonderhede, en sodra hul betaling reflekteer, sal hulle hul Zoom-skakel ontvang wat die hele week geldig sal wees.

Die uitnodiging na die Google Drive-legger sal laatstens teen Maandagmiddag in almal se posbusse wees. Ek sal deur die dag ook op my selfoon beskikbaar wees as daar enige op-die-nippertjie navrae of probleme is.

Wat sal jy vir iemand sê wat vra waarom hulle hiervoor moet inskryf? Waarom is gedigte en digkuns nie net belangrik nie, maar noodsaaklik?

Toe ek hierdie projek begin beplan het, was my motivering om aan veral ontluikende digters die geleentheid te gee om by die meesters self te leer. Jy het net nodig om ’n vinnige draai op die talle groepe op sosiale media te gaan maak om te sien hoe groot die begeerte is om te dig. Die meeste mense het egter nie toegang tot digters soos dié op hierdie paneel nie.

..........
Dan is dig, soos enige ander skryfvorm, natuurlik nie net suiwer talent nie, hoewel dit natuurlik baie help. Dit behels ook ’n goeie skeut vaardigheid, toewyding en geduld om werk soos dié van ons paneel te kan lewer.
.............

Dan is dig, soos enige ander skryfvorm, natuurlik nie net suiwer talent nie, hoewel dit natuurlik baie help. Dit behels ook ’n goeie skeut vaardigheid, toewyding en geduld om werk soos dié van ons paneel te kan lewer. My hoop is dat elkeen wat hierdie Digtersweek bywoon, daar sal wegstap toegerus met nuwe kennis, gemotiveer om hul vaardighede te gaan oefen en te slyp sodat een van húlle dalk die volgende bekroonde bundel lewer.

Hoekom is dit belangrik? Kreatiwiteit is magies en gevul met ’n wonderlike misterie. Een van die lekkerste dinge van woordkuns is dat jou brein iets kan oplewer wat jy nooit gedink het moontlik is nie. Dis soos kwashale met letters waar iets geskep word wat nie net vir die woordkunstenaar self vreugde verskaf nie, maar ook vir elkeen wat dit lees.

Só kan ons dan ook idees en gedagtes deel wat diep tref en waarhede oordra op ’n manier wat mense nader aan mekaar bring en nie verder van mekaar af wegdryf nie.

Lees ook:

Persverklaring: Digtersweek 2024 – kom leer by die meesters om te dig

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top