Die Wagner-groep: Het Poetin toegelaat dat ’n monster geskep word?

  • 0

“’n Mate van kalmte het na Rusland teruggekeer te midde van onsekerheid nadat pres Wladimir Poetin se oorlog in Oekraine in sy gesig ontplof het met ’n gewapende muitery en burgeroorlog wat kortstondig gedreig het.”

So het Netwerk24 berig na die Wagner-groep se poging tot ’n opmars na Moskou op 23 en 24 Junie 2023.

Met dié gebeure het die Russiese Wagner-groep oornag wêreldwyd bekend geword nadat dié private paramilitêre maatskappy (PPM), wat die Russiese weermag in Oekraïne militêr ondersteun, na Moskou opgeruk het in ’n gepoogde opstand teen Poetin. As daar egter na die afgelope tien jaar gekyk word, kan die stelling gemaak word dat Poetin verantwoordelik was vir die wrange vrugte wat hy nou moes pluk.

As ’n Russiese PPM het die Wagner-groep in die afgelope dekade toenemend ’n belangrike instrument geword in die Kremlin se buitelandse aangeleenthede. Wagner is selfs deur sommige navorsers bestempel as ’n kwasistaatlike akteur en ’n gevolmagtigde instelling van die Kremlin. Wagner het ’n voetspoor regoor die wêreld, maar die groep se bedrywighede is veral opvallend en omstrede op die vasteland van Afrika.

Die Wagner-groep het in ’n betreklik kort tyd na vore getree en homself gevestig as Rusland se bekendste PPM. Wagner is veral in die internasionale gemeenskap daarvoor bekend dat dit veiligheidsdienste verskaf aan rolspelers in verskeie konfliksones regoor die wêreld – veral swak regerings wat bedreigings ervaar en beveiliging nodig het. Vir lank het die Russiese regering amptelik ontken dat Wagner bestaan, maar dit was nog altyd ’n ope geheim dat Wagner vir jare reeds ’n politieke verbintenis met die Kremlin het sowel as met die Russiese militêre en intelligensiedienste.

Die Wagner-groep is eintlik ’n konglomeraat van firmas met sekuriteitsgerigte entiteite, maar ook entiteite wat betrokke is by mynbou- en energie-ondernemings. Dit beheer selfstandige firmas wat in sinergie funksioneer. Die eienaar en dryfkrag agter Wagner, Jefgeni Prigozjin, is ’n ryk Russiese sakeman wat tot die onlangse rebellie noue persoonlike bande met Poetin gehad het.

Daar bestaan geen twyfel nie dat Wagner in ’n posisie geplaas is waar sy leierskap regstreekse toegang tot Poetin en die Moskouse politieke elite gehad het en aansienlike politieke invloed gehad het in die beoefening van Rusland se internasionale betrekkinge – meer as enige van die ander soortgelyke Russiese maatskappye. So gesien, het alles wat Wagner onderneem het, sonder twyfel met Poetin se medewete en onregstreekse instemming gebeur.

Dit is bekend dat Prigozjin ’n skadukant het. Hy het vorige verbintenisse met georganiseerde misdaad, en talle Wagner-troepe is uit Russiese tronke gewerf vir diens in operasies wêreldwyd. Afgesien hiervan word Prigozjin ook verbind met die befondsing van die hoogs omstrede Internet Research Agency (IRA), die Russiese Internet-trolplaas wat onder andere betrokke was by inmenging in die Amerikaanse presidentsverkiesingsproses van 2016.

Die manier waarop Wagner regoor die wêreld opereer, het dit ’n belangrike rolspeler in die uitvoer van Russiese buitelandse beleid gemaak. Wat Russiese buitelandse beleid en Wagner se aktiwiteite in Afrika veral omstrede gemaak het in die afgelope jare, is dat Wagner gereeld opgeduik het as ’n de facto-, nie-amptelike buitelandse beleidsinstrument, wat gewoonlik veiligheidsdienste verskaf in ruil vir toegang tot minerale hulpbronne in Afrika-state – alles onder die vaandel van hooggeprese militêre samewerking.

In onlangse tye was en is Wagner se voetspoor in Afrika letterlik in lande regoor die Afrika-kontinent, veral Libië, Guinee, Guinee-Bissau, Mali, die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR), Soedan, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Angola, Zimbabwe, Mosambiek en Madagaskar.

Etlike navorsers het in die afgelope jare geargumenteer dat die Wagner-groep ’n toenemend belangrike instrument geword om Rusland se buitelandse belange te bevorder, veral in Afrika, waar Moskou probeer om sy invloed uit te brei en met die Weste meeding om ’n politieke vastrapplek. In verskeie Afrikastate het Prigozjin trouens die vuil werk gedoen wat Poetin inderwaarheid nie met sy weermag wou aanpak nie – en alles het netjies by sy buitelandse verhoudinge met Afrikastate ingepas. Dit is veral gesien in Afrika-state soos Libië, die SAR, Soedan en Mali. Verhoudings is met Afrika-regerings regoor die vasteland aangeknoop – verhoudings waarin twee sake van besondere belang is, naamlik die lewering van militêre en veiligheidsdienste in ruil vir mynregte van een of ander aard en toegang tot politieke besluitnemers.

Afrika is nie die enigste teater van operasies waar Wagner die afgelope jare aktief was nie. Wagner se internasionale voetspoor is goed gedokumenteer in internasionale konflikte, spesifiek in die Krim-skiereiland, Sirië en Jemen, en mees onlangs ook met betrekking tot sy betrokkenheid by die Russiese oorlog in Oekraïne. In al die gevalle, Afrika en ander wêrelddele, het Wagner as ’n soort tak van die Kremlin gefunksioneer – al was dit nooit amptelik en de jure nie.

Wagner is natuurlik hoegenaamd nie die enige bekende PPM wat internasionaal opereer nie. In die post-Koue Oorlog-era het talle van hierdie maatskappye toenemend by konflikte betrokke geraak. Wat van besondere belang is, is dat die opkoms van dié soort rolspelers saamgeval het met ’n vermindering van konvensionele weermagte in verskeie internasionale konflikte. In die geval van Afghanistan byvoorbeeld het die VSA die meeste van sy troepe onttrek namate die konflik gestabiliseer het, terwyl private kontrakteurs in diens van die Amerikaanse regering toenemend betrek is en getalle op die grond aansienlik toegeneem het. Statisties het die verhouding van Amerikaanse militêre personeel tot private kontrakteurs tussen 2009 en 2016 verdriedubbel.

Die Wagner-groep is beslis nie die enigste Russiese PPM nie. Verskeie ander Russiese PPM’e het in die buiteland veiligheidsoperasies van een of ander aard onderneem, veral die ENOT Korporasie in Sirië en die Feraks-groep in Irak, Afghanistan, Irakse Koerdistan en Sri Lanka, sowel as die Antiterreur-Orel-groep. Wagner is egter die prominentste, en sy eerste bedrywighede is aangeteken toe Rusland die Krim-skiereiland in 2014 geannekseer het. Kort daarna het Wagner-agente in die Donbas-streek van die ooste van Oekraïne opgeduik.

Wat die Wagner-groep omstrede maak, is dat die maatskappy in onlangse jare daarvan beskuldig is dat hy in verskeie lande burgerlikes geteiken het, massateregstellings gelei het en private eiendom geplunder het. Menseregteskendings staan oral geskryf in kritiek op Wagner se operasies. En natuurlik is Wagner ook aktief in Rusland se oorlog teen Oekraïne, waar die maatskappy steun verleen aan Russiese troepe in die suidoostelike dele.

Moskou moes dikwels kritiek verduur vir sy de facto-verbintenis met Wagner, spesifiek omdat Wagner allermins betrokke was by demokratiese regerings, maar eerder outoritêre of ondemokratiese regerings wat bedreigings in die gesig gestaar het. Kritici het heel gou daarop gewys dat Rusland se buitelandse beleid in Afrika allermins aan gesonde demokratiese praktyke en goeie regering gekoppel kan word – veel eerder die teenoorgestelde. Meer nog: Wagner het gemaak dat Russiese nasionale belange en buitelandse beleid gekoppel is aan die ou idee van huursoldate as oorlogshonde wat betrokke is by sinistere operasies op vreemde grond. Daar was immers in die afgelope jare deurlopende verslae wat Wagner by ernstige menseregteskendings geïmpliseer het, en selfs by ’n bloedbad in die geval van Mali. Poetin was egter bereid om daarmee saam te leef en het hom min gesteur aan kritici wat Rusland se buitelandsebeleidsaksies in Afrika met twyfelagtige praktyke in swak en brose Afrikastate in verband gebring het.

In die afgelope maande het verskeie berigte internasionaal verskyn waarin beweer is dat die bande tussen Prigozjin en Poetin versuur het. Dit is veral omdat Prigozjin Poetin daarvan beskuldig het dat Wagner-troepe in Oekraïne nie die nodige ondersteuning van die Kremlin en die Russiese weermag ontvang nie. Uiteindelik het dit op die onlangse muitery uitgeloop. Soos ons weet, bevind Prigozjin hom nou in Belarus, en die vraag is wat van Wagner gaan word. Die antwoord hierop is nie duidelik nie, omdat die Russiese weermag in die suidooste van Oekraïne tot dusver swaar op Wagner gesteun het en eintlik nie sonder sy ondersteuning kan klaarkom nie. Prigozjin se toekoms is duidelik onseker, maar dit is interessant dat sommige kenners meen dat Prigozjin Wagner se teenwoordigheid in Oekraïne wil beëindig en eerder op Afrika en die Midde-Ooste wil fokus. Net die tyd sal leer wat die muitery vir Prigozjin en Wagner tot gevolg sal hê, maar van die toneel verdwyn lyk tans allermins na ’n realistiese moontlikheid vir veral Wagner.

Lees ook:

South Africa, Russia and ten days that shook the world: Pretoria’s love affair with Moscow

Die Wagner-opmars na Moskou: groot bohaai oor niks nie, of tekens van iets groter?

Die rol van die Russiese paramilitêre groep Wagner in Afrika

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top