
Foto: stayerimpact, Pixabay
Nazi-Duitsland se gunstelingkomponis herleef as ’n Russiese private huursoldategroep
Dis nie maklik om na foto’s van Prigozjin, leier van die Wagner-huursoldategroep, se gesig te kyk nie. Sensitiewe mense kan daarom hierdie skakel vermy. Die groep is berug daarvoor dat hulle ’n medesoldaat wat gedros en daarna onvleiende dinge oor hulle gesê het, met ’n voorhamer doodslaan, dit verfilm en op sosiale media plaas; ’n Oekraïense krygsgevangene keelafsny, dit verfilm en op sosiale media plaas. Hulle het in 2015 prominensie begin kry deur hulle betrokkenheid in Sirië. Dis dieselfde mense wat betrokke is in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Libië, Mali, Soedan, ens. Onder andere help hulle diktators om rebellegroepe te beveg. Daarvoor kry hulle vergoeding in die vorm van geld, of hulpbronkonsessies, soos boomafkapregte en beheer van die Ndassima-goudmyn in die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Wagner is nie ’n eenheid nie, maar ’n komplekse netwerk van besighede en groepe. Hulle besit ook ’n trolplaas met ’n sleutelbordweermag wat kliënte (byvoorbeeld regerings) help om disinformasie te versprei. Daar was bewerings van inmenging tydens die Amerikaanse presidentsverkiesing van 2016.
Nie aangename mense nie, maar met baie geld.
Wie is Prigozjin?
Hy word dikwels Poetin se sjef genoem, omdat hy restaurante en spysenieringsmaatskappye het wat diens aan die Kremlin verskaf het. Hulle voorsien ook die Russiese soldate se kos. Voor sy besigheidsukses, spandeer hy ongeveer ’n dekade in ’n tronk in die Sowjetunie vir gewelddadige straatroof. In 2014 vergader hy met regeringsamptenare met die voorstel om ’n private huursoldaatlegioen op die been te bring. Dis die begin van Wagner.
Mense wat hom ken, sê Prigozjin word nie net deur geld en mag gedryf nie, maar ook deur die opwinding van openbare dramas. En hy sien homself as die gewone man se kampvegter wat ’n korrupte elite beveg. Die tronkvoëls wat hy werf om in Oekraïne te gaan veg, bewonder hom; hulle sien hom as “een van hulle”. Op sy pad boontoe wen hy Poetin se guns, maar hy maak baie vyande. Hy beledig administrateurs, regeringsamptenare en militêre leiers. Hy verag Shoigoe en Gerasimof, die twee weermaghoofde. Hy’s wreed en genadeloos in sy strewe na die vernietiging van sy vyande. En hy’t geen afskakelknoppie nie; hy weet as hy gaan stilstaan, sal dit sy einde beteken.
Hoekom is Prigozjin kwaad?
In Desember en Januarie van 2022–2023 kry die Russiese weermag beheer oor Soledar, ’n dorp in die Donbas se Bagmoet-streek. Dis hulle eerste grondgebiedwins sedert die front in die ooste van die land gestol het. Wagner is grootliks betrokke. Prigozjin raak al hoe meer paranoïes dat die Russiese weermag sy oorwinning gaan “steel”. Beskuldigings begin oor en weer vlieg. Soledar gee die Russe toegang tot Bagmoet. Wagner hoop om hulle sukses daar te herhaal. Wagner is ’n onafhanklike militêre groepering, maar is afhanklik van die Russiese weermag vir voorrade.
Bagmoet word ’n hel van wedersydse vernietiging. Prigozjin begin die Russiese weermaghoofde daarvan beskuldig dat hulle hom saboteer deur voorrade te weerhou. Maande en maande van hewige gevegte volg, maar daar is geen duidelike sukses aan enige kant in Bagmoet nie. Naastenby ’n maand gelede stel Prigozjin ’n video vry met sowat drie dosyn lyke van Wagner-vegters in die agtergrond. Hy vloek en skel die Russiese weermaghoofde en beskuldig hulle vir die dood van die vegters.
Prigozjin steek hiermee ’n gevaarlike lyn oor. Hy word ’n los kanon (om hier ’n gepaste idioom aan Engels te ontleen), ’n kritikus van die regering se hantering van die “spesiale operasie”. Dinge kan hierna net vererger. Wagner se lang vete met die Russiese weermag word al hoe heftiger.
Vroeg in Junie neem hulle ’n Russiese weermagbevelvoerder wat sy troepe beveel het om op ’n Wagner-konvooi te skiet, gevange.
Verlede Vrydagaand stel hy ’n video vry waarin hy beweer dat die Russiese weermag ’n Wagner-basis aangeval het, en hy doen ’n beroep vir gewapende rebellie. Die Russiese FSB (Federal State Bureau) maak ’n kriminele saak teen hom aanhangig. Hy weet wat kom, en daar is vir hom net een uitweg.
Saterdagpret in Rusland
Saterdagoggend ruk Prigozjin met sy magte op na Rusland (dis nou vanuit Oekraïne, waar hulle gestasioneer was). Hulle neem beheer oor van die suidelike stad Rostof-na-Don, insluitend die suidelike streek se militêre hoofkwartier, en dele van die stad Woronezj. Twee generaals word krygsgevange geneem. Prigozjin eis die koppe van Shoigoe en Gerasimof, en marsjeer verder na Moskou (“marsjeer” metafories bedoel – hulle is swaar gewapen met tenks, pantservoertuie, lugafweergeskut, ens). Op pad skiet hulle ses weermaghelikopters en een vliegtuig neer – dié wou hulle glo uit die lug aanval. Die dodetal word op tussen 10 en 20 Russiese soldate geraam. Hulle kry geen teenstand nie, net padversperrings – byvoorbeeld brûe wat opgeblaas is, en sterk waarskuwings op TV deur Poetin. Hy noem hulle verraaiers en vyande van die staat.
Twee ure van Moskou af stop hulle skielik. Volgens mediaberigte het die president van Belarus, Loekasjenkoe, vir Prigozjin gebel en hom omgepraat om te stop. Prigozjin beveel die Wagner-magte om om te draai en terug te keer na hulle tydelike basisse. Teen die aand se kant word aangekondig dat die “verraaiers” kwytgeskeld sal word. Die saak teen Prigozjin sal teruggetrek word as hy na Belarus uitwyk.
Dit lyk of die situasie gered en alles weer wel is.
Maar is dit?
Reaksie op die narrespel
Wat beteken dit alles? Die Kremlin is nou besig met ernstige skadebeheer, maar ’n paar feite het aan die lig gekom wat nie maklik onder die mat gevee sal kan word nie:
- Poetin se greep op die mag is nie so sterk as wat gedink is nie. Hy het tydens die hele petalje in sy bunker geskuil, en net nou en dan op TV verskyn om dreigende waarskuwings te rig. Dat hy agterna vir Loekasjenkoe moes bedank omdat hy “’n bloedbad afgeweer het”, is ’n groot verleentheid vir hom, en natuurlik ’n coup vir Loekasjenkoe.
- Poetin is kwesbaar; die petalje toon dat daar binnegevegte onder die elite is, mense wat voorberei om die mag te gryp. Prigozjin is nie eers baie hoog op nie – daar is oligarge met groot magsbasisse en ryk hulpbronne, én ook privaatweermagte.
- Die Kremlin het geen weerstand gebied nie. ’n Paar onsuksesvolle lugaanvalle is geloods. Maar daar was geen skermutselinge op die grond nie. Daar was gewapende groeperings oral waar Wagner beweeg het – die polisie, die FSB, die Russiese Gward (tuiswag) – maar hulle was nêrens te sien nie. Dis in teenstelling met wanneer daar ’n protesaksie teen die oorlog of vir die vrylating van Nawalni is, wanneer hordes SWAT-magte dadelik verskyn.
Dit dui daarop dat die tuiswag nie by vermoë is om die publiek te beskerm nie. Die Institute for the Study of War (ISW) skryf die swakheid in binnelandse veiligheid toe aan die verrassingselement én ’n tekort aan personeel as gevolg van swaar verliese in Oekraïne. Hierdie toedrag van sake moet noodwendig ’n negatiewe uitwerking op die bevolking se persepsie van die regering hê.
- Wetstoepassers het verdwyn en gewone mense van aangesig tot aangesig met professionele misdadigers gelos, maar Russiese burgers het geen vyandigheid teenoor die rebelle getoon nie. Videomateriaal wys hoe Wagner-soldate wat deur Poetin verraaiers en vyande van die mense en die staat genoem is, omhels word deur die inwoners van Rostof terwyl hulle “Bravo!” skree.
Die Russiese dissident en opposisiepolitikus Maxim Katz maak ’n interessante opmerking. Hy reken dis wat gebeur wanneer mense oortuig is hulle kan geen verskil maak aan die politieke situasie in hulle land nie, en dat hulle opinies geen waarde het nie. Hulle sal dan enige tawwe ou wat daarop uit is om die regering se dinges te skop, soos ’n held verwelkom, selfs al is hy ’n misdadiger (sommige kommentators beweer juis omdát hy ’n wrede misdadiger is). Dit impliseer dat die sogenaamde groot steun wat Poetin onder die bevolking geniet, in baie gevalle niks meer as lippediens is nie.
Katz is van mening dat Prigozjin van dieselfde stoffasie is as regeringsamptenare en weermaghoofde – ’n grootmond en ’n leuenaar, ’n windbol, en as hy dit nié was nie en volgehou het met sy opmars na Moskou, hy baie moontlik vandag president sou wees, sonder noemenswaardige verbasing van die apatiese publiek se kant af.
Wagner, so verduidelik hy, word sedert 2014 deur Russiese militêre intelligensie gebruik as proksieweermag om ontslae te raak van saamgeflanste kommando’s en hulle leiers in die Donbasstreek wat ’n irritasie begin word het vir die Russiese regering. Prigozjin was hiervan bewus, en hy het geweet wat vir hom wag. Daarom was die opmars sy enigste opsie om bedingingsmag te verkry ten einde sy veiligheid te verseker.
- Daar sal noodwendig ook ’n effek wees op die gewone Russiese weermaglede se moreel. Hulle is lankal afgunstig op Wagner-soldate, omdat laasgenoemde beter salarisse verdien, beter opleiding kry, en beter toerusting het. Nou moes hulle toekyk hoe Wagner ongehinderd tot amper in Moskou opruk, terwyl hulle in baie gevalle met verouderde wapens as kanonvoer in Oekraïne gebruik word. Dit gaan probleme veroorsaak wanneer Wagner-troepe in die weermag geïntegreer moet word. Volgens Poetin se kompromisvoorstelle het hulle ’n keuse om “af te tree”, geïntegreer te word met die gewone weermag, of uit te wyk Belarus toe.
- Kommentators merk ook op hoe die propagandiste, wat gewoonlik hard skree, vol huiwering en stilswye was tydens die debakel. Hulle sing natuurlik die deuntjie van wie hulle finansier, naamlik die staat. In Rusland is die staat egter identies met sy leier. Die momentele stomheid van die gewoonlik luidrugtige, vitrioelspoegende propagandiste moet interpreteer word as dat hulle werklik die moontlikheid oorweeg het dat die rebellie kon slaag, en gevolglik wou wag om te sien wat die uitkoms gaan wees, en of daar ’n nuwe meester sou wees om te gehoorsaam.
- Volgens die ISW is die Kremlin nou in ’n staat van diep onstabiele ewewig. Die ooreenkoms wat deur Loekasjenkoe gereël is, is ’n korttermynoplossing, en Progozjin se rebellie het ernstige swakhede in die Kremlin en ministerie van verdediging blootgelê.
- ’n Brokkie humor word weer verskaf deur Kadirof, die Tsjetsjniese leier en Kremlin-marionet, wat met groot stelligheid aangekondig het sy troepe sal die Russiese staat geen beskerm deur Wagner uit te wis. Maar toe hulle uiteindelik in Rostof aankom, was Wagner al weer weg. Hulle doen toe maar wat hulle gewoonlik doen (6:03): maak TikTok-video’s met kwaai gesigte en dramatiese agtergrondmusiek terwyl hulle hulle gewere gereed hou.
- ’n Skerp stukkie pittigheid verskyn as kommentaar op Katz se video. Dit verwys na die Russiese weermag:
- 2021 – Tweede sterkste weermag in die wêreld
- 2022 – Tweede sterkste weermag in Oekraïne
- 2023 – Tweede sterkste weermag in Rusland.
Uiteinde van die sirkus
Die Kremlin “veg” verbete om beheer oor die narratief terug te kry. Gister is aangekondig dat die saak teen Wagner toe nié gesluit is nie. Poetin het weer verskyn, oudergewoonte al vingerswaaiend, en beloof om die “leiers” van die opstand te straf – maar steeds sonder om enige name te noem. Maar dis nie so maklik om die genius terug in die bottel te kry nie. Vandag weer is die saak glo gesluit. Die propagandiste skree weer heldhaftig moord – daar is net een uitweg met verraaiers, word gesê, en dis ’n koeël deur die kop.
Intussen het Prigozjin se privaatvliegtuig in Belarus geland. Stilbly en op die agtergrond bly is nie in sy aard nie. In sy jongste video na die mislukte rebellie beweer hy dat hy nie regtig Moskou wou binneval nie; hy wou glo net flaters in die Russiese binnelandse sekuriteit blootstel. Dis sterk te betwyfel of sy eertydse vriend in die bestuurstoel hierdie skuinswegse toenadering vir soetkoek gaan opeet. Sommige Wagner-soldate, wat sy aanhitsing tot rebellie sterk ter harte geneem het, los kwaai boodskappe vir hom op die internet. Daar is baie van sy soldate wat nog lojaal is aan hom en op verdere opdragte blyk te wag. Foto’s uit Belarus skep die indruk dat hy hom verlustig. Sommiges meen sy oorblywende dae sal daaruit bestaan om gereeld oor sy skouer te kyk, maar dat hy dalk iets in die mou voer, kan nie oor die hoof gesien word nie.
They (the Russian leadership) will continue to fight among themselves until the Russian Federation collapses. What are the signs that this will happen? First, Prigozhin is clearly not acting alone; the main players of his "team" have not yet come to the fore. But they will come out for sure: the results of the "weekend putsch" are seen as too easy to achieve an unknown goal. Secondly, Prigozhin is in hiding, and he is not one of those who would want to quarrel with his army, which has been fully preserved and is waiting for orders.
So beweer Dmitro Redko in ’n artikel wat ongelooflike insig gee in die Russiese staatsapparatuur oor die afgelope 300 jaar. Beslis die moeite werd om te lees!
Die guns wat Prigozjin Oekraïne bewys het.
In sy lang video van Vrydagaand maak Prigozjin ook die volgende interessante bewerings:
– Die inval in Oekraïne is gebaseer op leuens. Dis deur die top oligarge, Poetin se vriende, gesteun omdat hulle gedink het hulle sou daarby baat. Volgens Prigozjin moes die oorlog eerder teen die oligarge wees wat Rusland beheer.
– Dis onwaar dat Oekraïne die Donbasstreek al agt jaar lank bombardeer. Hiermee ontken hy een van die sleutelmotiewe in die Russiese oorlogspropaganda. Sien gerus die artikel deur Burgert Senekal hieroor. Volgens onlangse Russiese wetgewing behoort Prigozjin bloot al hiervoor gearresteer te word. Ongelukkig sal hierdie video’s teen dié tyd nie meer in Rusland beskikbaar wees nie.
Dit moet in gedagte gehou word dat Prigozjin nie hierdie dinge sê omdat hy ’n vriend van Oekraïne is nie. Hy is, soos vroeër gemeld, gekant teen die korrupsie in die Russiese regering, die militêre leiers wat hy as ploerte beskou, en teen die oligarge en hulle handlangers wat die land beheer. Hy’s in baie opsigte nog erger as Poetin; hy beweer gereeld dat Rusland lesse by Noord-Korea behoort te leer, dat al die grense gesluit moet word, en dat die meeste van die bevolking gedwing moet word om vir die militêre-industriële kompleks te werk.
Wat beteken die opmars na Moskou vir Oekraïne en die oorlog?
Die Kijif-regering se reaksie is:
Secretary of the National Security and Defense Council of Ukraine, Oleksiy Danilov, called the mutiny attempt by the leader of Wagner Group, Yevgeny Prigozhin, the first stage of dismantling the system built up by Russian President Vladimir Putin.
“Prigozhin's ‘revolt’ is the first stage of the dismantling of Putin's system. Prigozhin is only part of the group and part of the plan, the tip of the destabilization process’s iceberg," Danilov said.
According to him, a group of disaffected people – security operatives, government officials, and oligarchs – has formed in Russia, which considers Putin's actions deadly dangerous for their personal interests and their very existence, as well as a threat to the Russian Federation.
"Prigozhyn's march from Rostov is a demonstration of how serious his intentions were, what opportunities exist, and how conditions are being created for launching a power transit process – be it voluntary or forced. Wagner convoys or those formed by other forces may ultimately make it to the Red Square,” Danilov suggests.
Die Oekraïense regering dui verder aan dat die gebeure geen onmiddellike effek op die oorlogsituasie het nie. Russiese magte het die grootste reeks missielaanvalle van die laaste paar maande teen Oekraïne juis op 24 Junie geloods, ten spyte van die gewapende rebellie in Rusland. Op 27 Junie word ’n volgepakte pizza-restaurant in Kramatorsk deur ’n missiel getref. Die dodetal staan al op 10, en 60 mense is beseer. Rusland hou vol dat hulle net “militêr-verwante” teikens aanval.
Intussen berig Unian, die Oekraïense nuusagentskap, dat alliansievennote Oekraïne gevra het om nie vir Rusland aan te val tydens die rebellemuitery nie, ten einde nie die Kremlin-narratief dat die Weste die Russiese regering omver wil werp, te stook nie. Hieroor is daar wydverspreide ongelukkigheid.
Gewone mense se reaksie is koel, sinies, verwyderd. Oekraïners is eenvoudig te getraumatiseer; niks uit Rusland verbaas hulle meer nie. Hulle verwag enige soort kwaad, enige soort absurditeit van daardie kant af. Hulle weet die oorlog is ver van verby, en sien die kanse van ’n ware rebellie, of burgeroorlog, of opstand in Rusland as skraal. Hulle het in elk geval lankal opgehou hoop daarvoor.
Die gewaande “broederskap” tussen die twee nasies, wat Poetin so graag ophaal, is vir ewig verby (dis hoekom hierdie oorlog geskiedkundig van soveel belang is). Die meeste Oekraïners gee op hierdie stadium min om wat daar “bo” gebeur. Daarom is die mees algemene reaksie ’n skud van die kop en ’n rol van die oë hemelwaarts, saam met die nou al wydverspreide verwysing na “hulle” as spinnekoppe in ’n bottel, en die ewe bekende “Laat die spinnekoppe mekaar opvreet.”


Kommentaar
Dié gebeure laat 'n mens met baie vrae, onder andere:
Het Prigozjin hiermee te ver gegaan, veral ook nav die uitlatings wat hy gemaak het mbt die oorlog in Oekraïne? Is hy werklik veilig in Belarus, indien hy wel nog daar is?
Wat beoog Loekasjenkoe met Prigozjin in sy land nadat hy hom uit Poetin se hande gered het. Hoe veilig is sý regering?
Dis sleutelvrae daardie. Ek lees die Kremlin werk nou baie hard om enige verwysing na hom te verwyder. Hy het opgehou bestaan. Party videos waar hy uitlatings maak oor die leuens is verwyder. Poetin het hom glo gebel tydens die opmars, maar hy het nie geantwoord nie, en eers geantwoord toe Loekasjenkoe bel. Laasgenoemde beweer Poetin het hom in 'n oproep daarna gevra om Prigozjin te vermoor. Hy is seker nie veilig nie. Loekasjenkoe speel allerhande speletjies om Poetin se druk te vermy. Poetin wil rusland en Belarus in 'n soort politieke en militêre gemenebes druk, om Belarus te dwing om tot die oorlog toe te tree. Die weermag van Belarus is gekant daarteen. Loekasjenkoe se rug is teen die muur. Hy is baie ongewild. Die kanse is goed dat sy weermag hom sal onttroon as hy hulle forseer om toe te tree. Die Belarussiese weermag is glo nie lief vir die russiese soldate nie, en Wagner is nou ook 'n vyand van hulle. Loekasjenkoe het dus nou 'n warm patat onder die vlerk geneem. Maar dat hy dit dalk wil gebruik as bedingingsmag in die toekoms, is ook moontlik. Die lande wat grens aan Belarus - Pole, Latwië en Litoue, het al kommer uitgespreek oor moontlike sabotasie-aanvalle deur Wagnertroepe