
Prent van mikrofone: https://pixabay.com/vectors/microphones-radio-sound-reportage-1473422/; prent van Kobus Burger: www.rsg.co.za (erkenning aan RSG/SABC vir die gebruik van die foto)
Naomi Meyer praat met Kobus Burger, RSG se nuwe programbestuurder.
Kobus, baie geluk met jou aanstelling as programbestuurder by RSG. Jy het jare lange ondervinding in die media en die kunste: teater, feeste, kunsjoernalistiek en die radiowese. Die radioteater wat jy deur die jare oor die radiogolwe laat uitdwarrel, veroorsaak soms turbulensie, soms vredevolle lugsuisings, en altyd stof tot nadenke. Jare gelede het ek ’n radiodramawerkswinkel met jou en Johan Rademan bygewoon en besef: Duidelik verstaan jy die teater van die verbeelding. Vertel my asseblief van jou verwondering vir wat op die radio uitgesaai kán word?
.........
Ek het maar radio met my moedersmelk ingekry. My eerste herinnering is ’n radio wat heeltyd in my kamer aan was. My pa is ’n kranige radioluisteraar wat orals ’n radio gehad het.
...........
Ek het maar radio met my moedersmelk ingekry. My eerste herinnering is ’n radio wat heeltyd in my kamer aan was. My pa is ’n kranige radioluisteraar wat orals ’n radio gehad het. Ek het op Lambertsbaai grootgeword en as ek see toe gestap het, het ek my eie radioprogramme aangebied. Toe ek op Stellenbosch studeer, kon ek by Radio Matie begin uitsaai en sodoende het ek by die medium betrokke geraak. Ek het ’n ompad in die drukmedia gevat en is toe in Mei 2012 by RSG aangestel. Klank is ’n besonderse kreatiewe medium. ’n Stilte kan byvoorbeeld sóveel dinge beteken. En dan is daar die medeskeppendheid van die luisteraar. Daar gebeur iets wat nie op papier of in klank vervat is nie. En elke luisteraar skilder as ’t ware ’n ander prentjie. Mens kan met klank eksperimenteer, soos ons dan ook destyds met RSG Kunstefees en verskeie klankeksperimente gemaak het. Die moontlikhede is legio. Selfs as jy na Apple TV+ se reeks Calls kyk, wat eintlik net klank is. Dit was verstommend om te sien dat selfs ’n TV-stroomdiens klankdrama uitsaai. Ons moet aanhou soek na die nuwe horison vir klank. Hoewel ek vermoed daar is sommer ’n paar horisonne!
Daar is so baie nuusbronne. Daar is (digitale) koerante, webwerwe, TV, stromingsdienste, multimedia-aanbiedings, sosiale media. Wat onderskei radio van die res?
Radio (en klank) is intiemer as die lewe. En dit smee hegte bande met sy luisteraar. Omroepers word soos vriende en vriendinne. Hulle kuier daagliks in mense se voorkamers en motors. ’n Mens hoor dikwels dat die radio vir mense ’n metgesel is. Radio skep dus kosbare verhoudings. En as ek nou hoor hoe mense vertel van hul eerste kennismaking met radio, is dit fyn waarnemings met soveel kleur en geur. Dit bevestig daardie intimiteit. Ek dink baie ander vermaak is soms vervlietend, maar omdat radio die verbeelding betrek, bly die klankbelewenis langer met jou.
Daar is baie streekstasies wat hul luisteraars van die omgewing ken en aanbieders vir wie mens die radio aanskakel net omdat mens dink hulle voel soos familie. Wat maak RSG anders en eenders? Wat onderskei RSG van streekstasies, en is dit nodig om hieroor na te dink as jy ’n program vir hierdie spesifieke stasie bestuur/uiteensit?
RSG is ’n openbarediensuitsaaier (oftewel "public service radio", PBS), wat dit van streeks-, studente- en kommersiële radiostasies onderskei. Die stasie moet volgens sy lisensievoorwaardes en mandaat weekliks onder meer kinderprogramme, drama, finansiële geletterdheid, jeugprogramme, nuus en aktualiteit uitsaai. As die stasie nie hieraan voldoen nie, kan ons beboet word. Voeg daarby die lisensievoorwaarde dat RSG 70% Suid-Afrikaanse musiek speel. Die luisteraars is regoor Suid-Afrika versprei en sommiges woon in die stad, ander in die platteland. Ander radiostasies kan op ’n spesifieke gehoor of groep fokus. En as dit ’n streekstasie is, dan kan dit daardie streek se mense se belange dien. RSG het ’n omvangryke taak om binne die mandaat so ’n groot gehoor te bedien. Dis ’n balanseertoertjie. En die luisteraars begryp nie alslag dat daar ’n mandaat is wat gelewer moet word nie.
Het RSG ’n plig en ’n taak, en teenoor wie of wat? Die stasie se luisteraars, of die taal Afrikaans? Of moet mens nie so hieroor dink as jy die program saamstel nie?
RSG bedien verskeie partye of rolspelers. Daar is luisteraars, adverteerders, borge, die kunstegemeenskap, mense met gestremdhede en kinders wat naderskuif vir ’n storie. RSG het ook baie Engelse luisteraars. Dit is opmerklik hoeveel SMS’e en e-posse van Engelse luisteraars kom. Die stasie is dus meer net ’n Afrikaanse stasie. Engelse luisteraars geniet die musiekprogramme en dramas. As daar ’n verpligting is, dan is dit om die mandaat en die lisensievoorwaardes na te kom. En dan daarby om nasionaal tot Afrikaanse luisteraars te spreek, sonder om iemand uit te sluit.
Hoe lyk die toekoms van radio?
Radio en klank is steeds draagbaar. Dis ’n goedkoop medium en deur potgooie (oftewel podsendings) kry radio nuwe lewe. Nou, met beurtkrag, kan ’n mens by kerslig na die radio luister en ingelig bly en vermaak word. Jy moet net seker maak jou radio het ’n battery of is gelaai. Die toekoms is blink, want klank kan maklik versprei word.
.........
Nou, met beurtkrag, kan ’n mens by kerslig na die radio luister en ingelig bly en vermaak word. Jy moet net seker maak jou radio het ’n battery of is gelaai. Die toekoms is blink, want klank kan maklik versprei word.
...........
Met ons 85 Jaar van Afrikaanse Radio vier ons juis hierdie kleurvolheid van klank. Dit is ’n lappieskombers wat deurentyd nuwe maniere vind om die luisteraars se ore te bereik.
Lees ook:
RSG Sanlam Radiodramakompetisie: Onderhoud met Zesta Vorster
Kommentaar
Ongetwyfeld die regte man vir die uitdagende taak - baie geluk Kobus en sterkte op die pad vorentoe!
Die regte persoon op die regte tyd.
Perfekte persoon op die regte tyd en plek! Ons luister!
Geniet dit!
Ek geniet Kobus se kennis van musiek, veral van sangopnames van ouds/die verlede!