RSG vier dié week hulle 80-jarige bestaan. Maar hoe hou die stasie met sy meer as eenmiljoen luisteraars kop bo water te midde van ’n geldtekort, politieke woelinge wat die SAUK teister, beskuldigings van korrupsie, swak bestuur, gebrekkige kundigheid en infrastruktuur? Jean Oosthuizen het met die stasiebestuurder Magdaleen Kruger gesels en wou ook by haar weet wat is RSG se godsdiensbeleid nou eintlik en hoe die toekoms van Afrikaanse radio lyk.
Dit is vanjaar RSG se verjaarsdagmaand. Veels geluk! Tagtig jaar op die lug is ’n groot mylpaal en prestasie. Maar Afrikaans is oral onder druk. Hoe lyk die toekoms van Afrikaanse radio na 80 jaar op die lug?
Volgens die Uitsaaiwet, mandaat en OKOSA-uitsaailisensie, moet daar openbare radiodienste wees vir al 11 amptelike tale van die land. Net as hierdie wetgewing en regulasies verander en ’n ander mandaat word in plek gestel wat nie ’n Afrikaanse nasionale kultuurradiostasie vereis nie, sal daar opnuut gekyk moet word na hoe daar na die behoeftes van luisteraars wat in Afrikaans vermaak, ingelig en bemagtig wil word, omgesien kan word. Dit sal dan ’n heeltemal nuwe model vereis, wat ook baie meer kommersieel ingestel sal moet wees om selfvoorsienend te wees, afhangende van die finansieringsmodel.
So van kultuur gepraat, wil mense en veral jongmense nog Afrikaanse radio hê?
Tot vandag toe het die Afrikaanse radio (tans RSG) een van die hoogste lojaliteitsmetings van alle radiostasies in Suid-Afrika. Dit beteken die meerderheid RSG-luisteraars, jonk en oud, verkies om net na RSG te luister en skakel nie weg na ander radiostasies nie. Gehalte en relevansie van inhoud sal volgens my die deurslaggewende faktore wees vir die voortbestaan van so ’n Afrikaanse radiostasie.

RSG se naam Radiosondergrense sê nogal baie. Maar elke medium het tog ’n teikengehoor. Hoe lyk RSG se teikengehoor en waar is die grens?
As nasionale kultuurradiostasie is daar nie ’n teikengehoor nie. Dit is terselfdertyd ’n achilleshiel as wat dit ’n enorme voordeel is. RSG moet uitsaai vir van die wieg tot die graf en alles tussenin. Die inhoudsaanbod moet voorsiening maak vir kinders, skoolleerders, oumense, vroue, mans, drama-vrate, alle musieksmake en ’n verskeidenheid godsdiens en spirituele behoeftes, sportbelangstellings, asook vir gemarginaliseerde groepe soos mense wat leef met gestremdhede, ontwikkelingsport bevorder, demografies en geografies alles insluitend wees. ’n Tradisionele kommersiële radiostasie kan besluit hy saai net vir 16- tot 24-jariges uit, hy speel net rockmusiek en basta met die ander buite hierdie teikengehoor. Hulle moet inval of ’n ander tuiste soek.
Jy praat van ’n verskeidenheid godsdiens en spirituele behoeftes. RSG is ’n sekulêre stasie maar julle bied ook baie programme aan met ’n godsdienstige aanslag. Wat is die stasie se beleid ten opsigte daarvan?
Luisteraars het dikwels die verkeerde indruk dat RSG ’n godsdiens en spesifiek ’n christelike radiostasie is. Wat dit nie is nie. Dit saai slegs godsdiensinhoud uit omdat godsdiens deel van luisteraars se kultuur is. RSG is deeglik bewus daarvan dat die tradisionele beoefening en beskouing van godsdiens verander, geskuif en verbreed het. Ons wil daarvoor voorsiening maak en ons doen dit ook. RSG maak ook vir nie-christelike geloofsdenke en alternatiewe spiritualiteit voorsiening. Die wagwoord is verdraagsaamheid en ons bevorder dit dan ook hierdeur. RSG is ook toegewyd daaraan om binne die christelike godsdiens ruimte te skep vir uiteenlopende christelike ideologieë.

Die versoekprogram U eie Keuse is die oudste program op Suid-Afrikaanse radio. Hoe het die program dit reggekry om so lank te oorleef en waarom bly dit so gewild?
Tradisie speel ’n sterk rol. So ook gebondenheid, want baie van die getroue luisteraars het in hulle huise toe hulle grootgeword het, met radio en met U eie Keuse grootgeword. Dit herinner hulle aan hul bekendstelling aan spesifieke musiek. Die feit dat luisteraars kan deelneem en die inhoud bepaal, speel ook ’n groot rol.
Maar waarom klassieke musiek op ’n Saterdagaand?
’n Saterdagaand met klassieke musiek op radio klink vreemd, maar daar is al vele kere in die 80 jaar probeer om U eie Keuse weg te skuif van die Saterdagaandgleuf, maar tevergeefs. Die luisteraars is nie vatbaar daarvoor nie.
Watter ander soort programme is die gewildste en kry die meeste reaksie?
Inligtingsprogramme wat luisteraars bemagtig: regsake, gesondheidsake, finansies, entrepreneurskap, sielkundige hulp, nuusprogramme en eintlik alle programme wat die hart, die sak en die gemoed raak.

Hoe bepaal julle hoeveel luisteraars julle het en watter programme die gewildste is?
Formeel is daar die kwartaallikse navorsing (RAMS – Radio Audience Measurement Survey), gedoen deur ’n maatskappy genaamd BRC wat die industrie-standaard daarstel. Radioluistersyfers en -patrone word deur middel van vraelyste wat deur ’n steekproefgroep ingevul word, bepaal. Informeel is dit die terugvoer na die radiostasie deur e-posse, SMS’e, oproepe en informele navorsingsaksies op lug. Die volle prentjie sal egter nooit duidelik wees nie. Die nuutste beskikbare RAMS luistersyfer staan op 1,246 miljoen.
Die politieke woelinge in die land die afgelope tyd het ook nie die SAUK verbygegaan nie en die organisasie is dikwels in die spervuur. Watter invloed het dit alles op RSG en die personeel?
RSG is deel van die SAUK en sal dus onvermydelik beïnvloed word deur wat by die SAUK gebeur. Die negatiewe publisiteit die afgelope paar jaar oor die onstuimigheid en woelinge by die SAUK, stem luisteraars en kykers uiteraard negatief en krities oor alles en almal binne die organisasie en dit het ’n negatiewe impak op RSG ook. Ons by RSG glo egter dat niemand of niks vir jou kan ontneem van die kwaliteit van werk wat jy op lug sit nie. Geen politieke invloed of ideologie het hierdie mag nie.

Dit moet nogal moeilik wees om die skip onder sulke omstandighede vlot te hou?
Ja, dit verg dikwels vernuftige maneuvers, laterale denke, tande kners en ’n knoop of twee om ompaaie te skep om die gevolge van korrupsie, swak bestuur, gebrekkige kundigheid en infrastruktuur en geldtekort tot ’n mate te absorbeer of te omseil, maar tot dusver slaag RSG daarin. Dat dit ’n negatiewe uitwerking het op vooruitgang, veral tegnologiese vooruitgang en die personeel se moreel en motivering, kan egter nie ontken word nie. Hopelik is dit ’n tydelike atmosfeer.
Die SAUK se finansies lyk nie baie goed nie. Hoe raak dit RSG en sy personeel wanneer daar berig word die SAUK is bankrot?
Dit raak geensins die personeel se salarisse nie, asook nie die vryskutmense nie. Almal by RSG is nog altyd betaal en ook betyds betaal. Waar die geldelike nood wel ’n uitwerking het, is ten opsigte van infrastruktuur-verbetering, sommige tipe herstelwerk en instandhouding, toerusting en bemarkingsaktiwiteite. Maar tot dusver kon ons nog altyd aanpas, al is dit soms hoe uitdagend. Ek kan ook byvoeg dat daar hier en daar soms oordrewe en selfs verkeerde beriggewing is.

Die gedrukte media se lesersgetalle het die afgelope tyd skerp afgeneem. Watter invloed het die tegnologie soos elektroniese media op RSG gehad en hoe lyk die stasie se luistertal tans?
Radio is in wese elektroniese media en is dus in ’n effe beter posisie om aan te pas by die tegnologie en luisteraars se behoeftes. RSG se toepassing (App), Potgooi, beskikbaarheid op TV-satellietkanaal, multimediaplatforms soos by voorbeeld radio op video, Twitter en Instagram maak interaksie met luisteraars makliker en meer onmiddellik. Die terugvoer is ook onmiddellik. Luister op aanvraag is deesdae moontlik, inhoud vir radio kan deur WhatsApp ingesamel word ens. Luisteraars se interaksie deur die ooggetuie-funksie betrek ook meer mense.
Die tegnologie het vir Afrikaanse radio, RSG, verdere grensloosheid gebring. Luisteraars kan enige plek in die wêreld wees en luister. Het julle enige statistiek hoeveel luisteraars RSG in die buiteland het?
Nee, ongelukkig nie. Die statistiekmetings word nie gedoen volgens lande nie. Dit kan slegs by benadering bepaal hoeveel mense luister, op watter platform luister hulle en waar in Suid-Afrika luister hulle.

Julle het ook heelwat Engelse luisteraars. Waaraan skryf jy dit toe dat soveel Engelse mense na ’n Afrikaanse radiostasie soos RSG luister?
RSG se Engelse luisteraars maak sowat 13 persent van die totale luistersyfer uit. RSG se teiken is nie Afrikaanssprekendes nie, maar almal wat Afrikaans verstaan. Ons vind dat anderstaliges dikwels na RSG oorskakel vir die drama-aanbod, die stories en voorlesings, klassieke musiek en omdat hulle RSG as geloofwaardig beskou. Hulle vertrou die inhoud en hou van die deeglikheid daarvan.

Terug na Afrikaans. Dit is ’n taal met baie variëteite en dialekte. Hoe lyk RSG se Afrikaans vandag na 80 jaar en hoe verskil dit van 80 jaar gelede s’n?
Die taalgebruik en die klank van Afrikaans het gegroei. Taal op RSG mag nie stagneer nie, dit moet aanpas, die moet die pas aangee, dit moet verskeidenheid reflekteer en dit moet aanklank vind by die verskeidenheid. Soms is ouer luisteraars en veral oud-omroepers erg krities oor hoe Afrikaans in die moderne tyd oor radio gebruik word. Hulle beskou dit as verkeerd, terwyl my sterk mening is dat dit anders is, nie noodwendig verkeerd nie. Afrikaans is ’n huis met baie wonings en die nasionale Afrikaanse openbare uitsaaier het ’n verpligting om in al hierdie wonings aan te doen. Afrikaans op RSG is ’n kommunikasietaal om inligting oor te dra, te vermaak en te bemagtig op ’n warm en verdraagsame manier.
Wat is jou grootste uitdagings en drome as stasiebestuurder van so ’n groot nasionale radiostasie en wat is jou grootste frustrasie om die stasie te bestuur?
Uitdagings is om relevant te bly, by te hou met die tegnologie, uitstekende gehalte-inhoud te gee wat aanklank vind by ’n voortdurend veranderde gehoor. Om die voorkeurradiostasie te wees vir almal wat Afrikaans verstaan ... omdat die stasie sy luisteraars verstaan en respekteer. Frustrasie? Burokrasie, stadig bewegende strategie, gebrekkige besluitneming en ’n groot skip wat sukkel om die wind reg te takseer en die seile dan daarna te span.

Lees ook:
Afrikaans se legendariese woordwewer: Naomi Bruwer gesels met Fanus Rautenbach
Ek onthou die president van Flinkveria – Gerrit Rautenbach
RSG saai hierdie maand verskeie programme uit hulle argief uit. Klik hier vir die potgooie.


Kommentaar
Ek is in 1940 gebore en het in my lewe baie na die Afrikaanse sender geluister. Iets, wat nog nie genoem is nie, en wat ek onthou, is dat daar aanvanklik na die Engelse sender verwys is as die A-program en na die Afrikaanse een as die B-program. (Dit is darem later reggestel.) Die sender het eers 4 uur in die middag oopgemaak met "Die Kinderhoekie" waarna ons uitgesien het. My broer het LM geluister, maar dit was nie vir my nie.
Die Afrikaanse radio het my bekendgestel aan klassieke musiek deur programme soos U Eie Keuse en Simfoniekonserte. Deesdae luister ons baie FMR (Fine Music Radio) waar Afrikaans ook darem af en toe tot sy reg kom. RSG se aktualiteitsprogramme en Sondagoggendprogramme verdien 'n medalje.