Ek onthou die president van Flinkveria

  • 5

My heel vroegste herinnering aan Flink uit die vere, Fanus Rautenbach se legendariese oggendprogram op die destydse Afrikaanse Diens van Radio Suid-Afrika, is nie noodwendig ’n goeie ene nie.

Dit het so gewerk. In 1961, die jaar wat dié program begin het, was ek twee jaar oud. En van daai jaar af het hy elke weeksoggend vir die volgende 13 jaar vyfuur opgestaan en sesuur SAUK toe gery. Darem het ek hom nog vir brekfis gehad oor naweke. Dan het hy nie met die volk gepraat nie. Dan net met sy huismense.

Want sien, hy was my pa.

 

Alhoewel hy nou so vroeg elke oggend uit die huis al was, het hy vir my en broer Frans altyd deel gemaak van wat hy doen. Ek was seker so tien jaar, en met daardie jaar se kort vakansie in Oktober (ons het Junievakansies Krugerwildtuin toe en Desembers Buffelsbaai toe gegaan, maar altyd die kort vakansie by die huis gebly) bied hy toe aan dat ons saam met hom kan ateljee toe gaan. Ons kan gaan kyk hoe saai Pa uit.

Die aand voor die groot gebeurtenis moes ek my klere klaar regsit. Dis nou die uitgaanklere. Daai tyd was dit nog kortbroek, langmou-blokkieshemp en skoene. In standerd drie had ek nog net een paar skoene vir skool en kerk en okkasies soos SAUK toe gaan. En dan was daar die woltrui. Die duur ene wat meestal net Sondaemiddae aangetrek is as ons by tant Dollie-hulle in Florida gaan koffie en koek doen het.

Ek dink nie ek het regtig geslaap nie. Vyfuur het hy ons kom wakker maak met koffie. Die enigste ander herinnering op daardie oomblik van donkeroggend saam met Pa ry was wanneer ons vakansie gaan hou het. Hierdie rit was lekkerder as vakansie. Ons is van Northcliff af regdeur middestad toe. Oranje straatligte wat neerskyn op leë paaie. Al wat ons langs die pad teëkom, is een of twee vroegdag-Putco-busse met skofwerkers en die klein lorries wat die koerante versprei. Dit was toe nog Die Transvaler.

Met die aankoms in die uitsaaipaleis in Commissionerstraat (daai tyd wou die mense dit sommer nog verafrikaans na Kommissarisstraat) het ’n nuwe ontdekking op my gewag. Voor uitsaaityd word daar eers brekfis gedoen in die kafeteria. Vir die eerste keer in my lewe het iemand anders as my ma of liewe Maggie, die huishoudster, my bedien. En dié keer met kalfsoog-eiers, spek en vir die eerste keer in my lewe gebraaide tamaties. Mensig, hierdie is die lewe van die groot sterre. En vir nou is ek deel daarvan. Terwyl ons kou aan koningsbrekfis loop Dan Kirstein verby. Nic Swanepoel is op pad vir die oggendnuus. Sterre sê ek jou.

Flink uit die vere begin stiptelik om 06:30. Om 06:28 staan Pa op, vee sy brekfis-oorblyfsels van sy mond af en sê: “Nou ja, dis tyd. Kom ek gaan praat met my volkie ...”

Saam stap ons in afwagting tot agter die dubbeldeur van die ateljee. Die klankdigtheid slaan so vas teen jou ore as die deur toesuis. Teen dié tyd is die klankingenieur wat Fanus se program bestuur al diep bekommerd of Fanus dit gaan maak (soos min of meer elke oggend). Maar soos my pa daar inwals, wys hy net vir die klankman ’n vinger en die man druk die knop en speel “Die penniefluitjiekwêla”. Pa loop oor na die mikrofoon en kalm soos ’n komkommer wys hy vir die klankman om uit te doof. Sommer so staan-staan begin hy die gesprek ...

“Goeiemore vriende, dis 6 Oktober 1969 en die Curriebeker is amper op sy einde. Wie gaan wen?” En die foon lui en hy skryf notas neer agterop sy pakkie 30’s Van Rijn.

 

 

Twee jaar later, in 1971, hou Flinkveria hul tienjaarfees. As die Republiek van Flinkveria. Die hele kabinet het opgeruk na Bronkhorstbaai. Die arme plek was nooit weer dieselfde daarna nie.

Dit was skoolvakansietyd en ek wou gaan fees hou saam met my pa, maar my ma was nie so geneë daarmee nie. Ek was ’n onskuldige 12 jaar oud en het nie geweet hoe wyd die manne die draai kan vat met so iets soos ’n tienjaarfees nie. Dus reël sy ’n daguitstappie vir ons fees toe saam met huisvriend oom Piet Groen (hy was ’n dominee en ek was dus in goeie hande). Maar ek het vir my ’n bed-rol gebou met ’n ou kombers, kussing, twee onderbroeke en ’n trui. Ek gaan fees toe. Daardie aand het ek nie saam met oom Piet teruggery nie, maar ’n tent gedeel met Kooivlooi, oftewel Gerhard Mynhard, die minister sonder portefeulje en ook Fanus se persoonlike lyfwag. ’n Week later het ek my pa baie beter geken.

Fanus en Kooivlooi

’n Ander wonderlike legende wat ek kort-kort moet aanhoor, gaan oor die keer wat Fanus kwansuis ’n vuil grap vertel het en vir twee weke geskors was. Mense vertel vir my hulle het die grap self gehoor. Oor die draadloos.

“Nee kyk, jou pa sê toe daai oggend hy was in Pretoria en het op die Hatfield-bus geklim. Hy kyk so rond en sien nie een vrou het ’n hoed op nie. Net daar spring hy af en gaan klim op die Brooklyn-bus ...” Dis een van die beweerde grappies. Daar’s baie wat aangehaal word.

Daar is wel ’n baie goeie rede hoekom dié legende ontstaan het. Dit was die Vrydagoggend wat die skole vir die winter gesluit het. Ons sou die volgende oggend Krugerwildtuin toe gaan vir twee weke, maar hy noem niks daarvan vir die luisteraars nie. Soos elke dag skerts Fanus oor aktuele sake en noem dat die lewe baie onregverdig is. Want al die luisteraars kan nou lekker gaan vakansie hou terwyl hy moet uitsaai. Hy sê toe hy dink hy moet ’n skurwe grap vertel sodat die SAUK hom vir so twee weke kan skors. Hy het nooit die grap vertel nie, maar die Maandagoggend hoor almal ’n ander omroeper wat sê hy staan in, want “Fanus het bietjie gaan rus ...”

Fanus en Simon van de Wildt

Daar was wel ’n geleentheid waar die SAUK (nee, nie SABC nie – dit was toe nog die baie Ou Suid-Afrika) hom gevra het om bietjie te gaan rus. Simon was ’n skoonmaker wat onder andere die Afrikaanse Diens se ateljee skoon gehou het. My pa het elke dag lang gesprekke met hom gehad. Een oggend, op die ingewing van die oomblik, besluit hy om vir Simon aan die volk bekend te stel. En voer die dag se gesprek lewendig oor die lug. Hy het sy gas as Simon van de Wildt voorgestel, want sien, Simon was van De Wildt af.

Net toe “Die penniefluitjiekwêla” die einde van daardie dag se program aankondig, is Fanus opgekommandeer na die boonste verdieping, waar die grootbase hom ingewag het. Hulle was nie soseer ontsteld oor die geselsery nie, maar wou weet waar Simon was toe hy uitgesaai het. Fanus sê toe waar ’n mede-omroeper altyd is as hy saam uitsaai. Blykbaar sou daai stoel kon doen met ’n kennisgewing wat daai jare oral aan die orde van die dag was: “Slegs Blankes”. Fanus was in alle opsigte sy tyd ver vooruit. Tog wel ...

“Groetnis tot môre,” sou hy afeindig en vir die klankingenieur met so ’n krom dik wysvingertjie wys. Die penniefluitjie begin speel en Fanus sit agteroor, haal die oorfone af en steek behaaglik ’n Van Rijn aan.

 

  • 5

Kommentaar

  • Beste Gerrit


    Jou Pa was inderdaad 'n radiolegende, wat nie geaarsel het om soos hy dit gestel het, en soos ek dit onthou, 'n skorsie of twee te vertel het nie. Die oggend voordat ek die trein na Johannesburg gehaal het, het hy sy eie unieke oplossing vir 'n kragonderbreking gehad.

    Almal moes hul hande opsteek, want vele hande maak ligte werk.

    Dan van die ou wat langs 'n buurman bly , wat soveel vir sy medemens omgegee het ,dat hy sy broek vir jou sou uittrek... dan na 'n pouse: en die buurvrou is net so goed!
  • Hallo Gerrit

    Dankie dat jy jou herinneringe met ons gedeel het. Ja, ek onthou die laerskooldae se vroeg opstaan met die "Penniefluitjiekwêla" in die agtergrond, ons het daarmee grootgeword.

    Soos jy hierdie herinneringe het van gedeelde tyd maar persoonlike kontak met jou pa, het ons die herinneringe van sy stem oor die radio.

    So stap die lewe met ons almal aan.

    Groete

    Pieter

  • Op my laaste dag as Klankman vir Flink uit die Vere herhaal Fanus gebruiklikerwys wat die luisteraars tydens diljoene telefoonoproepe kwytraak. 'n Vrou beweer Fanus se grappies is daardie dag so flou dat hy asb moet fluit voordat hy 'n snaakse grappie vertel.

    My riskante kwinkslag was: "As Fanus fluit vordat hy 'n grappie vertel, sal die grappie AFGEWATER wees."

    Nadat ek in 1997 na Kiwiland verhuis het, het Fanus en ek gereeld telefonies kontak behou.

    Hy was veral opgewonde oor 'n klankskyf van my Sondagmiddag-program wat ek vir hom gestuur het, en voorgestel dat hy ook soms aan die Protea-Uur deelneem. Ons het vooraf 'n opname van daardie 'deelname' gemaak (om vir 'n aansienlike tydverskil te vergoed) en ek het dit uitgesaai.

    Luisteraars-reaksie was positief en ons het daarna nog 'n paar 'Fanus-kuiers' by die Tweetalige Radiostem vir Suid-Afrikaners wat in Auckland woon', ingesluit.

    En toe raak Fanus se stem stil.

    Ek het baie aan Stefaans te danke.

    Die inbel-versoekprogram wat ek die afgelope 10 jaar laatnag op Vrydae en Sondae op Classic Focus FM uitsaai, is op die Fanus-model geskoei, want luisteraars bel, en ek gesels met hulle oor die rede waarom 'n spesifieke opname versoek word.

    Op sy aanmoediging (Jan, jy moet bundel!), het ek 'n digbundel van my 'versies' gepubliseer.

    Dit was inderdaad 'n voorreg om 'n vakleerlingskap onder toesig van die Mikrofoon-spesialis te mag deurloop.

  • Amanda Ebersohn

    Sjoe, draai my kop nou tolbos-herinnering. My pa was Engeltjie ( minister van sonderwys en ...?) Oom Fanus het my eerste gedig krities gelees en gesê ek moet aanhou skryf ... ek het nie. Kleintjie Kleynhans, Kooivlooi met sy sketse en ander is nou net vae herinneringe.
    Dankie vir die terugblik ... dis kondensmelk vir my siel.
    Amanda, Engel(1934-2007) en sy Engelina ( sy word 80 in Januarie 2018) se dogter.

  • Dankie Gerrit, jou vertelling baie geniet. Miskien een issue: is jy seker "Vlink uit die Vere" het om 06h30 begin? As jy my sou vra, sou ek gesê't 07h00. En die nuus was om 06h45 in die oggende ... Hierdie in teenstelling met Engelse stasie waar nuus om 7 was.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top