Afrikaans se legendariese woordwewer: Naomi Bruwer gesels met Fanus Rautenbach

  • 0

Op die kop twaalfuur klop ek aan Fanus Rautenbach se deur in die Arkadia-oudehof, soos hy dit noem. Ek is nie seker op wie se gesig die verbasing die grootste is toe Fanus die deur oopmaak nie. Ons het afgespreek om sy legendeskap te gaan vier by The River Club … die T-hemp en boksbroekie gaan nie werk nie. Ons lag lekker. Fanus vertel hy het tot in die vroeë oggendure gesit en werk voor die rekenaar. Die afgelope paar dae was oorvol onderhoude en oproepe sedert bekend gemaak is dat hy met 27 000 stemme aangewys is as die radiolegende van die afgelope 70 jaar. Na sy vroegoggend-onderhoud met ’n radiostasie in Nieu-Seeland wou hy nog bietjie rus.

’n Uur of wat later sit ons elkeen met ’n Windhoek en kyk deur die spyskaart. "Tongvis," besluit Fanus, "’n omroeper moet tongvis eet." En toe begin ons oor sy lewe gesels.

Laat ons by die begin begin. Jy is 23 September 1928 op Lichtenburg gebore. Wat is jou heel eerste herinnering aan die tyd op Lichtenburg?

Daar's baie herinneringe, maar my heel eerste … Ek het op ’n donkie gery, ek was vier jaar oud. Ek moes die donkies gaan haal in die veld, want my pa wou hulle inspan. Ek het agterstevoor om gery en aan sy stert vasgehou. Toe jaag die foksterriërs ons en ek gly af en daar hang ek onder die donkie se pens. Die honde het geblaf-blaf en ek moes maar laat los. Die ander donkies het gemaal om my, maar gelukkig het hulle my nie raakgetrap nie. Van toe af is ek bang vir honde, ’n verskriklike vrees … Dit het ’n groot indruk op my gemaak.

Fanus is ’n legendariese storieverteller; die een storie rol uit op die ander …

Daar’s nog ’n donkiestorie. Langs ons het oom Wouter du Preez gebly. My pa koop toe ’n donkie by oom Wouter en hy sê vir my pa: “Jy moet mooi praat met die donkie, moenie aan hom slaan nie.” Ons span hom toe in voor die eenskaarploeg en die donkie steek vas – hy's letterlik so steeks soos ’n donkie. Gaan roep toe maar vir oom Wouter en sê die donkie wil nie loop nie. Hy sê: "Man, julle verstaan nie donkies nie." Hy pluk sommer daar ’n persketak af, loop na die donkie toe, kyk hom so in die oë en slaat hom oor sy neus. En daar trek hy. My pa sê: "Maar jy het dan gesê ek mag nie die donkie slaan nie!" "Nee, nee," sê oom Wouter, "ek het hom nie geslaan nie, ek het net sy aandag getrek." En ek het dit onthou toe ek later jare onderwyser was. Ek het nie die kinders geslaan nie, ek het net hulle aandag gekry.

Jy het ná Normaalkollege op Groblersdal gaan skoolhou as Afrikaans-onderwyser. Het jy dit as ’n roeping gesien?

Ja, ek wou niks anders doen nie. Die hoof van Keurboslaan – dit was ’n boek soos my Bybel. Daardie man was ’n held vir die skoolkinders en hy was my held. Ek wou nie ’n hoof wees nie, ek wou net ’n onderwyser wees en in die koshuis bly. Maar toe land ek op Groblersdal en dit was net te warm. En dis hoe ek by die radio uitgekom het.

Eendag het ek in die gang gelê – dit was die enigste plek wat koel genoeg was – en blaai deur die koerant. Toe sien ek die advertensie: "Draaiboekskrywer gesoek". Ek het begin stories skryf vir Huisgenoot, Sarie en Rooi Rose in my tweede jaar op Groblersdal onder die skuilnaam Fanus Bach, so ek was toe al ’n gesoute skrywer. Daardie week het ek Huisgenoot se prys gewen vir die beste kortverhaal. Ek doen toe aansoek, want ek kan mos nou skryf. En ek kry die pos.

Fanus het Pretoria toe getrek en as draaiboekskrywer by KARFO begin werk.

My eerste opdrag was ’n dokumentêr oor Pretoria en ek gee dit toe die geweldig verbeeldingryke titel Lente in Pretoria. Toe dit klaar geskryf is, het ons nog net ’n stem nodig gehad om dit voor te lees. Ek sê toe ek sal dit doen, maar hulle sê nee, hulle wil iemand professioneel hê. Ek trek toe moer, heeltemal, en ek bel die SAUK net daar. Jan Pohl antwoord en toe ek sê wie ek is, gaan hy amper mal. Hy lees al my stories. Hy sê: "Moenie vir my sê jy wil ’n omroeper word nie." Ek sê "Ja". Hy sê "Kom dadelik, ek stel jou aan."

Die SAUK wou hê hy moet hul verteenwoordiger in Nederland word. In daar die jare het hy vir sy ma-hulle gesorg en die begroting wou nie klop met die salaris wat hulle aangebied het nie. Fanus het besluit om in Suid-Afrika te bly en hulle het vir hom ’n pos geskep by die SAUK.

Die eerste program wat ek gedoen het, was In almal se kraal. Dit is toe aangebied deur ’n baie mooi nooi met die naam van Douwlina Grobler – my Vroutjie Douwtjie. Sy het vreeslik mooi aangetrek. Haar uniform was ’n romp, ’n langmou-bloes, ’n beret, sykouse en swart skoene. Sjoe, maar ek het haar dopgehou. Sy het altyd gewaai as ek verby kom. Toe, eendag, gryp ek haar pinkie, en sy gee my haar hele hand.

In almal se kraal was ’n versoekprogram en ek moes die kaartjies voorlees. Maar ek was te lui – ek hou nie van werk nie; ek is allergies daarvoor. Ek dog toe daar moet ’n makliker manier wees en vra die SAUK of die mense wat die kaartjies instuur, my nie maar direk in die ateljee kan bel nie. Hulle sê nee, dit word nie so gedoen nie. Ek vra hoekom nie? En ek doen dit. Ek was toe die heel eerste ou wat ’n inbelprogram begin het – sonder toestemming. En toe dit werk, vra die SAUK of ek nie in die oggende ’n program wil doen nie? Ek sê ja, natuurlik! En so is Flink uit die Vere gebore op 16 Oktober 1961.

Dit was nie net die begin van ’n wakkerword-program wat die volk geleer het om te lag nie; dit was die begin van ’n era. Êrens in die loop van die eerste paar jaar is die Republiek van Flinkveria gestig met Fanus as president en sy gereeldste inbellers as kabinet. Die leuse van Flinkveria: "Humor regeer."

Hoe het jy voorberei vir die Flink uit die Vere-programme?

Ek het nie. Soos ek soggens inry werk toe het ek die koerantopskrifte op die pale gelees – soos die een wat vanoggend sê: "Krieketspeler dobbel". Dan sou ek begin deur te sê ek lees vanoggend in Die Waarheid ’n krieketster is gevang dat hy dobbel, maar waarmee het hy gedobbel? Iemand sal inbel en byvoorbeeld sê ons krieketkaptein lyk soos ’n skoolseun. Dan sal ek sê die kaptein van Pakistan sê ons kaptein is nie ’n skoolseun nie, hy's die prinsipaal – hy dobbel met sy lewe. En so sal die woordspeling voortgaan. Jy moet net begin met ’n storie – ek het nooit omgegee wat is die regte storie nie; jy kry net ’n storie en dan volg 'n woordspel.

Flink uit die Vere het deel geword van meer as 500 000 luisteraars se daaglikse roetine. Op die program se sewende verjaarsdag het die program reggekry wat nog geen ander radioprogram in Suid-Afrika reggekry het nie:Die Transvaler het daardie oggend op straat verskyn as Die Waarheid.

Toe kom die tiende verjaarsdag op Bronkhorstbaai: 20 000 mense vir tien dae saamgetrek om saam fees te vier – jongmense, oumense, middelmense, kinders. Saam is daar gekuier met Boeremusiek, braaivleis en polisiedoppe.

Hoekom dink jy het Flink uit die vere so goed gewerk?

Nou die dag het ’n meisie ’n onderhoud met my gevoer oor Mike Heine wat oorlede is. Mike Heine het Koos van der Merwe in Staal Burger gespeel. Vir 25 minute praat sy met my oor Koos van der Merwe en Mike Heine en ek vertel haar al die snaakse goed wat gebeur het. Na die onderhoud sê ek: "Jy’s die eerste mens met wie ek praat wat nie vir my lag nie." Sy sê sy mag nie lag terwyl sy ’n onderhoud voer nie. Kan jy dit glo? Dis die geheim van my sukses – ek het ’n storie vertel of ’n kwinkslag kwytgeraak, en as ek lag, dan dink die mense dis snaaks en dan vertel hulle dit oor – dit móét snaaks wees, want Fanus het daarvoor gelag.

Op Flink uit die Vere se sewende verjaarsdag vra hulle my wat wil ek eendag as grafskrif hê. Ek antwoord: "Hier lê Fanus. Vir die eerste keer in sy lewe is hy dood … ernstig."

Vandag wil Fanus nog woorde by hê op sy kis: "Hier lê die laaste oorlewende Afrikaanssprekende ter wêreld." En hy sal oorlewe, want baie van sy nuutskeppinge is ingewortel in Afrikaans en sal in die volksmond bly voortleef.

Ek praat Afrikaans. My kinders en kleinkinders sê: "Pa, Oupa, jy kan maar ophou, jy stry ’n stryd wat jy nie kan wen nie." Maar ek wil nie wen nie – ek praat Afrikaans vir myself. Ek gee nie om wat jy praat nie – jy sê chips, ek sê skyfies; jy sê cd, ek sê klankskyf of pretskyf of lagskyf; jy sê attachment, ek sê blindederm; jy sê e-mail, ek sê vonkpos.

Hulle sê vir my jy kan nie scoop vertaal nie. Maar jy moet dit nie vertáál nie, jy moet ’n nuwe woord skep. Iets soos nuusvars, varsnuus, voorbladnuus. Jy kan nie net die woord vertaal nie, jy moet hom uitdink.

Anna Neethling-Pohl was net so erg so oor Afrikaans – darem nie so erg soos ek nie. Toe vra ons vir haar wat dan van woorde wat nooit sal uitsterf nie, soos oukei en orraait. Sy was reg met ’n antwoord: "Oukei is orraait, maar orraait is nie oukei nie."

Ek verstaan Anna Neethling-Pohl het ook aandeel in die skepping van Staal Burger gehad?

Ja, Anna Neethling-Pohl het vir my Staal Burger laat doen. So op etenstyd stap ek daar verby toe hulle net uit ’n vergadering kom. Sy vra toe vir my ’n titel vir ’n vervolgverhaal vir die jeug – ’n naam van ’n held. Ek sê Ysterman – sy sê nee; ek sê Staal – sy sê ja, en wat is sy van? – Burger. Dis reg, sê sy, nou gaan nou heen en skryf dit. In daardie tien sekondes is Staal Burger gebore.

Min mense besef Staal Burger was daar voor James Bond. Die boeke van Ian Fleming se boeke was al daar, maar nog geen fliek was gemaak nie.

Fanus Rautenbach se bekendste programme was sekerlik Flink uit die vere en Staal Burger. In vele ander radioprogramme was hy ook die stem agter die mikrofoon. Nadat hy Luistergenot by Pieter Treurnicht oorgeneem het, het die programme vinnig op mekaar vervolg: In almal se kraal; Rautenbach tot middernag; Woensdagjoernaal; Saterdagjoernaal; Manie se meisies; Stompie en Stinkie; Colgate-kaperjolle; Spanningstyd met Collage; Korswil, klawers en kontant; Outjie en Vroutjie; Koukus Rockgrip-kleuralbum; SA Plateparade; Castle-sleutelspel. Jeugverhale: Wolletjie Woeps en die Waterfeetjies; Ruimtereise; Flink Stefaans. Vir die vrouerubriek: Ek, Katrina Verdoorn. Vervolgverhale: Swaard vir die liefde; My Seun Herman; Buksie.

Hy is nie net ’n radiomens nie. Verskeie boeke het uit sy pen verskyn. Fanus het ’n magdom limerieke op sy kerfstok en is ook die skrywer van verskeie lirieke wat deel vorm van Afrikaanse musiek se bekendste liedjies. Onder hulle tel: "Jy naby my" soos gesing deur Louis van Rensburg; die refrein van Randall Wicomb se "Kopersmid"; Leon Schuster se "Water op sy knieë"; "Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein", wat Anton Goosen bekend gemaak het, en die vertaling van Jacques Brel se "Ne me quitte pas" (Moenie weggaan nie), die lied gesing deur Laurika Rauch. Koningin Beatrix het dié lied uitgekies om voor te speel met Nelson Mandela se besoek aan Nederland.

Fanus het ’n ook sielvolle bydrae tot die radio gelewer deur sy hoorbeelde soos Die Grenssoldaat, Republiek van Twintig en Mi Casa Su Casa. Die Hemelkinders(1980) was grensverskuiwend tov die begrip van slagoffers van Down se sindroom.

Jy het ’n Artes-toekenning vir Die Hemelkinders ontvang. Waar kom die naam vandaan?

Ons het altyd op dieselfde bank in die kerk gesit, ek en Douwtjie. Voor my kom sit daar toe een Sondag ’n vrou met ’n Down-sindroom-dogtertjie. Sy sit doodstil. Toe sing die koor agter ons op die galery – sy kyk om. Dis waar die naam vandaan kom: ek het die hemel in haar oë gesien.

Steve de Villiers, voormalige direkteur-generaal van die SAUK, beskryf die reaksie van ’n Belgiese paneellid van die Artes-jurie op Die Hemelkinders soos volg:

"Dit was ’n aangrypende ervaring," het sy in Vlaams gesê en haar tot my as voorsitter gewend: "Watter soort mens is dié Fanus Rautenbach wat die diepste roersel van menswees só kan peil?

"Dieselfde persoon," het ek geantwoord, "wat die lagspiere van Suid-Afrikaners nou al twee dekades lank meer as enigiemand anders prikkel."

Dit verbaas haar nie, het sy dadelik vervolg; om ware humor te kan bedryf, moet jy ’n volle, hele mens wees – iemand wat self kan lag, droom, liefhê, waarneem, strewe, ervaar, begryp en intens aanvoel. En natuurlik buitengewoon begenadig wat talente betref. Net hy sal intuïtief weet watter snaar om te tokkel om die glimlag of skaterlag te voorskyn te haal.

Fanus is geen grapjas nie. Hy is ’n humoris. Ware humor is volgens hom ’n lag met ’n traan, of soos Willem de Klerk dit verander het, ’n traan met ’n lag. Dit gaan oor die spel met woorde – om ’n woordwewer te wees, soos een van sy woordvriende, Carel van der Merwe, hom noem.

Dertien jaar na die eerste uitsending, op 28 Junie 1974, het Fred Wooldridge se penniefluitjie vir die laaste keer Flink uit die Vere aangekondig.

Daar word vir die waarheid vertel dat jy geskors is omdat jy vuil grappe oor die lug vertel het. Is dit die rede hoekom Flink uit die Vere tot ’n einde gekom het?

Ek het net vier stout stories in my lewe vertel – en dit was nie oor die radio nie. Dit was ’n front.

Ek is nooit geskors oor stout stories nie. Ek is geskors omdat ek ’n swart man toegelaat het in my ateljee. Dit was die eintlike rede … my swart vriend Simon van de Wildt. Maar hulle sal dit nooit erken nie. Simon het by die SAUK gewerk as ’n platebode. Hy het die plate gebring, dan sê ek: "Môre, Simon", dan sê hy: "Dit is Simon van de Wildt, onder leiding van Fanus Rautenbach", dan gesels ons ’n bietjie.

Een van die betrokke mense bel my eendag en vra: "Het jy ’n swart man in die ateljee?" Ek sê: "Ja, Simon van de Wildt." Die man vra my: "Sit hy op dieselfde stoel as jy?" en ek sê: "Ja en hy gee nie af nie." Hy vra: "Saai hy uit oor dieselfde mikrofoon as jy?" Ek sê: "Ja, so wat is jou probleem? Ek verstaan jou vraag, maar wat is jou probleem?"
 
Kort daarna het iemand van die NP die SAUK opdrag gegee om my van die lug af te haal. Ek kan nie sê dit is so nie, ek kan net sê wat het gebeur.

Dit is tyd om af te sluit; die volgende besoeker wag reeds by Fanus se "oudehof".

Ons loop terug na die motor en vir ’n oomblik gaan staan Fanus stil. Sy helder oë is skielik troebel.

As die hemel nie nóú al is nie – wat ek dink dit wel is – mens kan nie so gelukkig wees as jy nie in die hemel is nie … Maar as ek eers later in die hemel kom, weet ek een ding. Dan gaan ek en Simon saam Nagmaal gebruik.

 

Verwysings:

Fanus, saamgestel deur Casper Squier & Chris de Jager, 1986, Horne & de Villiers Uitgewers.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top