RSG: Hoe die openbare debat ontspoor het

  • 3

Foto van Frederik van Dyk: verskaf; foto van mikrofoon: Fotocitizen, https://pixabay.com/photos/microphone-music-audio-radio-voice-1007154/

Die fel RSG-debat het in Rapport van 8 Mei verdere kleur en speserygeur gekry. RSG se Op en wakker-aanbieder, Robbie Kruse, het ’n passievolle pleidooi gelewer wat grootliks gedraai het rondom sy poging om “goeie Afrikaans” te besig en om sy eie reputasie as RSG-nuweling onder lesers te probeer verdedig. Johannes Froneman, Jean Meiring en (in ’n verwysing in haar stuk oor die Musk-Twitter-verkryging en vryheid van uitdrukking) Christi van der Westhuizen tesame met Rapport self het almal skote afgevuur. Dit als oor die omstrede RSG-besluit om die intellektuele en ontledingsjoernalistieke programme Monitor en Praat saam met Op en Wakker te vervang.

Die debat het ongelukkig, soos talle debatte in die sogenaamde inligtingseeu, ontspoor. Die ontsporing het as volg plaasgevind:

Fase 1: Die RSG-bestuur, Louise Jooste inkluis, neem die tans alombekende en gewraakte besluit om sonder marknavorsing Praat saam af te skaf en Monitor in te kort. Die pleknemer is ’n ditjies-en-datjies-program, Op en wakker. Volgens Jooste om deur middel van ligte niksseggende sêgoed die Afrikaanse publiek se oggende op te kikker.

Fase 2: Nou reageer die Afrikaanse publiek, heel tereg. Maar die massale Afrikaanse stem wat in protes skree, is gelukkig daarmee om te beledig en die verskynsel van ’n ditjies-en-datjies-program-item as noodwendig ongewens (asof vir almal) te bestempel. Die massale stem raas skynbaar harder as bedaarde ontleders soos Froneman, Meiring, Wilhelm Jordaan op Netwerk24 en Foeta Krige in Vrye Weekblad.

Fase 3: Dit gee toe vir Kruse die geleentheid om die gesprek van die debatskwessie – naamlik die effektief volskaalse afskaffing van diepgaande joernalistieke en intellektuele programme – weg te stuur. Baie soos die skeidsregter Nic Berry se reaksie op Rassie Erasmus se redelike ontleding van en kritiek op eersgenoemde se beslissings tydens die 2021 Britse Leeus-toer, draai Kruse die fokus van die debat na beledigings op hom, hoe dikvellig hy is en hoe kritici almal “gifbekke” is omdat hulle vernuwing sou teëstaan. Gemeet aan die kommentaarafdeling was Kruse se verweeronderhoud ’n sukses: Mense voel blykbaar skaam oor die bitterbekke en konserwatiewes wat nie aanpassing kan aanvaar nie.

Die hele petalje kon natuurlik veel meer genuanseerd ontvou het indien dit gewentel het rondom die vraag: Waarom kon die RSG-bestuur die intellektuele en ontledingsjoernalistieke programme nie in gesonde, volhoubare balans met ligter inhoud behou nie?

..........
Die hele petalje kon natuurlik veel meer genuanseerd ontvou het indien dit gewentel het rondom die vraag: Waarom kon die RSG-bestuur die intellektuele en ontledingsjoernalistieke programme nie in gesonde, volhoubare balans met ligter inhoud behou nie?
...........

Dit mag self ’n indringende gesprek ontketen, maar ten minste polariseer so ’n benadering nie in ‘n skreegeveg tussen “snobistiese intellektuele gifbekke” aan die een kant en “lewensligte en veranderingsgesinde pannekoeke” aan die ander kant nie. Die skrywer en maatskaplike sielkundige Jonathan Haidt se boek The righteous mind: Why good people are divided by politics and religion kan help om die debatsgang te verstaan. Haidt se navorsingsgesteunde gevolgtrekking is dat mense eers op grond van sosiale intuïsie tot ’n oordeel oor morele en politieke brandpunte kom, en daarna die rede aanwend om die intuïsiebesluit te regverdig. In die konteks van die VSA illustreer Haidt hoe mense op grond van sosiale intuïsies, wat bestaan uit gevolgtrekkings gebaseer op vooroordele, gekondisioneerde verwagtinge en persoonlike gemaklikhede, hul blitsvinnig tot absolute standpunte wend. Dit blyk gouer en makliker te wees as die moeiliker, stadiger proses om deur aanwending van die rede tot ’n meer genuanseerde gevolgtrekking te kom en dit op ’n meer gemoedelike wyse teenoor diegene wat anders dink.

..........
Miskien speel geskiedkundige trauma en interne klasseverskille ’n rol in Afrikaners se neiging om gou-gou in absolute hoekies in te trek, mekaar te etiketteer en op mekaar te skel, eerder as om deur geweegde en deurdringende openbare debat tot gevolgtrekkings te kom.
.............

Miskien speel geskiedkundige trauma en interne klasseverskille ’n rol in Afrikaners se neiging om gou-gou in absolute hoekies in te trek, mekaar te etiketteer en op mekaar te skel, eerder as om deur geweegde en deurdringende openbare debat tot gevolgtrekkings te kom. Afrikanergeskiedenis is deurspek van klasse- en ander konflikte, wat verdere intergenerasietraumas voed: Vryburgers teen Kompanjiesamptenare, Trekkerleiers teen Trekkerleiers, Engelsgesindes teen Regte Afrikaanders, Sappe teen Natte, verligtes teen verkramptes, Boere-Toskaanse rykgatte teen voorstedelike kommin-tators.

Miskien word die skellery ook aangedryf deur ou stryde tussen die aspirasies van ryker Afrikaners, met hul vermoë om tyd en geld aan abstrakte intellektuele strewes te spandeer, en armer Afrikaners, wat nie noodwendig tyd en geld het om ’n waardering vir dieselfde strewes te koester nie?

Die model van die Griekse agora of markplein staan al eeue reeds in die Europese filosofiese geskiedenis as metafoor vir die openbaregespreksone. Die agora is waar almal ’n regverdige kans moet kry om hul mening te lug om die openbare diskoers te probeer stuur. Een voorwaarde vir ’n gesonde agora is dat dit inklusief moet wees: As een groep stemme, byvoorbeeld rykes of intellektueles, of armes of lighartiges, die markplein oorheers, dan kan die onbevange en inklusiewe gespreksone nie posvat nie. Die Griekse agora, die Germaanse althing of die eg Afrikaanse bosberaad behoort ons prosedure te wees: ’n sone waar deelnemers aan Afrikaanse gemeenskapslewe hul belange onbevange kan deel en opper, ongeag klas, velkleur of persoonlike strewes. Die prosedure van die inklusiewe bosberaad help dat die rede seëvier en vertroue ontwikkel. Navorsing bewys dat wanneer due process (die Engelse term is besonder onvertaalbaar) aanwesig is, strydende mense meer geneig is om besluite te aanvaar wat teen hul strewes indruis, skryf Haidt in ’n The Atlantic-artikel.

Dit is wat die partye tot die RSG-konflik verkeerd verstaan. Die prolighartigheid-luisteraars is nie bloot ’n mandjie onnosel pannekoeke nie, en insgelyks is die luisteraars met intellektuele hongerstrewes is nie bloot ’n nougesette lot gifbekke nie. Dit sál egter ons somtotaal wees as ons kies om deur ’n sosiale intuïsie van onopgeloste traumas en vooroordele teenoor mekaar gelei te word, eerder as deur die inspannende dog gesonder beginsels van die rede.

Die RSG-bestuur moet hierdie nuanse ook verstaan. As enigste openbare uitsaaier in Afrikaans beskik RSG oor ’n leeueaandeel van die Afrikaanse markplein. Om een faksie van die markplein bloot uit te sluit deur hul inhoudsbelangstellings onder die vaandel van lighartigheid en groter inkomste af te skaf, kom neer op ’n afsegging van die verantwoordelikheid om die markplein te help onderhou.

............
As enigste openbare uitsaaier in Afrikaans beskik RSG oor ’n leeueaandeel van die Afrikaanse markplein. Om een faksie van die markplein bloot uit te sluit deur hul inhoudsbelangstellings onder die vaandel van lighartigheid en groter inkomste af te skaf, kom neer op ’n afsegging van die verantwoordelikheid om die markplein te help onderhou.
..............

Johannes Froneman het wel ’n punt beet: Die deïntellektualisering van Afrikaans kom al ’n lang pad en lê nie slegs voor RSG en Louise Jooste se deure nie. Die laaste betreklik onbevange opbloei van Afrikaanse intellektualisering, waarvan ons vandag nog die nalatenskap sien, was in die tyd van die groot NP Van Wyk Louw. Daarna het die verkrampte oorheersingsdrang van apartheid en die ideologiese chaos en wanbestuur van die ANC-bewind die Afrikaanse intellektuele wêreld op die verdediging gedruk. Afrikaanse gemeenskappe moet self verantwoordelikheid neem om te stry vir die openbare intellektualisering van Afrikaans by bepaalde openbare universiteite en talle voedingskole. Hulle moet skep én skerm vir ’n moderne, eerlike en interessante kurrikuluminhoud wat jongmense in Afrikaans opvoed om hul taal te ontwikkel en te waardeer as taal van hoër denke, maar ook as taal van gulhartige pret en plesier.

  • Frederik R van Dyk, Stigterslid van StudentePlein, ’n niewinsgewende Stellenbosse organisasie wat Afrikaans in die akademiese omgewing bevorder.

Lees ook:

Elders gesien: "Ek kan my nie ’n dag sonder RSG indink nie"

RSG 80 jaar oud maar glad nie koud nie

Persverklaring: Afskaling van aktualiteitsdekking op RSG wek kommer

  • 3

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    'n Mens word vandag toenemend met 'n kwas gesmeer. Daar word vir jou besluit of jy 'n "regse" of 'n "linkse" is. Jy mag nou nie meer net 'n gewone "mens" wees nie. Nee, jy moet "regs" wees of "links". En dan moet jy teen die "ander" mense in stryd verkeer. Emosies moet die gesprek oorheers en alles moet eindig in 'n oor-en-weer moddergooiery van persoonlike beledigings. Mense wat dan die verraad pleeg om van jou te verskil, moet terstond gekanselleer of geboikot word. Elke groep het hulle eie jargon, ja. Die "linkses" kanselleer" jou en die "regses" boikot. Dit is hoe dit werk in die tye waarin ons leef, en dis beslis nie beperk tot Afrikaans nie.

  • Theo du Plessis

    Netjiese kommentaar, Frederik, op die nuwe RSG-bestuur se bydrae tot verdere vervlakking. Dankie veral vir jou antwoord op die heer Kruse en ander se gifbekkigheid. Pas onse Louise se klingel op Spektrum gehoor waarin sy luisteraars nou versoek om 'n vraelysie in te vul. Merk ek ietwat van 'n poging tot 'n meer verantwoordelike vasstelling van luisteraars se voorkeure? Dinge raak nou boeiend!

  • Lamé Ebersöhn

    Die gereelde FilosofieKafee® bied so’n gasvrye ruimte sedert 1998, waar vooroordele gepak word, terwyl ons saam verkeer. Dapper en hoflik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top