Persverklaring: Afskaling van aktualiteitsdekking op RSG wek kommer

  • 21

Die programaanpassings wat RSG sedert die begin van April in werking gestel het, verteenwoordig ’n drastiese verskraling van die openbare uitsaaier se voorheen sterk aktualiteitsaanbod en word deur ’n groot aantal luisteraars en joernaliste betreur.

Die program Monitor is met ’n uur verkort, en in die proses tot ’n tydgleuf beperk waartydens klaarblyklik minder luisteraars ingeskakel is (06:00 – 07:00). Die program Praat saam, waarvan Lynette Francis-Puren die aanbieder was, is van die lug verwyder.

Hierdie programme se enorme bydrae, oor dekades heen, tot die openbare diskoersvoering oor aktuele sake in Afrikaans is sedert die aankondiging van die programveranderings deur verskeie kommentators belig.

RSG se nuwe ontbytprogram, Op en wakker, wat sedert 4 April uitgesaai word, is gemik daarop om vermaak te verskaf, oftewel programaanbod op ligter trant as die bydraes oor aktuele sake wat voorheen lugtyd gekry het.

PEN Afrikaans is as skrywersorganisasie gemoeid met die stand van ook die Afrikaanse joernalistiek, wat natuurlik radiojoernalistiek insluit.  Radio is en bly die toeganklikste medium om feite en nuus aan ’n enorme aantal mense te lewer. ’n Radio is relatief goedkoop en nasionale uitsendings dek die grootste deel van ons land; om radio te luister is boonop gratis.

In ’n tyd waarin vals inligting soos ’n pandemie op die sosiale media versprei, is toegang tot gekontroleerde feite en ingeligte gesprekvoering in alle landstale noodsaaklik.

Die openbare diskoers oor aktuele sake in Afrikaans is ’n gevoelige slag toegedien met RSG se afskaling van hul aktualiteitsprogramme. Hierdie slag is, met inagneming van die groter medialandskap waarbinne koerante se drukoplae kwyn of verdwyn, en aanlyn nuusplatforms dikwels van betaalmure gebruik maak, des te meer gevoelig. 

Herman Wasserman se pas gepubliseerde boek Disinformation in the Global South toon dat talle selfoonnetwerke en -kontrakte die sosiale media goedkoop, soms gratis, aan mense bied, terwyl toegang tot feiteblaaie dikwels nog duur data verg – vir baie nuusverbruikers ʼn struikelblok tot sulke gratis toeganklike nuusplatforms.

Om verskeie redes, waaronder die gebrek aan redaksionele kontrole en verantwoordbaarheid uitstaan, is die sosiale media geen alternatief vir wat hier verlore gegaan het nie. 

Teen hierdie agtergrond betreur PEN Afrikaans die nasionale uitsaaier se besluit om weg te doen met die genoemde program en programdeel wat oor jare as gerekende en gewilde bakens van verslaggewing en gesprekvoering gevestig is. Dit is programme wat in die verlede ’n belangrike rol gespeel het in die oordra van kiesersinligting in die aanloop tot en tydens verkiesings, in die analiseer van politieke en maatskaplike vraagstukke van die dag, en sodoende in die bemagtiging van Afrikaanssprekendes.

Dit is verder kommerwekkend dat daar geen openbare raadpleging of gesprek met RSG-luisteraars was voordat die programaanpassings gemaak is nie. Volgens RSG se sakebestuurder is die veranderinge ook deur geen vooraf marknavorsing onderlê nie.

As ’n openbare uitsaaier het RSG ’n unieke en belangrike mandaat in diens van die publiek, en daardie mandaat behoort met erns en omsigtigheid benader te word. RSG se bydraers, aanbieders en luisteraars verdien dit.

  • 21

Kommentaar

  • Baie mooi raakgevat. Dankie. Ons stem saam. Spektrum ook na 'n tydsgleuf geskuif waar minder mense luister.

  • Marie Ashpole

    Die programme is só verskraal van luisterwaardige inhoud dat ek op soek is na 'n alternatief wat intellektuele stimulasie bied. Soggens op RSG is nou nag!

  • Wat 'n verskraling van RSG. Ek het my verknogtheid aan die stasie verloor. Hopelik vul 'n ander stasie vinnig daardie gaping dat mens kan oorskakel na iets met meer om die lyf.

  • Dis werklik 'n betreurenswaardige toedrag van sake. 'n Mens kan nie anders as om die politieke swaard oor RSG se kop daaragter raak te wonder nie, of dalk die SAUK-raad se ultimatum om hulle lisensie te behou. Daar's definitief iewers 'n slang in die gras. Verder is die manier waarop hulle van Lynette "ontslae" geraak het, 'n skreiende skande (my opinie).

  • Alles deel van die “verdomming” van die publiek en veral die Afrikaanssprekende publiek.

  • Ek stem saam. As 'n Engelse luisteraar het ek die gebalanseerde insigte van die aktualiteitsprogramme baie geniet teenoor ander media-afsetpunte se linksgesinde gesprekvoering of fopnuus.

  • Nico Geldenhuys

    As literêre opvoeder het RSG hul kruin bereik êrens tussen 1998 (toe Spookstasie begin het) en 2006 (toe Daniel Hugo Leeskring verlaat het). Daarna was dit stadig afdraandepad.

  • Robbie Cruze se Afrikaans krap my. Anglisistiese klem op woorde, alles eerste lettergreep. Ek hou van die "as jy vandag iets kan wees, wees dan...". RSG is regtig nie meer 'n slim radiostasie nie

  • A G H van der Walt

    Dit is duidelik as mens luister na beide SAFM en RSG dat veranderinge wat beide radiostasies ondergaan het of steeds ondergaan, hulle laat wegbeweeg van hulle tradisionele luisteraarmark. Dit geld ook veral wat die gebruik van omroepers betref.

    Die probleem met RSG hou natuurlik ook nou verband met die probleme wat met die handhawing van Afrikaans saamgaan.

    Die radiogolwe word egter verswelg deur die dosyne gemeenskapsradiokanale wat soos sampioene oral kop uitsteek.

    Hulle musiekprogramaanbiedinge is daarby ook net 'n mengsel van rap, hip-hop en heavy metal.

    Ek mis die dae toe stasiebestuurders soos wyle Sarel Myburgh en ander in beheer was. Dit is ook interessant hoeveel van Radio Suid-Afrika se omroepers by Radio Pretoria geland het en Pretoria FM se musiekprogramme, veral op Sondae, sterk herinner aan die Afrikaanse diens van ouds.

  • Die verdomming van die Afrikaners is skrikwekkend! Wat erg is, is dat ons nou dikwels oorskakel na die Engelse kanaal waar die gesprekke meer om die lyf het.

  • Mauritz Moolman

    Ek het al my belangstelling in RSG en hul doen en late verloor, bloot omdat ek nie langer kan wurg aan hul onwelkome godsdienstige aanbiedings nie.

  • Waldemar Gouws

    Baie dankie me Hudson vir die skakel na die vraelys. Ek kon daarop noem dat, m.i., die stasie nou in die verkeerde hande is.

  • Ek bly by my Netwerk24-kommentaar: die vervlakking van die rede op RSG is bekommerenswaardig; dit is NP van Wyk Louw se Raka se verwesenliking. Ek wil beaam, RSG is geheel en al in die verkeerde, onbeholpe hande wat geen insig of begrip toon vir sy luisteraarkorps nie. Wees groot en maak julle fout reg!

  • Afrikaanse Radio, later bekend as RSG, was nog all die jare bekend as die arm man se universiteit. Ek is bevrees, daarvan het baie min oorgebly. Ek hoop hulle keer terug na hul mandaat as openbare uitsaaier om mense werklik in the lig en nie net te vermaak nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top