Die stadsmeisie en die plaasjapie deur Beatrix de Villiers: ’n resensie

  • 0

Titel: Die stadsmeisie en die plaasjapie
Skrywer: Beatrix de Villiers
ISBN: 9781779871039
Uitgewer: Romanza

Beatrix de Villiers se eerste Romanza, getiteld Die stadsmeisie en die plaasjapie, lees soos ’n vars briesie op ’n hetige somersdag. Dis die perfekte storieboek om saam met jou see toe te neem, waar jy lui-lui met een oog lees terwyl jy die ander oog op die kinders wat in die vlak brandertjies baljaar, hou. Dit is ’n genoeglike, ongekunstelde liefdesverhaal wat nie baie van jou as leser vra nie. Daar is nie te veel spanning en intrige om jou bloeddruk op te jaag nie. Jy kan net ontspan, die boek geniet en jou in die ontluikende liefde tussen twee jongmense verlustig.

Die heldin, Marina, is ’n beroemde skrywer met twee blitsverkopers op haar kerfstok. Sy wil wegbreek en haar derde spanningsroman in vrede en stilte gaan skryf. En waar beter as by ’n ou kennis op ’n plaas iewers in die wildernis van Zimbabwe? Daar is immers geen selfoonsein nie, net ’n ou plaaslyn wat net met rukke werk. Daar kan sy net fokus op haar skryfwerk en nie omgee dat haar hare in ’n slordige poniestert saamgebondel is nie.

Die held, Hugo, stem in dat sy eertydse kamermaat se sussie vir ’n ruk lank by hom in sy veldwagtershuis kom bly, sodat sy haar jongste boek kan voltooi. Hy onthou haar as ’n vaalkopmeisiekind wie se neus altyd in ’n boek was.

Sy het nooit boe of ba gesê nie, altyd so deur die wind. Wou net stories skryf. Wat sy toe blykbaar ook gedoen het: oor lang donker mans met gewere en sigare wat met onwettige transaksies besig is. Vinnige karre en mooi meisies en georganiseerde misdaad en sulke dinge. (7)

Maar die goue meisie wat op die lughawe van die vliegtuig afklim, is allermins vaal. Trouens, sy is ’n poppie met ’n humeurtjie, omring deur verslaggewers, kameramanne en televisiewaens. ’n Regte diva. “Hierdie meisie gaan harde werk wees” (21).

Dit neem Marina nie lank om die glanspersoonlikheid soos ’n ou lap van haar af te gooi toe sy haar eers in sy nederige huisie tuismaak en begin skryf nie.

Veertien dae is dit net tik, tik, tik. Hou sy nooit op nie? Hoef sy dan nie te dink nie? Die woorde vloei onophoudelik uit haar vingers [...] Daar is niks van die toneelspel of die modepop oor nie [...] sy het die hele veertien dae al dieselfde T-hemp en kortbroek aan, of só reken Hugo. (28)

Marina is min moeite. “Sy eet die kos wat hy voor haar neersit, sy gee nie om of sy koffie, tee, of koeldrank, of niks kry om te drink nie” (29). Hy wonder naderhand wat het van die poppie geword wat uit die vliegtuig gestap en sy voete onder hom uitgeslaan het. “Sy borrel en bruis en maak die lewe interessant” (30). En nou slof sy in ou klere rond en tik, tik, tik net. Maar dan nooi hy haar om te gaan forel vang en die geselskap begin vlot.

Tien uit tien vir die skrywer wat dit waag om ’n onkonvensionele karakter in die storie te bring – ene Brutus, Hugo se hond. Brutus is ’n volwaardige karakter wat nie ’n aks agteruit hoef te staan vir die menskarakters nie. Sy teenwoordigheid help dat die boek nie eentonig word met slegs interaksie tussen die held en heldin in die afgesonderde milieu nie. Die skrywer vervleg Brutus se gedagtes, optrede en vindingryke manier van kommunikeer so perfek met Hugo en Marina se doen en late dat hy ’n onmisbare en gelykwaardige deel van die storie word, sonder dat hy die kollig steel. Die hond as karakter is ’n baie geslaagde waagstuk. Soveel so dat ek die boek graag vorentoe nog ’n keer sal wil lees net om weer tyd saam met Brutus deur te bring.

Voorbeeld:

Brutus se stertjie ruk tot stilstand en hy vee die glimlag so vinnig van sy gesig af dat die spoeg spat. Brak? Is hy ’n brak? Hy kry ’n onmiddellike weersin in dié poppie. Sy oë rol en hy kyk stip na die ander kant van die parkeerterrein. (14)

Hoewel Hugo en Marina albei interessante persoonlikhede is wat die storie teen ’n lekker pas laat vloei met die prettige oomblikke en kwinkslae tussen hulle, het ek min oor hulle verledes geleer. Daar is nie enige dramas, geskiedenis en verlore liefdes of kanse wat gebruik word om hulle huidige optredes en sienswyses mee te motiveer nie. Dis net ’n ongekompliseerde storie tussen twee mense wat mekaar opnuut leer ken en waardeer. Daar is wel ’n onderliggende spanningsdraad wat die leser laat asem ophou: Een of ander tyd gaan Marina haar manuskrip voltooi en dan gaan sy terug na haar opwindende lewe in die stad, terwyl Hugo (en Brutus!) alleen in die bos agterbly. Hoe gaan die held en heldin ooit hulle verskillende leefwêrelde kombineer? Is dit enigsins moontlik?

As skrywer (eerder as leser) vind ek dit bietjie dik vir ’n daalder dat Marina – weliswaar as topverkoperskrywer – op die lughawe in Zimbabwe soos ’n filmster ontvang word en daar selfs ’n skare bewonderaars by Hugo se huis in die bos aankom om haar te ontmoet. Ek sou ook graag wou sien dat die karakters met die plaaslike inwoners interaksie het sodat ek meer oor hulle land en kultuur kon leer.

Die storie het gebreke, maar daar is pluspunte wat daarvoor opmaak. Dit is heerlike ligte en vermaaklike vakansieleesstof en beloof nie om enigsins meer te wees nie.

Beatrix de Villiers is in haar vroeë sewentigs. Sy is in Brits gebore en het Biblioteekkunde aan die Noordwes-Universiteit gestudeer. Ek sien uit na haar volgende boek.

Skaf jou kopie van Die stadsmeisie en die plaasjapie by ’n boekwinkel aan of bestel dit hier aanlyn.

Lees ook:

Die lysie-man deur Salma Swanepoel: ’n resensie

Versamelaar van verlore drome deur Frenette van Wyk: ’n resensie

Hart onder arres deur Judy Troskie: ’n resensie

Winterwens deur Lizelle von Wielligh: ’n resensie

Liefdesleuens deur Malene Breytenbach: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top