
Hart onder arres deur Judy Troskie (Lapa, 2025)
Titel: Hart onder arres
Skrywer: Judy Troskie
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9781779870575
Judy Troskie het grootgeword op die destydse Wes-Transvaalse vlaktes waar sy reeds van kleins af geleer het om haar verbeelding in te span. Later, as volwassene, het haar lewendige, goed geoefende verbeelding haar laat stories opdroom van interessante karakters wat sy in haar boeke gestalte kon laat kry. Dit is vir haar heerlik om karakters te skep en hulle dan toe te laat om hul eie lewensdans uit te voer, sodat sy dit net kan neerpen. Sy en haar man woon in Phalaborwa waar die bos haar inspireer om te skryf. Die volgende Romanzas het die afgelope paar jaar uit haar pen verskyn: Ritme van die nag (2015), Aandsterbelofte (2019), Sneeuvlokkies en rooiwyn (2022) en Rendesvouz in Santa Cruz (2023).
Ek het onlangs Judy se jongste Romanza, getiteld Hart onder arres, gelees en dit nou sommer baie geniet. Judy ken die kuns om haar lesers op die puntjie van hulle stoele te hou soos hulle ’n boek se blaaie angstig omblaai om te lees wat volgende gaan gebeur. Ek het dit weer met Hart onder arres gevind, want ek kon nie die boek neersit nie. Haar taalgebruik is verbeeldingryk en suiwer. Daar is byvoorbeeld nie sprake van bloot skryf “sy kyk af” of “sy kyk weg” nie. Judy skryf: “Sy laat haar oë koes” (63); “Sy laat haar oë op vlug slaan” (93); en: “Sy laat duik haar oë vloer toe” (163). Mooi, keurige taalgebruik wat my ’n sin of paragraaf soms twee maal laat lees het uit pure lekkerte. Kyk net hoe mooi beskryf sy die nagevolge van leuens: “Leuens het ’n manier om jou aan die nekvel beet te kry wanneer jy dit die minste verwag” (27).
Boonop weet Judy net hoe om die geleidelike bewuswording van mekaar en die uiteindelike vurige aantrekkingskrag tussen man en vrou te verwoord. En sy doen dit op ’n manier wat lesers laat voel hulle ervaar daardie heerlike verliefdheid en lief word vir mekaar self.
Voor in elke Romanza-boek staan geskryf: “Wanneer jy ’n romanse lees, veroorsaak dit ’n chemiese reaksie in jou brein wat jou laat goed voel.” Dit is presies wat Judy my op ’n subtiele wyse laat ervaar het. Hier is twee voorbeelde: “Sy hou die hand dop waarmee hy vir haar wyn skink en haar glas na haar uithou. Vir ’n oomblik raak hulle vingers aan mekaar. Haar oë skiet op, vas in syne. Haar stoel se pote het uit hul sporte losgekom, want daar is geen vastigheid onder haar nie. Sy veg verbete om haar emosies weer onder beheer te bring” (26). Ook: “Iewers het sy op ’n mallemeule beland. Alles binne-in haar is deurmekaar.” My lesershart het saam gebokspring soos ek die emosies, verwarring en hartstog ook ervaar het.
.......
Hart onder arres is veel meer as net ’n liefdesverhaal. Dit is ook ’n spanningsverhaal propvol intrige en gevaar.
.......
Hart onder arres is veel meer as net ’n liefdesverhaal. Dit is ook ’n spanningsverhaal propvol intrige en gevaar. Joernalis Cecile Jakobs moet ’n artikel skryf vir Die Snippet oor peperduur diamante wat uit ’n privaat woning gesteel is. Sy vermoed daar is heelwat meer aan die storie as bloot diefstal en maak ’n afspraak met speurder-kaptein Ruan de Wet om agter die kap van die byl te kom. Ruan maak geen geheim daarvan dat hy haar baie aantreklik vind nie, maar hy is professioneel en verklap nie inligting wat sy ondersoek in die wiele kan ry nie. Dan besluit Cecile om haar lyf sélf speurder te hou ... met katastrofiese gevolge, natuurlik. Judy gebruik hierdie scenario om ’n storie te skryf wat lesers sal laat jammer voel om die laaste bladsy te lees en van die karakters afskeid te neem. Die tempo van die verhaal verloop bevredigend. Inderwaarheid so gladweg dat ek spyt was toe ek besef ek nader die einde van die boek in rekordtyd.
Moenie dink dinge is net maanskyn en rose tussen die held en heldin nie. Helaas, hulle baklei nie soos kat en hond soos dit mos maar te dikwels in liefdesverhale gaan nie. Nee, Cecile en Ruan tree beskaafd teenoor mekaar op, met respek. Dit is vir my mooi. Daar is egter genoeg onderstrominge en misverstande tussen hulle sodat die storie geensins soetsappig word nie. Hulle word ook vies vir mekaar. Op ’n stadium roep Cecile selfs uit: “Loop in jou maai!” Hulle hou egter deurentyd aan om te kommunikeer en sake wat pla uit te praat. Dit dui vir my op die ontwikkeling van ’n gesonde verhouding. Altyd ’n goeie ding!
Op ’n stadium vra Cecile vir Ruan: “Kan jy asseblief ter sake kom, Kaptein?” Hoewel mooi taalgebruik, was dit vir my ’n bietjie té formeel gestel. Cecile ontvang ook geplakte en geskrewe dreigemente op papier. Ek het dit vreemd gevind in ’n tydperk waarin persone dalk eerder per e-pos of telefonies afgedreig sal word. Op bladsy 82 kort daar ’n komma by die vraagsin: “Hoe Cecile?” (82), maar verder is die teks goed versorg. My enigste werklike kritiek is dat Cecile weens omstandighede soms by Ruan in sy huis moet oorbly. Dit het ’n ge-heen-en-weer afgegee wat naderhand my kop laat draai het. Ek het gevoel dat daar ’n beter oplossing kon wees vir die probleem.
Lees gerus Judy Troskie se Hart onder arres. Dis ’n lieflike Romanza. Koop dit by boekwinkels of bestel dit hier aanlyn by Lapa.

