Soen my, cowboy deur CM Christians: ’n resensie

  • 1

Soen my, cowboy deur CM Christians (LAPA, 2025)

Titel: Soen my, cowboy
Skrywer: CM Christians
Uitgewer:
LAPA
ISBN: 9781779870582

Ek het baie lekker aan CM Christians se jongste Romanza, getiteld Soen my, cowboy, gelees. Dit is een van daardie ek-kan-dit-nie-neersit-nie-want-ek-wil-weet-wat-volgende-gaan-gebeur-boeke. Daardie wat jou laat aanhou lees en omblaai ten spyte daarvan dat dit al laatnag is en jou oë brand van die moeg.

Christians, ’n gebore Noord-Kapenaar, het haar hart in die Boland verloor. Sy het reeds as kind geweet dat sy graag eendag wou skryf en het juis daarom tale ná skool gaan studeer. Uiteindelik, met die ondersteuning van haar eggenoot en kinders, het sy haar hand aan skryf gewaag. Daar het al drie vorige Romanzas uit haar pen verskyn. Hulle titels is Reis na liefde (2022), Joune (2023) en Myne (2023).

Soen my, cowboy handel oor Emma, ’n internasionaal gerekende konsertpianiste, wat ná meer as ’n dekade en ’n half terugkeer na Silver Creek Ranch. Sy gaan vir ’n tydperk op tannie Sylvie, die ma van Seth en James Butler, se uitnodiging daar kuier, sodat sy kan aansterk ná ’n longoorplanting weens Covid-komplikasies enkele maande tevore. Haar mooi kindertydherinneringe saam met die Butler-broers maak dat sy sommer baie uitsien na haar verblyf op die beesplaas. Sy was as kind in die geheim op James verlief en kan nie help om te wonder of sy as volwasse vrou steeds aangetrokke tot hom sal wees nie.

Die storie word beurtelings uit beide Emma en James se perspektiewe vertel. Hierdie tegniek werk goed om die storie teen ’n heel gemaklike trant en pas te laat vloei. Ek het die wisselwerking en gewaarwordinge tussen die held en heldin sommer baie geniet. Christians slaag uitstekend daarin om die leser ’n blykie in albei se hart en gedagtes te gee sonder dat sy té veel té gou verklap van hoe die wind tussen die twee waai.

........
Wie van ons ken nie daardie swaar, sinkende gevoel nie? Daardie gloed wat deur jou spoel en jou deurmekaar en onseker laat. Emosie loop sterk in hierdie boek en die leser voel dit ook. Dit is juis hierdie element wat my laat aanhou lees het.
........

Die leser kry genoeg kans om die opwinding en afwagting – die heerlike asem-ophou-oomblikke van aantrekkingskrag wat saam met ontwakende liefde gaan – saam met die karakters te ervaar. Beide die hoofkarakters word geloofwaardig uitgebeeld ... al is James só knieknakkend aantreklik, skatryk, manlik én boonop teer en sorgsaam dat hy maklik as die perfekte man kan deurgaan. Maar nou ja, hierdie ís ’n liefdesverhaal en ’n leser kán mos maar droom en boonop saam met die heldin verlief raak.

Christians het ’n baie raak manier van innerlike belewenisse en gedagtes beskryf. Dit trek die leser in die storie in en maak dat jy die karakters meer intiem ervaar. Toe Emma uitvind dat James reeds ’n meisie het, word haar reaksie só beskryf: “Emma se hart kramp ineen. Vir ’n oomblik voel dit asof lood in haar hang. Sy stoot haar hare oor haar skouers. Skielik voel dit warm in die vertrek” (20). Wie van ons ken nie daardie swaar, sinkende gevoel nie? Daardie gloed wat deur jou spoel en jou deurmekaar en onseker laat. Emosie loop sterk in hierdie boek en die leser voel dit ook. Dit is juis hierdie element wat my laat aanhou lees het.

Oe, en kom ons praat oor die titel: Soen my, cowboy. Christians beskryf een van die heerlikste soentonele wat ek nog in Afrikaans gelees het. Hier is ’n voorsmakie van hoe die soen eindig:

Vanoggend se soen was vurig, maar niks kon haar voorberei op die meesterlike, sensuele wyse waarmee James vanaand se soen beheer nie. [...] Hy verander die tempo van die soen. Stadig en tergend proe hy haar lippe totdat dit voel asof sy kan uitroep van frustrasie. Emma is net op die punt om die soen weer te verdiep, toe sy lippe van haar mond na haar oor skuif. (146)

Fisieke aangetrokkenheid en uitgestelde begeerte word baie goed hanteer. Die leser hou heeltyd asem op in afwagting dat iéts tussen die held en heldin moet gebeur. “James se oë hou hare gevange met ’n gloed só intens dat dit haar asem wegslaan. Die atmosfeer laai met ’n ongekende hitte. Alles raak stil om haar. Dis net sy en James in hierdie oomblik” (129). Salige sug.

Benewens die twee hoofkarakters, staan die newekarakters ook hulle plekke vol met net genoeg agtergrond en interaksie om hulle volwaardig deel van die verhaal te maak sonder dat hulle oorneem. ’n Hond, genaamd Zeus, het my hart gesteel.

Adel, James se meisie, is natuurlik die antagonis. Haar vyandige houding word goed beskryf. Maar tog het ek gevoel dat daar nie sterk genoeg motivering is vir die maak-of-breek-nuus wat sy na aan die einde van die boek met Emma deel nie. Tannie Sylvie, ’n gelykmatige persoonlikheid en mensekenner, hou van Adel, wat vir my sê Adel is nie nét sleg nie. Ek sou graag vir Adel effens beter wou leer ken, veral omdat sy nie bloot ’n randfiguur is nie. Haar aksies en reaksies het immers verreikende gevolge.

.......
Ek kon nie anders as om ’n sug van innerlike genoegdoening te slaag toe ek die laaste sin lees nie.
.......

Soen my, cowboy het ’n bevredigende klimaks, afloop na die einde en slottoneel. Ek kon nie anders as om ’n sug van innerlike genoegdoening te slaag toe ek die laaste sin lees nie. Hierdie is nie ’n perfekte storie nie, maar dit is wel ’n baie mooi romantiese verhaal wat my hart beslis aangeraak het.

Daar is foutiewe afkorting of twee in die teks. As voorbeeld: “geraak” is byvoorbeeld afgekap as “ger-aak” (68).

Kry jou kopie van Soen my, cowboy deur CM Christians by deelnemende boekhandelaars of bestel dit hier.

Lees ook:

’n Noodvlug vir Rusty deur Jaco Versfeld: ’n resensie

Mal oor jou deur El Bester: ’n resensie

Haar grootmensliefde deur Cynthia Robertson: ’n resensie

Die hart het geheime deur Malene Breytenbach: ’n resensie

  • 1

Kommentaar

  • CM Christians

    Liewe Louise, baie dankie vir die positiewe resensie. Ek waardeer jou insette ontsettend baie! Groete, CM Christians

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top