Haar grootmensliefde deur Cynthia Robertson: ’n resensie

  • 0

Haar grootmensliefde deur Cynthia Robertson (LAPA, 2025)

Titel: Haar grootmensliefde
Skrywer: Cynthia Robertson
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781779870803

Onkundiges maak dikwels die fout om Romanzas af te maak as spookasemboekies wat almal op dieselfde trant geskryf is, naamlik ou ontmoet meisie, hulle raak verlief, kom allerlei misverstande te bowe, en trou dan op die ou einde. Toegegee, Romanzas is in ’n sekere sin wel resepmatig. Dit ís immers romantiese fiksie, en soos dit nou mos maar met die liefde gaan, verloop die hofmaakproses nie noodwendig sonder probleme nie. Lesers verwag egter ’n gelukkige einde. Die held en heldin móét by mekaar uitkom. Romanza-skrywers se onmiskenbare kreatiwiteit om oorspronklike tussenin-stories uit te dink verras my keer op keer, veral omdat dit alles in net sowat 180 bladsye moet gebeur.

Ek het pas Cynthia Robertson, ’n Kapenaar met ’n voorliefde vir reis, se jongste Romanza getiteld Haar grootmensliefde gelees. (Vorige publikasies uit haar pen is Meer as vriende (2010), Altyd daar (2010), Maskers (2015) en Lang pad na liefde (2018).

Haar grootmensliefde is, ten spyte van die soetsappige titel, heerlik anders, en ek het dit baie geniet. Dit het my uit die staanspoor geboei, omdat ek nie vertroud is met die werkswyse van iemand wat sportwedstryde regisseer en kameramense bestuur nie. Die openingsinne is propvol aksie: “Ag liewe genade, moet ek dan alles vandag met ’n lepel vir julle ingee? Kamera vier, is jy aan die slaap? Jy gaan al die aksie mis ... Daar's hy, dis beter! Kamera vyf, uit fokus! Waar is jou oë?! Hou op kyk vir die poppies langs die veld, hou jou oog op ... ag, verdomp!” Die leser word behendig by die aksie ingeslurp en genoop om die bladsye teen ’n stewige tempo kaf te draf. Heerlik!

Die oefenmal Juta Enslin, ’n suksesvolle sportradakteur met haar eie besigheid, doen bakteriële meningitis op. Sy oorleef die siekte, maar haar gehoor en balans is vir altyd aangetas. Sy moet letterlik van vooraf leer loop, want hoewel daar niks met haar bene skort nie, is haar vestibulêre stelsel aangetas. Haar brein glo dus dat sy nie meer kan loop nie. Ook moet sy nou gewoond raak daaraan om ’n gehoorapparaat te dra. Haar onafhanklike lewe soos sy dit ken, is verby. Sy is meteens afhanklik van ander om haar met die geringste persoonlike takies te help. Natuurlik is dit vir haar ’n hengse groot aanpassing, maar sy toon onblusbare veggees. Sal sy, met behulp van haar oppasser, Cara, en haar fisioterapeut, Logan, daarin slaag om weer ’n mate van onafhanklikheid te herwin?

Die fisieke, emosionele en geestelike uitdagings wat Juta te bowe moet kom, word allermins weggepraat. Ek het as leser saam met Juta trane gestort oor die onregverdigheid van wat met haar gebeur het, en ek het haar stilweg aangemoedig om te bly veg. Juta is beslis nie ’n slagoffer van haar omstandighede nie. Ja, sy moet ’n pad na aanvaarding stap en by haar nuwe lewe aanpas, maar ten spyte daarvan word sy nie aan die leser voorgehou as ’n bejammerenswaardige persoon nie. Sy word nie verniet ’n rissiepit genoem nie. Dit is juis hierdie eienskap wat die skrywer so goed uitbeeld wat maak dat die leser deernis het met Juta en haar bewonder.

Hier en daar ontbreek ’n woord in die teks, byvoorbeeld op bladsy 12: “Met (’n) bos amper swart hare en donker oë”; bladsy 19: “... kort-kort vervoer hulle haar in (’n) rolstoel na ander afdelings toe ...”; en bladsy 84: “Gelukkig het Cara haar vroeër, voordat sy gery (het), gehelp om te stort.” Hoewel dit as kleinigheidjies afgemaak kan word, is dit steeds ’n jammerte. Daar is egter min fout te vind met die karakterisering, storielyn en milieu. Op een plek (bladsy 108) het ek wel gevoel dat ’n perspektiefverandering juis dáár steurend was. Die hoofstuk word uit Juta se perspektief vertel, maar dan, skielik, is daar ’n paragraaf waar die leser Juta uit Cara se perspektief dophou.

Juta se taalgebruik word strategies en funksioneel in die verhaal aangewend deurdat sy soms ’n swetswoord of twee laat glip, byvoorbeeld: “En die donnerse gesuis is steeds daar” (19).

Die boek speel tydens die Covid-grendeltyd af. Dit voel half surrealisties dog só bekend. Die skrywer slaag daarin om die tydsgees en uitdagings daaromheen te belig en deel te maak van die verhaal sonder dat dit die storie oorneem. “Dit is onwerklik. Die land, en die wêreld, sluit af. Deure word gegrendel, besighede maak toe, onseker of en wanneer hulle weer sal kan oopmaak, en mense sonder hulself volgens wet in hul huise en erwe af” (46). Dit is juis omdat dit so moeilik is om mediese hulp vir nienoodgevalle te kry wat maak dat Cara gedurende die inperkingstyd by ’n fisio moet gaan hulp vra vir Juta. So kom Logan in Juta se lewe. En die res is geskiedenis ...

Ek het baie lekker aan Haar grootmensliefde gelees en beveel dit sonder voorbehoud aan. Die storie het ’n warm gevoel in my binneste ontketen. Ek het opnuut besef dat die mens bo enige omstandighede kan uitstyg indien sy of haar ingesteldheid is om te veg en nie te gaan lê nie.

Lees ook:

Belle, met die hart vol blomme deur René van Zyl: ’n resensie van ’n waardige Romanza-wenner

Muse deur Jacques le Roux: ’n lesersindruk deur Louise Viljoen van Jeffreysbaai

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top