
’n Noodvlug vir Rusty deur Jaco Versfeld (LAPA, 2025)
Titel: ’n Noodvlug vir Rusty
Skrywer: Jaco Versfeld
Uitgewer: LAPA (Februarie 2025)
ISBN: 9781779870629
Ek was aangenaam verras toe ek die naam van ’n manlike skrywer op ’n Romanza-voorblad sien. Natuurlik lees mans ook Romanzas, al sal van hulle dit dalk ontken. Maar dié wat ’n mooi liefdesverhaal kan geniet en nie wegskram van hulle emosies nie, vind wel byval by die tipe leesstof wat die Romanza-druknaam bied. Ek het egter nie verwag dat ’n man sy hand aan die skryf van ’n Romanza sou waag nie. Wys jou net hoe maklik ’n mens in die slaggat van stereotipering kan val. Groot was my verbasing toe ek uitvind dat Jaco, nogal ’n joernalis van Pretoria, ook ander Romanzas op sy kerfstok het, naamlik Sinkplaatpad na liefde en Noodvlug vir haar hart.
Ek het Jaco se jongste Romanza, getiteld ’n Noodvlug vir Rusty (subgenre medies), geniet. Dit handel oor ’n professionele traumaparamedikus op lugambulanse. Nadine Bester is ’n enkelma. Haar laerskoolseun toon gedragsprobleme en die skool se jeugwerker, Rusty, stel voor dat sy weer begin uitgaan, want haar seun sal baat vind by ’n vaderfiguur in sy lewe. Maar o wee, Charl hou niks van sy ma se nuwe kêrel, ’n egosentriese sjirurg, nie en wys dit op allerhande onnutsige maniere. Boonop verhuur Nadine se ma hulle tuinwoonstel aan die jeugwerker en dié is tydig en ontydig besig om sy neus in Nadine se sake te steek.
......
Die verhaal het ’n stewige en gebalanseerde pas. Ek het uit die staanspoor van die held en heldin, twee goed afgeronde karakters, gehou. Die spitsvondige dialoog en onmiskenbaar groeiende aantrekkingskrag tussen hulle het my geboei.
.......
Die verhaal het ’n stewige en gebalanseerde pas. Ek het uit die staanspoor van die held en heldin, twee goed afgeronde karakters, gehou. Die spitsvondige dialoog en onmiskenbaar groeiende aantrekkingskrag tussen hulle het my geboei. Hulle is albei aangename, doodnormale mense met wie ek ook in die regte lewe vriende sou kon wees.
Die gebeure in die storie is geloofwaardig, ook die interaksie tussen die held en heldin. Dit is nie die gewone vrou-ontmoet-man-en-die-twee-baklei-soos-kat-en-hond-tot-hulle-op-’n-dag-ontdek-hulle-is-eintlik-verlief-op-mekaar-secenario nie. Nee, Nadine en Rusty se verhouding vorder stapsgewys en hulle hou eers van mekaar alvorens Cupido se pyltjies sekuur tref. Nadine leer vroeg reeds dat sy op Rusty se hulp en ondersteuning kan staatmaak en dat hy haar en haar seun se beste belange op die hart dra. Dit wek vertroue op ’n manier waarmee lesers kan identifiseer.
Rusty is definitief meer ingestel op sy gevoelens en weet wat hy in die lewe wil hê, al is hy byna vier jaar jonger as Nadine. Dit is waarskynlik toe te skryf aan die sielkunderigting waarin hy studeer en die werk wat hy onder skoolkinders doen. Nadine is wel ’n goed opgeleide traumasuster, maar sy is onervare wat mans aanbetref. As broodwinner met ’n veeleisende beroep en as enkelma van ’n seun het sy nie tyd om met mans uit te gaan nie. Sy neem egter Rusty se raad ernstig op toe hy haar daarop wys dat haar seun die behoefte na ’n vaderfiguur het.
Nadine is uitgesproke en onafhanklik. Sy is glad nie op haar mond geval wanneer sy met Rusty kommunikeer nie. Sy sê byvoorbeeld vir hom: “[D]it gee jou nie die reg om in my lewe in te meng en alles net oor te neem nie” (68). Sy help ook vir Mark – die sjirug wat haar nooi om saam met hom na die hospitaal se Valentynsbal te gaan – reg toe hy noem dat hy haar kind as ’n uitdaging beskou: “Nóú is jy besig om my op die oorlogspad te sit” (94). Tog, ten spyte daarvan dat Mark se meerderwaardige houding en optrede teenoor haar meestal onverskoonbaar is, wonder sy tog of sy hom nie nog ’n kans moet gee nie. Ek het dit vreemd gevind en gevoel sy tree buite karakter op. Ek lees op bl 109: “Mark moet sy onder sy alie skop, maar sy kan nie.” Die rede wat sy aanvoer vir waarom sy die dokter in haar lewe wil hê, maak nie sin nie, want haar seun kan die man duidelik nie verdra nie. Mark se teenwoordigheid is egter funksioneel en gee aanleiding tot gesonde jaloesie en wedywering van Rusty se kant af.
......
Ek beveel hierdie romantiese liefdesverhaal heelhartig aan.
......
Ek is bly dat ek as leser die kans gekry het om vir Nadine in aksie te sien as traumasuster. Dit was net vir my jammer dat sy haar pasiënt op die grond behandel het en nie in die lugambulans nie. Dit sou vir my as leser ’n interesante kykie in só ’n paramedikus se leefwêreld gegee het. Die mediese prosedure tydens die noodgeval is egter realisties beskryf en het beslis die spanningslyn snaarstyf getrek.
Dit was ook vir my steurend dat daar na ’n femurfraktuur as “hy” en “hom” verwys word. Voorbeeld: “’n Femurfraktuur is ’n groot besering. Selfs al groei hy aan sal jy hom nie dadelik kan gebruik nie. ... Veral aan die begin gaan hy nie al jou gewig kan dra nie ...” (176–7).
Soos die aantrekkingskrag tussen Rusty en Nadine groei, waag die skrywer ook sy hand aan ’n kortstondige, warm oomblik tussen die twee wat amper-amper na iets meers lei. Die toneel is sensueel en smaakvol geskryf.
Ek beveel hierdie romantiese liefdesverhaal heelhartig aan. Ek het baie lekker hieraan gelees, en die karakters gaan my lank bybly.
Lees ook:
Belle, met die hart vol blomme deur René van Zyl: ’n resensie van ’n waardige Romanza-wenner

