Titel: Mal oor jou
Skrywer: El Bester
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781779870667
Onlangs het ek El Bester se Romanza-boek getiteld Mal oor jou (2025) van my boekrak afgehaal omdat ek nuuskierig was om ’n nuwe skrywer se werk te lees. Voor in die boek staan dat Mal oor jou Bester se debuut-Romanza is, maar ek kom toe agter sy het reeds in 2024 ’n Romanza-boek getiteld Vlinders en vonke gepubliseer.
Bester, ’n storieverteller en voormalige filmredigeerder, se manuskrip moes beslis die keurders se aandag getrek het vir hulle om ’n kans op haar as betreklik nuwe skrywer te waag. Die keuringsvereistes vir ’n Romanza is streng, verál in die lig gesien dat hoopvolle skrywers teen gevestigde en gewilde skrywers soos Dina Botha, Madelie Human en Marile Cloete moet meeding. Hierdie skrywers se boeke verkoop soos soetkoek en hulle name is al sinoniem met die Romanza-handelsmerk
Ek het heel lekker aan Mal oor jou gelees, hoewel ek nou nie te kenne sal gee dat ek op die storie verlief geraak het en dit nie met tye kon neersit nie. Dit gaan oor ’n weduwee, Issa Joubert, wat ’n groenteboerdery en ’n kleinerige bed-en-ontbyt-plek met restaurant- en konferensiegeriewe bedryf. Die grond het aan ’n ou dame behoort wat intussen oorlede is. Issa het die reg op eerste weiering van die grond, maar haar geldsake is nog nie van so ’n aard dat sy onmiddellik ’n aanbod kan maak nie. Dan daag die tante se kleinseun, Richter Human, op. Hy is ’n ontwikkelaar en wil die grond vir besigheidsdoeleindes uit die boedel koop. Die vonke spat uit die staanspoor tussen Issa en Richter. Voeg daarby ’n eiendomsagent wat sy tande slyp vir die kommissie wat hy uit die verkoop van die grond kan verdien, en die tafel is gedek vir ’n interessante liefdesverhaal met ’n kinkel of twee.
.......
Issa en Richter se geleidelike bewuswording van mekaar en die aantrekkingskrag wat tussen hulle toeneem, word geloofwaardig uitgebeeld. Dit is nie ’n eensklapse, holderstebolder affêre soos so dikwels in romantiese verhale gebeur nie.
........
Ek omarm ’n onafhanklike, selfonderhoudende en selfstandige leefstyl. Die feit dat Issa ’n groenteboer in die kleine is, het dus dadelik my belangstelling geprikkel. Die skrywer het die leefwêreld van ’n kleinskaalse groenteboer, een wat op kontrak groente aan ’n paar verskaffers lewer, goed uitgebeeld. Sy verromantiseer glad nie die uitdagings en harde werk wat daarmee saamgaan nie – van met tuinhandskoene aan bossies uit te trek, tot kraalmis aan te ry met ’n kruiwa, saadkissies rond te dra en sogenaamde swart goud as bemesting aan te wend. Dan is daar ook die weer om in aanmerking te neem. Dis fisiek harde werk om groentebeddings voor te berei, te saai, plae af te weer en dan die groente einde ten laas te oes, te verpak en van die hand te sit. Daarby moet mens nog allerhande kostes in berekening hou. Dit alles word baie goed belig in Mal oor jou.
Issa en Richter se geleidelike bewuswording van mekaar en die aantrekkingskrag wat tussen hulle toeneem, word geloofwaardig uitgebeeld. Dit is nie ’n eensklapse, holderstebolder affêre soos so dikwels in romantiese verhale gebeur nie. Ek het, soos die storie ontvou, geleidelik meer oor Issa se verlede uitgevind, maar daar is ook skrapse inligting oor Richter se verlede wat lig kan werp op hoe hy al verhoudings beleef het en wat hy daaruit geleer het.
Issa sien haarself egter as “damaged goods” en iemand met bagasie uit die verlede. Ek kon nie dadelik agterkom waarom sy aanvanklik skugter is vir ’n nuwe verhouding nie. Sy skram heeltyd weg omdat iemand uit haar verlede glo verraad teenoor haar gepleeg het en haar nie goed genoeg geag het nie. Ek het ook vroeg in die storie agtergekom dat daar ’n onafgehandelde kwessie tussen Issa en haar suster is. Die skrywer het die spanning goed laat opbou, maar toe ek uitvind waaroor die sussies vir ’n geruime tyd nie kontak met mekaar gehad het nie, was ek teleurgesteld. Ek het gevoel die rede word nie goed genoeg gemotiveer nie en daarom stel dit Issa se karakter in ’n slegte eerder as ’n goeie lig.
......
Die skrywer het [...] die gulde geleentheid tot ’n bevredigende klimaks en ontknoping deur haar vingers laat glip. Dit is steeds lekker leesstof, maar dit kon sóveel méér gewees het. Baie lesers sal dalk nie eens besef dat daar moontlikhede in die storie is wat nie ontgin is nie.
.......
Dieselfde geld vir die groot raaisel oor wat met Issa gebeur het wat gemaak het dat sy haar van mense onttrek het. Toe ek uitvind wat dit was, was my reaksie eerder een van: “Sjoe, sy is selfsugtig!” Pleks van om die beweegrede agter die ander party se handeling te probeer verstaan, het sy dit as ’n daad van verwerping gesien en gaan alles oor háár seerkry en ontnugtering. Dit terwyl ek as leser eerder empatie en simpatie by haar sou wou sien vir die ander persoon wat deur ’n persoonlike hel gegaan het.
Die skrywer het in beide bogenoemde gevalle die gulde geleentheid tot ’n bevredigende klimaks en ontknoping deur haar vingers laat glip. Dit is steeds lekker leesstof, maar dit kon sóveel méér gewees het. Baie lesers sal dalk nie eens besef dat daar moontlikhede in die storie is wat nie ontgin is nie. Omdat ek self ’n skrywer is, moet ek ook hier daarteen waak om nie die storie te wil laat afspeel soos ék dit wil laat afspeel nie.
Die wyse waarop daar met ’n vuurwapen in die later deel van die storie gehandel word, het egter my hare laat rys. Géén verantwoordelike, wetsgehoorsame, gelisensieerde vuurwapeneienaar sal só met ’n vuurwapen omgaan nie. Dit is jammer dat hierdie punt nie aan die skrywer uitgewys is nie. Sy moes die geleentheid gehad het om dit reg te stel of haar storielyn aan te pas. Ek wil nou nie te veel van die storie verklap nie. Lees dit gerus self om te sien waarvan ek praat.
Issa is reguit en skroom nie om haar sê te sê nie. Tog het sy ’n omgeehart vir haar werkers en haar tante. Sy kom wel met tye baie impulsief, naïef en uiters selfsugtig voor. Richter het weer oomblikke waar hy vir my buite karakter klouerig en onseker voorkom. Op ’n stadium was die kommunikasie tussen die twee vir my ’n bietjie té soetsappig, gesien dat albei volwassenes is en al vorige verhoudings gehad het.
Maar, as jy na ’n mooi, ontluikende liefdesverhaal tussen twee nieperfekte mense soek om te lees, kan jy gerus Mal oor jou nader trek. Hoewel met voorbehoude, het ek lekker daaraan gelees en sal ek beslis uitkyk vir ’n volgende Romanza uit El Bester se pen.
Lees ook:
Belle, met die hart vol blomme deur René van Zyl: ’n resensie van ’n waardige Romanza-wenner

