Winterwens deur Lizelle von Wielligh: ’n resensie

  • 0

Winterwens deur Lizelle von Wielligh (LAPA, 2025)

Titel: Winterwens
Skrywer: Lizelle von Wielligh
Uitgewer: LAPA (Augustus 2025)
ISBN: 9781779870872

Lizelle von Wielligh is ’n natuurliefhebber wat graag liefdesverhale skryf. Sy het ’n graad in rekeningkunde en het dus ’n kop vir syfers. Die skep van karakters bied haar die geleentheid om ’n kykie in ’n ander se psige te kry. So leer sy om deernis met haar medemens te hê. Ek lys hier net ’n paar van die Romanza-titels uit haar pen: Soeter as fudge (2021), Boeretroos vir die hart (2023), Melktert vir die hart (2023), In twee geskeur (2023), ’n Tyd om te sing (2024), Lentelag (2024) en Somersoen (2025). Winterwens is haar heel jongste Romanza, wat pas deur Lapa Uitgewers gepubliseer is.

Ek het heerlik aan Winterwens gelees en was eintlik jammer toe die boek eindig. Lizelle is ’n bedrewe skrywer en weet vir seker hoe om haar lesers met ingehoue asem aan die lees te hou. Sy skryf Winterwens uit beide die held, Paul, en die heldin, Lianca, se oogpunte. Sodoende kry haar lesers tot in hulle tone lekker, want hulle het voorste-ry-sitplekke om die ontvouing van die ontluikende verhouding waar te neem.

Hierdie is nie ’n meisie-ontmoet-kêrel-hulle-baklei-maak-op-en-trou-storie nie. Nee, die kinkel in die spreekwoordelike kabel is dat Paul, ’n plaasboer, steeds gevoelens vir Lianca se skoonsuster, Christie, het. Hy het geen ooghare vir Lianca se broer, Brand, wat sy amperse verloofde destyds by hom afgevry en met haar getrou het nie. Hy koester dus vanuit die staanspoor sommer ’n bielie van ’n onregverdige renons in Lianca. Dít terwyl Lianca al lank heimlik verlief is op hom. Wat ’n lekker intrige om te ontknoop! Een wat Lizelle heel vernuftig doen. En natuurlik het ek my verlustig daarin dat die held se oë naderhand oopgaan en hy Lianca uiteindelik raaksien. Hoogtyd ook, sou ek sê.

.......
Wat ’n lekker intrige om te ontknoop!
.......

Christie het ’n BCompt-graad agter haar naam. Sy is vier-en-twintig en almal trou links en regs om haar. Net sy het niemand nie. Trouens, sy woon nog by haar ouers. Maar dan vertel Brand haar van hulle bure wat op soek is na iemand wat hulle boeke kan doen. Sy doen aansoek, want sy hou nie van haar werk waar sy daagliks finansiële state moet opstel en interpreteer nie. Sy wil eerder ’n besigheid, of dan nou ’n plaas, se boekhouding doen. Knap voor die onderhoud besef sy die kantoorpos is by Paul-hulle se boerdery, maar dis te laat vir omdraai. Sy word in die pos aangestel en Paul se ma dring daarop aan dat sy in ’n woonstel op sy plaas intrek – nogal die een wat hy destyds as verrassing vir Christie as studio gebou het. Natuurlik is Paul verbete daarteen gekant dat Lianca daar kom bly. Hy verklaar: “Ek wil niks met haar te doen hê nie.” Die vonke spat wild en wakker.

Hoewel Brand teen Lianca te velde trek, kla die stemmetjie van sy gewete hom tóg aan, want diep binne-in weet hy dat hy haar nie ’n regverdige kans gee nie. Hy ignoreer hierdie stemmetjie. Dis juis hierdie tweespalt in hom wat geloofwaardigheid verleen aan sy aanvanklike vyandige gesindheid. Dis ook ’n slim manier wat die skrywer gebruik om die leser na Paul se kant oor te haal, want ’n mens kry begrip vir die situasie waarin hy verkeer: Hy is nog verbitterd omdat Christie hom soos ’n warm patat gelos het die oomblik toe Brand in haar lewe verskyn het. Hy is bang dat Lianca se teenwoordigheid die seer en teleurstelling opnuut sal laat opvlam. Die leser kyk dus met ’n simpatieke bril na hom en verskoon sy soms buffelagtige optrede.

Paul leer deur die verloop van die storie nie net hoe om sy liefdesteleurstelling vir eens en vir altyd te verwerk nie, maar dat hy ook deur die proses volwassenheid bereik. Hy leer hoe om sy emosies te verwoord en dit op ’n wyse te hanteer wat respek afdwing. Daar vind dus genoegsame, geloofwaardige en interessante karakterontwikkeling by hom plaas.

Lianca verander weer voor die leser se oë van ’n stil, afgetrokke eenkantmens wat liefs konflik vermy, na iemand wat leer hoe om vir haarself op te staan en dit te doen op ’n wyse wat spreek van haar edel karakter. Haar verliefdheid verander in ware liefde. Sy skryf ’n bitter moeilike toets hier na die einde van die boek toe. Een wat menige paartjies uitmekaar sou dryf, maar sy kies om te probeer verstaan eerder as om te oordeel. Dit noop die leser om nóg meer van haar te hou.

Vir my is Winterwens meer as ’n goed-geskrewe liefdesverhaal. Dit is ook ’n teer grootwordstorie, een waarin die karakters leer hoe om teleurstellings te hanteer en mekaar te waardeer en koester.

Winterwens is by deelnemende boekwinkels beskikbaar, maar kan ook hier direk by Lapa bestel word.

Lees ook:

Liefdesleuens deur Malene Breytenbach: ’n resensie

Om Karolien te beskerm deur Elsa Winckler: ’n resensie

Soen my, cowboy deur CM Christians: ’n resensie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top