
Titel: Die lysie-man
Skrywer: Salma Swanepoel
ISBN: 9781779870940
Uitgewer: LAPA (Romanza)
Ek is altyd opgewonde wanneer ek ’n boek van ’n skrywer wat onbekend aan my is, lees. En wanneer daardie skrywer my aangenaam verras, voel dit asof iemand my onverwags ’n bedagsame geskenkie in die hand gestop het. Een wat soos die nasmaak van my gunstelingsjokolade (Cadbury, natuurlik!) nog lank in my mond (en in die geval van ’n boek, in my gedagtes) talm. Salma Swanepoel het aan my ’n heerlike leesondervinding besorg in die vorm van haar Romanza, getiteld Die lysie-man. En daar ontdek ek toe dat sy al ’n hele paar Romanzas op haar kerfstok het – te lekker. Hier is die titels van drie: Hemel op aarde, Heuning om die hart en ’n Troukoek en ’n wiskundeboek.
Volgens Salma se biografie op Lapa se webwerf hou sy daarvan om tussen mense te wees. Sy geniet eenvoud en orde en skryf graag verhale wat ewigheidswaarde het en ook humoristies is. Te oordeel aan haar Die lysie-man, dink ek sy slaag volkome in haar doelwit om lekkerleesverhale te skryf wat haar lesers tegelykertyd laat lag en ook diep laat nadink. Dis duidelik dat sy ’n fyn mensekenner is en oor die vermoë beskik om die gedagtes, emosies en handelinge van haar karakters op ’n boeiende wyse weer te gee. Soveel so dat ek tydens die lees van Die lysie-man telkens gevoel het dat ek die heldin, Louisa Hancke, verstaan en dus met haar kan identifiseer. Dit het my leesgenot verhoog, en ek was jammer toe die storie einde se kant toe staan, want ek was nog nie gereed om afskeid te neem nie.
Die lysie-man is die bedrieglik eenvoudige – maar geensins voorspelbare – liefdesverhaal van twee onderwysers wat mekaar beter leer ken tydens ’n kort skooltoer. Hulle gaan tuis op die plaas in die Karoo waar Bernard Rossouw se ouers met skaap boer. Louisa het op 17 ’n lysie gemaak van hoe haar droomman moet wees – en Bernard lyk nie eens soos hy nie. Sy reken dus haar trouman het nog glad nie op die horison verskyn nie. Maar die liefde laat hom natuurlik nie voorskryf nie ... Soms moet mens jou naïewe jongmeisiedrome agterlaat vir wat die werklike lewe jou bied.
Die milieu word baie goed beskryf – van die bibbernagte, die helder sterreprag en kampe waarin skaap aangehou word. Dit het vir my gevoel ek was daar op die plaas en het saam weggelê aan skaaptjoppies en Jan Ellis-poeding. Later word die leser weer deel van die gewone skooldinge en -roetine en word opgeslurp in die energie, koorsagtige reëlings, planmakery en repetisies om in die derde kwartaal ’n personeelkonsert op die planke te bring.
Kyk hoe mooi beskryf Salma die aardigheid van met skape boer:
Vir die volgende uur of wat is dit ’n toneel uit ’n ander wêreld wat voor Louisa en die tieners afspeel. Van Bernard, sy pa en die twee werkers hoor mens om die beurt uitroepe soos “Keer-keer-keer!” en “Soontoe! Soontoe!”. Die skape blêr in verskillende toonhoogtes, die skaaphond wys sy slag en dis net stofwolke soos die trop na die kamp langsaan aangejaag word. (64)
Ek kon sommer die skape se gemalery, die stof en die hond se flink bewegings in my geestesoog sien.
Salma het goeie beheer oor taal. Ek het dit sommer baie geniet om vir ’n slag uitdrukkings soos “die vet weet”, “te laat les opsê” en “wanneer die perde horings kry” raak te lees. En, hoewel in Engels, het ek ’n nuwe uitdrukking geleer, naamlik submarine. “Submarine. Verdwyn onder die water, uit die oog uit, en duik dan ’n paar weke later weer op en vra my vir ’n fliek sonder om te verduidelik hoekom hy niks van hom laat hoor het nie” (22). Salma skryf beheersd en welwetend watter trefkrag goedgekose woorde het: “Hy kom terug met ’n PS-stafie waarop iets van vriendskap geskryf staan. Louisa wurg dit met ’n stywe keel af sodat sy weer ’n bietjie energie kan kry” (132). Op bladsy 31 lees ek: “‘Dankie tog, my stêre is morsdood gesit,’ laat een van die seuns hoor.” Ek het by die woord “stêre” vasgehaak, want dit het vir my half vreemd oor die lippe van ’n tiener gekom. Die wyse waarop die skrywer egter sewe tieners deel van die storie maak beïndruk my.
Op bladsy 17 het die woord “kleefplastiek” per ongeluk as “kleefp+lastiek” gedruk. Maar net bietjie laer af op dieselfde bladsy staan: “Louisa los die koekroller en skakel die stoof vervaard af. ‘O donkie, ek dink nie dit moes kook nie.’” O donkie. Nog ’n juweeltjie wat my laat glimlag het.
Die storie word eietyds uitgebeeld deur na die Covid-tydperk, WhatsApp-gesprekke en ’n afspraakwebwerf te verwys. Een van die onderwysers dink ook terug aan die dae toe kinders nog sangklasse gehad het ... en net daar verlang ek toe na my eie skooldae op ’n Vrystaatse dorpie toe juffrou Susan Maré vir ons weekliks sang aangebied het. Ons het altyd so lekker gesing aan “’n Duisend liggies” en “Ballad of the Green Berets”.
Die lysie-man is ’n heerlike, goed geskrewe liefdesverhaal wat ek met vrymoedigheid aanbeveel. Die wyse waarop die heldin haar eie hart leer ken word teer en met begrip, sowel as gesonde selfspot en humor weergegee. Dis ’n mooi, skoon storie wat eerbare waardes vooropstel.
Lees ook:
Versamelaar van verlore drome deur Frenette van Wyk: ’n resensie

