Versamelaar van verlore drome deur Frenette van Wyk: ’n resensie

  • 0

Titel: Versamelaar van verlore drome
Skrywer: Frenette van Wyk
ISBN: 9781779870568
Uitgewer: LAPA (Romanza)

Ek het pas Frenette van Wyk se jongste Romanza getiteld Versamelaar van verlore drome gelees. Dit word onder Romanza se Reis-vaandel uitgegee. Soos gebruiklik, is daar ’n mooi foto van ’n aantreklike paartjie op die voorblad. Hulle lyk gelukkig en dolverlief, tevrede om by mekaar te wees. Maskers, misterie, drama ... dis die drie woorde waarmee die uitgewer die boek opsom, en ek vind dit gepas. Hierby kan ek voeg: atmosferies, verleidelik, magies.

Frenette is ’n gevestigde skrywer van onder meer Romanzas. Hier volg net enkele titels uit haar pen: Maskerdans, Onmoontlike droom, In die naam van liefde, Silwerspoor van die maan en Om aan ’n ster te raak. Gaan loer gerus hier na meer van haar publikasies, soos byvoorbeeld Stryd vir liefde, Elikser en Die woud van sneeu & ys. Sy en haar eggenoot, Etienne, woon in Pretoria en reis gereeld. Dit is hulle droom om saam die wêreld te sien. Volgens haar biografie skryf sy graag sprokies met gelukkige eindes en bied haar verhale vir haar net soveel ontvlugting en avontuur as vir haar lesers. Sy skilder ook graag vir ontspanning helder, opgewekte kunswerke van baie blomme en ’n fantasiewêreld.

Hoewel ek al voorheen die voorreg gehad het om oorsee te reis, het ek dit baie lanklaas gedoen en beskou ek my deesdae as ’n leunstoelreisiger. Ek ry dus alte lekker met Jan Tuisbly se karretjie rond. Versamelaar van verlore drome het my Venesië toe geneem waar ek saam met die heldin, Lyra Liebenberg, en die held, Andante Giudecci, die een antikwariese winkel na die ander in Karnavaltyd besoek het. Voorwaar ’n heerlike reis omdat min skrywers die vermoë het om so beskrywend soos Frenette van Wyk te skryf. Ek het ’n hele paar keer deur die boek paragrawe wéér ’n keer gelees net omdat die beskrywings so pragtig is. Haar agtergrondinkleding, ook die wyse waarop sy historiese feite inweef, is puik – dalk omdat sy Venesië al twee maal besoek het en die stad dus goed ken.

Hier volg ’n lusmaker: “Die stad was ’n finansiële en seevarende magsentrum in die Middeleeue en Renaissance,” vertel hy. “Dit was eens op ’n tyd ’n stad van prag en rykdom. Van mag en voorspoed. ’n Skatkis van sy en smarag, marmer, brokaat, ivoor, parfuum, robyne, ’n koningin in goud geklee, ’n meermin wat dryf in pêrels en glas op die see. Dis vandag steeds ’n gewilde toeristeaantreklikheid en belangrike kulturele sentrum. Dis steeds die mooiste stad in die wêreld, asemrowend, met goud oorgetrek en in marmer gesetel, versier met agate en robyne; nog steeds ’n stad vol skatte. Ook geheime skatte en verlore skatte.” (42) Die prag en praal word gebalanseer met die volgende gewaarwording: “Die stad is oud, op plekke erg vervalle en verwaarloos. Baie ou geboue ruik maar muwwerig aan die binnekant en slyk en mos kleef in geelbruin en swart vlekke onder aan die buitemure waar die seevlak onophoudelik daarteen rys en daal. Die reuk wat tydens laagwater van die kanale af kom, is bra erg. Boonop staan die hele stad op houtpilare en genade, en dreig om binnekort finaal onder die water weg te sink en vir altyd te verdwyn.” (57–8)

Die held, ’n antikwariese versamelaar, bied aan om die heldin te help om ’n ou, waardevolle viool op te spoor. Deur die loop van die storie word familiegeheime, -vetes en -skandes opgediep. Die leser woon onder meer ’n uitvoering van Vivaldi se Vier seisoene in die operahuis La Fenice by, bring ’n besoek aan ’n privaat palazzo op die Grand Canal in die Sante Croce-buurt en maak ’n modefotografiesessie vir ’n tydskrif mee. Opwindende tonele staan in skerp kontras met die steurende terugblikke wat die heldin met tye op die verlede kry, visioene wat kunstig en vaardig uitgebeeld word en soomloos deel van die storie word. As voorbeeld: “Lyra maak haar oë ’n paar sekondes toe en rek hulle weer oop, maar die son skyn regtig op hulle – dis helder oordag! Dis asof Lyra in ’n ander wêreld ingesuig word terwyl sy na hulle bly kyk. Haar hart rammel al vinniger, al meer onbeheersd, en sy is te lam om te roer.” (9)

Versamelaar van verlore drome is meer as net ’n liefdesverhaal. Daar is intrige, spanning, misverstande en ontboesemings. Die heldin word ’n paar dinge uit haar verlede wys wat haar tot nuwe insigte bring en sodoende tot bevredigende karakterontwikkeling lei. Ek sou egter graag wou sien dat die newekarakters – naamlik die held se moeder, Stephania, asook Adriano Nicoletti en ene Serena – sterker na vore tree en dat sekere van hulle handelings meer gemotiveer word. Hulle klee wel die storie in en is onontbeerlik, maar as leser is ek is tog met onbeantwoorde vrae oor hulle gelaat.

Dit is jammer dat Engelse woorde (byvoorbeel “fair and square”, “magic” en “ambience”) in die teks voorkom, verál omdat Frenette se mooi taalgebruik andersins onberispelik (en eintlik prysenswaardig) is. Op bladsy 7 is die woord “dramatiese” verkeerd afgekap, naamlik “dramat-iese”. Dit is egter klein jakkalsies wat heeltemal te min is om die boord te verniel. Versamelaar van verlore drome is ’n lieflike storie en ek het heerlik daaraan gelees. Ek hou Frenette se loopbaan as skrywer graag dop en verwag dat sy veral as fantasieskrywer nog groot opgang gaan maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top