Die Serwiër: ’n onderhoud met Carel van der Merwe

  • 0

Foto: ©Debbie Loots

Die Serwiër
Carel van der Merwe
Jonathan Ball-uitgewers
SKU 9780795803239

Naomi Meyer praat met Carel van der Merwe oor Carel se jongste boek, Die Serwiër.

Hallo Carel, baie geluk met Die Serwiër. Jy is bekend vir die skryf van fiksie en niefiksie. Hierdie boek van jou is ’n spanningsroman en dis fiksie. Tog voel dit so werklik dat mens as leser die gebeure as die waarheid beleef. ’n Serwiese geheime agent ondersoek ’n dwelmsindikaat en word in Kaapstad vermoor. Wat was die vonk vir hierdie storie? 

Die aanvanklike vonk vir my belangstelling was ’n Daily Maverick-artikel wat ek in 2021 gelees het oor ’n ene Dobrosav Gavric. Hy is ’n Serwiër wat in ’n regstryd hier gewikkel was om sy uitlewering aan Serwië te stuit. Gavric is twee dekades tevore in Serwië skuldig bevind aan die sluipmoord op ’n berugte Serwiese oorlogsmisdadiger wat in die volksmond daar as Arkan bekend gestaan het. Hy het na Suid-Afrika gevlug voor hy gevonnis kon word, en het hier die drywer geword van Cyril Beeka, ’n beweerde Kaapse misdadiger en intelligensie-operateur. Gavric was in 2011 agter die stuur van Beeka se motorvoertuig toe laasgenoemde deur ’n motorfietsryer in Belville doodgeskiet is.

Uit pure nuuskierigheid het ek gewonder wie hierdie Arkan is, en hom gaan Google. Wat ek gelees het, het my op sy beurt in Serwië se onlangse geskiedenis laat begin belangstel, en spesifiek in die konflikte wat in die voormalige Sosialistiese Federale Republiek van Joegoslawië in die 1990’s afgespeel het, iets waarvan ek min geweet het. Serwië was een van die ses lidlande van Joegoslawië voor dit na hierdie konflikte verbrokkel het. My leeswerk en navorsing het mettertyd allerhande rigtings ingeslaan, en dit het vir my duidelik geword tot watter mate Suid-Afrika die afgelope drie dekades deur internasionale misdaadsindikate geïnfiltreer is, onder meer uit lande soos Serwië.

Die gedagte om ’n roman te skryf wat elemente hiervan bevat, en ook om iets oor sekere aspekte van hedendaagse Suid-Afrika te sê, het mettertyd ontstaan uit my ontnugtering oor die korrupsie en onbevoegdheid van ons wetstoepassers en politieke meesters.

Vertel asseblief in ’n sin of twee vir ons lesers waaroor Die Serwiër se intrige/plot nog handel.

My hoofkarakter, majoor Viktor Vesic, word deur die Serwiese geheime diens na Suid-Afrika gestuur om die moordenaars van ‘n ander Serwiese geheime agent op te spoor. Laasgenoemde was in Suid-Afrika om die plaaslike bedrywighede van ’n Serwiese dwelmsindikaat te ondersoek. Hierdie agent is toe een aand in Kaapstad se Langstraat deur onbekende misdadigers koelbloedig doodgeskiet. Kort voor lank raak Vesic ingesuig in ’n maalkolk van Kaapse bendes, skelm wetstoepassers en korrupte politici. Hy word ook gekonfronteer met iemand met wie hy dekades tevore paaie gekruis het toe hy aan ’n militêre operasie in Kosovo, destyds ’n provinsie van Serwië, deelgeneem het. Hy knoop ook ’n romantiese verhouding met ’n Suid-Afrikaanse vrou aan, iets wat onbedoelde gevolge het.

By die  boekbekendstelling: Etienne Bloemhof, Carel van der Merwe en Jean-Marie Korff (foto: ©Debbie Loots)

Ek was verbaas om die raakpunte tussen Suid-Afrika en Serwië raak te lees. Die geskiedenis, en veral die politiek in die 1990’s, in albei lande, met al die ooreenkomste en verskille weens politieke oorgangstydperke het sekerlik bygedra het tot albei lande se georganiseerde-misdaad-sindikate. Dit was vir my die groter prentjie van die boek. Hoe besluit mens op watter doek mens wil skilder? Of gebeur dit net soos wat mens navorsing doen, gaandeweg meer en meer?

Die doek het duideliker begin word namate ek met my leeswerk en navorsing gevorder het. Die raakpunte tussen Serwië en Suid-Afrika het my ook gou opgeval. Joegoslawië was destyds, soos Suid-Afrika vandag nog, ’n mengelmoes van verskillende etniese groepe. Die hedendaagse politieke bedelings van al twee lande is gebore na die val van die Berlynse Muur en die ondergang van Sowjet-kommunisme, en tot ’n mindere en meerdere mate as gevolg daarvan. Wat my veral geïnteresseer het, was dat voor en tydens die politieke oorgange in beide lande, hul regerings se intelligensiestrukture van misdadigers gebruik gemaak het om politieke opponente op koverte wyse te ondermyn en uit te skakel. Verskeie Suid-Afrikaanse en Serwiese misdaadgroepe se ontwikkeling uit kleiner bendes tot groter sindikate kan na die gebeure in daardie jare teruggespoor word.

Al twee lande het dus gekompliseerde verledes, en verdeeldheid en historiese trauma wat nie eenvoudig verdwyn het omdat tyd verloop het nie. Iets wat die Amerikaanse skrywer William Faulkner geskryf het, het my oor die jare bygebly, naamlik: “The past is never dead. It’s not even past.” Geskiedenis leef voort: in identiteit en hoe mans hul manlikheid uitleef, ook in intieme verhoudings; in politieke spanning en geweld; in die wantroue tussen gemeenskappe; en selfs in die manier waarop mense na hulself kyk. Ek wou iets hiervan in Die Serwiër inbou.

Daar is nog meer raakpunte tussen die lande as die verlede en die geskiedenis. Vandag se raakpunte: Suid-Afrika was in die verlede op ’n handelsroete geleë, maar hierdie boek vertel ’n storie van ’n ander handelsroete. En dis nie iets van die verlede nie. Dis vandag se storie. Dan is daar ook ander hedendaagse raakpunte: bendes en groepe wat met mekaar saamwerk. En dan ook hoe verstrengel die politiek en die misdaad met mekaar is. Hoe groepe mekaar verryk ... of wel, gewoonlik is daar net een of twee wat werklik ryk word, en die res is pionne op die skaakbord. Wat is jou gedagtes hieroor?

.......
In Suid-Afrika is daar twee ekonomieë: ’n formele een waarmee almal bekend is, maar ook ’n baie groot en onwettige een wat grotendeels in die geheim bedrywig is. Laasgenoemde het die afgelope drie dekades geweldig gegroei.
.........

In Suid-Afrika is daar twee ekonomieë: ’n formele een waarmee almal bekend is, maar ook ’n baie groot en onwettige een wat grotendeels in die geheim bedrywig is. Laasgenoemde het die afgelope drie dekades geweldig gegroei. Die infiltrasie van Suid-Afrika deur internasionale dwelmsindikate het baie hiertoe bygedra. Soos jy sydelings na verwys, het Suid-Afrika ’n gewilde deurgangspunt geword vir die verskeping van veral kokaïen uit Suid-Amerika na die groter markte in Europa en die Ooste. Die dwelmsindikate wat hierdie roete gebruik, maak enorme winste, en het oorgenoeg geld om ons wetstoepassers en politici te korrupteer. Hulle werk ook met plaaslike misdaadsindikate saam.

Ek dink die meeste mense onderskat die bedreiging wat hierdie misdaadwêreld vir Suid-Afrika se demokrasie inhou. As ’n oorhoofse tema wou ek hierdie ineenstrengeling van misdaad, wetstoepassing en politiek in Die Serwiër op ’n onderhoudende manier weergee, asook die leefwêrelde van die rolspelers wat daarby betrokke is. In die boek maak ek dan ook gebruik van verskillende vertellers.

Ek het Die Serwiër geskryf voor die onthullings wat deesdae omtrent daagliks by die Madlanga-kommissie gemaak word, maar dit staaf waaroor ek geskryf het. Ek is egter van mening dat dit wat tans by die kommissie na vore kom, maar net die oortjies van die seekoei is. In die skaduwees skuil daar waarskynlik nog meer prominente figure; diegene wat (moontlik) aan die pen gaan ry, is maar net gerieflike sondebokke is om die aandag van hierdie groter mense af te lei. Die groot geld word hoër op in die voedselketting gemaak.

By die  boekbekendstelling: Carolyn Meads en Marga Stoffer (foto: ©Debbie Loots)

Tussen wolwe moet jy ’n wolf wees, sê ‘n aanhaling wat voorin die boek staan. Natuurlik nog ’n uiters relevante opmerking. Dit is van toepassing op dubbele agente, maar ook doodgewoon op enigiemand in die lewe – in persoonlike verhoudinge, tussen vriende, tussen "vriende", in romantiese verhoudings ... daar is oneindig baie voorbeelde. Waar het jy dit raakgelees en besef dis nog ’n belangrike dimensie van die verhaal?

Wat die aanhaling betref, onthou ek nie waar ek dit die eerste keer raakgelees het, maar dit het by my opgekom terwyl ek besig was om Die Serwiër te skryf. Maar ek stem nie saam dat hierdie stelling van toepassing is op verhoudings in ons alledaagse lewe nie. Mens kan tog kies met wie jy bevriend is of in ’n romantiese verhouding mee wil wees, en ’n wolf-tipe sou definitief nie my eerste keuse vir so iets wees nie! Die Serwiër handel oor ’n ander wêreld, ’n wêreld waar alles transaksioneel is, selfs romantiese verhoudings, of altans, wat in daardie wêreld daarvoor deurgaan. In daardie wêreld moet mens koelbloedig wees om te oorleef tussen ander wat nie sal skroom om jou skade aan te doen as jy swakheid wys nie.

Almal is aandadig. Jou karakters is grys. Sommige van hulle probeer so hard om goed te doen, ander gee nie meer om nie (op die oog af). Hoe leer jy elkeen ken? En elkeen het sy eie stem. Sy eie pyn en dinge waaroor mens vir hulle jammer voel, al is hulle ook skatryk (met geld wat hulle op bedenklike plekke gekry het), al het hulle erg drooggemaak en dalk ’n vrou verkul omdat die lewe waarna hulle nou terugverlang (braai by vriende, vroue wat braaibroodjies maak en kinders wat iewers buite speel), hulle destyds verveel het? En dan is daar die kontras wat woonplekke betref: Een karakter mag in so ’n herkenbare omgewing vir hoëmiddelklaslesers woon soos ek hier bo beskryf, ’n ander in ’n hoë woonstelblok in Belgrado. Jy was dáár en jy neem jou lesers saam met jou. Vertel hoe jy die karakters leer ken het, om terug te kom na my vraag, en in hul skoene en in hul buurte rondgeloop het. 

Ek het my karakters leer ken deur myself sover as moontlik in hul wêrelde te probeer verbeel, en om hul wêrelde te probeer verstaan. Dit het behels die lees van boeke, artikels en herinneringe van mense wat in daardie wêrelde leef of geleef het; die kyk van rolprente en dokumentêre films oor daardie wêrelde en die mense daarin; en die besoek van plekke waar die meeste van die gebeure in Die Serwiër afspeel. Ek probeer ook om nooit ’n karakter te oordeel nie, maar eerder om te verstaan waarom hy of sy die wêreld sien soos hulle dit sien.

Wie was jou gunstelingkarakter?

Viktor Vesic, die hoofkarakter, is my gunstelingkarakter. Hy is iemand wat dade meer as woorde vertrou, plig meer as sentiment, geregtigheid meer as vergifnis. Hy is tot teerheid in staat, maar het geleer om dit met selfdissipline te verberg. Sy grootste krag – sy emosionele selfbeheersing – is terselfdertyd ook sy grootste swakheid, want wanneer liefde uiteindelik deur sy skanse breek, verander sy selfbeheersing geleidelik in obsessie.

Maar ’n kortkop agter hom is Natasha Gordon, die vrou met wie hy in Kaapstad ’n verhouding aanknoop. Dit is die eerste keer dat ek uit ’n vrou se oogpunt geskryf het, en dit was uitdagend, maar ook lekker. Sy is die mees simpatieke karakter in die boek, ’n onskuldige in die grys wêreld waarin die ander moreel besmette karakters rondbeweeg.

Wat was die moeilikste vir jou van die skryf van hierdie storie? Of het dit maklik gegaan toe die verhaal jou in sy greep gehad het?

Nee, die skryfproses was vir my deurgaans moeilik. Die mense en gebeure het geen raakpunte met my eie leefwêreld nie. Dit het dus baie navorsing en verbeelding geverg. Die geweldstonele was vir my besonder moeilik om te verbeel, en het my met tye neerslagtig gemaak. Ek wou ook seker maak die geweld is geloofwaardig, maar nie sensasioneel nie.

By die  boekbekendstelling: Ingrid Winterbach, Michiel Heyns, Lou-Marié Kruger en Fanie Naudé (foto: ©Debbie Loots)

Carel, van dubbele lewens gepraat: Jy bevind jou ook, as jy nie skryf nie, in ’n gans ander wêreld. Ek sien nou die dag op ’n ander skrywer se sosiale media die volgende aanhaling: "Every writer is at least two beings: the one who lives, and the one who writes. Every question-and-answer session at a book event is an illusion; it’s the one doing the living, not the one doing the writing, who is present on such occasions. How could the writer be there, since no writing is being done at that moment? Like Jekyll and Hyde, the two share a memory and even a wardrobe. Though everything written must have passed through their minds, or mind, they are not the same" (Margaret Atwood, Book of lives). Stem jy hiermee saam? En indien wel, wie is die ander Carel, die een wat nie skryf nie?

Ek vermoed Atwood verwys na die feit dat ’n skrywer tydens die skryfproses op ’n ander manier na die werklikheid kyk. In daardie opsig verstaan ek wat sy bedoel. Dit is inderdaad so dat met die skryf van ’n roman mens jou vir ’n lang tyd in ’n selfgeskepte verbeeldingswêreld verdiep. Maar ek leef nie met ’n voortdurende bewussyn dat ek materiaal vir my volgende roman versamel nie. Ek ervaar myself ook nie as twee verskillende mense nie. Ek voel dieselfde mens wanneer ek skryf en wanneer ek met lesers gesels.

Skryf en die finansiële wêreld is natuurlik nie twee gans afsonderlike onderwerpe nie, veral as mens jou begin begewe op die terrein van die kopiereg en die boekebedryf. Maar dis ’n ander tema! Vertel my eerder hoe jou eie agtergrond in jou beroepslewe vir jou inspirasie gebied het, of toegang gegee het tot navorsingsmateriaal vir Die Serwiër? Hiermee bedoel ek: ’n Skrywer kan skryf oor waarvan hy iets weet. Vir sekere aspekte van jou boek, het jy tydens jou boekbekendstelling in Stellenbosch gesê, het jy aanlyn navorsing gedoen. Vir watter aspekte van die boek het jy navorsing gedoen uit hoofde van jou alledaagse arbeid, beroep en werk? Dus: Hoe het jou twee lewens mekaar kruisbestuif?

Nee wat, ek kon eintlik niks uit my eie lewe of alledaagse arbeid vir die skryf van Die Serwiër put nie, so daar was nie juis sprake van kruisbestuiwing nie. Navorsing, ontmoetings, plekke besoek en verbeelding was my gereedskap. Wat ek wel uit my beroepslewe saamgebring het, is ’n ingesteldheid om sistematies navorsing te doen en feite deeglik te toets.

Lees ook:

Donker stroom: Eugène Marais veelsydig, dubbelsinnig

Eugène Marais die Boheemse Boer in Londen

kykNET-Rapport-boekpryse 2020: ’n onderhoud met Carel van der Merwe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top