Een van die talle raaisels oor die lewe van die beroemde Afrikaanse letterkundige Eugène Marais handel oor sy jare in Londen toe hy in die regte studeer het. In ’n opspraakwekkende boek wat pas deur Tafelberg uitgegee is, kom die skrywer, Carel van der Merwe, met talle verrassende ontdekkinge vorendag wat hy met vers en kapittel staaf. Jean Oosthuizen het met hom gesels oor sy nuwe boek en hom uitgevra oor die nuwe inligting wat hy ontdek het. In die jongste boek oor Marais konsentreer die skrywer op Marais se geheime aktiwiteite voor, tydens en ná die Anglo-Boereoorlog.
“Nóg ’n boek oor Eugène Marais?” sal baie mense seker vra. Wat is dit van hierdie veelbesproke Suid-Afrikaner wat al so lank dood is wat mense so fassineer dat daar nou nog boeke oor hom geskryf word?
Seker dieselfde dinge wat my fassineer. Wie was hierdie veelsydige Afrikaner wat so baie verskillende rolle in sy lewe vervul het? Om sommige daarvan te noem: onverskrokke jong joernalis en koeranteienaar wat die bejaarde en formidabele pres Paul Kruger – reeds destyds ’n volksheld vir baie Afrikaners – oor sy regering se korrupsie en wanadministrasie aangevat het; wewenaar op jong ouderdom toe sy beeldskone jong vrou kort na die geboorte van hul eerste kind gesterf het; vredemaker tussen die Uitlanders en die Krugerregering tydens die Jameson-inval; daarna regstudent vir vyf jaar in Londen, ’n tydperk waaroor baie min bekend is; toe lid van ’n geheime ekspedisie wat tydens die Anglo-Boereoorlog gepoog het om wapens en geneesmiddels deur Mosambiek na die Boeremagte te smokkel; later advokaat en kritikus van die naoorlogse Milner-regering; prominente figuur in die Tweede Afrikaanse Taalbeweging; toe amperse kluisenaar in die Waterberg vir ’n dekade; daarna skrywer van die beroemde letterkundige en natuurwetenskaplike werke wat alombekend is. En natuurlik ook die ewige Boheemse swerwer met die morfien/opiumgewoonte wat Leon Rousseau so treffend in Die groot verlange (1974) uitgebeeld het.
Dit is omtrént veelsydig! Waar pas hier die Boheemse swerwer regtig in?
Ek het die indruk gevorm dat Marais glad nie ingepas het in die tydvak en land waarin hy hom bevind het nie. Hy moes eerder in Parys in die 1960’s gelewe het – daar sou hy meer tuis gevoel het.
Waar kom jou eie belangstelling in Eugène Marais vandaan?
My eerste kennismaking met Marais was toe ek “Winternag” op hoërskool in die 1970’s uit die hoof moes leer, soos seker baie ander van my generasie. Ek onthou dié gedig van hom as een van die weinige wat ek op daardie tydstip in my lewe waardeer het! Dit is seker hoekom ek later, in my dertigerjare, op die ingewing van die oomblik sy Die Siel van die Mier in ’n tweedehandse boekwinkel in Melville gekoop het. Dié boek het ’n groot indruk op my gemaak. Soos soms gebeur wanneer mens sekere werke lees, kon ek agter die woorde ’n geweldige intelligensie bespeur, iemand met ’n wonderlike waarnemingsvermoë, asook die besonderse vermoë om ’n leser te oortuig, maar ook iemand met ’n sonderlinge, amper pessimistiese, uitkyk op die lewe. Daarna het ek alles van Marais verslind waarop ek my hande kon lê, iets wat my aanvanklike opinie oor hom net verder versterk het. En natuurlik lees ek toe ook Die groot verlange van Leon Rousseau, sy aangrypende lewensverhaal van Marais, wat ook die saad geplant het vir my boek Donker stroom – Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog.
Jy het aanvanklik beplan om ’n roman oor Marais te skryf, maar dit het in heeltemal iets anders ontwikkel. Hoe het dit gebeur dat jy uiteindelik nie ’n roman oor hom geskryf het soos wat jy oorspronklik beplan het nie?
My gedagte vir ’n roman is geprikkel deur Leon Rousseau se stelling in Die groot verlange dat hy baie min kon uitvind oor Marais se lewe as regstudent in Engeland tussen 1897 en 1902, jare waarin die ABO natuurlik plaasgevind het. Rousseau was self in Londen om inligting hieroor op te spoor, maar sy bevinding was: “[D]it was byna of iemand die spore doodgevee het; of anders was die leidrade vals.” Vir jare het ek toe met die idee in my kop rondgeloop om eendag ’n roman te skryf met Eugène Marais as hoofkarakter en die historiese Londen en gebeure as agtergrond. Die gedagte wat by my vasgesteek het was: Wat sou ’n patriotiese Boer in daardie tyd gevoel en beleef het in die hoofstad van die magtige ryk wat in ’n bitter stryd met sy eie volk gewikkel was?
En toe volg jy sy spoor tot in Londen!
Ja, toe ek uiteindelik so ver kom om die roman aan te pak, was ek nie van plan om Marais se doen en late in die buiteland verder na te vors nie, veral nie in die lig van Rousseau se waarskuwing oor koue spore en vals leidrade nie. Ek was egter nuuskierig oor presies wanneer Marais sy regseksamens afgelê het by die Inner Temple, die inrigting in Londen waar hy studeer het, asook wat sy uitslae was, aangesien Rousseau hierdie inligting slegs ten dele in sy boek weergegee het. Ek het ’n e-pos-navraag hieroor aan die Inner Temple gerig, en die inligting wat ek van hul argivaris ontvang het, het my in ’n rigting gestuur wat ek nie in my wildste drome verwag het nie. Ek het mettertyd soveel nuwe feite ontdek dat ek besef het dat dit ’n feitelike boek van sy eie regverdig – derhalwe Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog.
Hoe lank het jy aan die boek gewerk?
Die navorsing vir en skryf van die boek het my so twee en ’n half jaar besig gehou.
Rousseau se boek is waarskynlik die bekendste werk oor Eugène Marais. Hoe verskil jou boek van Die groot verlange?
“Waarskynlik die bekendste werk” is om dit baie sagkens te stel – Die groot verlange was ’n grensverskuiwende werk, en is een van my gunstelingboeke. Maar soos Rousseau self verklaar het, was sy oogmerk om ’n leesbare lewensverhaal eerder as ’n volledig gedokumenteerde biografie te skryf, iets waarin hy natuurlik uitmuntend geslaag het. Sy boek omvat dus Marais se hele lewe, van geboorte tot sterfte, maar bevat geen voetnotas, bronverwysings of verantwoordings nie.
Donker stroom, daarenteen, handel grotendeels oor twee dekades in Marais se lewe: die tydperk van 1887 (toe hy as 17-jarige seun uit die Paarl in Pretoria aangekom het) tot 1907 (toe hy as 37-jarige man uit Johannesburg na die Waterberg verhuis het). Maar ek het wel vir die leser wat nie Die groot verlange gelees het nie, of nie bekend is met Marais se verhaal nie, ’n kort lewensoorsig verskaf. In die algemeen het ek sover moontlik probeer vermy om te herhaal wat Rousseau reeds geskryf het, en eerder gekonsentreer op Marais se geheime aktiwiteite voor, tydens en ná die Anglo-Boereoorlog. Ek het ook gou besef dat die magdom verrassende feite wat ek ontdek het, omstrede mag wees, en het dus vir die leser wat belangstel verantwoordings en (onopsigtelike) bronverwysings verskaf vir elke stelling wat ek oor hierdie aktiwiteite gemaak het.
Een van die kenmerke van Marais se veelbesproke lewe is die talle raaisels wat sy lewe kenmerk. Kon jy daarin slaag om van die raaisels te ontrafel, en hoe het jy te werk gegaan?
Ja, ek kon, veral oor Marais se doen en late tydens die “onbekende” jare wat hy in Londen deurgebring het. Maar ook oor die volle omvang van sy politieke en joernalistieke aktiwiteite in die jare kort voor en ná die ABO. Een leidraad het na ’n ander gelei, wat my geneem het na omtrent 20 verskillende argiewe en biblioteke se versamelings in Suid-Afrika en in die buiteland.
Daar is heelwat teenstrydighede rondom Marais se lewe. Selfs sy geboortedatum op sy paspoort verskil van dié van ander bronne. Is dit ’n onbenullige teenstrydigheid of steek daar dalk meer daaragter?
Nee, dit is nie ’n onbenullige teenstrydigheid nie. Om uit te vind wat Marais se werklike geboortedatum was, het ’n soektog van sy eie geverg. En in dié proses het ek mettertyd besef dat mens baie versigtig met die algemeen aanvaarde feite in Marais se lewe moet omgaan.
As mens jou in die Marais-oeuvre sou verdiep, is “nuwe onthullings” bra skaars, maar daar duik gedurig nuwe vrae op. Hy was byvoorbeeld ’n vurige voorstander van die Afrikaner se saak soos wat ons hom leer ken het. Maar in jou boek blyk dit dat hy ook hand om die blaas was met mense soos Percy FitzPatrick en ander vurige Britse imperialiste. So, waar het Marais se lojaliteit regtig gelê?
Vriendskappe met andersdenkendes sluit nie noodwendig lojaliteit teenoor jou eie volk uit nie. Maar soos vandag het mense ook destyds verskil oor wat in die beste belang van hul volk is. Marais was nie ’n kuddedier nie, en het onafhanklik sy eie menings oor politieke sake gevorm.
Jy fokus in jou boek veral op sy jare in Londen. Baie mense het gedink daar is weinig nuwe inligting daaroor beskikbaar. Rousseau het byvoorbeeld geglo Marais se tyd in Londen is vir die geskiedenis verlore. In Donker stroom ontdek ons nou presies waarmee Marais tydens die Anglo-Boereoorlog besig was. Lyk my dit het veel meer met lord Milner en die Randlords te doen as wat ’n mens jou kan indink?
Ja, dit het. Maar dit sal onregverdig wees teenoor Marais en mense wat nog nie my boek gelees het nie om hier buite konteks op daardie aspek kommentaar te lewer. In Donker stroom verduidelik ek egter uitvoerig hoekom Marais opgetree en gedink het soos hy het.
Kon jy vasstel wie hom daar in Londen onderhou het? Was dit wel die Victoriaanse romanskrywer Marie Corelli soos wat Friedel Hansen bespiegel in sy boek Handdruk van die dood?
Nee, dit was nie Marie Corelli nie. Marais het fondse uit verskeie bronne gekry, wat ek volledig in Donker stroom uiteensit.
Marais het ook vertel dat hy in Londen bevriend was met WT Stead, ’n beroemde koerantredakteur, asook met Arthur Conan Doyle, die skepper van Sherlock Holmes. Dink jy dis waar?
Ek kon geen direkte bewyse daarvoor vind nie. Maar Marais het wel in Londen vir John Hays Hammond geken, een van die Johannesburg Reformers wat in 1895 saamgesweer het om die regering van pres Paul Kruger omver te werp, en wat ook ’n goeie vriend van WT Stead was. Verder het Marais gedurende sy eerste twee jaar in Londen binne stapafstand van Hammond se huis gewoon. Hammond kon Marais dus wel aan Stead voorgestel het. Dit is ook insiggewend dat Lenie Marais, die eggenote van Melt, ’n broer van Eugène Marais, in 1904 ’n tuinparty vir Stead in Pretoria gehou het, toe Marais ook weer hier gewoon het.
Op sy beurt was Stead bevriend met Arthur Conan Doyle, en Marais kon dus ook laasgenoemde deur hom ontmoet het. Verder het Marais, Stead en Doyle ’n belangstelling gedeel in die teosofiese leerstellings van die enigmatiese Madame Blavatsky, waardeur hulle ook moontlik in Londen met mekaar kon kennis gemaak het.
Die Inner Temple, waaraan hy as regstudent behoort het, is in Fleetstraat, wat tot in die 1980’s die meeste groot koerante en tydskrifte se redaksiekantore gehuisves het. Sou hy dalk daar ook as buitelandse korrespondent onder ’n skuilnaam as joernalis gewerk het en wat sou sy rol gewees het?
My navorsing het nie die geringste aanduiding hiervan opgelewer nie. En mens moet jou afvra hoekom ’n Britse koerant of tydskrif ’n uitgeweke Suid-Afrikaner as ’n korrespondent sou aanstel om oor Engelse landsake verslag te doen, of selfs oor sake in Suid-Afrika. Voor en tydens die Anglo-Boereoorlog het die Britse koerante hul eie korrespondente in Suid-Afrika gehad wat die nuus direk daarvandaan gerapporteer het – wat sou Marais hulle kon gebied het?
Dit is alom bekend dat Marais soms oordryf het. By tye het hy selfs spaarsamig met die waarheid omgegaan, om dit sag te stel. Die hele sage rondom die egtheid van Racheltjie de Beer se heldedaad is maar een voorbeeld. Watter rol het dié eienskap van Marais gespeel in sy loopbaan as joernalis as mens kyk na sy dubbele rol as koerantman by Land en Volk en Cape Times?
Na my mening het dit geen rol gespeel nie. Maar dit is so dat verskillende koerante dieselfde stel feite soms subtiel anders aanbied in die lig van die voorkeure van hul spesifieke lesersmark. Wanneer Marais vir die Cape Times in Kaapstad geskryf het, kon hy soms heftiger oor sekere gebeure en persoonlikhede in die Transvaal gewees het as wanneer hy vir Land en Volk in Pretoria geskryf het.
In ’n onderhoud wat ek vir LitNet met Friedel Hansen gevoer het, sê hy Marais se gedrag en optrede was by tye eienaardig, selfs vreemd. Hy was ’n enigma, ’n onvervulde genie wat dit moeilik gevind het om by die alledaagse lewe in te pas en aan te pas; hy was ’n swerwer, die ewige soeker. Hoe sou jý hom opsom?
Ek moet bieg dit is bokant my vuurmaakplek om enigiemand in ’n paragraaf op te som, wat nog ’n komplekse persoonlikheid soos Marais. Boonop verander sekere fasette van elke mens met die verloop van tyd – so ook in die geval van Marais. Die Marais van 1900 was nie dieselfde as die Marais van 1920 nie.
Een van die “waarskynlikhede” wat Hansen in sy boek noem, is die sensasionele aanname dat Herman Charles Bosman die buite-egtelike seun van Eugène Marais is. Die Eugene Marais Stigting sê hulle kan die bewering nie bevestig of ontken nie. By navrae het Egbert van Bart, stigterslid van die HC Bosman Literêre Vereniging, gemeen dit is onwaarskynlik, maar nie onmoontlik nie, terwyl ander meen dit is ’n romantiese idee wat waarskynlik geen gronde het nie. Kon jy enige iets meer hieroor uitvind in jou navorsing?
Nee, ek het nie spesifiek navorsing oor hierdie “waarskynlikheid” gedoen nie. Soos ek dit verstaan, baseer Hansen sy stelling op ’n brief wat een van sy radioluisteraars in die 1980’s aan hom gestuur het. Volgens hierdie ongeïdentifiseerde luisteraar het Marais in 1904 in Potchefstroom gewoon, waar hy kwansuis vir Elisa Malan, Bosman se ma, swanger gemaak het.
In die lig daarvan dat ongeveer 80 jaar tussen hierdie kwansuise gebeure en die brief verloop het, moes hierdie luisteraar dus ’n hoorsê-storie aan Hansen oorgedra het. Hansen glo egter dat dit waar kan wees, omrede Elisa Malan “moontlik” in dieselfde jare as Marais in die Paarl skoolgegaan het, waar hy haar moontlik leer ken het, en toe weer moontlik ongeveer twee dekades later in Potchefstroom raakgeloop het en sommer swanger gemaak het. Jy sal opmerk hoeveel “moontliks” daar in die voorgaande sin is.
En al bewys wat Hansen aanbied om Marais se verblyf in Potchefstroom te staaf, is dat daar (volgens hom) niks bekend is oor wat Marais in 1904 gedoen het nie, en hy dus toe moontlik daar kon gewoon het. Soos ek egter in my boek aantoon, dui my navorsing daarop dat Marais van September 1902 tot aan die begin van 1906 in Pretoria gewoon het, en in hierdie jare aktief by Land en Volk en die regsberoep betrokke was. Hansen sal dus met werklike naspeurbare bewyse vorendag moet kom voor dit die moeite werd sal wees om enigsins aandag aan sy sensasionele aannames te gee. Dit geld ook vir sy stelling dat Marais waarskynlik in Londen tersiêre sifilis opgedoen het.
Nog iets wat Marais se lewe gekenmerk het, is sy dwelmverslawing. Skryf jy ook daaroor in jou boek?
Ja. Verskeie mense het tydens die ABO oor hierdie aspek van Marais se lewe in Londen kommentaar gelewer, en ek bespreek dit volledig.
Wat was die opspraakwekkendste ontdekking oor Marais se lewe waarop jy tydens jou navorsing afgekom het?
Ek het talle verrassende ontdekkings gemaak, maar die een wat my die meeste getref het, was ’n lang memorandum wat Marais tydens die ABO geskryf het aan Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies, ná ’n vergadering met hom in Londen. In hierdie dokument het Marais sekere voorstelle oor die behandeling van die Boerekrygsgevangenes op Ceylon en St Helena gemaak, asook hoe die Transvaalkolonie na die oorlog deur Brittanje behoort regeer te word. En Chamberlain het, volgens sommige mense op daardie tydstip die magtigste man in die Britse Ryk, soos ek aantoon in my boek, Marais se voorstelle ernstig opgeneem. Chamberlain het ook ná hierdie vergadering aan lord Milner, die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, geskryf dat Marais “is a very intelligent man & made a considerable impression upon me”.
Jou boek is beslis kontroversieel. Hoe sal dit Eugène Marais se nalatenskap as digter, skrywer en mens raak en wat was volgens jou sy grootste nalatenskap?
Dit raak glad nie sy nalatenskap as digter en skrywer nie. Eugène Marais se letterkundige werke moet, soos met enige skrywer – of altans, so glo ek – onafhanklik van sy lewe beoordeel word. Mense mag wel na die lees van Donker stroom Marais se politieke en joernalistieke rol voor, tydens en na die ABO in ’n ander lig beskou.
Wat my betref was Marais se grootste nalatenskap sy natuurwetenskaplike werke Die siel van die mier en Burgers van die berge, sy gedigte “Winternag”, “Die dans van die reën”, “Diep rivier”, “Mabalêl” en “Skoppensboer”, asook Dwaalstories, sy kortverhale oor die San. En is dit nie merkwaardig nie dat “Winternag”, wat Marais geskryf het toe Afrikaans as geskrewe taal nog in sy babaskoene was, in ’n landswye meningspeiling wat Leserskring, RSG en By ’n paar jaar gelede oor bykans 1 300 genomineerde gedigte onderneem het, die eerste plek behaal het?
- Kerneels Breytenbach gesels op 1 Oktober om 18h30 by die Eugène Marais-stigting in die Paarl met Carel van der Merwe oor sy boek en Jean Oosthuizen voer op 10 Oktober om 11h00 by Protea-boekwinkel in Stellenbosch ’n gesprek met hom.
- Vir meer inligting oor Eugène Marais besoek die Eugène Marais-stigting se webwerf by www.eugene-marais.org.za.
Kommentaar
"Donker stroom, daarenteen, handel grotendeels oor twee dekades in Marais se lewe: die tydperk van 1897 (toe hy as 17-jarige seun uit die Paarl in Pretoria aangekom het) tot 1907 (toe hy as 37-jarige man uit Johannesburg na die Waterberg verhuis het)." Marais is gebore in 1871, nie 1880, dus was hy in die tydperk 1897-1907 tussen 26 en 36 jaar oud.
Dankie Gerhard, "1897" is gekorrigeer tot "1887".
Hierdie was 'n besonderse boek om te lees. Ek kon die boek nie neersit nie. Ek het gevind dat die opskrifte mens se nuuskierigheid deurgaans geprikkel het met 'n hand vol feite wat jou laat uitsien het na die volgende hoofstuk. Die navorsing is ongelooflik en die skrywer het soms ongemaklike feite met empatie en eerlikheid bekend gemaak. Die boek het my laat besef dat Eugene Marais net 'n mens was wat soms skaam was oor sy tekortkomings en behoeftes en 'n behoefte gehad het om te vertoon soos hy geglo het ander van hom verwag. Dit is 'n boek wat 'n mens sal bybly en wat veroorsaak dat jy met nuwe oë na ons land en al sy mense kyk.
Ek glo die boek gaan 'n groot sukses wees.
As 'n paragraaf meer as drie of vier sinne het, lees 90% mense nie verder nie.
Magtig, die eindelose sinne in een paragraaf jaag almal weg van hierdie interessante stuk.
Al was die sinne lank , is die belangstelling en nuuskierigheid so geprikkel dat ek enduit gelees het en sal graag die boek onder oë wil kry. Mense en hul bedrywighede interesseer my baie.Dit gee 'n mens 'n vars kyk op historiese gebeure van lank gelede.
Twak Pierre Henri ek het alles gelees.
Het jy die critique oor die kêrel, van die Suid-Afrikaner aan die hoof van die Britse wetenskap en narvorsing tydens die Tweede Wêreldoorlog gelees?
Ek is jammer om te hoor van die lang sinne en paragrawe - dis juis wat die lees so moeilik maak. En ek het al baie boeke eenkant gelos weens hul swak tipografie en gebrek aan leesvriendelikheid.
Genade, miskien moet Org en Pierre Henri liewers vir hulle 'n boek in die kinderafdeling van die boekwinkel gaan soek.
Wat 'n ongelooflike boek! Al wat ek kan sê is: Baie geluk Carel ... én baie dankie. Ek verstaan EM was ook maar mens, maar sowaar dat hy deel was van die sinking van die 'great deal', is onvergeefbaar vir my. Dis erger as al sy ander leuens. Maar as sielkundige verstaan ek ... die uitspeel van die eie 'shadow'... en wie doen dit nou nie?