
Foto: ©Debbie Loots; boekomslag: Jonathan Ball-uitgewers
Die Serwiër
Carel van der Merwe
Queillerie
ISBN 978-0-7958-0323-9
Die verskil tussen ’n misdadiger en ’n vryheidsvegter is, soos die verskil tussen ’n moordenaar en ’n redder, papierdun, en word bepaal deur perspektief en tydraamwerk, eerder as deur ’n kliniese, objektiewe definisie. Op die plaaslike front het hierdie wrange ironie reeds in 1980 neerslag gevind in musiek soos Laurika Rauch se “Moenie dat die kinders hoor nie”. Rosa Keet se lirieke was ’n akkurate samevatting: “Vandag se idealis is môre se terroris ...” Dis ’n internasionale, tydlose verskynsel; regimeveranderings bevestig dit by uitstek.
Van der Merwe se proloog speel af in 1999 en dek die tafel vir die aansluiting by hierdie tema met die konflik tussen die guerrillavegters en die Serwiese veiligheidsmagte, voortspruitend uit die Joego-Slawiese oorlog en die deelstate se stryd om onafhanklikheid as agtergrond. Die protagonis, Viktor Vesić, word aan die leser bekendgestel tydens ’n insident wat toekomstige interaksie tussen hom en ’n potensiële antagonis insinueer.
Dan sak die gordyn en open in die hede in Kaapstad, Suid-Afrika.
Die situasie is tragies realisties en kenmerkend van die werklikheid: ’n Serwiese agent, Ivan Kovanović, wat die bedrywighede van ’n globale dwelmsindikaat ondersoek, word geëlimineer met ’n genuanseerde koelbloedigheid wat die wisselwerking tussen misdadige sektore illustreer; ’n smokkelnetwerk genaamd Grupa Evropa, wat ontstaan het uit ’n Belgraadse bende, maar ontwikkel het tot ’n georganiseerde misdaadkonsortium met die Suid-Afrikaanse arm gelei deur ene Saul Sofar, bygestaan deur sy lyfwag, Anton, word bedreig deur die snuffelwerk van die agent. Die moordopdrag word afgewentel na die plaaslike leiers van die onderwêreld, die Kaapse bendebaas Damian Davids, wat koning kraai in die nagklubgebiede. Die finale spyker in die beplande doodskis is die betrokkenheid van die ondersoekers, of eintlik dié van hulle bevelvoerders, soos die hoof van Wes-Kaapse Misdaadintelligensie, Enoch Vilakazi, wat op sy beurt bande het met die ministerskantoor.
Die voorspelbare uitspraak volg: Straatroof. Skuldige(s) onbekend.
Suid-Afrikaanse owerhede is tevrede, maar die Serwiese geheime diens verskil. Vesić word as klandestiene ondersoeker afgevaardig, met die voorbehoud dat regeringsbetrokkenheid by sy sending ontken sal word en dat hy as ’n Duitser, die Berlynse sakeman Wolfgang Richter, in Kaapstad sal opereer.
Elke karakter, hetsy vriend of vyand, held of skurk, word gerugsteun deur ’n oortuigende komvandaan wat sy keuses en motiverings in die hede onderskryf. Sofer se bynaam in die Kaapse onderwêreld is nie om dowe neute “Die Serwiër” nie; as Darko Ilić het hy homself as ’n vryheidsvegter geag: “In Kosovo het hulle maar net gedoen wat die Albanese terroriste aan die etniese Serwiërs gedoen het ...” en sy selfregverdiging vervolg: “Dieselfde terroriste sit nou knus in Kosovo se regeringstoele” terwyl hy, en sy eertydse makkers, “deur baie Serwiërs as oorlogsmisdadigers uitgekryt (word)” (bl 150).
Beide Davids en Vilakazi mymer momenteel oor hulle verledes. Beide is uit armoedige agtergronde afkomstig – Davids uit ’n tweeslaapkamerhuisie in Bonteheuwel en Vilakazi uit ’n winderige gehuggie in Madadeni. Anders as Davids was Vilakazi se toekomsdrome aanvanklik eerbaar. Maar hy moes toekyk hoe almal rondom hom hulleself onregmatig verryk en het voor dieselfde versoekings geswig en deel geword van die ondergang van die Suid-Afrikaanse Polisiediens deur aan die spene van korrupsie te suig: “Die huis behoort aan ’n maatskappy waarvan sy neef die alleendirekteur en -aandeelhouer is. Op sy beurt verhuur die maatskappy dit as ’n veilige huis aan Misdaadintelligensie teen veel meer as ’n markverwante bedrag, meer as genoeg om die maandelikse verbandpaaiement te dek” (185). Verdere getuienis van die verbrokkelende gesagstruktuur van sy werkgewer is die ironiese verdwyning van ’n selfoonseinonderskepper ter waarde van R12 miljoen uit hulle plaaslike kantore. Die ironie is onmiskenbaar – die diefstal vind plaas in ’n sogenaamde veilige ruimte, en die room van die intelligensiestruktuur is nie in staat om die oortreder(s) vas te trek nie.
Selfs ’n newekarakter, Patrice “Rocky” Kamitalu, word ewe volledig geskets. Sy relevansie is dié van ’n onwillige ooggetuie, maar sy dilemma met die keuse tussen swyg en verklap word gemotiveer deur sy agtergrond. Vir hom as voormalige bokser en Kongolese vlugteling was die hoop op ’n beter lewe in Suid-Afrika sy lewensboei. Benewens die waarskynlikheid van ’n gewelddadige einde indien hy sou getuig, het hy niks om na terug te keer indien hy gedeporteer sou word nie.
Aanvanklik is Vesić, alias Richter, ’n professionele en objektiewe waarnemer. Wraak is nie die oogpunt nie, bloot die insameling en oordrag van inligting. ’n Persoonlike aanslag word subtiel deel van sy motivering wanneer hy die weerlose enkelma, Natasha Gordon, ontmoet. As slagoffer van gesinsgeweld noop sy beskermingsinstink hom om, teen sy beterwete, by die lewe van haar en haar jong seun, Robbie, betrokke te raak.
Hierdie tussenspel is meerdoelig. Eerstens skep dit die ruimte waarin ook Vesić se karaktergeskiedenis by die teks ingesluit word. Nes die voormelde medekarakters is hy uit ’n nederige agtergrond van armoede en alkoholisme afkomstig. Sy weermagjare in Kroasië en Bosnië-Herzegowina was beide sy redding en sy ondergang, die spook van laasgenoemde ’n lewenslange metgesel. Tweedens is dit juis hierdie ervarings wat sy keuses en optredes, veral nadat Natasha op die toneel verskyn het, motiveer.
Sy afstandelikheid as objektiewe ondersoeker word vervang deur die persoonlike betrokkenheid kenmerkend van ’n wraaksugtige engel van vergelding. Rapportering aan sy meerderes is nie meer voldoende nie: “In ’n hiernamaals waar die goeies beloon word en die skuldiges moet boete doen, glo hy nie. Almal wat aandadig was, moet in hierdie lewe gestraf word” (238–9) Hy word terselfdertyd gekonfronteer met sy eie aandadigheid aan die 1999-tragedie, “Maar mettertyd kon hy nie meer nie, en moes hy die waarheid aan homself erken. Alles kon anders verloop het” (272). Die vooruitsig van wraak in die hede verskaf die potensiaal vir boetedoening vir sy selfopgelegde gewetenslaste: “Sy het hom vertrou en hy het haar in die steek gelaat” (253).
Die keuse om ’n buitelander as protagonis te gebruik maak dit moontlik om die gekose ruimte deur sy oë waar te neem. Sy afkoms vanuit ’n land wat heelwat parallelle met die plaaslike vryheidstryd het, verseker sy begrip vir die werklikheid alhier en motiveer sy drang om self wraak te neem. Sy metamorfose van buitestander tot aktiewe deelnemer is vernuftig en outentiek en dra by tot die toename in narratiewe tempo, wat die spanningslyn effektief versterk.
’n Moontlike punt van kritiek is dat die dialoog, wat uiteenlopende nasionaliteite, tale en opvoeding van karakters moet weerspieël, dit nie oortuigend doen nie. Die teenargument is egter ewe geldig: Oordrewe aksente wat foneties aangedui word en die aanwending van geradbraakte woordeskat en grammatika beïnvloed die leestempo, en uiteraard ook die spanningslyn. Die gebruik van kultuurgetroue voorname en vanne herinner immers deurentyd aan elke karakter se unieke agtergrond.
Van der Merwe se oeuvre sluit ook die niefiksiewerke Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog (2015) en Kansvatter: die rustelose lewe van Ben Viljoen (2019) in. Sy vermoë om finansiële vergrype en korrupsie tot fiksie te verwerk (Geldwolf, 2009) en die morele regverdigbaarheid van die verlede te ondersoek (Nasleep, 2007), asook die kombinasie van hierdie temas (Skaduwee, 2012), is eweneens reeds bewese, en word met ’n vars perspektief en wye-lens-kamera aan die leser gebied in sy nuutste roman, soos profeties verwoord deur Keet se soortgelyke lirieke:
In die naam van vryheid
word ’n huis verbrand;
in die naam van reg
word ’n mens aangerand.
Die grootste geweld
maak die grootste held;
moenie dat die kinders hoor nie.
Lees ook:
kykNET-Rapport-boekpryse 2020: ’n onderhoud met Carel van der Merwe

