
Julian Jansen, Charné Kemp en Ben Booysen (Foto: Caren Faul)
Om beter te kan moor is nié ’n selfhelpboek nié, en ’n patty pan (blomskorsie) dra net mooi niks by tot ’n potjie nie.

Lesers kuier met skrywers (Foto: Caren Faul)
Hierdie en ander wyshede is die afgelope naweek by die Sanctuary Boekfees in Klerksdorp gedeel waar skrywers en lesers saamgekuier het. Die krimiskrywer Christelle van Rooyen-Wessels het vertel hoe ’n leser haar gekontak het om te sê sy het regtig meer wenke in haar boek Om beter te kan moor verwag.
Die RSG-omroeper en kosskrywer Martelize Brink het wel wenke gedeel uit haar resepteboek Oor die kole en later selfs ’n liplekker kruiesous aanmekaar geslaan vir die braaivleis wat die aand bedien is.

Koek en tee (Foto: Caren Faul)
Misdaad verkoop soos soetkoek

Madelein Rust was die topverkoper op die Boekfees (Foto: Caren Faul)
Die meeste krimiskrywers het tydens die derde Sanctuary Boekfees in Klerksdorp uitverkoop, terwyl Madelein Rust se Moederland die topverkoper was.

Susan Cilliers gesels met Julian Jansen, Charné Kemp en Ben Booysen (Foto: Caren Faul)
Die misdaadskrywer en joernalis Susan Cilliers (Huis van gruwels en Die Stella-moorde) het die gesprek tussen die joernaliste Julian Jansen (Moord op Stellenbosch) en Charné Kemp (Moord op Pofadder) en die afgetrede polisieman Ben Booysen (Op die duiwel se spoor) gelei. Hul boeke oor ware misdaad het soos soetkoek verkoop.

Pierre du Plessis, René van Zyl en Susan Jordaan van Lux Verbi (Foto: Caren Faul)
Salomé Kotzé, redakteur van Klerksdorp Rekord en mede-omroeper van leesD!T, het die gesprek tussen Hannes Barnard, Christelle Van Rooyen-Wessels en René van Zyl gelei. Al drie het vertel hulle het inspirasie vir hul boeke uit werklike gebeure gekry en dat die waarheid beslis vreemder is as fiksie.

AJ Opperman (Foto: Brandon Meyer)
Netwerk24-joernalis AJ Opperman het op sy beurt met Marie Lotz en Dibi Breytenbach gesels. Die meeste van dié boeke is uitverkoop.

Stefaans Coetzee en Marie Lotz gesels (Foto: Caren Faul)
Die komplekse verhouding tussen ma’s en dogters is aangeraak in Salomé Kotzé se gesprek met Michele Meyer (Moer) en Marida Fitzpatrick (Mara), waarna Ilse Salzwedel met Lindie Stander en Johannes de Villiers gesels het oor hoe om ’n beter lewe te lei. Lindie se boek Agter my glimlag handel oor haar stryd met depressie en verslawing.

Ferdie Swanepoel neem ’n foto saam met Esté Geldenhuys. Toe hy jare terug bekeer het, was sy sy insperasie. (Foto: Caren Faul)
Van die ander 27 skrywers wat die fees bygewoon het, was Esté Geldenhuys, Kirby van der Merwe en Tom Dreyer.

Joha van Dyk (Foto: Brandon Meyer)
Jeugskrywers Fanie Viljoen, Joha van Dyk en Sunel Combrink was van die vyf skrywers wat saam met die jeug gekuier het. Die plaaslike skrywer Cecilia Steyn se boek Dryf was die top jeugverkoper.
Martelize Brink, wat met Ferdie Swanepoel oor haar boek Oor die kole gepraat het, het herinneringe gedeel oor haar grootwordjare saam met haar pa, die potjiekoskoning Matie Brink. Na dié gesprek is die braaivleisvure aangesteek vir aandete en Martelize het vinnig bestanddele bymekaar gekry vir ’n kruiesous (salsa verde) wat saam met die vleis bedien is. Sy is een van 17 skrywers wat tot laat saam met lesers gebraai het.

Kirby van der Merwe (Foto: Nicci van As)

Tom Dreyer (Foto: Nicci van As)
Die Zenobia-toekenning
Die Zenobia-toekenning is vanjaar aan Schalk van Heerden by die derde Sanctuary Boekfees oorhandig.

Schalk van Heerden (Foto verskaf)
Van Heerden, ’n predikant en stigterslid van Betereinders, was verras met die eerbewys deur Stefaans Coetzee se #leefliefde-stigting. Coetzee het gesê hy vereer Van Heerden as iemand wie se dade wys dat versoening, liefde en eenheid moontlik is.
Betereinders is ’n nasiebou-organisasie sonder winsbejag. Van Heerden het al voorheen gesê hy beywer hom vir ’n land waarin Suid-Afrikaners beter kan saamwoon, en nie bitter nie.
Klerksdorp Rekord het in Mei 2018 berig oor Zenobia Jantjies wat ’n bejaarde omie op ’n taxi tussen ’n klomp vreemde mense bygestaan het. Haar verhaal van liefde, omgee en gebed het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Dié storie het Stefaans Coetzee so geïnspireer dat hy later vriende met Zenobia geword het, eers deur Facebook en later op WhatsApp, en besluit het om die eerbewys na haar te vernoem.
Die Zenobia-toekenning word jaarliks aan iemand oorhandig wat ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap maak. Barend la Grange het Zenobia in 2021 opgevolg as die tweede ontvanger, en verlede jaar het Leilani Kuter van Yellow for Survivors die eerbewys ontvang.
Lees ook:
Sanctuary Boekfees: Matriekseun se kroeg vir katte wen skryfprys

