Sanctuary Boekfees: Matriekseun se kroeg vir katte wen skryfprys

  • 0

’n Hoërskoolseun van Upington se kortverhaal “Kat se kroeg” het die eerste plek in die Sanctuary Boekfees in Klerksdorp se kortverhaalkompetisie vir tienerskrywers gewen.

JD Carr het met sy kortverhaal R5 000 gewen. LAPA Uitgewers het die wenners aangewys. Die beoordelaars was veral beïndruk met die 18-jarige seun se goeie gebruik van Afrikaans. Die verhaal speel af in ’n kroeg met ’n kat as kroegman wat skootdrankies genaamd Die Kat se Snor bedien. Dié drankie laat jou snaakse dinge doen.

Die tweede beste kortverhaal is deur Shanya van Rensburg, ’n leerling van Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp, geskryf. “Doodverlief” is ’n distopiese kortverhaal oor die liefde tussen twee tieners wat in opponerende faksies vasgevang is. Nog ’n toekomsverhaal, “Agtergelaat in 2055”, het aan Bianca van der Walt die derde plek besorg.

LAPA Uitgewers was besonder beïndruk deur die gehalte van inskrywings wat ontvang is. Ferdie Swanepoel en Stefaans Coetzee, die organiseerders van die fees, het die wenners op Saterdag 29 Oktober aangekondig.

Prysgeld van R15 000 was op die spel en die oorblywende R10 000 ná toekenning van die eerste prys van R5 000 word deur die res van die top 10 skrywers gedeel. Buiten die prysgeld kry elke skrywer in die top 10 ook ’n ervare skrywer as mentor om hom/haar aan die kortverhaal te help skaaf sodat dit uiteindelik in ’n kortverhaalbundel gepubliseer kan word.

Die kompetisie is vanjaar vir die tweede keer aangebied.

Die top 10 skrywers is:

1) JD Carr: Kat se Kroeg (Hoërskool Upington)

2) Shanya van Rensburg: Doodverlief (Hoërskool Wesvalia)

3) Bianca van der Walt: Agtergelaat in 2055 (HMS La Rochelle)

4) Johan Kotze: Die vier mure (Potchefstroom Gimnasium)

5) Nelmari Vos: Van die kantlyn (Hoërskool Noordheuwel)

6) Lucianne Nakatana: Gouelokkies (Hoërskool Noordkaap)

7) Kayla Meyer: My wêreld (Hoërskool Wagpos)

8) Henco Mynhardt: Weg (Hoërskool Wesvalia)

9) Marilie van Jaarsveld: Onvolmaak (Hoërskool Wesvalia)

10) Anika Jonker: Ironie (Hoërskool Klerksdorp)

Lees ook:

Die Sanctuary Boekfees: wenke vir moord en potjiekos gedeel

Wekroep vir lesers by Klerksdorp-boekfees bekendgestel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top