Die reaksies van PEN Afrikaans-lede op Vrydag die 13de

  • 0

Hieronder is reaksies van PEN Afrikaans-lede op Vrydag die 13de:
 

Lees ook:
Universiteit Stellenbosch: Vrydag die 13de
Bydraes in PEN Afrikaans se portaal

Van Marié Heese:
 
Ek stem hartroerend saam met hierdie skrywe van Johann Rossouw. Ja, ek is een van die "en ander" wat saam met Hermann Giliomee die dood in die pot vir Afrikaans by Maties voorspel het. In Die Burger van 23 Des 2011, (ondermeer), het ek die kernbevindings van wêreldwye navorsing rondom die belangrikheid van moedertaalonderrig uiteengesit. Ook verwys na die werk van die sociolinguis Jean la Ponce wat konstateer dat ‘n dominante taal (een met aansien weens ekonomiese en politieke mag) noodwendig ‘n taal met mindere mag in ‘n kwansuis tweetalige situasie sal uitrangeer. En hier is ons nou.

As Engels skielik die enigste onderrigtaal gaan word, dan sal daar al hoe meer studente wees wat in klasse sit waar sowel hulle self as die dosent in hul tweedetaal kommunikeer. En wat gebeur as verduidelikings gedoen word deur ‘n dosent in ‘n taal wat hy/sy nie baie goed bemeester nie, aan studente wat ook nie die betrokke taal goed bemeester nie? Wat ons hier mee te doen het, is seinteorie: As die sender 0,7 doeltreffend is en die ontvanger is 0,7 doeltreffend, dan is die werklike seinoordrag die produk van die twee, nl 0,49 en dis minder as die helfte.

Veels geluk, mnr die Rektor, met hierdie voorgestelde beleid sal u verseker dat al hoe groter getalle studente katastrofaal gaan misluk. En watter studente dink u gaan dit wees? Wie se Engels is beter, ryk wittes of arm bruines s’n? Wie gaan deur die nuwe taalbeleid uitgesluit word? Dink u? Julle mak etikus moet aan ons verduidelik hoe hierdie optrede enige denkbare morele toets kan slaag.
 
Groete. Nie hoogagtend nie.
M Heese
 
Van John Miles:
 
Wat ’n skouspel het dit nie geword nie. Verbaas is ’n mens nie, net oorbluf deur die langpadse voorgee en paaiery. Het die universiteit dan nie doelbewus studente gelok wat sou sukkel met die voertaal nie?
 
Breyten se opmerking oor die US se geskiedenis van noue bande met die politieke heersers van die dag is in die kol. In 1985 wou ’n groep van 8 studente die oop uitnodiging van die verbanne ANC se jeugliga opvolg met persoonlike gesprekke in Lusaka. Groot was die ontsteltenis van die destydse rektor. Daarna het die Kanselier, PW Botha, hulle ten sterkste afgeraai en toe hulle met die voorneme volhou het die Minister van Binnelandse Sake hulle paspoorte teruggetrek. Hulle moes tuis bly onder die eike. Taurus het hierna ’n boekie uitgegee, Praat met die ANC, waarin Gerrit Olivier onderhoude met die studente en ander betrokkenes gevoer het.
 
Vandag het ons ’n regering wat vere voel vir veeltaligheid en buitendien niks doen aan die bedenklike stand van die hoër onderwys nie, niks, behalwe om toe te slaan oral waar daar tekens van sukses is. Op Stellenbosch kon hulle die meerderheid besluitnemers oortuig dat Afrikaans in die pad staan van sg. uitnemendheid. Die taaltjie is buitendien so klein op die markplein. Deur nuwe regulasies en verordeninge gaan Afrikaans ongewens verklaar word.
 
Ek hoor mense sussend sê dit gaan nie om Afrikaans nie. Ek sê dit gaan nie vir my oor Engels nie. Taal is meer as ’n voertuig vir instruksies en wette; tas jy mense se taal aan, minag jy hulle menswaardigheid. Intussen wonder ek hoe lank nog voor daar gevra word of Afrikaans waarlik ’n afsonderlike tak van PEN International werd is. Buitendien, hoe lyk ons heilige getalle en kyk net hoe sluit ons skrywers uit.
 
John Miles, 13 November 2015
 
Van Carel van der Merwe:
 
’n Mens kan nie anders as tot die uiters teleurstellende gevolgtrekking te kom dat die Universiteit Stellenbosch se bestuur en van sy akademici nou oorhaastige besluite maak onder druk van luiddrugtige minderheidsgroepe wat (nieteenstaande hul vrome uitlatings) politieke en ander appeltjies met die Afrikaanse taalgemeenskap te skil het. Dit is juis die stemgedrag van hierdie taalgemeenskap in die Wes-Kaap wat tot gevolg het dat die ANC nie die provinsie regeer nie. En van wanneer af het Engels nou die de-facto amptelike taal van Suid-Afrika geword?  Maar die US-bestuur loop nou ’n gevaarlike pad. Soos enigiemand met tienerkinders weet, word die kwaad net gesterk deur die maak van kortsigtige toegewings om die vrede te bewaar, want daarna word nie eise nie alleen meer nie, maar nog meer onrealisties. Die revolusie verslind sy eie kinders. 
 
Daar moet ook nie vergeet word die Universiteit Stellenbosch het sy ontstaan grootliks te danke aan ’n ontsaglike skenking van Jannie Marais ’n eeu gelede. En in lig van wat nou gebeur, is dit nie ironies dat ’n voorwaarde van hierdie skenking was dat Afrikaans/Nederlands nooit ’n mindere plek as Engels aan die universiteit mag beklee nie? Verder is Afrikaans nie alleen ’n amptelike en akademiese taal nie, maar is dit ook die moedertaal van ’n beduidende deel van ons land se bevolking, veral in die Wes-Kaap. Sekerlik het hierdie taalgemeenskap die grondwetlike reg om in hul eie taal onderrig te word, veral in ’n instelling en in ’n akademiese taal wat verskeie geslagte van hul gemeenskap met groot ywer en toewyding tot stand gebring het. 
 
Ek besef daar is groot druk op die US-bestuur, en dat hulle ’n diverse akademiese en studentekorps bedien, maar mens hoef tog nie die baba met die badwater uit te gooi nie. Dit is ook so dat Afrikaans nie gebruik mag word om studente uit te sluit nie. Ek glo dus dat die US-bestuur se idee van parallelmedium-onderrig vir universiteitsmodules met groot getalle inskrywings ’n goeie een is. Maar wat kleiner klasse betref kan die taalaanbieding tot sekerlik geskied na gelang van omstandighede, en tolkdienste gebruik word. Byvoorbeeld, wanneer die lektor Engels is, word die klas in Engels aangebied, en Afrikaanse tolkdienste verskaf. Maar wanneer die lektor Afrikaans is, en die meerderheid studente verkies om in Afrikaans onderrig te word, word Engelse tolkdienste aangebied. Ek sien ook geen rede hoekom die universiteit en sy personeel nie beide Afrikaans en Engels in hul amptelike administrasie en kommunikasie kan gebruik nie, na gelang van omstandighede. En wat koshuise en ander leefomgewings betref, hoef mens tog nie vaste reëls te maak wat taalgebruik betref nie. Ek glo mens kan die huidige geslag studente vertrou om op demokratiese en natuurlike wyse hieroor te besluit. In ’n werksituasie praat en skry mense tog soms Afrikaans, soms Engels, met mekaar, sonder dat rigiede reëls hieroor uitgereik word. Hierdie beleid moet ook baie duidelik aan voornemende studente gemaak word, sodat daar nie later klagtes oor wanvoorstelling kan wees nie.
 
Van DP van Velden:
 
Aan die bestuur van PEN Afrikaans,
 
Breyten Breytenbach verwoord die gevoelens van menige Afrikaans sprekende mense in Suid Afrika.  As dosent vir meer as 30 jaar aan tersiëre instellings aan die UOVS en Stellenbosch se Fakulteite van geneeskunde,  is taal vir my ʼn kommunikasie medium om ingewikkelde begrippe soos osmose, diffusie, elektromagnetiese golwe, konduksie, konveksie, verdamping ensovoorts te verduidelik in die moedertaal van die student.  Ons het in Geneeskunde en Ingenieurswese vakwoordeboeke opgestel wat ons taal toeganklik maak vir onderrig, veral op voorgraadse vlak.  In ons nagraadse klasse in Huisartskunde  het ons studente uit ander universiteite effektief onderrig, selfs mense wat eentalig Engels was, om pasiënte te hanteer wat afkomstig is uit Afrikaanse gemeenskappe.  Tewens, effektiewe kommunikasie, verbaal en nie verbaal, is ʼn verpligte bywoningsvak  aan die Fakulteit van  Geneeskunde as deel van onderrig in  geneeskundige etiek.  Ons Departement was een van die eerste om Swart en Indiër senior dosente aan te stel wat met groot sukses hul onderrig funksies vervul.
 
My verbintenis met die Universiteit van Stellenbosch spruit uit my voorgraadse en nagraadse studie (MB ChB , M Phil (Joernalistiek), en al ses van ons kinders wat aan die US studeer het in Afrikaans.  My vrou het ook haar B Mus graad aan die US verwerf.  Ons is baie trots op ons alma mater, en koester Afrikaans as ʼn waardevolle kulturele erfenis wat tradisioneel ontstaan het om voorsiening te maak vir Afrikaanse onderrig veral op voorgraadse vlak.  Die Afrikaans sprekende studente wat uit tradisioneel Afrikaanse skole afkomstig is, is Engels goed magtig, en ervaar meertaligheid as ʼn groot bate om handboeke en tydskrifte in Engels te verstaan nadat wetenskaplike bevindings in Afrikaans aan hulle verduidelik is.  Ek het gereelde mediese rubrieke in Afrikaans in die media hanteer as deel van my belangstelling in wetenskapsverslaggewing as my joernalistieke spesialisveld.
 
Ons hoop dat die Universiteitsraad nie die US sal verengels nie.  Ons waardeer die standpunte van PEN Afrikaans in hierdie verband. 
 
Bogenoemde is my persoonlike opinie oor die stand van Afrikaans as volwaardige onderrigtaal wat beskermingswaardig is.
 
Die uwe
D P van Velden
MB ChB, M Prax Med, M Phil (Joernalistiek)
 
Van Fanie Olivier:
 
Dankie, Johann, vir jou uitgesproke reaksie. En, ja, die politieke gedienstigheid ken geen rede nie.

Die feit is dat universitêre opleiding in Afrikaans nog nooit enige iemand se internasionale status gekortwiek het nie, soos duidelik blyk uit die feit dat prof De Villiers self in Afrikaans afstudeer het.

Die aftakeling van universiteite se gesag en selfrespek het reeds 15 jaar gelede begin, toe die universiteite, Stellenbosch inkluis, sonder boe of ba ingestem het dat die wetgewing waarvolgens hulle bestaan het, verdwyn.Ek weet nie eers of die universiteitsraad destyds hieroor geken is nie ...

Die waarheid is van toe tot nou het die Regering stelselmatig die universiteite afgeknou. En in plaas daarvan om te weier om saam te speel, het opeenvolgende rektore van Stellenbosch telkens weer bietjies bes gegee. Seker omdat hulle bang was dat die staat die geldkraantjie sou toedraai, iets wat gewoon natuurlik onmoontlik was.

Die politieke gedienstigheid word inderdaad duidelik deur die oordrewe rol wat die Rektor aan "Open Stellenbosch" [en, verstommend, Sasco!] toeken. Ja, as die uitgangspunt is dat 'n mens jou deur klein drukgroepe laat boelie, dan is dit seker waar. Maar, soos jy skryf, het iemand al regtig gaan kyk hoe verteenwoordigend hierdie groepe is?

Die Senaat en die Raad moet inderdaad nog besluite neem, maar soos Breyten geskryf het, is daar ook maar min murg in daardie pype.

Die eintlike vraag is: Wat sal Stellenbosch verloor as dit 'n Afrikaanse universiteit bly? Niks nie!
Dalk 'n bietjie selfrespek herwin en bevestig dat akademiese uitnemendheid, onafhanklikheid en maatskaplike verantwoordelikheid nogal hoog op 'n universiteit se agenda behoort te staan.

En as die moontlik onvoorstelbare gebeur? Dan sal ons uit Afrikaanse geledere weer van voor af werk maak van 'n Afrikaanse universiteit. Of ten minste 'n kampus. Soos daar Suid-Afrikaanse satelliete van internasionale Engelse universiteite is, kan ons seker ook 'n satelliet vestig vir 'n Nederlandse of Vlaamse universiteit en daardeur ook meteens internasionale akkreditering en finansiële ondersteuning kry.

'n Volhoubare alternatief sal duisende skenkers wie se geld nog na Stellenbosch [en ander universiteite] gaan [of gegaan het], die moontlikheid bied om kwaliteitonderrig in Afrikaans te verseker.

Maar kom ons hou voorlopig duime, tone en koppe vas dat die Senaat en die Raad vorentoe so 'n stukkie gesonde verstand en 'n tikseltjie dapperheid aan die dag gaan lê.

Fanie Olivier

Van Johan Liebenberg:
 
Dit is inderdaad ’n donker dag vir Afrikaans, hierdie Vrydag die 13de.
 
Dit is maklik om iets te vernietig as jy nog nie die skoonheid van hierdie ding, hierdie taal, ervaar het nie. Dan is dit vir jou onbekend en betekenisloos en kan jy dit net sowel wegsmyt. Of die ding breek. Of maak soos jy wil daarmee. En dit is wat hier gebeur het. As jy nie skoonheid van N.P. van Wyk Louw se werk ken nie, of Opperman of Karel Schoeman of Breyten Breytenbach s’n nie, noem maar op, dan is dit dalk nou vir ewig verlore. Die skoonheid van helder denke, van hoe om aan abstrakthede gestalte te gee in die treffendste Afrikaans, is nou vir die nageslagte verlore. Daardie spesifieke skoonheid wat eie is aan Afrikaans.
 
Reeds merk ek al jare op hoe in Afrikaanse huise Engels die huistaal geword het en dus was dit seker maar ‘n kwessie van tyd … En nou is die skrif finaal aan die muur en is hierdie land aan die suidpunt van Afrika armer.
 
Of is daar nog hoop?  Of is dit die elegie vir Afrikaans? Gaan wat volg begrafnisredes wees?
 
Die donker dag, díe Vrydag. Stellenbosch het, in plaas van ‘n bakermat, ‘n mausoleum geword vir Afrikaans. Dit wat was, is nie meer nie.
 
Johan Liebenberg
 
Van Theresa Papenfus:
 
Het dié wat Afrikaans se doodsklok wil lui enige benul van hoeveel hulle misken, watter rykdom en gesamentlike nierassige prestasie hulle daarmee weggooi en wat hulle hulself en ander wil ontsê?
 
Afrikaans, wat na hierdie kontinent vernoem is, het sy beslag op hierdie bodem gekry uit ‘n veelvoud van kultuur en klank, en van Genadendal se eerste geskrifte af enigiets benoem wat onder woorde gebring kan word. Dit sit in Afrikaanssprekendes se weefsel, dis die taal van ons onbewuste, ons pyn, ons hoop, ons versugting, ons troos. Dis ons stem vir alles wat ons sien en hoor en beleef – van ons kleuterklanke af, deur ons eerste leesboekies, tot romans wat wat ver buite ons grense geag word. Dis die taal waarin ons die abc geleer het,  en chemie en kernfisika en medisyne en wiskunde.
 
Afrikaans is ons reg – dié soort reg wat internasionaal erken word. En Afrikaans se prestasie is reeds internasionaal erken toe hy een van die tien tale geword het wat vir opname  in ‘n groot internasionale leksikografiese woordeboek gekies is.   
 
Die beplanning van die Fachwörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung/Dictionary of Lexicography and Dictionary Research is in 1999 begin – Van meet af aan is Afrikaans as een van die tien tale van die woordeboek voorgehou. In sy motivering daarvoor aan die uitgewer De Gruyter, het prof. Wiegand, die projekleier, gesê dit is nie omdat ’n Afrikaanssprekende leksikograaf lid van die redaksie is nie maar omdat Afrikaans ’n taal is met ’n gevestigde leksikografieterminologie! Die ander tale wat vir die woordeboek gekies is, is Duits, Engels, Bulgaars, Spaans, Frans, Hongaars, Italiaans, Portugees en Russies. Die eerste van vier dele het in 2010 verskyn en die tweede deel is feitlik klaar – dit behoort in 2016 te verskyn.
 
Stellenbosch is midde-in Afrikaans se bakermat. Die teoretiese leksikografie word veral in Stellenbosch bedryf – hier leef die leksikografieterminologie in Afrikaans én Engels. Watter wrange ironie dat juis die Universiteit van Stellenbosch Afrikaans se dood wil sien!  Dit mag eenvoudig nie.
 
Afrikaans is niemand s’n om weg te gee nie.

Theresa Papenfus

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top