Enkele stellings rondom Afrikaans (Uit: Parool/Parole)

  • 0

"Enkele gedagtes rondom Afrikaans" deur Breyten Breytenbach word geplaas met die toestemming van die skrywer asook die uitgewer van Breyten se Parool/Parole (Penguin SA, 2015), waarin hierdie skrywe vanjaar gepubliseer is.

penafrikaans300 *****

Enkele stellings rondom Afrikaans

Die Burger, 18 Maart 2006

My opmerkings is subjektief en nie bedoel om akademies gefundeer in navorsing te wees nie. Alhoewel ek probeer om die algemene gebruik in openbare diskoerse in Suid-Afrika te vermy – naamlik "om die man te speel en nie die bal nie" – en deeglik bewus is van hoe enige opposisionele redevoering verdag gemaak word en dat dit dalk belangrik mag wees om nie ook so te werk te gaan nie, gaan ek nie agteroor leun om respek te betoon aan mense van wie ek verskil nie: daar is hier, soos altyd, te veel vals "ordentlikheid" in die teenoor mekaar stel van idees, behalwe op webwerwe waar die opgekropte hangkasrotte na hartelus kan mors omdat hulle dit anoniem doen. Ek veralgemeen en vergrof dus.

Geen taal is van aard rassisties nie. Alle tale ter wêreld weerspieël rassistiese houdings en uitdrukkings, en meer so in sekere tydsgewrigte dan ander omdat taal in haar maatskaplike funksies die uiting is van ʼn gemeenskap se geskiedenis en vooroordele. In Suid-Afrika – en tot ʼn mate ook internasionaal – is dit gemaklik en opsetlik om Afrikaans uit te sonder en beswadder met die kwas van rassisme. Dit voel so lekker, miskien nie op dieselfde manier vir wit en swart nie, en dis so heerlik polities korrek. Veral wanneer dit deur Afrikaanstaliges gedoen word. Dit is ook stompsinnig.

paroolAfrikaans is ʼn bastertaal. Mens kan dit van alle tale sê, want hulle is die produkte van eeue se verowering, verslawing, vermenging en inkorporering. In die geval van Afrikaans is dit meer opmerklik omdat dit vry onlangs gebeur het en een van die uitvloeisels was van ʼn gewelddadige proses van verknegting en bevryding wat nog soos ʼn rou letsel verhoudings tussen bevolkingsgroepe beduiwel, en omdat hierdie taal meer uiteenlopende oorspronge moes snoer – Nederlandse dialekte, seemanspraat, Maleis-Portugees, inheemse invloede ...

Uit die snoering is ʼn Kreoolse taal gebore, grotendeels in die monde van mense wat nie van Nederlandse afstamming was nie (oorspronklik is dit wel deeglik ʼn kombuistaal), in ʼn dialektiese verhouding met plaaslike behoeftes en omstandighede (en daarom so ryk aan aardsheid), van meet af aan gekenmerk deur die veelsydigheid van oraliteit en skryfkultuur wat die meerhartigheid van haar oorspronge uitdra, en met die soepele aanpassingsvermoë en vindingrykheid wat Kreoolse tale byna altyd tipeer.

Verbastering beteken andersmaak, nie suiwering nie. Ter wille van verstaanbare kommunikasie is daar ʼn mate van normevorming en ombuiging, maar die verrykende eggo’s van die oorspronklike bestanddele bly naklink. Wanneer jy gaan luister na die Karoo-musiekmakers wat David Kramer op edelmoedige wyse aan die vergetelheid ontlok het, dan hoor jy deur ritme en tekstuur en melodie die ouer segging van verdwene tale wat bly voortlewe danksy die "optel-en-knyp", die eiesinnige "instem" van die verowerde op jou eie instrument sodat jy die hart se wysies kan uitspeel.

Afrikaners is één groepering wat histories tot stand gekom het en ʼn ontstaansgeskiedenis deel, tot ʼn mate uiteenlopend.

Afrikaanstaligheid, ook as moedertaal, beslaan egter ʼn veel groter dimensie en vergestalt ʼn veel ruimer en ryker "identiteit" waarvan Afrikaner-wees maar één geleding is. Die meerderheid mense wat Afrikaans praat is nie Afrikaners nie; die Afrikaner se geskiedenis, waarvan die Afrikaanse taal één merker is, het die meerderheid onderdruk, verstrooi en vervreem.

Verbastering/andersmaak/metamorfose bring nie noodwendig groter verdraagsaamheid nie (wel meer saamdra en ʼn groter saamdraendheid, mens kan byna sê ʼn samelastigheid); dit kan selfs klasseverskille vererger. Ook in dié opsig mag beweer word dat Afrikaans as inheemse produk ʼn prototipe van Suid-Afrikaansheid is: vol wrywing, geweld en verdelging, maar onderling verweef met die anderling soos die droom en die dag, en deurvloei met kreatiwiteit.

Daar kan nie "reggemaak" word nie; daar kan en moet egter "saam-mekaar-andersmaak" wees, ter wille van oorlewing met menswaardigheid en sin. Die enigste "versoening" wat, na my mening, blywend van aard kan wees is die saamsnoer van alle betrokkenes om die vernedering en die verdierliking van armoede uit te wis, en daarom ook om die obsene gaping tussen ryk en arm te verklein.

Dit behoort nie meer nodig te wees om die noodsaaklikheid van moedertaalonderwys – as toegang tot kennisverwerwing, uitbou van menswaardigheid en self-respek, die herwinning van kultuur en die potensiaal om te mag ontwikkel – aan te stip nie. Wanneer Afrikaanstaliges daardie reg ontneem word, beteken dit dat veral die agtergeblewenes gedwing word om te bly krepeer in hulle mensonterende marginalisering.

Niemand ontken die voordele van meertaligheid en komplekse identiteitsvorming nie, en geen regdenkende mens stel self by implikasie taalghetto’s voor nie, maar om almal "gelyk" te wil maak deur die voortrek van Engels beteken slegs dat ons tweede- of derdeklas wêreldburgers gaan wees met monde vol cliché-besmette "kak Engels". Hoe meer geyk en holrug die taal – kom ons sê, hoe meer "demokraties" in haar verskraling – hoe meer pateties verarmd die geestesvermoë.

Moedertaalonderrig is die oopmaak op volwaardige en verantwoordelike burgerskap; dis bemagtiging.

Taal – énige taal, en by uitstek daardie grootword- en mensword-taal waarbinne jy soepel kan beweeg soos ʼn slang in sy vel – is nie alleen ʼn kommunikasiemiddel nie. Dis die bemiddelaar tussen jou en die wêreld, dis die sintuig (sinnetuig) waarmee jy jou omgewing begryp en leer verken en verander, dis die maak-ding wat jou in staat stel om jouself verby te steek en anders te maak, dis die beliggaming van ʼn spesifieke ervaring en uitdrukking, dit is daarom ʼn essensiële bydrae tot die synsdiversiteit wat ons as kultuur en as mensdom moet hê om te kan oorleef. Want taal is nie net vir opvang en aanleer en weergee nie; dis ook ʼn metamorfose.

En dis ʼn deurlopende bevraagtekening, ondermyning selfs, van die aannames waarop die regering, die administrasie, die revolusie, die akademie, die elite en die establishment, die Broederbond en hulle wat as keurige bourgeois die onaanvaarbare "bestuur" (dit, terloops, is die hartklop van fascisme) aanspraak maak om hulle arbitrêre magsuitoefening te regverdig.

Oorloë, uitbuiting en onderdrukking, word "geregverdig" deur die manipulering van persepsies wat berus op die verdraaiing van begrippe en woordebetekenisse.

In Suid-Afrika was die gatbyt van mag deur Afrikaan ʼn verworwe funksie. Maak haar dood aan die universiteit, in die naam van getransformeerde politieke gedienstigheid en met die oog op aansien in die baas se ironiese oog en ʼn stywe beurs in die sak, en jy kry ʼn generasie van saampraters met as enigste "kultuur" die afskuwelikhede van blink motorkarre, krismiskoekhuise teen die see, en af en toe ʼn bietjie sentimentele dronkverdriet by ʼn boerekultuurbasaarfees.

Maak dit dom, en dit verduister aanspreeklikheid. Suid-Afrikaanse "denkers" is merendeels nog steeds parogiaal, provinsialisties, en agter die klip. Hulle is tog so gesteld daarop om "progressief" en "modern" te wees; hulle dink dis revolusionêr (want self-ontkennend) om in te val by ʼn Stalinistiese eensoortigheid en die Eenparty na die mond te praat, en hulle weet nie eens dat die snykant van transformerende denke waar ook al in die wêreld deesdae besig is juis met die bevrydende ontginning van die wedersydse en wederkerende skeppingsveld tussen oorkoepelende en saambindende waardestelsels enersyds, en die lewensnoodsaaklike tekstuur van diversiteit en spesifisiteit – uitgedra in tale, gelowe, gebruike, geslagte, streeksverskille, in andersydigheid ...

Maar dis mos ongemaklik om so te wil dink, dit beteken dan "permanente revolusie", dit impliseer immers dat jy die nuwe selftevrede en selfversorgende elite aanvat wat gelegitimeer is deur vergeet-en-vreet (swart en wit, met ʼn paar bruines hinkepink agterna)!

Dis alles mooipraatjies vir die vaak, ek weet siende die teerling blykbaar gewerp is – agter geslote deure, soos dit die manipuleerders van verskuilde agendas betaam.

Ons kan sê dat ons bevoorreg is, want dis tog sekerlik ʼn unieke ervaring om in mens se leeftyd te sien hoe vergaan ʼn taal wat die uitdrukking was van ʼn besonderse stuk geskiedenis – van vermenging en verryking en ontginning en maak-bestaan, van onreg en verdrukking en oneer en skepping en terugbaklei, van literêre opbrengste wat nie hoef terug te staan vir wat elders in die wêreld geskryf is nie; ʼn taal wat nog plesier en kennis kan bring na die monde van arm bruines. Julle sê die taal gaan nie tot niet nie? Maar as jy haar "hoër funksies" smoor dan maak jy haar uiteindelik ongedaan – en dit is onvermydelik waarop die soete Jesuïstiese woordjies van die mooi menere en die slim dames afstuur, hulle wat skaamteloos "bevry" is deur selfveragting en leedvermaak, hulle wat as "super pragmatiste" na die mag sal smag vir erkenning ongeag uit watter opening dit emaneer, hulle wat met die ydelheid van Christelike nederigheid en dan nogal met dit aanstellerigheid van politieke korrektheid daarby, in feite vere voel vir die armes en die vertraptes. Dis hulle wat Afrikaans as offer bring in ruil vir die kleinburgerlike glans van hulle akademiese loopbane, die kloppie op die rug en die geldelike voordele wat daarmee gepaard gaan. Vir "politieke relevansie", sal hulle beweer. Vir hulle is die afsterwe van ʼn lastige rariteit, ʼn skandelikheid uit die verlede, reeds ʼn voldonge feit. Dit moes vrek, want dit het hulle arrogansie en hul gatkruip belemmer.

Viva Stellenbosch, viva!

Ja, dis verby, want Afrikaans dra die konnotasies van ʼn vorige onregverdige bestel vir ʼn vervreemde en ontheemde elite aan bewind wat liefs nie die ontstellende implikasies van taalbewustheid en die verryking van diversiteit wil akkommodeer nie, wat móét hegemoniseer en die waarheid op demokraties sentralistiese manier moet herontplooi. En hulle word ywerig bygestaan deur die deftige geelgatte, selfs sonder dat daar eksplisiete bevele of beleidsbesluite uitgevaardig is – die toppunt van die bestuurder se redelikheid is tog om die baas se verlangens sommer vooruit en agteruit te kan bevredig sonder dat hy eens vingers hoef te klap. En dis verby, want die jong mense (so word ons vertel) is maar net te relieved om invisible te wees, vry nou in hulle najaag van verbruikersbarbaarsheid, en dit is oneindiglik cool om jou sonder worries te kan afvee aan die ongemaklikheid van bewussynsverruiming ...

Wat bly dan oor? Sekerlik die noodsaak vir en dalk selfs die haalbaarheid van versetpleging, wéér en wéér. (En asseblief tog – ek pleit nie vir geweld nie!)

like_litnet_op_facebookWant die stryd sal wel weer opvlam! Daar is nog genoeg van ons wat wéét dat vrye denke begin by die konkretisering van taalvaardigheid – in ons geval met die reikwydte van ʼn soepel bastertaal wat meegehelp het om die wete van hierdie land te laat sing as kennis.

Breyten Breytenbach

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top