Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 0

Resensies is maar een van die temas wat ter sprake gaan kom tydens die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad. Wie het die reg om te kritiseer en wie nie? Wie mag prys, en wanneer? Daar was onlangs ’n enorme bekgeveg oor hierdie onderwerp, maar vrae oor die stand van resensies, die bemarking van boeke, en kritiese ontledings van literêre werke is nie nuut nie.

Daar is egter ook talle ander onderwerpe wat skadu’s oor die literêre landskap gooi. Dit is waarom LitNet, in ons 25ste bestaansjaar, weer ’n skrywersberaad gaan hou. Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad begin tydens die Etienne van Heerden Veldsoirée in Cradock op 20 September 2024 met ’n reeks lesings en sal aanlyn verder gevoer word. Die beraad sal waarskynlik tot in 2025 duur.

Dit sal die vierde skrywersberaad in LitNet se bestaan wees.

  • In 2000 is die Briewe deur die lug-beraad gehou, wat uiteindelik ’n publikasie deur Tafelberg tot gevolg gehad het.
  • Die Young Voices Conference het in 2004 plaasgevind en is deur Nelson Mandela geopen.
  • Tien jaar later, in 2014, is die denkklimaat in die Afrikaanse bestel weer tydens Poolshoogte gemeet.
  • Nou, nog 10 jaar later, neem ons weer bestek op met die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad. Verskeie aspekte van die literêre proses, ook die produksie- en lesersprosesse, die temas wat ons lewens raak en die huidige tydsgees, word onder die loep geneem.

Naas die resensiebedryf, wat onder die vaandel Edelmetaal of klatergoud? bespreek sal word, sal tien breë temas ter sprake kom.

By die Veldsoirée self sal Izak de Vries die resensietameletjie kou.

Jaco Jacobs sal oor kinderboeke gesels onder die vaandel Eendag was daar. Hoe word kinderboeke vervaardig en hoe het die terrein verander? Wat lees kinders, watter temas is belangrik en hoe pas kinderboeke aan by ’n veranderende konteks? Van watter produksieprosesse moet ons kennis neem? Jaco se titel gaan wees: “Jy’s seker nie ernstig nie”.

Treur in tandem handel oor die verwerking van en hartseer oor die verlede deur Suid-Afrika se verskillende gemeenskappe. Dominique Botha, Johann Rossouw en Mpush Ntabeni sal hieroor lesings by die Veldsoirée gee.

Onder die tema Afrikaans se baie tonge, oor taalvariante in Afrikaans, sal Hans du Plessis vertel oor sy linguistiese navorsing onder die Griekwas, wat aanleiding gegee het tot die publikasie van sy bekende Griekwapsalms.

Andries Gouws en Dietloff van der Berg sal die tema Transformasies, oor die verwerking van geskrewe tekste, toelig.

Horisonne handel oor nuwe tendense in literatuur en kuns in die breë. Stefaans Coetzee sal sy eie lewe en werk, wat ook horisonne oorsteek kom bespreek.

Mercia Coetzee sal haar navorsing oor KI kom deel. Die tema is KI as IK. Dit kyk na kuns en kunsmatige intelligensie, masjiene en die mens.

Die groot “Ek is” vra vrae oor agentskap: Wie is ek en waaroor en hoe skryf ek? Nathan Trantraal, Tom Dreyer en Darryl David sal hierdie tema dek.

In Is die dood is in die pot? word gevra of kulturele oorloë besig is om vrye debat te smoor. Is dit die begin of einde van die sogenaamde Oop Gesprek? Hierdie belangrike vrae sal deur Vasti Roodt, Lynthia Julius en Fanie Olivier bespreek word.

Burgert Senekal sal oor Bêre of brand? besin, ’n tema wat handel oor die argief en die bewaring van ons erfenis.

Ronelda Kamfer sal onder die vaandel Vanuit die Suide kyk na die terugskryf noordwaarts en saamskryf na oos en wes.

Drie dae van gesprekke in die grootse Karoolandskap wag op diegene wat van 20 tot 22 September 2024 die Etienne van Heerden Veldsoirée te Cradock sal bywoon.

Die ATKV-skryfskool vind ook tydens die Veldsoirée plaas. Die skryfskool begin om 09:00 op Vrydag 20 September 2024, met die Veldsoirée wat om 10:45 in die Victoria Hotel begin.

Belangstellendes kan reservations@tuishuise.co.za nader vir verblyf of om ’n plek by die ATKV-skryfskool te bespreek.

Lees ook:

R350 vir die ATKV-skryfskool in Cradock én skouerskuur met skrywers

20 tot 22 September: Die Etienne van Heerden Veldsoirée 2024

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Die Tuishuise en Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Amazwi

NB Uitgewers/NB Publishers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top