Die Lasarus-effek: RW (Roland) Schikkerling (1879–1944)

  • 2

Jannie Pretorius lees graag oor die verlede en gebruik KI om ou foto’s ’n nuwe lewe te gee. Klik op die kleurfoto’s om te vergroot en sien die video hier onder.

Roly, soos hy deur vriende en familie genoem is, het as negentienjarige by die Boeremagte aangesluit. Hy was van die begin af baie realisties oor die Boere se kanse op ’n oorwinning. Op bladsy 2 van sy fantastiese dagboek sê hy: “Ek moet erken dat ek bloedmin hoop gehad het op ’n suksesvolle einde vir ons. Maar hoekom moet daar hoop wees?”

Ek het so pas sy dagboek van 400 bladsye vir die tweede keer deurgelees. Die eerste keer, so 15 jaar gelede, het ek potloodstrepe langs treffende gedeeltes getrek. Hierdie keer het ek net so gulsig gelees en nog meer potloodstrepe getrek – en gedurig uitgebars van die lag.

Die Engelse woord “delightful” het telkens by my opgekom terwyl ek lees. Toe ek die Chatbot vra wat “delightful” in Afrikaans is, het dié vorendag gekom met “heerlik, aangenaam, behaaglik, lieflik, verkwiklik, plesierig”. Ja, dié dagboek is dit alles en nog meer.

Hy beskou homself en die mense om hom heel lakonies en ironies en spot graag met homself en ander. Van sy inskrywings is skokkend, soos die beskrywings van teregstellings van Boereverraaiers, maar die meeste is gelaai met aksie, humor en selfspot. Hy was net drie jaar op skool, maar berig deurlopend van sy leeswerk (Shakespeare was sy gunsteling) soos hy op boeke in huise en bouvalle afkom. Hy skryf selfs kwatryne en vertaal gedigte.

Net een voorbeeld van sy humor: Op 17 November 1900 skryf hy: “Voor elke slag sorg ek, as dit moontlik is, dat my voorkoms netjies is en ek my beste klere aan het. Ek het my voorgeneem om minstens ’n netjiese lyk te wees.”

Schikkerling se dagboek is sonder twyfel my gunstelingboek uit die Boereoorlog. Dis ’n literêre kragtoer wat nie die erkenning kry wat dit verdien nie.

Wil jy hom sien beweeg? Klik op die knoppie, of klik hier.

(Só lyk die oorspronklike foto.)

Bronne

Daly Family South Africa. Roley Schikkerling (1879–1944) and the Anglo-Boer Wars. https://daly-sa.family/family-stories/roley-schikkerling (15 Desember 2025 geraadpleeg).

OpenAI. 2025. ChatGPT-reaksie op ’n versoek oor “delightful”. https://chat.openai.com (15 Desember 2025 geraadpleeg).

Schikkerling, RW. 1964. Hoe ry die Boere (’n Kommando-dagboek). Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Lees ook:

Die Lasarus-effek: Deneys Reitz (1882–1944)

Die Lasarus-effek: Wilhelm Mangold (1877–1922)

Die Lasarus-effek: Emily Hobhouse

  • 2

Kommentaar

  • Jannie, ek het Roland se boek as een van my bronne gebruik vir die skryf van my boeke "Guerrillastryd", "Treinvernielers" en "Dullstroom". Ek het ook 'n rare foto van hom wat deur 'n Britse soldaat in Lydenburg geneem is tydens sy oorgawe. Ek kan hom vir jou e-pos.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top