Die laaste lewe van Timtom Taljaard deur François Verster: ’n skrywersonderhoud

  • 0

Die laaste lewe van Timtom Taljaard
François Verster
ISBN: 979-8232578435

François Verster praat met Naomi Meyer oor sy boek Die laaste lewe van Timtom Taljaard.

François, jy was jare lank argivaris en het ook baie boeke by hoofstroom-uitgewers gepubliseer. Jy het wel onlangs meer as een boek self uitgegee. Onder andere Die laaste lewe van Timtom Taljaard. Dis ’n storie van ’n kat, vertel deur ’n kat-verteller. Tog is dit nie vir kinders nie. Waarom het jy dit geskryf? Ek weet jy is lief vir katte.

Inderdaad, ek is lief vir diere, het met drie in die huis grootgeword, maar omdat katte makliker is om besig te hou en ek en my vrou vroeër dikwels uithuisig was, het ons nie honde by die gesin gevoeg nie. Ek verbeel my ek het ’n goeie verstandhouding met katte, wat natuurlik ook moeiliker is om mee te kommunikeer as met honde, en hulle is meestal ook tot my aangetrokke. Soos ek hier skryf, lê Tinkie met haar stert oor die sleutelbord en moet ek dit kort-kort wegvee, maar dis deel van die pakket: die irritasies aan albei kante én die waardering vir mekaar.

Ek het Timtom by twee uitgewers gehad, maar hulle het gevoel dat die mark vir so iets te klein is. Dis anders as met die Japanese wat ’n hele genre as sulks ontwikkel het.

Google sê:

The surge in Japanese “healing fiction” (iyashi-kei), comforting books that offer emotional refuge, has also contributed to the trend [...] there is a long tradition of cats within Japanese literature, folk stories and art.

Sover ek kon agterkom, is my boek die eerste van sy soort in Afrikaans, naamlik ’n roman vir volwassenes waarin ’n kat sy storie self vertel, omtrent 95% in die eerstepersoon.

.......
Sover ek kon agterkom, is my boek die eerste van sy soort in Afrikaans, naamlik ’n roman vir volwassenes waarin ’n kat sy storie self vertel, omtrent 95% in die eerstepersoon.
........

Miskien is my hoop met hierdie boek dat meer mense van katte sal hou, want ek glo jy sal, as jy hulle leer ken. As daar een ding is wat my erg pla, is dit mishandeling van kwesbare skepsels. Dit sluit natuurlik mense in.

Waarom het jy die boek self uitgegee en nie by ’n uitgewer nie? Ek sien ook wie almal jou eerste lesers was en jou proefleser. Vertel asseblief van die hele proses ten opsigte van die totstandkoming van hierdie boek. 

Omdat ek ’n ruk lank nie boeke geskryf het nie (ek was besig met studies en het toe ook baie kortstukke soos artikels, rubrieke en resensies geskryf), dink ek dat dit daartoe bygedra het dat ek in ’n mate yesterday’s news by die uitgewersbedryf geword het. Ironies, noudat ek afgetree het, wil ek juis boeke skryf. So het ek toe ’n paar nee-dankies gekry en moedeloos begin word.

’n Vriend, ek kan seker noem dis die skrywer Johan de Nysschen, het my aangeraai om Amazon te probeer. Ek het, soos hy, van Elsabé Welman, die bekende skrywer en innoverende boekebemarker van Riviersonderend, se dienste gebruik gemaak om vroeg vanjaar ’n rekening by Amazon oop te maak.

Tot my skok het Amazon my die volgende dag laat weet: “Your account has been terminated.”

Geen rede, geen teëspraak, daar gaat jy. Ek het gou besef ek baklei met logaritme-gedrewe robotte (navorsing het dit onderskryf) en toe e-posse na Amazon se adres gestuur, later nogal kwaaies, en toe ná ’n paar afkeurende antwoorde, is ek skielik weer opgelaai. Ek weet steeds nie wat fout was nie.

En ek noem dit, want dis die soort gesukkel wat aanlyn verkoopplatforms – veral Amazon, wat ongelukkig sowat 80% van die mark beset – veroorsaak.

Dis geen maklike paadjie hierdie nie en die kommentare wat op skrywersplatforms voorkom, bevestig dat daar ook oorsee baie gesukkel word – en dat beginners selfs afgeraai word om dit te probeer.

Nou, hoekom dan wel probeer? Hoofsaaklik weens die byna onwaarskynlikheid om ’n manuskrip by ’n tradisionele uitgewer aanvaar te kry. Dis hoekom, maar ek sal steeds probeer om ás die MS enigsins ’n kans staan, daar eerste te probeer, want selfpublikasie kan goed werk indién jy reeds ’n naam het. Anders is dit soos om die Lotto te speel – Amazon ontvang elke maand ongeveer ’n halfmiljoen nuwe manuskripte, so joune word weggespoel in ’n tsunami van ander hoopvolles – dis nou as jy in Engels skryf, soos met Ill at ease die geval is.

Bemarking, soos Bibi Slippers in Oktober vanjaar aan my gesê het, kan deesdae tot 70% van ’n skrywer se tyd in beslag neem. En dan praat ons nie eens van selfpubliseerders nie ... en ek sien Amerikaanse skrywers beweer dat agente vereis dat jy eers 10 000 followers op sosiale media het voordat hulle na jou MS sal kyk. En dan, as die agent wie se slush file glo net groei en nooit kleiner word nie, wel jou MS na ’n uitgewery stuur, verwag hulle steeds dat die skrywer die bemarking self hanteer!

In elk geval, ek kan aan en aangaan hieroor, maar die korter antwoord sou wees dat ek boeke wat ek sterk glo wel die reg op publikasie het, maar nie in die gewone kanale dryfkans kry nie, self publiseer. Soos Ill at ease, wat ook al op LitNet bespreek is, en Timtom se storie – op Amazon, Smashwords, Kobo, Barnes & Noble en baie ander, asook biblioteke se platforms, soos Overdrive.

Ek moet ook noem dat daar van my boeke is wat al uit druk is, maar wel op sulke platforms te koop aangebied is – skynbaar ge-pirate, want so sien ek Een teen Adamstor (Maskew Miller Longman, 2013) en ander is op aanlyn platforms, maar nugter weet wie die tantième ontvang!

Maar ek is nou van die spoor af: Timtom se ontwikkeling het maar gebeur soos enige boek, ek het dit geskryf (wat ek geniet), tussenin ook navorsing oor katte gedoen (wat ek ook geniet), geredigeer (wat ek verpes), toe na ’n paar mense gestuur om te lees en voorstelle te maak, die terugontvangde MS’e weer geredigeer (wat my teen daardie tyd laat voel soos net voor ’n eksamenskryfdag en jy kan-net-nie-meer-na-jou-notas-kyk-nie), toe het ek die omslag gereël soos elders hier genoem en die finale weergawes van die omslag en MS op Draft2Digital gelaai. Jy gaan deur soortgelyke profieloplaai- en ander fases daar as by Amazon, maar dis makliker, want ek kon dit self doen.

Die sagtebandweergawes het ek self plaaslik en by enkele boekwinkels verkoop, wat tans die grootste deel van my inkomste vir boeke is – sien laaste vraag oor die verspreiding en verkope.

Timtom lewer kommentaar op dinge soos godsdiens, die huwelik, dinge wat hy van mense waarneem. Jy sê dis in ’n Japannese verteltradisie, maar mens sou dit op ’n manier ook kon vergelyk met iets soos The curious incident of the dog in the night-time, waar ’n boek geskryf word deur ’n ander en dan kommentaar lewer op die sogenaamde normale/gewone samelewing. Wat het jy ondervind terwyl jy die boek geskryf het?

Ek het nie daardie boek gelees nie, maar dit klink asof ek moet!

Kyk, ek is ’n waarnemer en ’n ontleder – soos Timtom in die boek – ’n kommentator, kritikus seker ook (maar bewus van my eie talle gebreke; Timtom dalk nié, of nie eties-gesproke nie, wel op ander terreine).

Ek het in ’n redelik gewone huis grootgeword, en ek sê “redelik gewone”, want ons was glad nie verkramp, of selfs net tipies konserwatief nie, dog die middelklasklankie kleef altyd aan jou vas, of jy dit wil hê of nie. En ek gee nie om nie, ek is wie ek is ... en mense het my al gesê ek is nie die tipiese Afrikanerman nie. Ek dink egter nie daar is so iets nie, maar ek is heeltemal gemaklik met my Afrikanerskap.

Die lewe het my al geleer dat daar niks so seer maak as ’n adder aan eie boesem nie, maar elke gemeenskap en volk het sulkes. Bowenal, soos Timtom ook voel, is selfbejammering die dood in die pot. Timtom het wel ’n suspisie op Vermaak gehad, maar ná hy gehoor het wat Missus daaroor gesê het, was Vermaak vir hom soos enige ander lewende wese.

Beide my ouers het ’n kunstige streep gehad (my broer skilder ook), maar veral my pa was ook sterk rasioneel, en hoe ouer ek word, hoe meer sien ek van hom in my, al was ons uit heel verskillende generasies en het ons dikwels sterk van mening verskil.

Wat ek probeer sê, is dat ’n mens se agtergrond en jou eie ervarings jou perspektief kleur, selfs al word jy opgelei om so objektief moontlik na die samelewing te kyk (soos in my geval as historikus), en ek probeer regtig hard om dit altyd te doen, sodat ek al baie vyande só gemaak het.

........
So Timtom, deur my oë, sien die optrede van mense tog grootliks soos ék dink hy dit sal sien. En hy is gelukkig dat niemand hom dit kwalik kan neem nie ...
........

So Timtom, deur my oë, sien die optrede van mense tog grootliks soos ék dink hy dit sal sien. En hy is gelukkig dat niemand hom dit kwalik kan neem nie ...

Timtom, jou hoofkarakter, skryf ook oor taal (veral Afrikaans) en oor filosofie. Daar word geskryf oor drank, oor die Woordfees. Jy is ook die kat, is jy nie? Hoe skei mens jouself van ’n hoofkarakter wat in jou huis woon?

Ek ís dalk die kat deurdat ék alles beskryf, en uiteraard nie regtig ’n kat nie, maar ek het my kennis van katte hiervoor gebruik. Of ek suksesvol was, sal net katte weet ... en die onderwerpe wat my interesseer, is dan ook in die kop van die kat. Siestog, dis seker wat sy hoofpyne veroorsaak het! No pun intended, maar daaroor sal lesers meer kan sien in my Kopstukke-bundel.

Ek kan nie regtig sê hoe daar skeiding met karakters kom nie, maar ek gebruik nie ’n karakter ten volle soos hy/sy is nie. Dis samestellings, of heeltemal uit my verbeelding, soos nodig in die boek. Die storie bepaal watter karakters aangetree word, want elkeen is ’n talking head wat die skrywer (of kat) se sienings moet verwoord – dialoog is dus vir my baie belangrik om te kan show, eerder as om te tell.

Die Woordfees is my gunstelingkunstefees. Ek dink ek was nog by elke liewe een, het ook in 2007 en 2016 daar oor my boeke gepraat en Ilse het in 2024 ook oor haar boeke, So lyk ’n vrou en ’n Vrou staan op, daar gepraat, so my verbintenis kom soms te berde in my skryfwerk. Ek het ook in my essaybundel Kopstukke drie beskrywings van dié fees ingesluit.

Vir wie het jy die boek geskryf? Ek wou vra of jy dit vir jou verteller voorgelees het, maar dit klink ligsinnig. ’n Kat kan wel baie ondersteuning bied, al is die dier ’n gans ander spesie as ons.

Soos dit teen die einde blyk, was dit nie moontlik om dit in sy geheel vir Timtom te kon voorlees nie, helaas!

Ek het dit vir mense soos ek geskryf, dalk ’n cliché, maar dis waar. Soos Omega, oor en uit eintlik uiteindelik vir dienspligtiges geskryf is. Ill at ease het uit laasgenoemde ontwikkel, maar van die patroon gewyk deurdat dit vir veral buitelandse belangstellendes in ons geskiedenis bedoel is.

Ja-nee, katte is in die eerste plek nie tropdiere soos ons en honde nie. Daar word natuurlik beweer dat skrywers en ander kunstenaars die soort mense is wat die meeste van katte hou, weens ons verbete individualiteit. As katte wel kon lees, sou ek graag vir hulle ’n boek wou skryf! En, o ja, ek het ’n geraamde foto van Etienne van Heerden in my studeerkamer, met ’n kat by sy voete! Hemingway was natuurlik ook ’n bekende katliefhebber, asook Oscar Wilde en Mark Twain. Almal literêre helde van my, asook George Orwell.

Ek het nou op Google gaan kyk oor Orwell, en sien toe:

[...] was known to be a lover of cats, and he even wrote a book called A Cat’s Eye View under the pen name George Bowling. It is possible that the cat in Animal Farm was Orwell himself, or perhaps his view of the world as an outsider looking in.

Nou toe nou, ek wens ek het dit geweet voordat ek my boek geskryf het! Animal Farm word ook in my boek genoem.

Daar is illustrasies in die boek en ek weet jy is ’n kundige op die gebied van spotprente. Dink jy ook visueel? Ek sien die Pappa-karakter in jou storie vertel nogal vir die kat van hoe gereeld katte in spotprente en comics opduik. 

Ja-nee, lesers het al gevra of ek Pa-pa is (ek gebruik die koppelteken om hom te onderskei van Timtom se bloedpa), maar nee, hoewel ek eienskappe met hom deel, is dit nie ek nie – sien lateraan wat ek hieroor gesê het.

Ek dink wel ek dink visueel, dis mos glo tipies manlik, en dis dalk ook te make met my skilder- en illustrasiewerk, wat ek al sedert die begin 2000’s skandelik onder die maatemmer verberg – ek voel regtig skuldig daaroor – maar skryf het heeltemal oorgeneem, veral weens al die artikels, eers in vakkundige en akademiese joernale en toe al meer en meer op ander platforms, toe boeke – eers nie-fiksie en lateraan meer fiksie. Daar is duidelik ’n ontwikkelingslyn. Hopelik ten goede.

Ek het al in ander boeke illustreerwerk gedoen. Die laaste was in my eie Die Groot Drie (Penguin, 2016), maar ook in my twee wetenskapfiksieboeke, Deur na Nebula Nege en Inversium (almal wat hier genoem is, is in biblioteke, of by Groep7 in Pretoria bestelbaar).

Die tekeninge van katte wat in Die laaste lewe van Timtom Taljaard genoem word, het te make met die strokiesreeks Calvin and Hobbes – later genoem. Ek dink self al jare aan ’n strokiesreeks met diere, maar in SA is dit bitter moeilik om so iets van die grond af te kry. Dalk ... eendag, wie weet?

Ek wil net byvoeg dat die voorblad aanvanklik ’n KI-ontwerp was, maar omdat Amazon toe beswaar aangeteken het (ek het nie besef dis ’n kwessie nie, want baie voorblaaie word in elk geval van Google afgetrek), het ek ’n ander ontwerp en met die hulp van ’n tegniesvaardige vriend geskep.

Ek het positiewe terugvoering oor die omslag gekry – desondanks een dame van Hermanus se VLV wat aan my gesê het sy hou nie van een van my ander boeke se voorblaaie nie (!?) – so ek is bly om te sê dat mense (sover) voel dat die omslag bydra tot die boek se atmosfeer. Ek voel dat die omslag lesers moet trek en aan hulle “verduidelik” wat om te verwag, soos die titel ook eintlik die eerste sin in die boek is.

Vertel my van jou eie katte.

Ek het al baie katte in my lewe gehad, waarvan Kelvin, ’n vet gemmerkat, beslis ’n oorheersende rol in die algemene karaktersamestelling van Timtom gehad het. Kelvin se stert is deur ’n bekende skrywer (no names, no packdrill, dit was mos per ongeluk, al is hy ’n hondemens, so ek wonder!) in ’n skuifdeur vasgeslaan en moes toe geamputeer word. Ek dink daardie insident het my beïnvloed deurdat Timtom toe ook iets pynliks oorgekom het.

Kelvin is al saliger, asook Mia die Noorweegse woudkat, wat ook ’n rolletjie in die boek het, maar die twee wat ons nou nog het en al 18 jaar oud is, is die boetie en sussie Tinkie en Jorsie: twee grys streepkatte wat nes Afrika wildekatte lyk, alias die sogenaamde black-footed cat. Baie lieftallig, geensins aggressief nie, slaap by my onder die komberse in die winter. Hulle figureer egter nie in die boek nie, maar ek het hulle al in kortverhale gebruik as sluipende randfigure. Nodeloos om te sê: Ons is baie geheg aan mekaar.

François se katte Tinkie, Kelvin en Jorsie (foto’s: François Verster)

Jou verhaal besin natuurlik oor die dood en oor sterflikheid. As jy daaraan dink dat jy die kat ’n stem gegee het (is dit wat jy gedoen het, dink jy?), hoe laat dit jou voel oor die feit dat ’n kat inderdaad voortdurend kommunikeer, en ons as mense ook met katte – maar ons verstaan nie mekaar se taal soos ons ander mense se taal verstaan nie?

Ja, ek het vir Timtom ’n stem gegee, dis waar. Ek wens natuurlik ons kon beter kommunikeer, en ek moes toe maar my verbeel wat ’n kat dink en wonder hoe presies dink hulle sonder (skryf-) taal – daarom juis het ek vir Timtom toe die vaardigheid “gegee” om te kan lees en later selfs te probeer skryf. Die kommunikasietema is baie sentraal in die boek. Timtom is ’n goeie waarnemer en luister sy huismense af, en so leer ons baie meer oor die dinamika tussen die mense in dié taamlik eksentrieke gesin, en lesers (as ek name-dropping kan doen, byvoorbeeld my vriend en eerste leser Francois Bloemhof, ook ’n groot katliefhebber) sê my hulle geniet die menskarakters baie; dat hulle “lewendig” is en dan is daar ook heelwat humorskepping, soos mense wat my weermagboeke gelees het, sal kan verwag. In Timtom se geval is die humor ook dikwels uit sy perspektief, bygesê, dus nie noodwendig satiries nie, soms ietwat platvloers – die toneel toe die hele gesin dagga ingekry het, was maar bra bar ... maar dis hoe Timtom dit gesien het!

Terloops, dié karakters is glad nie op werklike mense gebaseer nie, terwyl die ouma-karakter in die Spud-boeke dalk op my skouer kom sit het, asook die pa-figuur van Calvin in Calvin and Hobbes.

Sterflikheid is ook daar ja, maar ek sal die vertering daarvan aan die lesers oorlaat.

Dit is natuurlik so dat mense met lyftaal kommunikeer en dat dit partykeer sterker praat as woorde. Of dan ook: musiek en prente. Dis ook nie woorde nie en dis ook kommunikasie. Dink jy soms daaroor na as jy met jou kat kommunikeer?

Beslis. Ek is in elk geval seker ’n overthinker, altyd aan die wonder, ontleed, oplees, beskou, eksperimenteer, soek die groter prentjie, wil verbande insien, en so aan, en ek hou graag my katte dop om te sien wat hulle reaksies is.

Ek lees ook baie oor veral katte se voorliefdes, vermoëns en dies meer, wat in my boek ingewerk is – ek glo katliefhebbers sal dit fassinerend vind. Soos dat katte nie heeltemal kleurblind is nie, maar net kleurswak. Wanneer ek met my katte kommunikeer, gebruik ek ook dikwels die slow blink-metode of maak asof ek gaap. Dit stel hulle dadelik gerus.

Omdat ’n mens so geduldig moet wees om ’n vertrouensverhouding met hulle te bou, haat ek dit om hulle te dwing om byvoorbeeld wurmpille te sluk, of om hulle te forseer om in ’n drahokkie na die veearts te gaan. Dit laat my baie meer stres as vir hulle! En ja, Timtom het heelwat hieroor te sê in die boek, veral oor die lyftaal van mense. En veeartse.

Het jy al ooit self ’n boek soos hierdie een gelees? ’n Boek vir volwassenes, geskryf uit die perspektief van ’n dier?

O ja, verskeie. ’n Paar van die Japanese kat-romans vir volwassenes, ’n paar ander soos The art of racing in the rain (vertel deur ’n Labrador), deur Garth Stein, en waarvan ook ’n baie kykbare fliek gemaak is, en War dog deur Damien Lewis. Toe ek ’n kind was, het ek baie sulke boeke gelees, soos Jock of the Bushveld (Fitzpatrick), Kees van die Kalahari (Hobson en Hobson), Uit oerwoud en vlakte (Sangiro) en talle ander.

Ek het egter nooit gedink ek sal dit self ook aanpak nie, en diereverhale beslaan ook maar ’n klein persentasie van my leeservaring. Maar ek moet dan byvoeg dat ek ’n kettingleser is, al vandat ek op laerskool was. Ek rook nie en ek drink nie, maar ek lees myself vrek.

Met watter skryfprojek is jy nou besig? As jy nie daaroor wil praat nie, kan jy vertel watter boeke jy onlangs gelees het wat tot jou gespreek het.

My skryfprojek: Ek is met meer as een besig – ’n misdaadroman wat ek na ’n uitgewer sal stuur en dan vingers gekruis wag, en dan maak ek ook bundels vir e-boeke op Amazon en ander aanlyn platforms bymekaar. Ek het een (Kopstukke) opgelaai wat reeds deur Draft2Digital na Smashwords, Kobo, Apple, ensovoorts versprei is en gekoop kan word teen ongeveer R52,00. Jy kan dit op Kindle lees, terloops.

So die bundels is net as e-boeke verkrybaar. Vir lesers wat my weeklikse geskiedenisrubriek in Bolander “Geskiedenis vandag” (2007–2017) geniet het, sal ek ook ’n keuse uit daardie artikels in 2026 in ’n e-boek saamvat.

En daar is nog sulke projekte aan die gang, insluitende ’n e-boek met kortverhale. Ek wil sowat 30 stories daarin opneem en dan sal dit ook aanlyn te koop wees.

Waar kan mense die boek koop? Ek weet dis ook op Libby beskikbaar, so mense wat op hierdie biblioteektoepassing geregistreer is, kan die boek gratis te lese kry.

Ek het nie eens geweet dis op Libby nie! Ek sal met die Wes-Kaapse Biblioteekdiens in verbinding moet tree ... Goed jy sê my!

Mense kan die boek as e-boek op die oomblik op Smashwords, soortgelyk aan Amazon, koop, of by my persoonlik – my voorraad is nou (Desember 2025) op, maar ek laat vroeg in 2026 weer druk, verkrygbaar teen R250 per eksemplaar, by francoisverster2022@gmail.com. As hulle in die Helderberg-omgewing kom, kan hulle ook by Sunset Books in Strandweg eksemplare kry.

Ten slotte, baie, baie dankie vir die blootstelling – lesers wat mag belangstel, ek het al ’n lang verbintenis met LitNet en van my ander boeke is ook op LitNet bespreek, onder andere die minder bekende Op soek na Jacobus Verster (2018). Baie dankie, LitNet, en viva Afrikaans!

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: "Reaching readers", oor outeurs en skrywers – en die pad vorentoe

Die groot drie: ’n onderhoud met François Verster

Francois Verster praat met Naomi Meyer oor sy jongste boek, Ill at ease.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top