"Die kind is nog jonger": Onderhoud met Terminatryx

  • 0

Ingrid Jonker se gedigte is al dikwels getoonset. In 'n nuwe projek - www.flamedrop.com/ingridjonker - waarby haar dogter Simone Garcia Marques betrokke is, word met andersoortige klanke aan Jonker hulde gebring. Naomi Meyer gesels met sommige van die kunstenaars.

Lees 'n onderhoud met Anne van Schothorst.

Lees 'n onderhoud met Simone Garcia Marques.

Hier onder gesels Naomi Meyer met Terminatryx se Paul Blom en Sonja Ruppersberg.

Terminatryx met Paul Blom en Sonja Ruppersberg in die middel (foto: Dr-Benway)

Paul, jy het "Ontvlugting" getoonset, en dit word uitgevoer deur Sonja Ruppersberg – reg?

Paul Blom: Ja, ons het dit as ons groep Terminatryx verwerk. Sonja het eerste op haar eie die gedig aangepak en na vore gekom met die stemmelodie - dit het die emosionele trant van die verwerking neergelê. Sy is deur die gedig geïnspireer, en ek het haar stem weer as inspirasie gebruik om die musiek daarrondom te bou. 

Wat het julle gevoel toe julle dit getoonset het?

Sonja Ruppersberg: Ek wou ‘n atmosfeer skep van hartseer en nostalgie maar wou terselfdertyd ‘n Terminatryx-stempel daarop plaas. Ons gebruik die cimbalom (ook bekend as die dulcimer), 'n tipe slag-snaarinstrument wat die potensiaal het om 'n somber stemming te handhaaf. Hoe Paul dit op die ou einde geïnkorporeer het, het baie bygedra tot die atmosfeer van die lied. 

In my opinie het Ingrid nie gevoel dat die wêreld haar weggegooi het nie, maar dat sy eerder van die wêreld af wou wegkom. Ek wou hê dat die toonsetting die gevoel weerspieël. Sy was aan die einde van haar lewe nie ‘n slagoffer nie.

Paul: Sonja se passievolle en emosioneel-roerende interpretasie van die woorde het die maatstaf vir die musiek geskep. Ons wou dit 'n droomagtige atmosfeer gee, amper 'n swewende onderwatergevoel. Die woorde is beide diep en intens, en ek wou nie net 'n matige trant daarvoor skep nie, so (behalwe Sonja se stem) skop ons kenmerkende Terminatryx-klank in na die einde toe, soos die intensiteit opbou, daardie ontploffing daal dan ook weer na 'n rustigheid, die seeklanke (soos aan die begin) meer betekenisvol as die strandomgewing van die gedig, maar natuurlik ook baie beduidend in haar dood, en amper 'n strak voorspelling daarvan in haar woorde, lank voor haar selfmoord in Drieankerbaai.

Wat so fantasties is van musiek is dat jy die luisteraar iewers heen kan stuur, en hoewel dit ons interpretasie is van Jonker se woorde, sal elke luisteraar ons liedjie een stap verder weer op hulle eie manier interpreteer (en dalk iets heel anders analiseer in hoe ons dit aangepak het) - so dit word 'n lewende, organiese entiteit wat onsterflik is. Dieselfde geld vir digkuns - hoewel dit dalk 'n soortgelyke tema by almal oproep, prikkel Jonker se woorde verskillende beelde in elke leser se geestesoog.

Ingrid was in haar vroeë twintigs toe sy dit geskryf het en hoewel daar 'n gevoel van jong angs daarin gelees kan word, is daar heimwee van 'n persoon wat al van jongs af baie dieper na die lewe gekyk het as ander.

Dit moet ‘n groot uitdaging wees om ‘n baie bekende gedig te toonset en hierdie is seker een van Ingrid se heel bekendstes. Wat het julle na hierdie gedig toe aangetrek? 

Sonja: Jonker verwys na Gordonsbaai in die gedig, Ek het tot ‘n groot mate daar grootgeword en van my mooiste herinneringe is van Gordonsbaai. Dit is die plek waarna ek baie gaan in my gedagtes. Gordonsbaai was ook die plek waarna sy in haar gedagtes “ontsnap” het en was vir haar ook ‘n spesiale plek. Om daardie rede voel ek na aan haar en die gedig. 

Paul: Hoewel ons Afrikaans is, is meeste van ons Terminatryx-liedjies in Engels (met een Afrikaanse snit per album), so dis altyd lekker om die kans te hê om iets in ons moedertaal te doen.

Ingrid Jonker is ook natuurlik 'n literêre reus en dit was 'n absolute eer om nie net een van haar bekendste gedigte te toonset nie, maar ook om dit met haar dogter Simone se seën te doen (en met die wete dat sy baie van ons weergawe hou). En dan is daar ook die ekstra genot om te weet dat ek (as Flamedrop Productions) dit moontlik help maak het om hierdie fantastiese album vry te stel (in samewerking met Sound Action, wat deur Simone se man Ernesto sedert die '90s bedyf word). 

Wanneer dit kom by musiek is ek nog altyd meer na die donkerder emosionele sy aangetrek (nee, dit het niks met Star Wars of die duiwel te make nie!) en die diepte van Jonker se gedigte pas my baie goed. Ek glo altyd dat as Ingrid in die 1980's grootgeword het, sy heel moontlik 'n Goth sou wees (!).


Die CD se vrystellingsdatum is 3 Junie 2016. Die album kan vooraf bestel word by Raru.co.za.

Die CD gaan ook beskikbaar wees by Loot.co.za en by onafhanklike platewinkels, soos High Fidelity (Killarney Mall, Johannesburg), Mabu Vinyl (Tuine, Kaapstad), Music Moods (Pretoria & Centurion), Revolution Records (Observatory, Kaapstad), Top CD (Menlyn, Grove & Kolonnade, Pretoria).

Digitaal: iTunes - https://itunes.apple.com/za/album/ingrid-jonker-die-kind-is/id1118578252

CD Baby - www.cdbaby.com/cd/ingridjonkerdiekindisnog

En Liedjie se aflaai gaan hierdie week geaktiveer word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top